SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Ons gaan weer Mosambiek toe[1]

Johann Lodewyk Marais


Dit is veral mense van my ouderdom en ouer wat nog Lourenço Marques en ander plekke met welluidende name soos Santa Maria, San Martinho, Vila Luisa en João Belo in die Mosambiek van voor 25 Junie 1975 onthou, die dag waarop die land onafhanklik van Portugal geword het. Maar dit is ook nie alle Suid-Afrikaners wat met hierdie herinneringe rondloop nie. Dit was immers hoofsaaklik mense wat in die ou Transvaal gewoon het wat gereeld die pad Mosambiek toe gevat het. Rondom ons in die Vrystaat, waar ek my kinderjare op Harrismith deurgebring het, was die seebadsmense se bestemming gewoonlik die Suidkus, wat natuurlik veel nader was.

Tot voor die rewolusie het duisende Suid-Afrikaners jaarliks na veral Lourenço Marques gestroom. Die stad — ‘n spieëlbeeld van Portugal en veral die glorieryke hoofstad Lissabon — is as een van die mooiste stede beskou. Lank daarna nog het baie met heimwee teruggedink aan die besige strande, opwindende hengelplekke, dramatiese stiergevegte, breë boulevards, beroemde LM-garnale, die stylvolle Polana Hotel en die op en wakker LM-radio, wat elk iets besonders van die koloniale Mosambiek verteenwoordig het. (Terloops, ‘n vriend wat Lourenço Marques gereeld as vrygesel besoek het, hou vol dat hy ‘n later beroemde Suid-Afrikaanse aktrise daar ontkleedanse sien doen het!)

Maar Suid-Afrikaners se kontak was nie net tot besoeke aan die Mosambiekse vermaaklikheid- en toeristebestemmings beperk nie. As dit so was, sou ek waarskynlik self nie veel van die land te hore gekom en so ‘n intense belangstelling in sy geskiedenis, mense en kultuur ontwikkel het nie. Gedurende die 1960’s tot omstreeks die begin van die 1980’s het daar immers heelparty boeke in verskillende genres verskyn, wat van ‘n meer as insidentele belangstelling in die Portugese gebiede in Suider-Afrika getuig. Van Elsa Joubert was daar Die staf van Monomotapa: Reisjoernaal oor Mosambiek (1964). Dit volg sy op met die roman Bonga (1971), wat afspeel teen die agtergrond van ‘n reeks aanvalle (tussen 1858 en 1875) tussen Portugese troepe en die Cruz-familie van die prazo Massangano in die Zambezi-vallei. In Chris Barnard se roman Mahala (1971) word die spanning wat so dikwels gedurende die koloniale era in Mosambiek net onder die oppervlak gelê het, op verskillende maniere uitgebeeld of gesuggereer. Mosambiekse ervarings, of ervarings langs die Ooskus van Afrika, waar Arabiese handelaars reeds meer as ‘n duisend jaar aktief was, word ook in Wilma Stockenström se digbundel Van vergetelheid en van glans (1976) en haar roman Die kremetartekspedisie (1981) aan die orde gestel. Hierdie tekste is byna almal met die voorste literêre pryse in Afrikaans bekroon en dus sterk gekanoniseer.

Die betrokkenheid by Mosambiek word ook duidelik geïllustreer in die avant-garde-tydskrif Izwi, wat vanaf 1971 tot 1974 vir wisselende tydperke onder redaksie van onder andere Phil du Plessis, Stephen Gray, Wilma Stockenström, Wessel Pretorius en Sheila Roberts gestaan, en altesaam 20 nommers opgelewer het. In hierdie tydskrif was daar opmerklike kontak en samewerking tussen Suid-Afrikaanse en Portugese skrywers en kunstenaars, wat daarna nooit weer behoorlik op dreef gekom het nie. Dit het daartoe gelei dat die Portugese wêreld uit die Afrikaanse literatuur verdwyn en ‘n later geslag lesers weinig, indien enigiets, van Mosambiekse skrywers soos José Craveirinha, Rui Knopfli, Reinaldo Ferreira en Mia Couto geweet het.

Nadat pres Samora Machel van Frelimo die regering van Mosambiek in 1975 oorgeneem het, het duisende blankes die land verlaat, waarvan baie hulle in Portugal gaan vestig het. Uit vrees vir die Marxistiese regering anderkant die Lebomboberge het min Suid-Afrikaners daarna weer hulle voete in Mosambiek gesit. En toe breek daar boonop in 1977 die burgeroorlog tussen Frelimo en Renamo uit, wat sake aansienlik vererger en die land grootliks geruïneer het. Van die Portugese gebiede waarin ons vroeër so belanggestel het, het ons al minder en minder begin weet — behalwe dan die blik op Angola in die grensliteratuur wat sedert 1976 in die Afrikaanse literatuur en ander boeke oor die oorlogsjare die lig begin sien het. Die Afrikaanse literatuur het hierdie hoogs gestereotipeerde en eensydige siening van Angola nog nie na wense ontgroei nie.

Sedert die Vredesakkoord van Rome op 15 Oktober 1992 gesluit is, het daar amptelik ‘n einde aan die stryd tussen Frelimo en Renamo gekom. Kort op die hakke van hierdie belangrike gebeurtenis het nuwe publikasies oor Mosambiek in Suid-Afrika begin verskyn. Een van die eerstes hiervan was Mark Slater se Guide to Mozambique: The essential visitor’s companion (1994), wat gewys het dat Mosambiek weer besoek kon word. Kort op die hakke hiervan volg Pieter Pieterse se Mosambiek, hier kom ons! (1995), wat, ook op die spore van ou ervarings, vertel hoe stukkend Mosambiek is en talle waarskuwings bevat oor wat om te vermy. Maar so chaoties soos Mosambiek aan die einde van die 1980’s in die Nederlander Adriaan van Dis se In Afrika (1991) was, was die land nie meer tydens Pieterse se reis nie.

Die afgelope jare was daar ‘n herontdekking van Mosambiek, soos uit die toerismetydskrif Getaway blyk. Talle van die artikels, soos ook die oor ander gebiede langs die Ooskus en die Indiese Oseaan, is deur Justin Fox (die susterskind van Uys Krige, die Afrikaanse doyen van die reisliteratuur) geskryf. ‘n Omvattende verwerking van sy ervarings kom voor in With both hands waving: A journey through Mozambique (2002).

Vir baie lank was talle van die voorste Afrikaanse skrywers ook ywerige reisverhaalskrywers: C Louis Leipoldt, Totius, Sangiro, ID du Plessis, Uys Krige, WEG Louw, WA de Klerk, Ernst van Heerden, Jan Rabie, Elsa Joubert, André P Brink en Abraham H de Vries. Hulle boeke is wyd versprei en het danksy ‘n ywerige voorskryfmark selfs verskeie herdrukke beleef. My kopie van Elsa Joubert se Suid van die wind: Die verhaal van drie eilande (1962) is vol aantekeninge deur ‘n ywerige standerd 9-leerling, wat van indringende studie getuig. Hy het, soos baie ander hoërskoolleerlinge van sy generasie, intens met Joubert se verhaal oor die eilande van die Indiese Oseaan kennis gemaak. Daar was ‘n tyd toe dit nog vir ons moontlik en belangrik was om na buite te kyk.

Sedertdien is daar net sporadies reisboeke in Afrikaans gepubliseer, sodat Lae wolke oor Mosambiek deur heelparty lesers as ‘n ongewone genre gesien word. In die onlangse verlede het skrywers soos MC Botha, Elsa Joubert, Hennie Aucamp, C Johan Bakkes en ander weliswaar met boeke vorendag gekom wat getuig van ‘n hernieude belangstelling in hierdie genre, wat die leser by uitnemendheid ‘n blik op die wêreld daar buite gee. Dit maak vir my baie sin dat die Afrikaanse leser meer oor Afrika en ander lande van die wêreld te wete sal kom. Tog het ons byvoorbeeld nog nie iemand wat vir ons vertel hoe dit lyk in Nieu-Seeland, Australië, Kanada en stede soos Amsterdam, Londen en Sydney nie, waar soveel Suid-Afrikaners die afgelope dekade of wat heen gereis het (en soveel hulle uiteindelik permanent gaan vestig het). Ek glo dat dit sinvol kan wees om deur middel van die reisboek ook hier by ons vensters op hierdie wêreld oop te maak.

Hoewel faktore soos sneller vervoermiddels en massatoerisme individuele toerisme, en daarom ook die vermoedelik ideale omstandighede vir die skryf van reisliteratuur, die nekslag toegedien het, is hierdie genre besig om wêreldwyd te herlewe. Studies in die onlangse verlede wys almal op die hernieude en selfs groeiende belangstelling in reisliteratuur. Opvallend is ook dat TV ‘n belangrike medium vir hierdie genre geword het.

Alison Russell maak in Crossing boundaries: Postmodern travel literature (2000) melding van “[t]he resurgence of travel writing in recent years, evidenced by the appearance of several new travel series by major publishing houses as well as the publication of numerous travel literature anthologies” (p 1). Russell beweer: “[T]he genre of travel literature has a broad appeal to all kinds of writers as well as all kinds of readers” (p 2).

Russell skryf die volgehoue belangstelling in die genre toe aan die moontlikheid van “increased interest in all forms of nonfiction in recent years” (ibid).

Meer waarskynlik, volgens Russell, is dat die herlewing van reisliteratuur “indicates readers’ desire for writing that is responsive to the dramatic and complex ways in which the world has changed in the past few decades. Travel literature offers a reflection of such changes, but, more important, it captures our changing perspectives of borders, boundaries, and other spatial concepts” (ibid).

Nie net is reisliteratuur geruime tyd reeds ‘n florerende deel van die boekebedryf nie. Heelwat aandag word ook deur vakkundiges uit verskillende dissiplines aan reisliteratuur en verwante aspekte daarvan bestee. Die “hibridiese karakter” (MCA Seyffert, Die reisverhaal in Afrikaans, 1979, p 15) van reisliteratuur het as ‘t ware hierdie belangstellling gestimuleer.

In watter mate Lae wolke oor Mosambiek deel van bogenoemde diskoers is, sal elke leser natuurlik self moet besluit. Wat wel waar is, is dat ek by hierdie geleentheid sou wou pleit vir ‘n groter belangstelling in reisliteratuur by Suid-Afrikaanse, en spesifiek ook Afrikaanse skrywers, om aan die leserspubliek meer te wys van die boeiende kontinent waarop ons “boer”, soos Peter Blum in sy gedig “Nuus uit die binneland” in Steenbok tot poolsee (1955) skryf. In die lig daarvan dat daar tans soveel Suid-Afrikaners by ‘n verskeidenheid aktiwiteite in Mosambiek en ander Afrikalande betrokke is, lyk dit vir my meer as logies dat daar behoefte aan perspektiewe (ook ten opsigte van die avontuur wat dit alles bied!) op hierdie ervarings sal wees. Ek glo dat die genre van die reisliteratuur in sy verskeidenheid vorme hom uiters geskik hiervoor maak.

Talle persone het ‘n groot rol gespeel om hierdie boek oor Mosambiek en aspekte van onwettige immigrasie ‘n werklikheid te laat word. Sonder José Miranda en sy assistent Alberto Machava (van Africon) saam met wie ek die reis onderneem het om in Mosambiek navorsing oor onwettige immigrasie na Suid-Afrika te gaan doen, en my oudkollegas by die RGN, Martjie Bosman en Marie Wentzel, wat saam met my die reis meegemaak het, sou die boek nie moontlik gewees het nie.

Dankie ook aan Martjie wat die manuskrip deurgewerk, help onthou en toegelaat het dat ek van haar aantekeninge kon gebruik maak. Voorts dankie aan Daniël du Plessis vir die tipografie en ontwerp van die boek, asook die buitebladontwerp en die tekeninge; en Elize van As van die Afrika-Instituut van Suid-Afrika vir die kaart; en proff Johan S Bergh (UP),[2] Willie Burger (RAU) en dr Karen de Wet (UP), wat kommentaar op vroeë weergawes van die manuskrip gelewer het.

Talle persone het ook in verskillende hoedanighede as redakteurs van dele van die teks of die hele teks opgetree: DPM Botes, Magdaleen du Toit, Jeanette Ferreira, Ida Gräbe, Renée Marais en Ina Stahmer. Sonder elkeen van hulle se hulp sou die teks nie naastenby gewees het wat hy tans is nie.

Dankie ook aan prof Louis Changuion wat bereid was om by hierdie geleentheid op te tree, en vir sy vriendelike woorde; en vir my vriend en oudskoolmaat Costa Georghiou, vir sy optrede. Ek is nog steeds besondere dank verskuldig aan Costa, in wie se ouerhuis ek op Harrismith met veral musiek, die beeldende kunste en die letterkunde kennis gemaak het. Daardie besondere sfeer waarin ek soms daagliks kon deel, en talle gesprekke, het ‘n belangrike rol in my ontwikkeling as skrywer en as mens gespeel.

Ten slotte wil ek hulde bring aan een van die persone aan wie ek die boek opdra, naamlik Ants Kirsipuu, wat Saterdagmiddag in Kaapstad oorlede is. Ants en sy vrou, die digteres en aktrise Wilma Stockenström, het met hulle vertellings van hoe dit voor 1975 in Lourenço Marques was, ‘n groot rol gespeel om my belangstelling in Mosambiek te prikkel. Sowat twee maande gelede het Ants nog die manuskrip van Lae wolke oor Mosambiek deurgewerk en kommentaar gelewer, waarna ek sekere dele van die manuskrip bygewerk het. Hy het immers Mosambiek geken soos geen ander persoon wat ek ooit geken het nie. Die laaste gesprek met Ants was net meer as ‘n week voor sy dood. Ek is bly dat hy Lae wolke enkele dae voor sy dood ontvang het. Ter nagedagtenis aan hom het ek ‘n gedig van Wopko Jensma uit Izwi 6 (vol 1, no 6, Okt 1972, p 18) vertaal en lees dit nou graag voor:

Reis na Lourenço Marques
vir ants kirsipuu

ons het na die tyd by jou hotel opgedaag
jy het ‘n geselsie met die bestuurder aangeknoop
ons het na jou kamer toe gegaan
jy het jou koffers uitgepak
deftige klere vir elke geleentheid
jy het gebad jou opgetof
ons het ‘n ou vriend besoek
daarna het jy weggegaan en ek was alleen
volgende oggend het ek met dagbreek opgestaan
en jou in die nag in my alleen gelaat.


[1] Rede gelewer tydens die bekendstelling van Johann Lodewyk Marais se Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek (Wonderboompoort: Skeurklip, 2003) op 16 April 2003 in die Van Wouwhuis in Pretoria.
[2] Volgens prof Bergh herinner Lae wolke oor Mosambiek hom aan WA de Klerk se Drie swerwers in Suidwes (1949).

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.