|
Hier is érg veel te lees in Nuwe Stemme 3Hester Carstensstudeer in Kreatiewe Skryfkunde by die Universiteit Stellenbosch se Department Afrikaans en Nederlands.
Klik op die boek se omslag om te bestel by kalahari.net!
Die koms van Nuwe Stemme 3 sal sekerlik weer, soos met voorgangers 1 en 2, lei tot allerlei gissings oor sou dit nou die begin wees van die langverwagte opbloei in die digkuns en wat sê hierdie gedigte oor die stand van sake re: Poësie. Gaan hierdie nuwe digters miskien groot asseblief een na die ander trefdebuutbundels publiseer? Of o aarde, is hier nie dalk tekens van verval nie? Is hierdie gedigte miskien die skrif aan die muur? Angstige vrae oor die boek sal van allerhande onderrokke, oogbalke en troetelkwessies afhang. (En voor ek self van ’n geraamte in die kas beskuldig word, laat ek sommer hier al sê: ek self het, onsuksesvol, goed voorgelê vir Nuwe Stemme 3. Neem my opinies dus vir wat dit werd is!) Dit is egter eintlik onmoontlik om enige homogene gevolgtrekkings oor Die Poësie op grond van hierdie bundel te maak. Die samestellers, Antjie Krog en Alfred Schaffer, stel ’n spesifieke kriterium vir insluiting in hulle ‘Verantwoording’, naamlik “Óf hulle sê iets op ’n heel ongewoon nuwe manier, óf hulle sê iets wat nog nie in Afrikaans gesê is nie”. So word uit die aard van die saak ruimte gelaat vir alles en nog wat. Hier is skrywers van wyd verskillende agtergronde en ook sommiges wie se werk reeds bekend(erig) is, bv. Vernie Plaatjies uit Nuwe Stemme 1. Presies helfte-helfte mans en vrouens, ’n hele klomp onder dertig (een tiener), heelwat daarbo; al gemene deler is gedigte. Hoogstens kan ’n bundel soos hierdie dus bewys dat daar allerlei mense is wat (goed al dan nie) dig in Afrikaans... is dit rêrig ’n verrassing? Die skerp styging in inskrywings vanaf die begin van die reeks is genoeg gerusstelling oor die voortbestaan van poësie in Afrikaans; van 70 voorleggings vir Nuwe Stemme 1 tot 474 inskrywings vir Nuwe Stemme 3! Daarom, laat staan die hoopbeskermende bewyslaste wat aan hierdie boek opgelê (sou kon) word, en laat ons blymoedig lees. Bes moontlik sal bittermin van hierdie digters ooit alleen publiseer, soos ons kan aflei uit die geskiedenis van die vorige Nuwe Stemme-digters en die aard van die uitgewersbedryf. So ons moet nou lees, of nooit. Interessant genoeg is die temas wat die samestellers in die ‘Verantwoording’ noem as kenmerkend van die nie-gekeurde inskrywings, opvallend dun gesaai in die gedigte wat wél gekeur is. Hierdie temas en beelde, veral die Christelike God (blykbaar in negentig persent van inskrywings!), ouers en die Afrikaanse taal, maak hoogstens cameo-verskynings in hierdie twintig digters se werk. Hier is egter (soos ’n mens verwag) héélwat oor die liefde (veral die vervalle en verdwene soort), oor sukkel met en dink oor skryf, oor traumatiese lewensgebeure (aborsies, kindermishandeling) en oor sosio-maatskaplike probleme (veral die probleme van die bruin gemeenskap in die ‘nuwe’ Suid-Afrika). Laasgenoemde is natuurlik ’n tema wat nog nie genoeg plek gevind het in die Afrikaanse kanon nie, en Nuwe Stemme 3 bou sterk voort op die voorgangers in die reeks se regstellingswerk in hierdie opsig. Buiten spesifiek Suid-Afrikaanse kwessies is sosiale bewussyn nogal selde in hierdie gedigte op die voorgrond. Net Erns Grundling verwys na die Irak/VSA-kwessie in “Onse George W Bush” (tog snaaks dat hierdie kwessie so min neerslag vind) en hy takel ook die kuberverbruikersamelewing. WL van der Merwe se “En toe was daar God” handel meer algemeen oor menseregteskandes. Buiten hierdie twee is Suid-Afrikaanse kwessies soos die bendelewe, armoede en die rassestryd (reeds hierbo genoem) ’n tema, en ook die Anglo-Boereoorlog duik op in die gedigte van Thérèse Bartman. Dalk kenmerkend (dog geensins verdoemend) van minder ervare digters is die meeste gedigte eerder heel persoonlik as ‘groots’ van tema. Die bundel skop af met die werk van Thérèse Bartman, soms “fyn, delikate” gedigte soos die samestellers aanvoer, maar soms ook skrynend (“Blommekyk”, “Vroue buite die hof”), met ’n baie sterk bewussyn en ontginning van seer en gruwelike dinge, en hier wel dikwels buite die eie lewe (“Bloemfontein-konsentrasiekamp, “Vroue buite die hof”). ’n Skieliker toonaardverskuiwing kan daar skaars wees as dié tussen Bartman en eckhard cloete (by wie ek graag die funksie van hierdie berugte skryfwyse sou wou verneem). Cloete is een van die sterk metapoëtiese stemme in die bundel. Veral in die laaste strofe van “Always” (wat sterk bevraagtekenbare en dubieuse skakels trek tussen menstruasie en gedigskryf) kom cloete se bewussyn van die skrywersdilemma ná ander skrywers na vore: “die skrywers nou holrug gery en uitgeteer/ hul opgeleeste temas oud, verrinneweer/ ek krap rond tussen lyke, wier en gras/ op al die plekke waar hulle voor my was”. Ook ’n voorbeeld van die soort gesprek wat ’n mens graag sien tussen nuwer en ouer digters, naamlik die bewus opgevoerde soort! Cloete se “Gedagtes vir die nag” bevat ook prágtige idees, maar ek vermoed hier is eintlik etlike protogedigte, nie één uitgewerkte een nie (maar ja, juis daarom is die titel seker “Gedagtes”). Karen de Wet se gedigte is die eerste voorbeeld in die bundel van die meer intieme o.m. treurgedig oor ’n verhouding(s). ’n Alleenstem praat hier, wat fyn kan waarneem, en met ’n sin vir die treffende, spaarsamige gebruik van rym (getematiseer in “Nagwind in Maart”). Ewe alleen, maar op totaal ander wyse en dalk minder bewustelik, is Illona Edwards se gedigte in die stem van ’n mishandelde meisie. Haar drie gedigte lees soos die verhaal van die verloop van die mishandeling; “Is donker om my” is ’n treffend eenvoudige verwoording van die gebondenheid van ’n gebrandmerkte bestaan. Ook Cornel Judels raak aan familiemishandelingsake (“Pa en seun”) en skryf oor die verlatenheid van mislukte liefde of die afwesigheid daarvan (“Terwyl jy slaap die aand van 6 Augustus” en die treffende “Hande-vier-voet”). “Hierdie taal van my” van Kiwidore Fillis is een van die min gedigte oor Afrikaans in Nuwe Stemme 3. Afgesien van die ontsierende werking van die woord “norme” in die vierde reël, wat heeltemal uit die toon val, is dit ’n sprekende verwoording van die eenvoudige, kompromislose gevoel vir die moedertaal. Ook Charlton Lee George skryf oor liefde vir Afrikaans, maar in hierdie geval met die klem op die onthou van Afrikaans se nie-Europese wortels (“Tydstof”) en as medium van die poësie (“Digdroogte” en “Woorde”). In Ronelda S Kamfer se “Kuns en Culture” kry ons (soos ook in ’n mindere mate in Angie Kleijn se “Siener sê”) eksplisiete tematisering van die sg. Afrikaansdebat (en ongelukkig ook ’n sedelessie oor kulturele inklusiwiteit in die stert). Erns Grundling se drie ‘gebede’ aan George Bush, Oprah en Google is gedigte wat duidelik spreek van die leefwêreld van lede van die inligtingsgenerasie. Hierdie ironiese, afstandelike grynslagte oor oorlog, verbruikerwees en pornografie staan in teenstelling met Grundling se liefdesgedigte, met ’n ewe skerp sin vir humor maar ’n veel teerder stem. In “Om te bakhand” maak Breytenbach sy opwagting, maar soos ’n mens gelukkig meestal in hierdie bundel kan sê oor gesprekke met ouer digters, met die tong in die kies en die knippie sout ingebou terwyl die groot waardering deurskemer. Angie Kleijn se gedig oor die nut van skryf om “my aan myself terug te gee” (“Skryf”) sluit aan by haar ander gedigte oor selfverloor en valse selfvind, “Getsemane” en “Speelgoedpop”, met die reeds genoemde “Siener sê” wat dui op haar meerduidigheid as skrywer, die vermoë om ook oor bitter landsake ’n indrukwekkende gedig te skryf. Die kompakte gedigte van Liesel Kruger, waarin mure en blomme die motiewe van ’n lewe word, is van die intiemste en digste werk in die bundel. Die samestellers sê Kruger “keer terug na ou geykte Afrikaans en verbrokkel dit tot feitlik betekenislose stukke”. In ’n gedig soos “Ses Dode” gaan hierdie proses so ver as om die gedig nogal duister te maak, en die leser het deurgaans met Kruger se gedigte die gevoel dat iets roer net buite bereik, heeltemal onvasgrypbaar. In Gerhard Rasch se “Liefste”, wat herinner aan Blum se “Man wat mal word”, word hierdie verbrokkeling en die benutting van ekstra betekenisse in effens verwronge woorde tot ’n hoogtepunt gevoer. Dit is gedigte hierdie wat glad geen naastenby sluitende uitleg duld nie – en wonderlik so! Ek verkies om te bly wonder wat presies die stelling “want die liefde is / ’n perske sonder perke” (“Liefste”) beteken, byvoorbeeld. Rasch se spel met woorde en betekenisse is ook in ander gedigte baie pragtig, veral in “Myosotis” en “Alfabetica”. Die trieste gedigte van Danie Marais is myns insiens een van die mees volgehoue hoogtepunte in die bundel. Hier is ’n digter met ’n formidabele aanvoeling vir kragtige vergelykings, waaronder my gunsteling, in “In die bad” oor ’n baie treurige vrou: “soos ’n pikkewyn / in ’n olie-lek”. In “Barcelona revisited – 2 en ’n ½ jaar later” moes ’n verstote lover “soos ’n insomniac soft toy / snags langs jou kom lê het”. Marais skets die terminale siekte van ’n verhouding, ’n nuwe verhouding en al die hartseer moeilikhede tussen-in so raak soos dit moontlik kan kom, die goor emosies en onhoudbare ‘gesprekke’. “In die bad” en die twee Barcelona-gedigte vorm ’n verregaande treurige en (so wil ek glo) aartseerlike triptiek van ’n einde. Ek weet nie hoe om my entoesiasme verder oor te dra nie behalwe deur te sê dat ás Danie Marais sou publiseer, ek sy bundel blitsvinnig sou koop! En mag dit so wees. Loftus Marais se gedigte oor die geheimsinnige “M”-figuur sluit in terme van die rou-element by Danie Marais s’n aan. Hier is egter ’n minder diep teleurgestelde (omdat jonger?) treurproses, met ’n sterk skeut selfspot in “Met M se vertrek na Londen”, wat juis in hierdie selfopstandige spottery aan aandoenlikheid wen. Hierdie gesonde opstandigheid kom ook voor in Loftus Marais se gedigte “Wederkoms” en “Belydenis #4 van ’n studentedigter”. In eersgenoemde word God op ’n werklik unieke wyse benader, in ’n vlymskerp juweel van ’n anti-credo. Vernie Plaatjies is een van die digters wat die moeilike leefwêreld en spesifieke taalgebruik van bruin Afrikaanssprekendes ontgin en tematiseer, hier nog meer as in sy bydrae tot Nuwe Stemme 1. Ek bemerk egter ’n geneigdheid in hierdie maatskaplike poësie om ‘eksplisiete’ woorde soos “scars en pyn”, “pyn en trane”, “violence en stress”, “die curse van poverty” (uit “Restoration 2000 Manenberg Y2K”) futloos en tot oormaat te gebruik. In die sterk gedig “ ’n wind waai deur die Vlakte” het ek dieselfde beswaar teen bv. “nagte van liefde en die omgee van hande”, maar nietemin is dit ’n indrukwekkende gedig, met baie sterk aanwending van inkantatiewe herhaling wat herinner aan “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga” van Jonker. In Ronel Scheffer se werk het ons weereens te make met verlore liefde, in “Totsiens” en “Die soen”, laasgenoemde ’n treffende konkretisering van wat presies ’n mens verloor as liefde padgee. Haar “Eerste tekstuur” is weer mymerende nabetragting van die kindertyd, iets wat verbasend min in Nuwe Stemme 3 te vinde is. Op ’n heel eiesoortige, wrang humoristiese wyse skryf Tilla Schoeman ook oor hoe gemaak as ’n verhouding verby is, in “Bitterbek dating games”, en ná al hierdie mislukte liefdes is dit byna ’n verligting om by WL van der Merwe se gedigte oor gelukte liefde uit te kom! In “Aphrodite vandag” en “Ode” word die vrou besing, met ’n heerlike sin vir ritme (nogal iets wat seldsaam is), ook te sien in “’n Nuwe Testament” en “Beeldspraak”, ’n verrassende belydenis oor die aangevoelde ontoereikendheid van die self. Van der Merwe se afdeling sluit op ’n uiters positiewe noot met die gedig “Swangerskaptoets”, wat nogal vreemd in gesprek tree met Karen van der Vyver se gedig, “’n Moeder”, wat twee bladsye later volg. Laasgenoemde is ’n kragtige, geheimsinnige gedig oor kinder- en selfmoord, wat saam met Van der Vyver se “Abortus” en “Om te bloeisel” die spektrum van ma-wees ontstemmend blootlê. Die bundel sluit af met die gedigte van die jongste nuwe stem, Jasper van Zyl. Hy gebruik ’n eiesoortige vermenging van informele, Engels-gebruikende Afrikaans en neologistiese ‘suiwer’ Afrikaans, met pragtige nuwe samevoegings (“duiwelsagtige” in “Rooigrond”, “wonderwerklik” in “Candles”). Hierdie taalgebruik klink wel soms effe aansitterig (“protagonistiese kitchen teas”, in “Candles”), maar is tog heeltemal eie en besonder sterk in so ’n jong skrywer. En dit is goed om te sien heel jong digters kan tóg wegskryf van eie smartlikheid en onbeantwoorde liefde! Om dit baie kort te stel: hier is érg veel te lees in Nuwe Stemme 3. Al die digters is nie ewe sterk nie, en ook binne die aparte mini-oeuvres ervaar die meeste van die digters sterker en swakker oomblikke. Vir van die indrukwekkendste figure sou ’n mens hope kon hoop oor uitgewers, maar dalk ook nie, want ons weet digters bly glad nie noodwendig ongepubliseer omdat hulle vrot skryf nie. Ek herhaal dus: lees en geniet liewer nou, voor hierdie stemme uit die oor verloor word! Soos hulle sê oor flieks: you’ll laugh, you’ll cry, hier is ietsie (soms groot ietse) vir almal.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |