|
Sy laaste vrou, sy boeke en musiek, / Slapende prinsesse, opgesluit in mureMarius CrousDie burg van Hertog Bloubaard Dit wil voorkom asof die Bloubaardmetafoor nog altyd die verbeelding aangegryp het. Is dit nie dalk ook omdat Bloubaard n vergestalting is van mans se diepste, onsêbare begeerte nie, naamlik om van hul vroue ontslae te raak en telkemale na n nuwe vrou te soek nie? Op een van die Maagde-eilande (hoe ironies) is daar selfs n hotel wat Bluebeards castle heet. Pieterse, n digter wat sy musiek ken, sluit natuurlik aan by Bartok se opera oor dié berugte figuur en druk dele uit Herzog Blaubarts Burg in die teks af. Die leser kan dus die musiek ook as interteks betrek en deel maak van die ervaring nes Jeannette Winterson ook doen met Strauss. Die voorbladontwerp maak ook gebruik van n foto van die ruïne van Gilles de Rais se kasteel - Gilles de Rais was glo die oorspronklike Bloubaard waarop Perrault se sprokie gebaseer is. Hierdie is Pieterse se tweede digbundel en net soos sy voorganger, asook die meesterlike kortverhaalbundel wat uit sy pen verskyn het, sal dit beslis nie lesers van die poësie teleurstel nie. Die bekende temas uit sy werk, naamlik die man-vrou-verhouding, die natuur, musiek, literatuur en die dood word hier voortgesit en verder ontwikkel. In Omdat ons alles is, die kortverhaalbundel, word op meesleurende en briljante wyse n elegiese reeks verhale geskryf oor die selfmoord van die geliefde en dit is n gegewe wat ook in Die burg van Hertog Bloubaard voortgesit word. Nie net word burg in die teks n metafoor vir die fisiese ruimte waarin die digter hom bevind nie, maar word ook klem geplaas op die innerlike belewenis van die digter; asof hy as n bloubaardfiguur verantwoordelik was vir haar dood. Vergelyk ook die aanhaling uit Rilke voorin, waarin klem geplaas word op die innen-Welt. Vergelyk byvoorbeeld die volgende uit Kwartet vir die einde van die tyd: Hoe lank het dit jou geneem / om gewoond te raak aan my kasteel, en dan die slotreël: Ek trek my terug in my burg van papier. Die poësie word sodoende n ontvlugtingsoord waar die dood van die geliefde verwerk moet word, maar dit word ook n tipe bloubaardskasteel, n plek waar die geliefde besing word en terselfdertyd ook sterf. In Bloubaard se muistoring (p 92) word sy laaste vesting ook beskryf as my afgeleë toring waarna hy op roetbevlekte voete van papier aansukkel. Die siklus oor Bloubaard se Boek van ure word afgesluit met Epitaaf (p 85) en wel met die volgende woorde:
Die valbrug van blaaie slaan weer toe. Wie wil, kan hom verder soek In die kamers van sy kasteel hierna. Net soos die maer man met die groen trui jare gelede, vra die spreker in die teks ook dat mense hom barmhartig moet wees, want hy was maer / en jonk; maar vier en dertig jaar. Die spreker in Epitaaf is bekommerd dat die gewelddadige son, elke hoek van sy bestaan gaan aftas en hy vra dus medelye en begrip vir sy situasie. In Bestiarium (p 70) wat Pieterse met sy Middelnederlandse vakkennis verwerk, word aangedui dat al die groteske diere in Bloubaard skuil en dat hy n halfmens is wat illuminasies jag. Myns insiens lewer die digter weer eens kommentaar op die dierlike drif en aard van die man. Net soos die diere in die teks telkens iemand vang, jag of vermoor, so tree die man met sy smagting na n ontwykende vrou se vag ook op. Die leser van die teks word in die openingsgedig welkom geheet in Bloubaard se kasteel (p 11) en word genooi om alles van nader te kom bekyk. Al wat in die kasteel oorgebly het, is slegs die eggo van die eggo van n sug. Vervolgens verwelkom Bloubaard sy vrou op wie hy al soveel dae wag (p 14) en word haar droom beskryf; n droom waarin sy die kasteel sien en die name van vroue ook eggo: Is dit Judith, Ariane, Marlene, Mariane? (p 15). Liturgie van die kristal (p 19) word aangebied as n Elegie vir Marlene en word sy as die spreker se vrou aangespreek. Sodoende word die skakeling tussen die sprekende subjek en die Bloubaard bevestig. Soos die sleutels aan die einde aandui, word nie net die Bloubaardmetafoor betrek nie, maar vind ons ook intertekstuele skakeling met Middeleeuse konings, Indiese musiekvorme, figure uit die Oosterse mistiek en Hildegard van Bingen. Hierdie mistieke verkenningstog vorm die stramien van Die Boek van die Ure wat n siklus vorm in die teks. Dit begin met n monnik wat praat oor sy geloof in n gevallene en vervolgens is daar n kind se gesprek met Maria wat aan die heilige Bernadette en die kinders in Fatima verskyn het. Hierop volg n reeks elegieë waar landskappe van verlies nagetrek word. Sinfonia (p 71) is n herdigting van die mistieke digteres, Hildegard von Bingen se tekste. Die sentrale tema in hierdie siklus is die lyding wat Hildegard von Bingen moes deurmaak en die uitmergeling van haar liggaam wat daarmee gepaard gaan. Net soos die sprekende subjek in die bundel as geheel sy lyding ervaar en daaroor probeer skryf om die pyn te verdring, sing sy tot Maria en kom tot die besef:
Ek is net n veer op die groen asem van God (p 84). Die narratief van die sprekende subjek se hunkering na sy gestorwe geliefde word afgesluit met n reeks reisgedigte waarin hy oor bepaalde plekke skryf en dit koppel aan die vrou en vrouefigure uit die geskiedenis. In Wat van ons oorbly (p 96) word na aanleiding van Philip van Macedonia en die Sjah Jahan se Taj Mahal vir sy vrou, gedig oor mans wat hulle vroue met die een of ander bouwerk vereer het om sodoende hul nagedagtenis te laat voortleef. Vir die spreker word sy vrou, my vrou van die fresko en is die gedig haar nagedagtenis. In Padlangs (p 99) word tydens n metapoëtiese reis deur die Vrystaat afskeid geneem van die geliefde. Sy word naby Volksrust afgeskryf en word die reis deur die self, die mistieke reis en n reis deur Brittanje afgesluit. Het die digtende subjek nou vrede gemaak met sy groot verlies? Pieterse sluit die bundel af met n siklus oor Mapungubwe (p 100) en weer eens word die verbande tussen die Middeleeue en die moderne tyd gelê. In hierdie tekste oor die argeologiese terrein, wat as voorloper van die groot Zimbabwiese kultuur uit die dertiende eeu bestempel word, soek die digtende subjek na artefakte vir (sy)vers en probeer hy daardie tyd rekonstrueer net soos dit die geval is in die res van die bundel met sy intertekstuele spel met die Middeleeue. Die teks begin met n afdruk van die Prologus van Bartok se opera en sluit af met n afdruk van n stuk partituur, wat eindig: Finsternis in welcher Blaubart verschwindet. Vernuftig, want sodoende word Pieterse se bundel die opera waarna die leser so pas gekyk het en wanneer die leser klaar gelees het, dan verdwyn Bloubaard ook in die niet (om net weer voort te leef in die psige?). Die burg van Hertog Bloubaard is n slim-gekonstrueerde elegiese bundel. Dit bevat ook van die mooiste beeldspraak wat mens in tye onder oë gehad het. Vrae wat nou hier teen die einde by my opkom: (1)is dit simptomaties van ons postmoderne era dat die poësie so elegies word? (Ek dink ook hier aan Hambidge se Lykdigte). Of wag ons almal op die langboot om ons eendag, in die droomtyd te kom oplaai? (2)Gaan meer mense nou poësie lees, aangesien daar in 2000 min, maar uitstekende bundels verskyn het? |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |