SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Verraaiers en profete: Afrikanerdissidente intussen

Nico Smith

(Hierdie lesing maak deel uit van Oopgesprek, die KKNK se lesingreeks ondersteun deur Die Burger.)

Inleiding
Die onderwerp vir hierdie gesprek gaan vir my in die eerste plek oor die Afrikaners - waar hulle vandaan gekom het, wie hulle tans is en waarheen hulle op pad is. Op hulle geskiedkundige reis van waar hulle gekom het, het daar verraaiers, profete en dissidente opgeduik. Ek noem in dié verband graag eers my persoonlike kennismaking met elkeen van hierdie drie kategorieë van figure in die geskiedenis van die Afrikaners.

My eerste kennismaking met 'n verraaier was toe ek 'n kind was in die jare dertig van die vorige eeu. In die huis waarin ek opgegroei het, het my moeder as gebore Vrystater en daarom vurige Hertzogiet, en my vader as gebore Kapenaar en daarom 'n oortuigde Malaniet, altyd van generaal JC Smuts gepraat as "daardie volksverraaier". En hy was dan verraaier omdat hy met die vyande van die Afrikaners, die Engelse, kop in een mus geraak het. Baie later, toe ek klaar was met die dinge van 'n kind en tot die insig gekom het dat Smuts die grootste Afrikaner-staatsman was wat die Afrikaners opgelewer het, moes ek van my familie hoor dat ek sélf ook 'n verraaier geword het.

My eerste kennismaking met 'n profeet was op hoërskool, toe 'n sekere dr Wagner, gekleed in 'n rok van sak en as op sy kop, die dorp kom besoek het. In die hoofstraat waar ons as kinders gedurende speeltyd om hom saamgedrom het, het hy met 'n bulderende stem gestaan en preek en aangekondig dat rampe die Afrikaners gaan tref. Voordat dit gebeur, sou daar egter eers 'n wegraping van die gelowiges plaasvind. Die ongelowiges sou agterbly en deur vlamme uit die hemel verteer word en hulle vet sou soos 'n rivier deur die strate vloei - 'n ware vet (wit) rivier. Miskien was wat dr Wagner voorsien het, die wegraping van die Afrikaners se heerskappy en die huidige vet in die vuur in Afrikaner-geledere.

My eerste kennismaking met die konsep dissident was toe ek die geledere van die Afrikaner Broederbond verlaat het en 'n jare lange vriend met wie ek saam op skool was en wie se naam ek liefs nie sal vermeld nie, aan my gevra het: "Nico, waarom het jy nou 'n Afrikaner-dissident geword? Jy het nou jou hele toekoms in die Afrikaners se geledere weggegooi." Toe ek hom vra wat hy met "dissident" bedoel, was sy antwoord kort en klaar: "'n Afgdwaalde en dus 'n verdwaalde Afrikaner". Sedertdien is ek dan ook deur die Afrikaners as 'n verdwaalde Afrikaner gebrandmerk. Gelukkig kan ek nou na dertig jaar sê dat ek nog nooit spyt was dat ek uit die Afrikaner-geledere weggedwaal het nie.

Dié drie kategorieë van persone wat deur die mense van hulle tyd belas is met benaminge van 'n negatiewe konnotasie, het dus vir my aanvullende funksies in die geskiedenis van die Afrikaners vervul, maar deur die Afrikaners beskou is as mense wat hulle nek-om wou draai; die profete, wat die tekens van die tye onderskei het en 'n nuwe koers wou aandui wat deur die Afrikaners as 'n koers na ondergang beskou is; en dan die dissidente, wat deur die Afrikaners beskou is as mense wat afgedwaal het van die algemeen erkende denke van die Afrikaners en dus verdwaal geraak het.

Voordat verder op die funksies van hierdie drie kategorieë persone ingegaan word, is dit nodig om eers die konteks waarin hulle na vore getree het, te bepaal. En dit stel dan die verlede, die hede en die toekoms van die Afrikaner aan die orde.

Wie is ons, die Afrikaners nou eintlik?
Dié vraag bly nog steeds onbeantwoord, ten spyte van Giliomee se fenomenale navorsing om 'n biografie oor die Afrikaners te skryf. Natuurlik voel ons goed oor ons geskiedenis soos Giliomee dit beskryf - 'n volk wat as die bedreigdes 'n heroïese stryd gevoer het om te oorleef. En ons hét oorleef en sou nog langer heersend verder kon oorleef het, was dit nie, volgens Giliomee, vir FW de Klerk se lamsakkigheid wat sommer boedel oorgegee het nie - dit terwyl die hele weermag gereed gestaan het om die onderhandelings ten gunste van die Afrikaners te laat verloop. Ons kón, en móés, soveel sterker van die onderhandelingstafel weggestap het. Maar ons hét nie. Ons het verloor, meen Giliomee.

Interessantheidshalwe noem ek slegs terloops dat Samuel P Huntington in 2004 ook 'n biografie oor die Amerikaners gepubliseer het met die titel: Who are we? The Challenge To America's National Identity. Hy gaan, soos Giliomee, ook uit van die veronderstelling dat die identiteit van die Amerikaners, veral sedert 1960, bedreig word deur die miljoene immigrante wat Amerika binne gestroom het. Die oorspronklike identiteit waartoe hy die Amerikaners oproep om terug te keer, of liefs om aan vas te klem, is die Anglo-Protestantse kultuur. En die rede waarom die Amerikaners se identiteit bedreig word, is ook die lamsakkigheid van die politici - veral die Demokrate.

Na die lees van Giliomee en Huntington se biografieë was dit vir my duidelik dat elke volk sy geskiedenis sou kon aandui as 'n stryd om oorlewing en dus behoud van eie identiteit. En dit is in 'n sekere sin waar, anders het verskillende volke waarskynlik nie meer bestaan nie. Elke volk het immers, soos elke lewende organisme, die drang om te oorleef.

Dat die Afrikaners voel dat hulle tans, nog meer as ooit tevore, steeds in 'n stryd om oorlewing gewikkel is, blyk uit die prominensie wat die vraag na wie die Afrikaners nou eintlik is, tans in die media geniet. Onder andere verskyn in Rapport van 20 Februarie 2005 'n artikel van Flip Buys van Solidariteit onder die opskrif: "Sê vir my wat is 'n Afrikaner". In reaksie op sy artikel het verskeie Afrikaner-intellektuele hulle sienings gegee oor wie hulle as Afrikaners beskou. Buys het 'n nuwe, vars benadering oor die Afrikaners aan die orde gestel. Hy verwys na David Ben Gurion wat gesê het die Jode is al 3 000 jaar lank 'n volk sonder 'n definisie. 'n Volk hóéf dus nie gedefinieer te word nie. Elkeen weet persoonlik of hy/sy deel is van 'n volk. Buys kom tot die gevolgtrekking dat Afrikaner nie 'n uitsluitende begrip moet wees nie, maar inklusief deur bande met ander Afrikaanssprekendes dringend te versterk en uit te bou. Hy stel dit dan ten slotte: "Demokratiese volwassenheid beteken jy kan maar 'n Afrikaner wees, of 'n Suid-Afrikaner, 'n Afrikaan of 'n Afrikaanssprekende, of enige kombinasie van hierdie en ander begrippe, of almal saam."

Om 'n antwoord te gee op die vraag oor wie ons as Afrikaners nou eintlik is, is dit nodig dat ons eers na ons oorsprong sal kyk. Alleen vanuit ons oorsprong sou bepaal kan word wie ons nou eintlik is.

Waar kom ons vandaan?
Hoe het ons ons ontstaan as Afrikaners gevind? Hoe moet ons die oorsprong van die Afrikaners beoordeel? Wie was hulle wat vanuit Europa hier aan die suidpunt van Afrika kom plak het? Die Afrikaners is waarskynlik die mees resente groep mense wat uit verskillende volke in 'n bepaalde verband met mekaar in 'n bepaalde lokaliteit saamgevoeg is en 'n eie identiteit ontwikkel het. En die rol van die lokaliteit is in die geval van die Afrikaners van besondere belang. Dis in 'n groot mate júis die lokaliteit van hulle ontstaan wat uiteindelik 'n belangrike bydrae tot hulle identiteit gelewer het. Wat was dus die lokaliteit van hulle ontstaan en hoe het die identiteit van die Afrikaners daaruit voorgevloei?

In die eerste plek sou ons kon sê dat die Afrikaners hulle lokaliteit gevind het deur ongevraagd, sonder vooraf-onderhandelinge met wie ook al geboortereg op die lokaliteit gehad het, en dus sonder toestemming, hulleself op die Afrika-bodem kom tuismaak het - plakkers, dus, in die ware sin van die woord. En dit sou hulle waarskynlik gebly het as hulle gebly het by die oorspronklike doel waarvoor hulle deur hulle here, van wie daar sewentien in Nederland was, en daarmee saam hulle HERE, van wie daar Drie was, hulle gestuur het, naamlik om 'n verversingspos, 'n Hamburger Hut, soos Casper de Vries dit noem, hier aan die suidpunt van Afrika te kom vestig en terselfdertyd ook die koninkryk van hulle HERE hier te kom uitbrei. Onder die leiding van hulle hoof-indoena, Jan van Riebeeck, het hulle dus kom plak om vir hulle here en HERE winste te kom versamel en sodoende die moederland, Nederland, te verryk en die wilde en brutale mense in Afrika aan hulle HERE te kom onderwerp.

Eers het hulle net in tente gewoon, en toe dadelik 'n fort begin bou - 'n aanduiding dat hulle verblyf permanent sou wees. Dat die eerste permanente struktuur wat gebou is, juis 'n fort was, was 'n aanduiding dat hulle bedreig gevoel het omdat hulle geweet het dat hulle 'n onwettigheid gepleeg het en hulleself moes beskerm teen diegene teenoor wie hulle oortree het - die wettige bewoners van die land. Hulle het dus goed besef dat hulle plakkery nie deur die oorspronklike eienaars van die land aanvaar is nie en moes daarom hulle ongevraagde teenwoordigheid beskerm.

En toe die wettige eienaars van die plaas verdryf of getem was, word die fort 'n kasteel waarin die plakkers se konings (of in Afrika-terme: indoenas) sou voortleef. En konings (indoenas) wil onderdane maak en regeer. Daarom was 'n blote verversingspos spoedig nie meer genoeg nie. Die verversingspos moes uitgebrei word. So het indoena Van Riebeeck dan aan sommige plakkers toestemming verleen om met plaasbesetting te begin. Van plakkerstatus het die plakkers dus oorgegaan tot 'n nuwe status - plaasbesetters.

En met die verkryging van plaasbesetterstatus het, volgens FA (Floors) van Jaarsveld, vir wie ek as profeet in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing beskou, die geboorte-uur van die Afrikaners aangebreek. In sy oorsig oor die geskiedenis van Suid-Afrika, met die titel Van Van Riebeeck tot Verwoerd, 1652-1966, identifiseer Van Jaarsveld 1657, die jaar toe indoena Van Riebeeck aan nege plakkers toestemming verleen het om grond te gaan beset, as die jaar waarin die wiele van die Afrikaners se bestaan aan die rol gesit is.

Die nederige begin in 1652, soos Giliomee die begin van die plakkery noem, het na slegs vyf jaar se verblyf van die plakkers op die verversingspos oorgegaan tot 'n brutale plaasbesetting. Die nege plakkers aan wie indoena Van Riebeeck in 1657 die reg gegee het om plase te gaan beset, was tereg vryburgers genoem, "vrye" boere - vry om voortaan op hulle gratis verkreë grond 'n eie bestaan uit te werk. Tien jaar later was daar 35 vrye boere, en nog 20 jaar later, 260. Aan die begin van die 18de eeu was daar 2 000 vrye plaasbesetters en aan die einde van die 18de eeu 25 000.

Aan hierdie plaasbesetting het ook my eie voorsate mildelik deel gehad. Die stamvader van ons familie, Jürgen Schmidt, het hom vanuit Denemarke in 1779 aan die Kaap gevestig. Hy ontvang van die Politieke Raad in 1782 toestemming om vir hom 'n plaas aan die Sondagsrivier te beset. En van dié vergunning het hy mildelik gebruik gemaak deur vir hom 'n plaas van 8 786 morg te beset. Hy word een van die grondleggers van die dorp Graaff-Reinet wat in 1786 uitgemeet is. Hiervandaan, vanaf die plaas Baviaanskrans, versprei dan 'n nuwe geslag grondbesetters in die Oos-Kaap. Sy kleinseun, Nicolaas Johannes Schmidt, wie se naam ek as sewende geslag van die oorspronklike stamvader dra, verkry op dieselfde wyse toestemming om 'n plaas van 11 953 morg aan die Bulrivier te beset. Uit hierdie grondbesetting het selfs nog my vader as sesde geslag van die Bulrivier-Schmidts voordeel getrek deurdat sy vader welvarend genoeg was om hom na die Universiteit van Stellenbosch te stuur - in daardie tyd weinig beskore. Wat geword het van die oorspronklike bewoners (eienaars) van die gronde wat so mildelik deur my eie voorgeslagte beset is, word nêrens in die familie-annale melding gemaak nie.

So het die wordingsjare aangebreek van 'n nuwe spesie op die Afrika-bodem wat as Afrikaners bekend sou staan. En so begin dan die proses van vrye Afrikaners wat base was op hulle gratis-toegekende plase - 'n voorbeeld wat "indoena" Mugabe 300 jaar later sou navolg!

Toe die plaasbesettings uiteindelik tot 'n einde gekom het, het 87 persent van die oppervlakte van die land aan die vrye boere behoort en net 13 persent aan die oorspronklike eienaars van Suid-Afrika. Inderdaad 'n vryheid in plakkery wat geen paal of perk geken het nie. Daar kon ook geen paal of perk aan hulle veroweringsdrang gestel word nie, want "Gods goedheid" teenoor hulle, soos hulle dit beskou het en in een van hulle kerklike gesange besing het, het geen paal of perk geken nie. (Soos die ou boer wat geweier het dat daar oor sy plaas telefoonpale en drade gespan sou word, want, so het hy geredeneer: Gods goedheid ken geen paal of perk!) Waar paal en perk wel aan die vrye boere gestel was, het hulle eenvoudig opgepak en weggetrek - noordwaarts. Dat vrije volk zijn wij! Hulle wou vry wees en geen Eiendoms Beperk aanvaar nie. Hulle wou 'n vrye maatskappy wees wat privaat en onbeperk vir hulle 'n lewe na eie begeerte en goeddunke kon uitwerk.

Die godsdienstige oorsprong van die Afrikaners
Die godsdienstige invloed in die totstandkoming van 'n volk of groep word dikwels deur historici nie na waarde geskat nie, en selfs oor die hoof gesien. As teoloog glo ek egter dat spiritualiteit ten diepste 'n belangrike bydrae lewer tot die oorsprong van 'n volk se denke en handelinge. Daarom is dit noodsaaklik om, ter wille van 'n breër insig in die oorsprong van die Afrikaners, ook aandag te gee aan die godsdienstige oortuigings van die grondleggers van die Afrikaners as 'n volk. Vanuit die kerkgeskiedenis wil ek daarom enkele godsdienstige aspekte van die Afrikaners se oorsprong aan die orde stel. Profete, verraaiers en dissidente in die Afrikaners se geskiedenis was immers altyd as konsepte met 'n godsdienstige ondertoon gebruik.

Die Nederlandse plakkers het hulle eie godsdiens saamgebring om as kompas vir hulle denke en handelinge in hulle nuutgevonde lokaliteit te dien. Dit was die Drie Formuliere van Enigheid, naamlik die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls. Die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande het op die sinode te Dordrecht in 1618/1619 hierdie vasstaande reëls vir die geloof en lewe van alle Protestants-Gereformeerde gelowiges in Nederland neergelê. En die plakkers aan die Kaap, behorende tot die Nederduitse Gereformeerde Kerk, waarvan hulle 'n loot uit Holland saamgebring het en op die Afrika-bodem kom oorplant het, was verplig om hulle aan dié leefreëls te onderwerp.

Met hierdie drie geloof- en leefreëls is die finale "kanon" van die Protestants-Gereformeerde leer vasgelê en afgesluit. Niemand kon later weer iets byvoeg nie. Wat tans, 350 jaar later, nog deur die meerderheid van die Afrikaners as die ware Christelike leer beskou word, word nog steeds onveranderd en sonder enige toevoeging gehandhaaf. Al het die tye en geleenthede hoe ook al verander, die drie Formuliere van Enigheid staan vas vir alle tye - net soos die Drie-Eenheid. Niks meer en niks minder is óóit nodig nie - allermins die Belydenis van Belhar! Die Gereformeerde geloof is finaal uitgespel en vir alle tye vasgelê. Dat daar nuwe tye met nuwe vrae wat nuwe antwoorde benodig, gekom het, word eenvoudig geïgnoreer. Dat weinig Afrikaners nog iets van die inhoud van hierdie drie leerstukke ken of verstaan, maak nie saak nie. Die "kerkvaders" weet dit wél en alle lidmate moet eenvoudig bly by wat hulle geleer word en aan hulle oorgelewer is. So was dit vanaf die oorsprong van die Afrikaners en so word dit nog steeds gehandhaaf.

Van dié drie leerstukke was die Dordtse Leerreëls die laaste wat geformuleer is om uit te lê en vas te lê wat "Gereformeerd" vir tyd en ewigheid moes beteken. Hierdie beroemde en berugte sinode te Dordt is slegs 34 jaar voordat die eerste Nederlanders hulle aan die Kaap van Goeie Hoop kom vestig het, gehou. En tot aanhangers van hierdie finaal-geformuleerde Gereformeerde leer het ook Jan van Riebeeck en sy metgeselle behoort. Die meeste van die groep plakkers het waarskynlik nog die verloop van die sinode van Dordt as kinders en jongmense meegemaak - of is in die godsdienstige klimaat van dié leerreëls opgevoed.

En dit was sekerlik 'n sinode wat nie by die lidmate van die Gereformeerde Kerke ongesiens en ongehoords verby sou gegaan het nie. Dit was immers 'n sinode wat vir ses en 'n halwe maand geduur het (13 November 1618 tot 29 Mei 1619). Nie alleen is meer as 200 predikante deur die sinode uit hulle amp geskors nie, maar 'n hele aantal predikante is op versoek van die sinode deur die State Generaal (owerheid) die land uit verban.

Die sinode van Dordt was dus nie maar 'n gewone sinode wat oor ditjies en datjies besluite geneem het nie. Nee, dit het gegaan oor sake van lewe en dood vir die lidmate van die kerk - sake wat die geloof en lewe, en veral die ewige lewe, van die lidmate bepaal het. Wie geglo het soos deur die kerk in die Leerreëls voorgeskryf, was verseker van hulle ewige uitverkiesing deur God - 'n uitverkiesing wat, soos in die Leerreëls uitgespel, onherroeplik was. God se uitverkiesing kon dus nooit weer teruggetrek word of ongeldig verklaar word nie. En wie nie soos voorgeskryf geglo het nie, was vir die ewige oordeel van die God van die Gereformeerdes bestem - wat óók onomkeerbaar was. Wie dus nie uitverkies was nie, het doodeenvoudig geen kans op 'n salige ewige lewe gehad nie. Hulle was vir ewig gedoem ter helle.

Met dié geloof in die hart en die sekerheid van hulle eie uitverkorenheid deur God het die "plakkers" hulle dan op die Afrika-bodem gevestig. Die oortuiging dat hulle deur die "Goddelike Majesteit" aangestel was, was reeds vasgelê in die gebed wat die Here XVII aan Van Riebeeck voorgeskryf het om te gebruik by die opening van alle vergaderings van die Breëraad, later genoem die Politieke Raad. Hulle was deur hulle Gereformeerde God aangestel om Justisie (wet en orde) in die nuwe verblyfoord te kom handhaaf en om "die wilde en astrante mense" van Afrika tot die enigste ware Christelike leer te bekeer.

Die aanspraak van die plakkers dat hulle deur hulle god daartoe aangestel was om hier aan die Kaap wet en orde te kom handhaaf, het hulle ontvang vanuit die Dordtse Leerreëls. Volgens dié Leerreëls het hulle geglo dat hulle deur hulle god uitverkies was. Wie immers gedoop was en geglo het, kon die vaste versekering toe-eien dat hy/sy deur God uitverkies was nog voor die grondlegging van die wêreld en dat dié uitverkiesing vir ewig vasstaan. As uitverkorenes van hulle god was hulle verseker dat hulle god met hulle saamgekom het en dat hulle in die verre land is omdat dié god dit so gewil het. Dit was die diepste fondament waarop die vestiging van die eerste Europeërs as Gereformeerde Protestante hulle aan die Kaap gevestig het, en dit het die fondament gebly waarop hulle nasate, die Afrikaners, hulle eie bestaan in die verre suiderland op sou bou. Ons was hier deur God geplaas en aangestel om die reg te handhaaf en om die lig van die Evangelie en beskawing hier in Afrika te kom vestig.

As daar één gemeenskaplike kollektiewe bewussyn aan die Afrikaners toegeskryf kan word, is dit gewis die bewuste en onbewuste wete dat hulle deur hulle god in Afrika geplaas was. Alleen op grond dáárvan kon hulle aanspraak maak om in beheer te wees. Hulle is immers deur hulle god uitverkies en aangestel. Soos 'n goue draad was hierdie bewussyn deur die geskiedenis van die Afrikaners geweef. Drie honderd jaar later, toe sing ons nog as Afrikaanse studente aan die Universiteit van Pretoria die geliefde Universiteitslied "Ad Destinatum Persicor" ("Ons strewe na 'n doel") so uit volle bors dat ons "geroepe is tot regere". En dit was die deurlopende lyn van die Afrikaner se geskiedenis - geroepe tot regere!

Maar om aan die regere te bly, moes ons sorg dat elke groep afsonderlik in townships en tuislande regeer moes word. Daarvoor was nodig dat ons in 1948 die pad van afsonderlikheid moes kies en sodoende die Nasionale Party wat dit alles beloof het, verkies. Elkeen op sy/haar eie plek - en siedaar: orde en vrede! En wie sou dit wou waag om te sê dis 'n valse orde en vrede? Wie dit probeer sê het, was 'n dissident, 'n afgedwaalde, 'n misleide onder die invloed van Kommunisme. Die Afrikaners alleen kon van Godsweë aanspraak maak op regte in hierdie land en die verleen van regte aan ander.

Vreemd genoeg word in die voorgeskrewe gebed van die Here XVII aan Van Riebeeck dit uitdruklik gestel "dat ons besluite sal lei tot grootmaking en eer van U Allerheiligste Naam ... sonder om ag te slaan op eie voordeel". Dit is duidelik dat die Afrikaners nie tot by die laaste gedeelte van die Here XVII se gebed uitgekom het nie. Die aanstelling (roeping) tot regere het voorop gestaan en is trou gehandhaaf. En dit is gehandhaaf met volle inagneming van eie voordeel sonder om ag te slaan op ander se voordeel. Daarom is die deurlopende lyn van die Afrikaner se geskiedenis nie 'n oorlewingstryd nie maar 'n oorheersingstryd - die stryd om te regeer, te oorheers, in beheer te wees.

En juis hierdie basiese gegewe in die Afrikaner se gene moes uiteindelik lei tot die wetlike implementering van apartheid. Apartheid was in 'n sekere sin 'n onafwendbare resultaat van die drang van die Afrikaners om in beheer te bly, om hulle eie toekoms te skep en te verseker. Hulle sou op geen ander wyse hulle eie toekoms kon verseker as deur die heersersvolk te bly nie. Idealisties gesproke was dit natuurlik om ook vir die ander volke op die Suid-Afrikaanse bodem 'n eie toekoms te skep - 'n toekoms wat ons, die Afrikaners, vir hulle sou uitwerk, want ons het die beste geweet wat vir hulle goed is, en dit was apartheid, verdoesel met die Josefskleed: Afsonderlike Ontwikkeling. Hulle, die inwoners van Afrika, was nog onvolwasse (stadige dinkers) en het nie geweet wat vir hulle die beste sou wees nie.

Die geskiedenis haal ons in; ons word van ons mag gestroop
Maar uiteindelik het die geskiedenis ons ingehaal en is ons aanstelling tot regere ons ontneem. Wat 'n ironie dat die god van die Afrikaners hulle in Afrika geplaas het, hulle aangestel het om reg en orde te handhaaf en die wilde en astrante mense te kersten en te beskaaf, en toe hulle dit alles gedoen het en met offers van goed en bloed die land opgebou het, toe neem hulle god die heerskappy van hulle weg en gee die land terug aan die wilde en astrante mense van wie hulle dit afgeneem het. Die geskiedenis is voorwaar 'n wrede regter wat uiteindelik tereg die lotgevalle van volkere en nasies bepaal. Of liewers, die geskiedenis voltrek net die oordeel wat mense vir hulleself in die geskiedenis inbou.

En al wat nou oorgebly het, is net die spore van die apartheidstrein tussen die verkiesingstasies van die land. Dit was reeds Van Riebeeck wat die apartheidstrein met sy amandelboomlaning in Kaapstad op die spoor geplaas het. In Pretoria is in 1948 'n nuwe lokomotief voor die trein gehaak en veral met Verwoerd as drywer het die apartheidstrein voortgestoom op pad na Messina (Musina) om die inwoners van die land in hulle tuislande af te laai. Vanaf Musina was die trein op pad terug na Kaapstad, waar die wit parlement die "duisendjarige wit ryk" in stand sou hou.

Maar op die terugreis is die trein op Kemptonpark tot stilstand gebring. 'n Nuwe trein is gekonstrueer sonder die afsonderlike waens vir blankes en nieblankes. Sommige het egter geweier om op die nuwe trein verder te reis. Hulle het verkies om per ossewa verder te reis - na Orania.

By terugskoue was apartheid 'n tragedie - beslis die grootste tragedie in die geskiedenis van die Afrikaners. Dié tragedie blyk veral uit die feit dat oudpresident FW de Klerk tien jaar na die bevryding van die land uit die greep van apartheid, op 28 Januarie 2005 in 'n toespraak by die wêreldbekende debatsvereniging van die Universiteit van Oxford in Engeland, verklaar het dat apartheid van meet af aan gedoem was tot mislukking. "Ek glo terugskouend," sê hy, "dat die beleid van apartheid nie gegrond was op 'n goeie begrip van basiese godsdienstige beginsels nie. Miljoene mense is onderwerp aan die daaglikse vernedering van rassesegregasie en uitsluiting." Skeiding van die mense van Suid-Afrika "het misluk en gelei tot onmiskenbare ongeregtigheid".

Hierdie tragedie van daaglikse vernedering deur gedwonge rassesegregasie, van onmiskenbare ongeregtigheid, word vir die Afrikaners daagliks uitgestal deur die media, televisie en koerante, waarin swart mense op elke terrein van die lewe na vore tree - mense van wie se bestaan ons nooit bewus was nie. Hierin het apartheid waarskynlik die beste geslaag, naamlik om swartes onsigbaar te maak in die Suid-Afrikaanse samelewing. Hulle totale uitsluiting van die daaglikse gang van sake het nie slegs die swart mense oneindig benadeel nie, maar nog meer ook die wittes. Dit het die wittes laat glo dat Suid-Afrika 'n witmansland is en dat hulle alleen oor die potensiaal beskik om die land tot volle ontplooiing te laat kom. Swart mense was eenvoudig nie in staat om funksies in die samelewing te vervul nie. Dit was die prerogatief van die wittes alleen.

Wat 'n tragedie! Veertig jaar van daaglikse menslike vernedering en onmiskenbare ongeregtigheid! Veertig verlore jare, soos deur Dan O'Meara in sy boek oor die apartheidsregime: Forty Lost years, beskryf. Alle volke het hulle eie tragedies in hulle geskiedenis. Die tragedie van die Afrikaners se geskiedenis was beslis apartheid - 'n tragedie wat die Afrikaners nog vir lank as 'n las met hulle sal moet saamdra. Hoe die Duitse volk dit ook al verpes, dra hulle die skuldlas van Auschwitz met hulle saam. Na 60 jaar is die tragedie van Auschwitz nog steeds lewend in die denke van miljoene. Soos die naam Auschwitz 'n skandelon op die Duitse volk geplaas het, sal ook apartheid die Afrikaners bly aankleef.

Die pad vorentoe - om voort te bestaan of nie voort te bestaan nie
En intussen? Intussen bly die allerdringendste vraag: Hoe gaan die Afrikaners die toekoms in sonder om te regeer en in beheer te wees nadat die aanstelling deur hulle god teruggetrek is? Nou word ons gekonfronteer met die realiteit van ons magteloosheid as 'n minderheidsgroep in Suid-Afrika. Hier en daar word die Vierkleur nog omhoog gehou, word in die Raadsaal van Tshwane se raadsitting nog die ou Volkslied van Suid-Afrika aangehef, word daar gebrul oor ons taalregte en hoe ons sal voortgaan om vas te bly staan op ons minderheidsregte. Dit alles nadat ons vir langer as drie eeue geen respek vir meerderheidsregte gehad het nie en ons ons weinig daaroor bekommer het!

Die vraag wat na my oordeel die dringendste is in verband met die toekoms van die Afrikaners, is die vraag wat Elie Wiesel by die sestigste herdenking van Auschwitz aan die orde gestel het, naamlik of Auschwitz die mensdom wél verander het. Indien nie, het Auschwitz geen betekenis nie en behoort dit nie verder herdenk te word nie. Wat die Afrikaners betref is die vraag of die tragedie van apartheid ons wél verander het, of gáán verander. 'n Nog groter tragedie as apartheid self sou wees as apartheid die Afrikaners onveranderd gelaat het.

Op die oomblik sien ek self nog nie veel van verandering nie. Wat wél verander het, is dat die Afrikaners van 'n doodtevrede houding verander het na die mees ontevrede groep mense in die land. Die meeste Afrikaners ly tans aan posttraumatiese stres. En dit bestaan in die vorm van 'n diepgaande depressie oor hulle toekoms. "Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika" is vervang met: "Ons kan nie lewe nie, ons is besig om te sterwe deur jou, die nuwe Suid-Afrika."

Die jeremiades wat 'n mens in feitlik alle geselskappe van Afrikaners moet aanhoor, is haas ondraaglik.

In 'n onlangse program van Nicci van den Berg in Sê wie? het hy die vraag oor die huidige publieke dienste aan die orde gestel. Dit was ongelooflike verhale wat deur die inbellers opgedis is. Van den Berg het ten slotte verklaar dat hy in 'n totale toestand van depressie verval oor wat hy moes aanhoor.

Maar niemand, ja, niemand, het ingebel om te sê: "We've got nobody else to blame but ourselves" nie. Ons, die wittes, en by name die Afrikaners, is te blameer vir ons huidige traumatiese ervarings. Ons het hulle, die swartes, uit ons samelewing en al sy funksies verban. Hulle kon die spel van Publieke Administrasie nooit leer nie en toe, na 1994, is hulle onverhoeds en totaal onvoorbereid op die veld geroep om die spel te kom speel. Dat die administrasie na tien jaar nog nie totaal in duie gestort het nie, is beslis deel van die wonderwerk wat in Suid-Afrika gebeur het.

Van hierdie posttraumatiese stres sal ons bevry moet word. Eers dan sal ons ook bevry kan word van die skuldlas las wat apartheid op ons geplaas het. Word ons nie bevry nie en gaan ons voort met ons depressiwiteit oor ons toekoms en die toekoms van Suid-Afrika, sal ons die las van die apartheidsvolk te wees, saam met ons die toekoms indra. Afrika sal apartheid nie vergeet nie. Ons droom as ons voortdurend oproep om die verlede agter ons te stel. Daar is net één weg om die las van ons af te neem en dit is 'n daadwerklike verandering in onsself.

Watter verandering in ons denke oor die verlede is noodsaaklik vir die Afrikaners?

Dertig jaar na die tragedie wat die Duitse volk beleef het met die Tweede Wêreldoorlog, het twee psigiaters 'n boek geskryf met die titel: Die Unfähigkeit zu trauern (Die onvermoë om te treur). Dié boek was die resultaat van navorsing wat hulle onder hoërskoolleerlinge in Duitsland gedoen het. Die vraag wat aan die leerlinge gestel was, was wat hulle ouers aan hulle omtrent die Tweede Wêreldoorlog gesê het. Die mees algemene antwoord was dat die ouers vir hulle gesê het dat die oorlog nie die Duitsers se skuld was nie maar dié van die ander lande van Europa en die Jode wat die Duitsers wou verneder. Daar was geen teken van berou oor die verlede nie.

Dit lyk my na dieselfde onvermoë wat by die Afrikaners te bespeur is - die onvermoë om te treur oor ons verlede. Waarskynlik is dit omdat ons nog nooit regtig besef het wat apartheid beteken het nie. Trouens, baie glo nog dat apartheid self nie so sleg was nie, dit was net die onvermoë van die leiers om apartheid reg te implementeer. Ander kies as selfregverdiging die antwoord wat ook die meeste Duitsers na die oorlog gegee het: "Wir haben es nicht gewusst". Met hierdie ontkenning van ons skuld van die verlede sal die las van die verlede wat ons met ons saamdra, beslis nie van ons skouers afgeneem word nie.

'n Verdere verandering wat vir die Afrikaners nodig is vir die toekoms, is dat ons bevry sal moet raak van ons sekerhede. Sekerheid bly vir my die grootste vyand van die mensdom. Dit is ons sekerhede oor alles, en veral oor onsself en oor Afrika en sy mense, wat ons so onuitstaanbaar maak in Suid-Afrika. Ons is so seker dat ons die beste weet wat goed en reg is. Hierdie onuitstaanbare houding by Afrikaners maak dit des te meer verstommend dat die swartes ons so lank verdra het, ons vir so lank ons eie weg laat gaan het, en ons, toe ons heerskappy tot 'n einde gekom het, nie almal kop ingeslaan het nie. Ons het dit verdien en die mense van Afrika het rede gehad om ons dit aan te doen. Maar hulle het nie. En daarvoor verdien hulle lof - nie net Mandela nie, maar alle Afrikane in Suid-Afrika. Ja, wat gebeur het, was 'n wonderwerk, maar 'n wonderwerk deur die mense van Afrika. Die Afrikaners het aan dié wonder weinig aandeel gehad.

Verandering van identiteit - is dit moontlik?
Is die verandering wat nodig is vir die Afrikaners 'n verandering van ons identiteit? Nee, ons kan ons identiteit nie verander nie. Identiteit word histories bepaal. Identiteit is 'n kreatiewe gegewe wat die bestaanswyse van 'n groep bepaal. Ons is wie ons is soos ons deur ons geskiedenis gevorm is. Dit kan ons nie verander nie - net so min as wat 'n jakkals deur te verhaar sy identiteit as 'n jakkals kan verander. Maar mense is nie jakkalse nie. Mense kán verander. Mense kan nie verander nie slegs wanneer hulle kiés om nie te verander nie. En dan bly ons Europese wit jakkalse wat deur die geskiedenis op die Afrika-bodem losgelaat is en tot 'n plaag vir die mense van Afrika geword het.

Hoe verander 'n mens sonder om jou identiteit te verander? Ons sal immers nie ons identiteit as Afrikaners kán ophef of verander nie. Daar is ook geen rede voor nie. Trouens, ons moet dit as een van die grootste voorregte beskou dat ons in Afrika aangeland het. Die kontinent het ons as Afrikaners soveel geleenthede gebied om ons identiteit te ontwikkel en 'n eie selfstandige bestaan te vind. Ons identiteit sou egter soveel ryker en ruimer kon gewees het as ons onsself oop- en blootgestel het vir vrye kontak met die mense van Afrika en hulle kultuur. Maar helaas - ons het van dié oop- en blootstelling nie gebruik gemaak nie.

Dis egter nie die feit dat die Afrikaners 'n bepaalde identiteit het wat 'n probleem is nie; dis die mentaliteit wat met die identiteit gepaard gaan - 'n bepaalde houding teenoor ander. Alle identiteite skep 'n bepaalde mentaliteit. En dis die mentaliteit van volke en groepe waardeur mense die wêreld vir mekaar so moeilik maak. Identiteit word deur die verlede bepaal. Mentaliteit bepaal die toekoms. Mentaliteit belas of bevry 'n volk van 'n bepaalde houding teenoor ander. Dit is die mentaliteit, die houding van die Afrikaners, wat die lewe vir die swart Suid-Afrikaners so oneindig versuur het, die houding van: "Ons is baas, ons weet die beste, ons sal besluit wat die beste is vir almal in die land."

Die Afrikaners sal op 'n ander wyse oor hulleself en oor Afrika moet begin dink, praat en handel. En daarvoor is dit, na my oortuiging, in die eerste plek nodig dat ons op 'n nuwe wyse oor ons Afrikaner-identiteit sal moet dink. Watse mentaliteit het ons identiteit by ons laat ontwikkel? As ons voortgaan met ons mentaliteit van 'n sug na in beheer te wees, om aan ander voor te skryf, is daar weinig hoop dat ons deur die mense van Afrika aanvaar sal kan word. Is dit nie miskien hierteen dat president Mbeki hom voortdurend uitspreek nie? Is hy maar net 'n rassis en ons totaal onskuldig? Gee ons hom nie rede om hom oor ons houding uit te laat nie?

Vir sodanige mentaliteit verandering sal ons onsself in die eerste plek as Afrikane moet beskou - wit Afrikane, al sou die wit langsamerhand verander in bruin, geel en selfs swart. So sal ons bevry raak van ons eksklusiewe mentaliteit en ons onsself rig op Afrika as die enigste lokaliteit van ons bestaan. Ons sal willens en wetens ontslae moet raak van die rs in ons selfbenaming. Dus, ons sal Afrikane moet word - wit Afrikane.

En vir hierdie verandering van mentaliteit sal verraaiers, profete en dissidente nodig bly. Dis húlle wat 'n samelewing kan verander deur mense se koppe te draai. Dis hulle wat in 'n groot mate die Afrikaners se koppe reeds begin draai het, maar nog nie genoeg gedraai het nie. Die gevaar is natuurlik dat hulle deur sommige Afrikaners die nek omgedraai kan word deur byvoorbeeld aan Dan Roodt se skandpaal te beland. Maar sonder hulle, die verraaiers, profete en dissidente, sal die toekoms van die Afrikaners nie donker wees nie maar bleek. En bleek is die kleur van die dood. Hopelik sal die verraaiers, profete en dissidente die Afrikaners kan verhoed om in dwaasheid die pad van die dood te kies en selfmoord, of dan liewers volksmoord, te pleeg.

Wat sal 'n verandering van mentaliteit in die praktyk vereis? In plaas van vas te klem aan 'n bepaalde identiteit as historiese gegewe, moet daar die bereidheid tot identifikasie kom - identifikasie met die lokaliteit. Vanuit die eie identiteit moet 'n identifikasie met die lokaliteit ontwikkel. Die lokaliteit van die Afrikaners is besig om sienderoë te verander. Vir drie en 'n halwe eeue was ons lokaliteit niks anders as Europees nie. Die Afrikaners het vir hulle 'n eie Europese lokaliteit in Afrika geskep. En nou is dit besig om alles anders te word. Wat nou nodig is, is om vanuit eie identiteit met die nuwe lokaliteit te identifiseer. Die eie identiteit lewer dan 'n bydrae tot die nuwe gegewe om dit sodoende te help transformeer ten einde die vorme van die verlede te bowe te kom en dit te hervorm tot 'n nuwe bestaanswyse waarin die eie groep weg beweeg van eiebelang na gemeenskaplike belang.

In Engels sou die woord commitment gebruik kon word. Commitment kom van twee Latynse woorde, cum (= "saam") en mittio (= "sending"). Dus gaan dit om 'n gesamentlike sending ten opsigte van die toekoms. En dié sending is om gesamentlik te werk aan 'n toekoms met die wete dat daar geen bestaan vir die Afrikaners moontlik is sonder 'n saam bestaan met alle bewoners van die land nie. Dus bestaan alleen deur saam bestaan.

Dit is op die pad van hierdie sending dat verraaiers, profete en dissidente intussen bitter nodig vir die Afrikaners sal bly.

Dis die verraaiers, profete en dissidente wat weer hoop sal bring vir die toekoms deur die hede van die Afrikaners tot 'n einde te help bring - verraaiers wat bereid is om met diegene wat regeer, saam te werk aan 'n nuwe toekoms, profete wat die tekens van die tye sal lees en die weg na 'n nuwe toekoms aanwys, dissidente wat die bestaande denke sal deurbreek deur af te wyk van die algemeen aanvaarde denkwyse. Die Afrikaners het hierdie "afwykendes" tans meer nodig as ooit in die verlede ten einde wérklik te oorleef. Dit sal nie stryders wees vir minderheidsregte, taalregte en wat se regte ook al opgenoem mag word, wat die Afrikaners sal red nie. My hoop is op die verraaiers, profete en dissidente. Dit is húlle, so glo ek, wat vir my nageslag 'n volhoubare toekoms sal help skep. Ek gun my nageslag nié om hulle teenwoordigheid in Afrika as 'n voortgaande stryd om oorlewing te moet beleef nie. Oorlewing is beslis nie die belangrikste ding van mens-wees nie. Dis die volhoubare kwaliteit van lewe wat belangrik is.

Stemme uit die verlede
Om hierdie verandering van mentaliteit en dus bereidheid tot identifikasie te weeg te bring, is dit nodig dat die Afrikaners weer na hulle eie leidsliede van die verlede sal luister. Die Afrikaners bevind hulleself tans min of meer in dieselfde situasie as na die Anglo-Boereoorlog. Dit was in dié tyd dat Afrikanerleiers vir die Afrikaners die pad vorentoe aangedui het.

Ek verwys na wat enkele van hulle in dié verband gesê het.

President Paul Kruger - of dit nou sy eie woorde was of woorde wat Leyds hom in die mond gelê het, is nie nou ter sake nie - het die Afrikaners opgeroep om op die goeie van die verlede te bou. Behalwe vir apartheid was daar genoeg ander goeie dinge wat tot ons verlede behoort waarop voortgebou kan word. Ek dink spesifiek aan hulle wil en begeerte om nie hier in die vreemde land te versleg en in 'n nuttelose bestaan te verval nie. Ek dink aan die Voortrekkervroue wat bereid was om kaalvoet die Drakensberge oor te steek. Dis hierdie wil en moed wat die Afrikaners weer in werking sal moet stel om 'n nuttige bestaan in Afrika te kan voer. Maar ek sal by Kruger se laaste boodskap van "Soek in die verlede wat goed en edel was" wil byvoeg: "Soek ook in die verlede wat minder goed en edel was, en waak daarteen in die toekoms."

Daar was ook president Steyn, wat na die oorlog die Afrikaners opgeroep het om "nie te teer op die bitterheid van die onherroeplike verlede nie, maar om te kyk na die toekoms en sien wat hulle daaruit kan haal om ons volk weer op te bou". Ek sou graag wou hê dat die eerbiedwaardige president eerder moes oproep om na die toekoms te kyk en te sien watter bydrae die Afrikaners kan lewer tot opbou van nie slegs die Afrikaners nie maar van alle Suid-Afrikaners. Die perspektief dat ons eie toekoms as Afrikaners ten nouste verweef is met die belange van alle bevolkingsgroepe, het egter nog ontbreek.

Ek verwys verder ook graag na die oproep van generaal De Wet in daardie tyd. Aan die einde van sy boek oor die Anglo-Boereoorlog, sluit hy af met die volgende oproep: "Aan my volk rig ek 'n laaste woord. Wees getrou aan die nuwe reg. Lojaliteit betaal op die duur die beste. Lojaliteit alleen is waardig van 'n nasie wat sy bloed vir vryheid gestort het." Ongelukkig het De Wet uiteindelik self nie gehoor gegee aan sy oproep nie. Daardeur het hy die saad van Afrikanerweerstand gesaai wat tot op hede nog nie in die bloed van sommige Afrikaners weggedroog het nie.

Ek verwys ook graag na die woorde van die geliefde JH Hofmeyr (Onse Jan) aan 'n groep jongmense wat hy toegespreek het by die opening van die De Villiers Graaf-skool op Villiersdorp: "Doen wat julle te doen kry, hoe gering ook al die loon, met alle mag en krag en getrouheid, blymoedig maar nie morrend of klaend nie, en nou en dan met die oog na bowe." Dat Onse Jan mense aangemoedig het om net nou en dan die oog na bowe te rig, was 'n belangrike opdrag wat wou sê: Moenie maar net die oog gevestig hou op God en wag dat hy/sy dit vir julle moet doen nie. Miskien is dit nodig dat die Afrikaners met hulle oormatige godsdienstigheid van Onse Jan se resep vir die toekoms, juis in besonder in hierdie tyd, sal kennis neem.

En dan is daar die gevleuelde raad van een van die Afrikaners se mees omstrede leiers, naamlik Hendrik Frensch Verwoerd, wat die Afrikaners opgeroep het met die slagspreuk: "Skep jou eie toekoms." Ja, laat ons ons eie toekoms skep. Maar laat dit in Godsnaam 'n beter toekoms, 'n meer volhoubare toekoms, wees as waartoe Verwoerd ons wou lei.

Ek sluit af met die woorde van die Man van Nasaret, die groot verraaier, profeet en dissident van sy tyd: "Wie homself wil red, sal homself verloor." Niemand behoort uit hulle verlede die waarheid hiervan beter te begryp as juis die Afrikaners nie.



LitNet: 31 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.