SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Suid-Afrikaners in Afrika

Christof Heyns

is hoof van die Sentrum vir Menseregte by die Universiteit van Pretoria en onder meer betrokke by ontwikkelingsprojekte en die Afrika-wye "moot court". Sy navorsingspesialiteit is struggle-teorie.

(Hierdie lesing maak deel uit van Oopgesprek, die KKNK se lesingreeks ondersteun deur Die Burger.)

Inleiding
Ek het grootgeword met beelde van Suid-Afrikaners wat op baie verskillende maniere, en om verskillende redes, in Afrika buite ons grense betrokke was. Sommige was daar vir sendingwerk, ander was agter die avontuur en romantiek aan, en baie van my geslag se jong mans het op die grens geveg, "om Afrika uit te hou".

Vir my het kennismaking met die ander Suid-Afrikaners, dié wat in "exile" was, op 'n Van Zyl Slabbert-safari gekom, en dit was vir my die begin van my eie betrokkenheid in Afrika.

Dit was die tyd toe Suid-Afrika as 'n staat homself nie as deel van Afrika gesien het nie, en ook nie so beskou is deur die res van Afrika nie, maar eerder as die simbool van Afrika se uitmergeling, deur slawerny, kolonialisme en uiteindelik apartheid. Wit en swart het grootliks die uitdeelkant en ontvangkant onderskeidelik van onderdrukking verteenwoordig. Suid-Afrika was die laaste uitstaande stukkie van die legkaart van 'n Afrika wat weer op sy eie voete wou staan.

Vandag, na 'n dekade van bevryding, is daar sterk verwagtinge uit Afrika en die res van die węreld dat Suid-Afrika 'n leierskapsrol in die kontinent sal speel. Maar dit bring ook sy eie probleme mee. Beskuldigings van "big brother" wat sy gewig rondgooi, en dat Suid-Afrika die "Amerika van Afrika" word, word dikwels gehoor, uit die res van die kontinent, maar ook van Suid-Afrikaners wat sę dat ons eerder nie te aktief in Afrika moet wees nie. Daar is ook diegene wat sę ons het genoeg uitdagings in ons eie land en ons moet nie die probleme van die vasteland ons eie maak nie.

Uit my perspektief as 'n Suid-Afrikaner wie se eerste taal Afrikaans is, en wat baie met universiteite (en meer spesifiek met menseregte en die reg in Afrika) werk, dink ek daar is 'n goeie saak uit te maak vir 'n sterk maar sensitiewe betrokkenheid van Suid-Afrikaners, insluitende Afrikaanssprekendes, in Afrika buite ons grense.

Ek wil dit graag doen aan die hand van 'n paar van die projekte van die Sentrum vir Menseregte van die Universiteit van Pretoria, waar ek gebaseer is. (Kyk vir verdere besonderhede www.chr.up.ac.za.) Die projekte is nie sonder hulle probleme nie, maar kan moontlik interessante gevallestudies bied van die soort ondervindings wat Suid-Afrikaners teëkom wanneer hulle in die res van Afrika werk.

Projekte

1. Die jaarlikse Afrika-Menseregte-skynhofkompetisie
Daar is ongeveer 120 regsfakulteite in die 53 lande van Afrika, maar daar was oor die jare bitter min skakeling tussen hulle. Baie Afrika-universiteite het beter kontakte met universiteite in Europa, Amerika en ander noordelike lande as met mekaar - wat terloops ook die geval met baie Afrika-lande is, soos jy sien as jy van een land na sy buurstaat wil vlieg en vind dat die roete deur Europa gaan.

Die eerste Afrika-skynhofkompetisie is in 1992 gehou. Regsfakulteite van oral oor die kontinent is genooi om elk 'n dosent en 'n span van twee studente te stuur om 'n hipotetiese menseregtesaak te beredeneer asof hulle dit doen voor 'n Afrika-hof vir menseregte.

Hierdie kompetisie het sedertdien gegroei tot die grootste byeenkoms van regsfakulteite op die kontinent, en waarskynlik ook van studente en dosente in Afrika in die algemeen. Die kompetisie word elke jaar in 'n ander hoofstad van Afrika gehou. Meer as 104 universiteite van 40 Afrika-lande het sedert 1992 deelgeneem. As 'n mens in ag neem dat daar deur die jaar uitkloprondes by elke universiteit gehou word om die studente te kies wat die fakulteit gaan verteenwoordig, word dit duidelik dat 'n hele geslag - meer as 6 000 studente uit al hierdie lande - gedurende die afgelope 13 jaar deelgeneem het.

Ek dink 'n deel van die Skynhofkompetisie se groei en populariteit is daaraan te danke dat dit nie soos ander soortgelyke kompetisies in die res van die węreld elke jaar in dieselfde stad gehou word nie - wat in ons geval Pretoria sou wees. Die Skynhof word elke jaar aangebied deur die Sentrum vir Menseregte as 'n gelyke vennoot met die plaaslike regsfakulteit in die gasheerland, juis om die idee van gesamentlike eienaarskap te onderstreep en om ons mense in ons eie kontinent te laat reis, in plaas daarvan om die eerste moontlike vliegtuig Europa toe te neem.

Die netwerk wat die Skynhof geskep het, het 'n tipe minirevolusie in regsopleiding op die kontinent veroorsaak. By die meeste regsfakulteite in Afrika is daar nou mense wat mekaar ken. Dosente wat aan die kompetisie deelgeneem het, gee gesamentlike publikasies uit, hulle gee klas in mekaar se programme, en hulle bied ook 'n gesamentlike program aan oor menseregte, waarna ons nou sal kyk.

2. Die Meestersgraad in Menseregte en Demokratisering in Afrika
Hierdie program word sedert 2000 aangebied deur 'n netwerk van universiteite - een in elkeen van die substreke van Afrika - wat oor die jare aan die Skynhofkompetisie deelgeneem het. Meer as 300 studente van regoor Afrika doen elke jaar aansoek, en 30 word toegelaat tot die program. Die studente spandeer ses maande in Pretoria, waar kenners van Afrika en die res van die węreld klasgee. Daarna verdeel die studente in groepe van ongeveer vyf elk en spandeer hulle die volgende ses maande by die vennoot-universiteite in die ander Afrika-lande.

Na afloop van die kursus kry sommige studente die geleentheid om internskappe te doen by menseregte-instansies in Afrika en in die buiteland. Die alumni vorm 'n sterk netwerk van hulle eie, en oral waar jy in die kontinent by howe, universiteite of die instellings van die Afrika-Unie of die Verenigde Nasies aangaan, tref jy jong regspraktisyns aan wat gedurende die afgelope vyf jaar deur die program gegaan het.

Dit sou net nie moontlik gewees het om 'n węreldklas program in elke land van Afrika te probeer aanbied nie. Deur die beste studente en die beste dosente almal op een program, wat die hele kontinent bedien, bymekaar te kry, word dit moontlik om hulle die soort opleiding te gee wat vergelyk met die beste wat oorsee beskikbaar is - met 'n spesifiek Afrika-fokus.

'n Belangrike eienskap van hierdie program is dat dit 'n "netwerk van uitnemendheid" skep. Die sterkste universiteite in al die substreke van Afrika op die gebied van menseregte is geďdentifiseer en het deel van die program geword, en so ver moontlik word die program gebruik om groter kapasiteit by al die vennote skep. 'n Groot deel van die fondse van die program word aangewend om die vennote se biblioteke te versterk, rekenaars aan te koop wat daar gebruik word, personeelontwikkeling te doen, ens. En vir ons in Pretoria bied die program die kans om deel te wees van iets wat ons voel duidelik relevant en van nut is, en van hoogstaande gehalte.

3. Die Reg van Afrika-Versameling by die Oliver R Tambo Regsbiblioteek van die Universiteit van Pretoria
Nęrens in Afrika of in die buiteland kan 'n mens die primęre bronne van die reg van Afrika (die wetgewing en hofsake van al 53 Afrika-lande) onder een dak kry nie. Dit maak regsvergelyking feitlik onmoontlik en lei tot die groter marginalisering van Afrika. Van die 194 lande węreldwyd maak die 53 lande van Afrika 'n kwart uit, maar dikwels word regsvergelyking gedoen sonder om na Afrika te verwys, omdat die bronne so moeilik bekombaar is. Afrika is eenvoudig nie op die radarskerm nie.

Maar die bronne is nie net moeilik bekombaar by een sentrale punt nie, dit is ook dikwels in die onderskeie lande self nie geredelik beskikbaar nie. Dit het verreikende implikasies vir die idee van regsoewereiniteit, of die "rule of law", in Afrika dat die reg nie toeganklik is nie.

Die idee met die "Reg van Afrika-Versameling" is om al hierdie bronne beskikbaar en toeganklik onder een dak te maak - vir die buitewęreld, maar ook vir navorsers en regspraktisyns van Afrika, byvoorbeeld mense wat modelwette wil opstel in terme waarvan die regstelsels van Afrika meer in harmonie gebring kan word.

Ook hier is die beginsel dat dit tot ons by Pretoria se eie groot voordeel is om so 'n versameling te huisves, maar terselfdertyd is dit tot die voordeel van die reg in Afrika, en regsgeleerdes en navorsers van die kontinent as 'n geheel, wat die versameling kan gebruik en benut.

4. Die Suider-Afrikaanse Studentevrywilligers (SASVO)
SASVO is in 1992 gestig om aan studente van al die universiteite in Suider-Afrika die geleentheid te gee om self by ontwikkelingswerk in die plattelandse gebiede van die substreek betrokke te raak. SASVO is 'n projek van die Sentrum vir Menseregte en die Sentrum vir die Studie van VIGS by die Universiteit van Pretoria, in samewerking met die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP). Ongeveer 9 000 studente van die meeste universiteite in Suider-Afrika het reeds op SASVO-projekte gewerk, meestal op die drieweek-werkkampe wat SASVO in universiteitsvakansies aanbied.

Die beginsel van SASVO is "50/50", of "Meeting you halfway". Dit beteken dat SASVO net werk waar die gemeenskappe bereid is om ten minste die helfte van die werk self te doen.

Die oorheersende indruk wat ek op hierdie werkkampe kry, is dat studente die geleentheid om self 'n verskil te maak, met albei hande aangryp. Die kans om hulle sweet met dié van ander, en met die aarde, te meng, bring 'n gevoel van verbintenis en eienaarskap wat mens nie op ander maniere kry nie.

Ontwikkelingkundiges vertel mens dat een van die grootste bydraes wat vrywilligers in geďsoleerde gemeenskappe maak, is om daardie isolasie af te breek en die gemeenskappe te laat voel dat hulle deel is van 'n groter węreld. Ek het al dikwels by SASVO-werkkampe gesien dat dit waar is.

Ek onthou een spesifieke werkkamp in die ou Venda waar die skoolhoof aan die einde van 'n kamp waar 'n skool herstel is, vir die studente die volgende gesę het: "Ons kon self die skool reggemaak het, maar ons het nie, totdat julle gekom het. Julle het vir ons gewys dit is moontlik om dit self te doen, en julle het vir ons gewys mense soos julle wat dit tot in die universiteit gemaak het, gee om vir ons wat hier woon. Julle het 'n vuur aan die brand gesteek wat nou self verder sal brand."

Bespreking
Een manier waarop Suid-Afrikaners in die res van Afrika betrokke kan wees, is om dit as 'n tipe toutreksituasie te sien vir al die partye - die koek het 'n sekere grootte, en hoe meer vir my, hoe minder vir jou, en omgekeerd. Dit is die sogenaamde "zero-sum game", wat natuurlik tot aanhoudende konflik lei.

Maar daar is ook 'n ander manier om dit te benader. Die koek hóéf nie dieselfde grootte te bly nie - veral nie in 'n kontinent met die onontginde potensiaal van Afrika nie. As ons dit deur ons samewerking kan regkry om die koek self groter te maak, kan elkeen se sny baie groter word as wat dit nou is. Die vraag is dus: Hoe kry ons dit reg om die koek te laat rys?

Ek lees tans 'n fassinerende boek - The Tipping Point deur Malcolm Gladwell. Sy argument is dat sosiale veranderinge dikwels kom wanneer epidemies, nuwe giere, modes en idees 'n sekere punt verbysteek en dan soos 'n veldbrand versprei. Die faktore wat die uiteindelike verandering meebring, is relatief klein - die spreekwoordelike vonk in die kruitvat. Voor daardie punt bereik word, lyk verandering onmoontlik. Daarna lyk dit onafwendbaar, asof dit nie anders kon nie.

Mens kan dit op Afrika van toepassing maak. Ons weet dat ons politici praat van die "Afrika-renaissance". Die woord mag dalk uit konteks in Afrika klink, maar ek dink dat daar in wese gevra word hoe Afrika weer in beheer van sy eie lotsbestemming kan kom. Hoe kan die "tipping point" in Afrika bereik word en die koek - of dan die brood - so vergroot word dat dit aan almal se behoeftes voldoen?

Ek dink dat 'n groot deel van die antwoord lę in die skep van netwerke in Afrika. Afrika is verdeel volgens uitgediende grense - landsgrense en kultuur- en taalgrense - maar selfs waar sigbare grense nie bestaan nie, is daar dikwels feitlik geen kontak tussen mense en groepe nie. In 'n globaliserende węreld bestaan ons uit geďsoleerde lande, en geďsoleerde gemeenskappe binne lande, wat op hulle eie nie die kapasiteit of die selfvertroue het om hulleself te laat geld soos dit hoort nie. Die sogenaamde "fabric" wat samelewings saambind, kom kort.

Uiteraard is samelewings op baie maniere verweefd, maar kom ons neem weer universiteite as 'n voorbeeld. Universiteite wat waarlik nasionale en internasionale bates is, werk saam met ander soortgelyke instellings om probleme te identifiseer en oplossings te vind.

Dit is nie die prentjie in Afrika nie. Daar is bitter min skakeling in Afrika tussen verskillende universiteite - gesamentlike navorsingsprojekte en programme is die uitsondering; ons dosente neem nie langverlof om by mekaar te gaan navorsing doen nie; ons studente doen nie nagraadse studie aan ander Afrika-universiteite nie; en dikwels gebruik hoër-onderrig-instellings sillabusse wat in ander węrelddele ontwikkel is om daardie samelewings se probleme aan te spreek. Ons universiteite is geďsoleer en gefragmenteer.

Vir sover daar skakeling is, is dit nie Suid-Suid nie, maar meestal Suid-Noord - daar is baie meer bande tussen Afrika en Europa as binne Afrika. Hierdeur word die idee van afhanklikheid van die voormalige koloniale heersers versterk, en ontstaan daar nie 'n gevoel van eiewaarde en vermoë nie.

Dit is dringend tyd dat netwerke van uitnemendheid regoor Afrika gevorm word waarin die deelnemers elk hulle eie gebied van spesialisasie het wat mekaar komplementeer. Dan word hulpbronne en kapasiteit binne die kontinent gedeel, en word die kontinent in staat gestel om sy stem na buite te laat hoor. Eenderse ondervindings - met die klimaat, die siektes, die minerale, die samelewings van ons kontinent - word gedeel. Dit is onaanvaarbaar dat van die belangrikste navorsing oor Afrika deur buitelandse instansies gedoen word.

Ons het al dikwels met die programme waaroor ek vroeër gepraat het, gesien dat 'n sekere "magic" plaasvind as daar behoorlike samewerking is. Die reaksie herinner my dikwels aan Jan Smuts se term holisme, wat aandui dat die geheel meer is as die som van die dele. Ons ken dit ook as "eendrag maak mag".

Dit beteken allermins dat daar nie skakeling met die buitewęreld moet wees nie - inteendeel, in die moderne węreld kan mens nie daarsonder nie. My punt is bloot dat Afrika se instellings en navorsers wat by die res van die węreld wil inskakel, meestal nie sterk genoeg is om dit op hulle eie terme te doen nie. Hulle voeg meer kuriositeitswaarde toe tot dit wat die buitelanders wil regkry as wat hulle self daaruit kry. Deur eers sterk netwerke in Afrika te vorm kan daar met vrug en met selfvertroue by buitelandse netwerke ingeskakel word. Ons moet ons interne isolasie eers aanspreek, sodat ons ons regmatige plek in die węreld kan inneem.

Wat ek tot dusver gesę het, geld natuurlik nie net vir universiteite nie: groter samewerking is uiteraard ook waaroor byvoorbeeld die Afrika-Unie gaan. Net soos wat die Europeërs hulle onderskeie lande versterk het deur die Europese Unie te stig om 'n teenwig vir die Verenigde State van Amerika te vorm, is die idee met die AU dat Afrika 'n meer verenigde front sal vorm.

Daar mag legitieme kritiek wees teen die Pan-Afrika-Parlement, maar dit lewer wel 'n bydrae om die interne isolasie van ons parlemente af te breek. Meer sulke instansies is nodig om die dokters, die boere, die stadsbeplanners van ons kontinent met mekaar in kontak te bring en te laat saamwerk.

Dit is ook belangrik vanuit die oogpunt van die onafhanklikheid van die reg. 'n Onafhanklike regbank is die mees kwesbare deel van die staat, maar onontbeerlik. As die regters van die kontinent nouer bande smee, bied dit 'n mate van beskerming teen inmenging deur die uitvoerende gesag in die onderskeie lande.

Wat is die rol van Suid-Afrikaners in hierdie prentjie? Moet ons bang wees om as "big brother" uitgekryt te word?

Soos ek dit sien, sal die skep van netwerke en groter samewerking op ons kontinent leierskap verg, en leierskap is dikwels ongewild. Wie ook al leierskap uitoefen, sal as 'n "big brother" beskou word, en as dit nie van binne Afrika self af kom nie, sal dit van die buitewęreld af kom. Die probleem lę nie daarby dat daar 'n "big brother" is nie - dit mag 'n groter probleem wees as daar niemand is om rigting te gee is nie. Die vraag is wat daardie ouboet met sy gesag doen: of hy die koek self gaan opeet, of dit vir almal, insluitende homself, gaan vergroot. Om die "tipping point" in Afrika te bereik is daar 'n ouboet nodig - maar ouboet se naam hoef nie George Bush te wees nie, dit kan Nelson Mandela ook wees.

Vir sover Suid-Afrikaners die vermoë het om positiewe leierskap uit te oefen, moet ons dit doen. Waar ons dit kan doen saam met die ander lande van Afrika wat ook daardie rol kan speel - of dit Nigerië, Senegal, Algerië of Egipte is - is dit natuurlik te verkies. Maar om terug te staan waar ons positiewe leierskap kan uitoefen, sal Afrika 'n onguns aandoen - en mag die kontinent beroof van die kans om by die "tipping point" verby te gaan. Ons bydrae kan bes moontlik die verskil maak.

Het Suid-Afrikaners iets unieks om te bied om so 'n vergroting van die koek te bewerkstellig, iets wat ons beter as die meeste ander kan doen?

Teen die agtergrond van dit wat tot dusver gesę is, wil ek een aspek noem wat uitstaan, naamlik dat Suid-Afrikaners in baie gevalle in 'n goeie posisie is juis om te help om daardie essensiële netwerke in Afrika te vorm waarvan ek gepraat het, en dan daardie netwerke met dié in die buitewęreld te laat skakel. Dit is die model van Suid-Afrika as 'n brug of ontmoetingspunt vir Afrika met die res van die węreld.

Om 'n voorbeeld te noem: daar is onlangs 'n instituut by ons Konstitusionele Hof gestig wat spesialiste van oor die kontinent by die hof bymekaar bring, terwyl die hof inskakel met die toonaangewende howe van regoor die węreld.

En sover ek kan sien, is een van die beste dinge wat Suid-Afrikaanse universiteite kan doen, om programme aan te bied wat gerig is op die top studente vanuit die hele kontinent, wat ná 'n semester hier ook 'n semester in die buiteland spandeer.

Daar is reusegeleenthede vir Suid-Afrikaners - of jy jouself nou as 'n voorheen-benadeelde of 'n huidiglik-benadeelde sien - om 'n verskil in Afrika te maak.

My oproep aan elkeen hier wat in 'n bepaalde professie werk, is om, as 'n praktiese stap, uit te vind of daar 'n kontinentale professionele organisasie op jou gebied is, en as daar is, jou gewig daarby in te gooi, en as daar nie is nie, so 'n organisasie saam met ander te stig. Jou bydrae kan dalk net die skaal tip om ons in die nuwe era in te neem.



LitNet: 13 April 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SęNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.