SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Van armblankes tot voorheen bevoordeeldes

Hermann Giliomee

(Hierdie lesing maak deel uit van Oopgesprek, die KKNK se lesingreeks ondersteun deur Die Burger.)

'n Volk red homself?
Drie of vier jaar gelede, toe swart ekonomiese bemagtiging net begin momentum kry, het ek aan dr Anton Rupert gevra of hy kan dink aan enige Afrikaanse maatskappy of Afrikaanse ondernemers wat deur 'n Engelse maatskappy bemagtig is. Hy het vir 'n oomblik nagedink en toe gesê: "Nee, ek kan nie aan 'n enkele geval dink nie, en ek is baie dankbaar daarvoor."

Ons het vir 'n rukkie gepraat oor Federale Mynbou, 'n maatskappy in die Sanlam-stal wat in 1963 met die steun van mnr Harry Oppenheimer die mynhuis General Mining, wat toe in Anglo American Corporation se besit was, oorgeneem het. Dit was, het dr Rupert gesê, nie 'n kunsmatige ekonomiese transaksie nie. Die prys van die aandele was markverwant en Sanlam kon daarvoor betaal. Sanlam het terselfdertyd ook onderneem om sy diamantmyn te sluit, wat vir Anglo American 'n bron van kommer was. Beide partye het heel goed uit die transaksie gedoen.

Dr Rupert se onderliggende filosofie is dat 'n mens nie rykdom of goedgesindheid skep deur 'n beleid van weggee nie. Selfs geskenke kan vyandigheid skep. Soos hy dit stel: die beste manier om 'n vriend te verloor, is deur hom 'n groot guns te bewys sonder om hom die geleentheid te gee om iets terug te doen. In plaas daarvan het dr Rupert en sy maatskappye die beleid voorgestaan van 'n 50-50 vennootskap waarvolgens die inheemse inwoners van 'n land die kans kry om die helfte van die aandele op te neem.

Dr Rupert was deel van die tradisie wat in die geskiedskrywing "volkskapitalisme" genoem word. Nasionale Pers, Sanlam, Volkskas en ook Rembrandt het almal die gedagte verwerp dat vir maatskappye die skep van rykdom 'n doel op sigself is. Vir die maatskappye in hul eerste dekade of twee was die doel om die Afrikaners te bemagtig deur vir hulle werk te gee, die kans te bied om bestuurders te word en sodoende die Afrikanervolk te help ophef.

Dikwels word vader Kestell se woorde van die dertigerjare gebruik: "'n Volk red homself" om die storie te vertel hoe die Afrikaners ekonomies die mag opgekom het. My geslag Afrikaners het grootgeword met die idee dat die Afrikaners ekonomies hulself opgehef het, en dat die probleem wat bekend was as die "armblankeprobleem", opgelos is deur die Afrikaners wat hulself aan hul eie skoenrieme opgetrek het.

Nou, daar is wel 'n element van waarheid hierin, maar so eenvoudig en so voortreflik was dit nie. Wat dit uit die oog verloor, is die enorme steun wat die staat aan veral blanke onderwys en aan blanke maatskappye gegee het.

As daar een kwessie was wat sentraal in die blanke politiek van die jare 1890 tot 1940 gestaan het, was dit die nypende armoede van tussen 'n kwart en die helfte van die blanke gemeenskap. Van links tot regs op die politieke spektrum wou al die blanke politici maniere vind om hulle op te hef, want daar is geglo dat blankes hulself nooit sou handhaaf indien amper die helfte van die gemeenskap hulpbehoewend is nie.

Die argument waarom die blankes eerste opgehef moet word, het gewissel. Party het gesê blanke heerskappy is 'n doel op sigself. Liberale politici soos John X Merriman het aangevoer dat dit noodsaaklik is dat die blankes, as die kerngemeenskap in die land gesond moet wees, want daarsonder sal die swart en bruin gemeenskappe nooit opgehef kan word nie. Blanke heerskappy was dus net die middel tot die doel van die opheffing en bemagtiging van almal in die land.

Ek wil my toespits op die Afrikaner en die Afrikaners se bemagtiging en die relatiewe gebrek aan bemagtiging van kleurlinge in die twintigste eeu.

Ons moet ingaan op drie faktore as ons wil weet hoe die Afrikaners bemagtig is en waarom die bruin Afrikaanssprekendes benadeeldes gebly het. Nie almal het 'n ewe groot rol gespeel nie.

Die faktore is:

  1. Onderwys
    Daar was baie maniere waarop die staat die Afrikaners bemagtig en opgehef het, maar die heel belangrikste was dat die blanke kinders soveel beter onderwys as bruin en swart kinders gekry en dat hulle goeie gebruik van die onderwys gemaak het.

    Diskriminasie op die gebied van onderwys strek terug tot diep in die geskiedenis. In 1905 is verpligte onderwys net vir blankes verpligtend gemaak. In die eerste dekade na die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 het bruin onderwysverenigings gevra dat die staat kleurlingonderwys moet help om op die been te kom, maar dit is kortaf geweier met die antwoord dat die blankes eers gehelp moet word om op die been te kom.

    In die beginjare van apartheid is daar ongeveer tien keer meer aan blanke onderwys as bruin onderwys bestee en die proporsie het gedaal tot drie keer in 1987. Hierdie is groot gapings en ons mag dit nie vergeet wanneer ons aan die verskillende stadia van ontwikkeling van die verskillende gemeenskappe in die land dink nie.

    Maar dit sou verkeerd wees om die redelike sukses van blanke onderwys van die voormalige Model C-skole vandag net aan beter befondsing toe te skryf. Navorsing deur Servaas van der Berg oor die onderwys in die tien jaar na die oorgang in 1994 het getoon dat fondse nie die kritieke veranderlike in die prestasie van skole is nie. Wat deurslaggewend is, is die bestuur van die prinsipaal, die opleiding en toegewydheid van die onderwysers en die betrokkenheid van die ouergemeenskap. In al hierdie opsigte was die meeste Afrikanerskole van ongeveer 1930 besonder goed af. Idealistiese onderwysers het die kinders aangevuur met die idee dat harde werk beloon sal word.

    Dieselfde is ook waar van die uitstaande bruin skole soos Livingstone en Trafalgar in Kaapstad.

  2. Werksgeleenthede en die uitwissing van armoede
    As ons net na die vorige eeu kyk, kan ons sê dat daar 'n patroon vanaf die vroeë jare van die eeu was dat blankes die beste poste gekry het en dat bruin mense uitgeskuif is. Teen 1900 was die meeste ambagte in die Boland in die hande van bruin ambagslui. Teen 1920 was dit nie meer so nie. Vakbondleiers, wat omtrent deur die bank Engelssprekende blankes was, was hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik.

    In 1925 aanvaar die regering die beleid van "beskaafde arbeid". Die formele beleid was dat aan kleurlinge en blankes voorkeur vir 'n werk in die openbare sektor gegee moes word. In die praktyk het die regering egter departemente opdrag gegee om soveel as moontlik blanke jeugdiges in diens te neem ten einde die armblanke-probleem op te los.

    "Beskaafde arbeid" het ook nie die beleid verander waarvolgens kleurlinge lone betaal is wat die helfte of minder as die helfte was van hul wit eweknieë nie. In 1926 het CW Malan, minister van spoorweë en hawens, aangekondig dat die bedoeling met die beleid van beskaafde arbeid nooit was om kleurlinge gelyke lone te betaal nie. "Die gekleurde man verskil van die blanke man wat betref sy vlak van beskawing en moet dienooreenkomstig behandel word," het hy gesê. Daar was dus in die oë van die regering beskaafdes wat meer beskaafd as ander was.

    In die loop van die 1920's het die regering bewus geraak van die akute armoede onder ongeveer 'n kwart van die blankes. Daar is besluit om hulle op te hef, alhoewel die armoede onder bruinmense veel groter was.

    Ons moet 'n onderskeid tref tussen die verskaffing van welsyn aan armes en die bemagtiging van mense.

    Die navorsers van die Carnegie-kommissie het besef dat die verlening van hulp aan hulpbehoewendes maklik kan skeefloop. Daar kan maklik 'n klas van permanente hulpbehoewendes geskep word.

    In hierdie tyd het 'n besoekende Amerikaanse sosioloog die mening uitgespreek dat met die moontlike uitsondering van Rusland, geen ander gemeenskap so 'n groot afhanklikheid van die regering het as die blankes in Suid-Afrika nie.

    JR Albertyn, 'n NGK-predikant in Kimberley en skrywer van die verslag oor maatskaplike werk, het hiermee saamgestem. Hy het bevind dat die gees van afhanklikheid van die staat by armes "'n nasionale siekteverskynsel" geword het en het voorgestel dat 'n persoon wat meer as 'n "sekere graad van staatshulp ontvang", sy stemreg moes verloor.

    EG Malherbe, wat die Carnegie-verslag oor onderwys geskryf het, het vertel in watter mate sekere armes misbruik maak van regeringshulp. By 'n padbou-projek het hierdie armes 5 sjielings 'n dag verdien. Wat hulle toe gedoen het, was om kleurlinge teen 2 sjielings en 6 pennies 'n dag te huur om die werk te doen, terwyl hulle rondsit en toesig hou.

    Maar hierdie was uitsonderings. Die probleem van blanke armoede is opgelos enersyds deur hoë ekonomiese groei van 1933 af en andersyds deur die staat se verskaffing van beter onderwys en opleiding vir blankes en van werksgeleenthede vir hulle, veral op die Spoorweë. Die kinders het beter onderwys as hul ouers ontvang en elke geslag het beter as die vorige gevaar.

    Vader Kestell se spreuk, "'n Volk red homself", kan dus nie ongekwalifiseerd aanvaar word nie. Die staat en diskriminasie het daarvoor 'n te groot rol gespeel.

    Maar in 'n sekere opsig was dit wel waar. Die kerk en die skool het daarop aangedring het dat die Afrikaners nie hul armes moet verstoot nie, maar hulle as "ewe goed" moet beskou. Die volhardende boodskap wat inslag gevind het, was dat die arm Afrikaanse kind wat op skool gepresteer het, ewe goed is en net so 'n goeie kans het as 'n kind uit 'n welgestelde huis.

    Die taal Afrikaans en moedertaalonderrig tot in matriek was 'n belangrike bindmiddel. Dit is anders in die swart gemeenskap vandag. Hier skep die onwyse beleid om Engels ná die derde skooljaar as voertaal te gebruik 'n groot kloof tussen die meer welgesteldes en die armes. Net die kinders van die meer welgesteldes wat reeds 'n sekere vaardigheid in Engels het en na private of die voormalige Model C-skole kan gaan, kan die skadelike gevolge oorkom van 'n te vroeë oorskakeling na Engels en kan kwalifiseer vir die beter poste in die ekonomie. Die armes wat moedertaalonderrig, en dus doeltreffende onderrig, moet ontbeer, ontwikkel nooit die noodsaaklike konseptuele vaardighede nie en kan nooit werklik kompeteer nie.

    Afrikaanssprekendes besef nie in watter mate moedertaalonderrig hulle bemagtig nie.

    Dit bring ons by een van die versluierde aspekte van groepsbemagtiging. Die bemagtiging van 'n gemeenskap het baie te doen met die vraag of die probleem van armoede binne daardie gemeenskap opgelos is. Dit is 'n welbekende feit in etnies verdeelde samelewings dat 'n middestand hom in die geheim daaroor skaam as daar 'n groot groep armes in sy eie geledere is.

    Dit was sekerlik waar van die Afrikaner se middestand in die eerste 40 jaar van die vorige eeu. Dit was 'n pynlike verleentheid om ander Afrikaners so ellendig arm te sien. Hulle het in krotbuurte gewoon en krom en skeef 'n vreemde taal - Engels - gepraat. Onder Engelssprekendes het sekere stereotipes gou posgevat: die Afrikaner was die vuil spoorwegwerker, die dom polisieman, die wit straatboef. Die sukkelende arm Afrikaners het die hele Afrikanergemeenskap gestigmatiseer.

    Dit is in sulke omstandighede dat die middestand sondebokke soek. Die Afrikaners het die Engelse gemeenskap en die Engelse kapitaliste vir die toestand van die armes geblameer. Toe Afrikaner-armoede verdwyn, het die Afrikaners opgehou om die Engelse te blameer.

    Daar word soms gesê dat apartheid die rede is waarom die Afrikaners so eensgesind die Nasionale Party gesteun het. Ek dink die eintlike rede is dat die Afrikaners tussen 1930 en 1980 as gemeenskap bemagtig is en dat daar geen groot inkomsteverskille binne die gemeenskap ontstaan het nie. Die regering het nie toegelaat dat 'n enkele belangegroep uitermate bevoordeel word nie, en veral nie dat daar 'n klas van mense ontwikkel wat hulself uit die nasionale beweging verryk nie.

    Dit blyk duidelik uit die ongelykheidsindeks, wat die Gini-koëffisiënt genoem word. Dit vergelyk die inkomste van die top 10 persent van 'n gemeenskap met dié van die onderste 20 persent en druk dit in 'n formule uit waarin 1 maksimum ongelykheid en 0 volkome gelykheid verteenwoordig. Tussen 1946 en 1980 het die syfer vir Afrikaners van 0,45 tot 0,42 gedaal. Die syfer vir swartes het van 0,35 in 1985 tot 0,58 vandag gestyg.

    Vandag lê die nypende armoede van ongeveer die helfte van die swart gemeenskap agter die ANC-regering se beskuldiging van blanke rassisme. En omdat swart armoede waarskynlik nie betekenisvol minder gaan word nie, gaan die swart middestand se beskuldigings van blanke rassisme waarskynlik nie ophou nie. 'n Gemeenskap kan homself egter nie as gemeenskap bemagtig deur ander gemeenskappe daarvan te beskuldig dat hulle verantwoordelik vir die armoede in sy eie geledere is nie.

    Die huidige regering het in die laaste tyd hard probeer om iets aan armoede te doen. Sedert 2000 het ons in Suid-Afrika 'n dramatiese uitbreiding van die welsynstaat gesien. Ons het nou 'n stelsel van pensioene en toelaes wat die grootste in die ontwikkelde wêreld is (Financial Mail, 2005 Budget Supplement, p 13). Die getal mense wat uit welsyn 'n inkomste kry, het gespring van 3 miljoen tot 8 miljoen. Uiteraard is 'n mens bly dat hierdie mense ten minste 'n bestaan het, maar die vraag bly staan of dit hulle werklik bemagtig soos wat werksgeleenthede sou doen.

  3. Regstellende aksie, kwotas en voorgeskrewe ekonomiese bemagtiging

    • Voorrang by indiensneming
      Van 1910 tot diep in die 1980's was dit die beleid van die staat dat blankes die enigstes is wat vir die hoër poste in die sentrale staat, provinsiale administrasies en munisipaliteite kwalifiseer. In hierdie sin was daar massiewe bevoordeling van blankes.

      Daar was egter nooit 'n beleid van bevoordeling van Afrikaners ten koste van blanke Engelssprekendes nie. Die Afrikaners het amper 60 persent van die blanke bevolking gevorm, maar teen 1939 was slegs 3 persent van die direkteure van maatskappye Afrikaners. Hulle was slegs 3 persent van die ingenieurs, 4 persent van die boekhouers, 11 persent van die prokureurs en advokate, 15 persent van die mediese dokters en 21 persent van die joernaliste. Minder as 'n kwart van die senior staatsamptenare het Afrikaans as 'n eerste taal gepraat. Die Afrikaners se inkomste was net effens meer as die helfte van Engelssprekende blankes. En tog was die politieke mag sedert 1910 in die hande van die Afrikaners.

      Daar was nooit enige politieke druk op Engelse maatskappye om Afrikaners aan te stel nie. Soos Denis Beckett onlangs opgemerk het, Engelse maatskappye het Afrikaners net aangestel as dit goeie sakebesluite was. Daarvoor kan ons, om dr Rupert se woorde te gebruik, dankbaar wees.

      Die Afrikaners het ook in groot getalle in die staatsdiens werk gekry. Daar word soms gesê dat daar net so 'n groot etniese suiwering van Engelssprekendes na 1948 was as wat blanke amptenare gesuiwer is na 1994. Dit is nie waar nie. Al die aanduidings is dat die Afrikaners reeds in die 1930's en 1940's die poste op die middelvlakke van die staatsdiens oorheers het en dat hulle na 1948 weens gewone bevordering na die hoogste poste uitgestyg het. Die getal Engelssprekendes teen wie na 1948 suiwer op grond van taal gediskrimineer is, was nie baie groot nie. 'n Ontleding van die hoër range van die staatsdiens in 1960 toon dat Engelssprekendes nog oorverteenwoordig was.

      Daar was wel 'n groot suiwering na 1994. Daar is op hede al 120 000 pakkette uitbetaal aan hoofsaaklik wit staatsamptenare wat vroeg uitgetree het.

    • Staatsgedrewe kwotas en ekonomiese bemagtiging
      Toe die toekomstige Afrikaner-sakeleier Albert Wessels in 1936 in Johannesburg aankom, het hy slegs drie Afrikaanse ondernemings van betekenis gevind: die persmaatskappy Afrikaanse Pers met sy sukkelende pro-Verenigde Party-koerant, Die Vaderland; die bank Volkskas op die tweede vloer van 'n ou gebou; en 'n winkel vir mansklere, wat kort daarna bankrot gespeel het.

      Die ekonoom Jan Sadie het die Afrikaners se aandeel in ondernemersfunksie in die private sektor teen 1939 soos volg bereken: 1 persent van die mynbou, 3 persent van vervaardiging en konstruksie, 8 persent van die handel en 5 persent van die finansiële sektor.

      Die roete wat die Afrikaners gekies het, was om in die private sektor, wat deur Engelse oorheers is, opgang te maak deur middel van hul eie inisiatief en ywer. In 1939 het die Afrikaners die Ekonomiese Volkskongres gehou en op hierdie metode besluit. Die Afrikaners se spaargeld sou gemobiliseer word om maatskappye te stig wat Afrikaners in diens sou neem en hulle die kans sou gee om bestuurders te word.

      Wat 'n mens opval, is die versigtigheid waarmee dit aangepak is. Sekere mondstukke van die Engelssprekende mening het vyandig gereageer. Die Rand Daily Mail het geskryf dat "the sponsors of economic segregation in trade and industry cannot ultimately avoid the charge that they are fanning the flames of racial bitterness in South Africa." WH Hutt, miskien die mees prominente ekonoom van sy tyd in Suid-Afrika, het dit as "oorlog" teen die Brits-gebore seksie van die gemeenskap bestempel, en as sulks deel van die dekade-oue geveg teen Uitlanders.

      Afrikaners wat die mobilisering van die Afrikaners se spaargeld voorgestaan het, het uit hulle pad gegaan om versekerings te gee. TE Dönges, later 'n kabinetsminister, het gesê dat die Afrikaners vasbeslote is om hul ekonomiese aandeel op 'n billike en vreedsame wyse te vergroot, maar hulle was nie van plan om boikotte van Engelse firmas van stapel te stuur nie. Hy het bygevoeg dat die Afrikaners geen reg gehad het dat ander hulle moes help nie en dat hulle ook te trots is om ander te vra om hul ekonomiese redding te help bewerkstellig. Al wat hulle van Engelssprekendes gevra het, was om "welwillend" neutraal te bly terwyl die Afrikaners hul eie ekonomiese voete vind.

      Soms word gesê dat die Afrikaanse sake net geslaag het omdat die NP-beheerde staat hulle voorgetrek het. Ons moet hier twee opmerkings maak:

      - Die Afrikaanse ondernemings het gefunksioneer in 'n omgewing waarin die staat alle blanke maatskappye bevoordeel het.

      - Die staat het selde doelbewus Afrikaanse maatskappye bevoordeel. Die gevalle wat goed bekend is, is die voorkeurposisie wat die noordelike Afrikaanse persmaatskappye by telefoonboeke en skoolboeke gehad het en die investering van die pensioenfondse van staatsamptenare deur Afrikaanse maatskappye.

      Die NP-beheerde staat het nie Afrikaanse maatskappye "bemagtig" nie. Die Engelse maatskappye en die Engelse koerante sou, anders as vandag, nie gehuiwer het om sterk te protesteer nie. En die Afrikaanse sakesektor was so klein dat die regering vir homself groot moeilikheid op die hals sou gehaal het as hy een Afrikaanse maatskappy bo die ander bevoordeel het.

      Prof Sadie bereken dat die Afrikaners teen 1975 'n vyfde van die maatskappye op die aandelebeurs besit en/of beheer het. Vandag is dit 'n derde. Dit is opvallend dat die vinnigste vordering gemaak is in 'n tyd toe die politieke mag uit die Afrikaners se hande begin gaan het.

Die versoeking van staatsgedrewe ekonomiese bemagtiging
Daar was soms by Afrikanerleiers die versoeking om, soos pres Thabo Mbeki vandag, daarop aan te dring dat die Afrikaners in proporsie met hul deel van die blanke bevolking ekonomies bemagtig moet word. In 1937 het dr Hendrik Verwoerd as redakteur van Die Transvaler geskryf dat die Jode erg oorverteenwoordig was in sekere sleutelsektore in die ekonomie. Hy wou wetgewing hê wat sou verseker dat die Afrikaners, Engelse en Jode dieselfde aandeel van die vernaamste beroepe kry as hulle onderskeie proporsies van die wit bevolking.

Verwoerd was nie 'n stem roepende in die woestyn nie. In 1937 het die Kaapse NP eenparig 'n voorstel aanvaar dat nuwe handels- en ander lisensies op die grondslag van die proporsies van die blanke bevolking uitgereik moes word.

Nadat die NP in 1948 aan bewind gekom het, is die kwessie van sakekwotas een keer bespreek. Die gedagte is in 1956 op 'n vergadering van die Bondsraad van die Broederbond geopper dat daar in oorleg met die regering 'n grondslag gevind moet word "waarop Afrikaanse besighede in 'n meerdere mate deur die toekenning van kwotas begunstig kan word". Die leiers van die Broederbond het in die kwotastelsel "'n magtige instrument gesien om aan die jong en opkomende Afrikaanse besighede 'n vastrapplek in die handel en nywerheid te verseker". Daar is groot ooreenkomste tussen hierdie planne en swart ekonomiese bemagtiging vandag. Die twee voorste Afrikaanse sakemanne, Anton Rupert van Rembrandt en Andreas Wassenaar van Sanlam, wat in 1956 die vergadering van die Bondsraad bygewoon het, was albei sterk teen die idee gekant en het met hul toetrede tot die debat die gedagte nek omgedraai. Vir Wassenaar was die grootste probleem dat die Afrikaners nie die probleme opgelos het wat hulle in die sakewêreld ondervind het nie. Rupert het daarop gewys dat sukses dit vereis dat sakelui 'n eie sakestyl, realisme, entoesiasme en lojaliteit aan die dag lê.

Klaarblyklik het hierdie menings gewig gedra by die Uitvoerende Raad. Ernst Stals meld in sy manuskrip oor die Broederbond dat die Uitvoerende Raad van die Broederbond se reaksie op die Bondsraadbesluite "bra flou" was. En daar het die hele saak doodgeloop.

Die voorbeeld van Maleisië
In sy benadering tot swart ekonomiese bemagtiging het die ANC-regering hom hoofsaaklik laat lei deur die voorbeeld van Maleisië. Hier het die Maleiers, wat meer as die helfte van die bevolking vorm, teen 1971 maar net 2 persent van die aandele van genoteerde maatskappye besit, terwyl buitelandse maatskappye, en tot 'n mindere mate Chinese, die private sektor oorheers het. Deur 'n beleid van bemagtiging wou die regering die Maleisiese aandeel in die ekonomie binne 20 jaar tot 30 persent opstoot.

Soos die ANC-leiers vandag, het Mahathir Mohamad in sy boek van 1971, The Malay Dilemma, geargumenteer dat die skep van 'n Maleisiese sake-elite noodsaaklik is vir groepstrots en politieke stabiliteit. Hy het verklaar dat hy nie anti-Chinees was nie, maar hy het gevoel dat die Maleiers 'n plek in die sakewêreld moes hê, anders gaan daar bitterheid wees.

Tussen 1981 en 2003 was Mahathir eerste minister en die dryfkrag van die beleid van Maleisiese ekonomiese bemagtiging. By sy aftrede in 2003 het Mahathir verklaar dat hy groot bedenkinge het oor die vraag of die beleid werklik die Maleiers bemagtig het. Die mentaliteit het ontstaan dat Maleiers nie vir die regerende party stem omdat hulle goeie regering wil hê nie, maar omdat hulle wil hê die regering moet iets vir hulle gee. Hulle stem net as hulle kwaad genoeg oor iets gemaak word.

Mahathir het verklaar dat hy nie werklik die ideaal verwesenlik het wat hy eens gehad het dat die beleid moet sorg dat die Maleiers as 'n "suksesvolle ras" gerespekteer word nie. Die beleid van ekonomiese bemagtiging het 'n kruk geword waarsonder Maleisiese sake nie kan klaarkom nie. Na 30 jaar kan Maleisiese sake nog nie op eie voete staan nie. Mahathir voel dat sy boodskap eintlik moes gewees het: Werk harder en moenie van gifte en gawes van die staat afhanklik raak nie.

Slot
Daar word soms gesê dat die Afrikaners met rasse skrede bemagtig geraak het. Dit is miskien so as ons kyk na die posisie in 1948, toe die Afrikaners hoofsaaklik bestaan het uit werkers en minder gegoede boere, en 1990, toe die Afrikaners hoofsaaklik 'n middestand was. As ons egter na die langer tydperk van 1900 tot 1990 kyk, is die vordering stadig. In 'n boek deur die Amerikaanse skrywer Francis Fukyama word daar verbasing uitgespreek oor die feit dat die Afrikaners eers teen 1975 'n deurbraak in die private sektor begin maak het. Die groot rede is dat die Afrikaners lank nie self met hul geld wou woeker nie en ook nie iemand buite die familie wou vertrou om met hul geld te woeker nie. In die arbeidsmark het glad te veel die veilige hawe van die staatsdiens opgesoek. Maar die staatsdiens is nou feitlik geslote en dié Afrikaners wat wil oorleef, sal moet woeker met hul geld en hul talente.

Gelukkig is daar onder Afrikaners lank nie meer 'n gevoel van slagofferskap nie, wat die enkele grootste struikelblok in die weg van sukses kan wees. Die vraag is net of diegene wat suksesvol is, sal kyk na sowel die histories benadeeldes as die histories bevoordeeldes wat weens faktore buite hul beheer nie die mas kan opkom nie. Oudpresident FW de Klerk het onlangs gesê dat daar 182 000 wit huishoudings is wat in die armste inkomstegroep val, teenoor 400 000 swart huishoudings wat in die boonste inkomstegroep val. Armoede, net soos rykdom, het nie meer 'n kleur nie. Bly daar nog enige morele basis oor waarop mense in laasgenoemde huishoudings daarop aanspraak kan maak dat hulle voorrang bo wit armes kan geniet (Consensus, vol 2, no 1, p 9)?

Hoë ekonomiese groei is die beste middel van bemagtiging en dit lyk of die regering ten minste hier die regte resep het.



LitNet: 30 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.