|
Nataniël die performer en/as outeurMarius CrousNataniël. 1999. Maria Maria Oor die fenomeen Nataniël kan daar stellig heelwat geskryf word, veral wanneer n mens sy gewildheid as performer (by gebrek aan n beter woord) in gedagte hou. Wat my nog altyd gefassineer het van sy volgelinge is dat hulle oorwegend Afrikaans, wit en middeljarig is, en grotendeels uit die heterosentriese deel van die samelewing kom. Bewys die gewildheid en aanvaarding van Nataniël nie vir ons weer eens nie dat die deursnit (Suid-) Afrikaner klaarblyklik vrede het met n man wat gewade dra, grimering aansit en nes Pieter-Dirk Uys n bepaalde persona aanneem want slegs dan is hy aanvaarbaar en kan hulle hom kategoriseer as n Ander? Vanuit hulle onkritiese raamwerk is hy die gawe, weird enetjie op die dorp wat grimering dra, van uitspattige outfits hou, op hoë stewels rondwaggel en saam met hulle na Oprah en die soapies kyk, en oor die fynere dinge van die lewe kan klets. Die monolitiese groep fans of groupies raak, so wil dit vir my voorkom, nooit moeg van Nataniël se camp extravaganzas nie, aangesien dit hul wensvervullende droom is om ook soos die uitgeworpenes in sy tekste te kan ontvlug. Hierdie groep kan vir n oomblik besin oor weird en alternatief en hulself daaraan toets. In Wayne Koestenbaum se uitmuntende boek, The Queens Throat (1993), identifiseer hy bepaalde eienskappe wat aan n diva gekoppel kan word. Dit is interessant hoe hierdie eienskappe ook op die fenomeen Nataniël van toepassing gemaak kan word, want net soos die bekendste divas is hy ook narcisties, baie ek-gerig, wys hy ook vir ons sy bleek huis met sy vuilgesmeerde bleek bulhond, dra hy divakostuums met flappende los moupante en is daar veral in sy live shows n bitsigheid en n teenoormekaarstelling: ek = gorgeous / julle = common, niks gewoond. Soos alle divas is daar by hom ook die geskerts oor depressie, psigiaters, pille en die liggaam vergelyk sy sage met die persoonlike instrukteur (die teks, Keerpunt p41) en is daar ook n haat-liefde-verhouding met die eie liggaam en die eie self. Voorts het hy ook net soos die grote divas van alle tye n bepaalde divaspeak wat gekenmerk word deur bitsige, epigrammatiese selfverheerliking en word my shows n verlenging van n eie persona, n ontvlugting vanuit n Nataniëlonvriendelike omgewing. By hom is daar ook die slap, sting and cut wat so eie is aan divaspeak, en dus moet n mens in gedagte hou dat hy eerstens n sanger is en dan n skrywer. In dié era van ondermyning en onsekerhede waarin ons leef, soek die leser dikwels na die fyn stukkie rafel wat, sou mens daaraan trek, die hele mat uitmekaar gaan ruk. n Voorbeeld hiervan is veral die inleidende gedeelte tot Maria Maria, n stuk selfdekonstruksie in die kleine: Nataniël wil nie in die annale (Freudiaans glips?) van die Suid-Afrikaanse skryfkuns opgeneem word nie en hy wil ook nie die goeie raad van n plaaslike resensent op die hals haal nie. (Slegs plaaslike resensente gaan immers die teks lees, of hoe?) En om sommer met die inset die self te verontskuldig, laat mens dadelik lont ruik. As gewilde performer word hy oorval deur oproepe, fakse en e-posse (eposse dalk ook?) van mense wat stukkies anekdotes uit sy shows wil hê. Soos n bewonderaar teenoor my opgemerk het: n mens sê dikwels na die tyd, jy wonder waar jy die stories in die hande kan kry. Hier bied Human & Rousseau nou die oplossing. Die groot probleem met die teks is dat dit geskryf is as n monoloog vir die verhoog en nie om gelees te word nie. Van hierdie byna-surrealistiese tekste oor die vereensaamde hunkerings van outsiderfigure uit die samelewing sal besonder snaaks wees wanneer Nataniël dit in sy monotone stem voordra, maar vir die leser word hulle n kruising tussen breyten breytenbach op sy swakste en n boekklubroman oor daardie verre, afgeleë oorde waarna die hart hunker. Dikwels eindig die tekste besonder stomp iets wat die applous sou kon uitskakel wanneer dit opgevoer word. Die tekste word bevolk deur n santekraam van outsiders, verminktes en uitgeworpenes wat dikwels selfmoord pleeg om uit hul vasgevange bestaan te ontsnap. Daar is Anna van Bloemfontein wat net fotostate maak en aan wie se lyf n rubbermatjie vasgesmelt het, Dingetjie-in-wit wat haar verneuker-geliefde skok tot hy mal is, die vrou wat die slagoffer word van n advertensiemaatskappy, Vincetta uit Quentalombo, die powere teks met Martie en Fay in die ballet, die vrou in die rolstoel wat die slagoffer van n sirkusongeluk was, die vrou met die klipharde hare en haar gesneuwelde seun, Freda wat mal is oor pannekoekdeeg, Mercia en die pratende rogbrood en blinde Hester wat op n skilpad musiek maak, die nefie Vester wat homself die lug in lanseer en Frederik se invaart in die bokram. Is Die bok n naskrywing van Ingrid Jonker se verhaal? Indien wel, is dit besonder onsuksesvol. Indien nie, is dit steeds besonder onsuksesvol en onoortuigend. Die vraag wat dus nou by die leser opkom, is of Maria Maria geslaagd is as teks wat gelees moet word? Myns insiens, slaag dit nie. Dit word eerder n goeie illustrasie van (orale) tekste wat uit hul konteks geneem is, en in n nuwe konteks geplaas is en nie werk nie. Die pogings tot surrealistiese beelding sou kon slaag op n verhoog met n surrealistiese agtergrond en n kaalkop prima donna in n kimono. Die humoristiese inslag van die teks gaan slegs werk indien Nataniël dit op sy eiesoortige manier voordra. Ek het byvoorbeeld Kermis (p70) gehoor toe hy dit voor die aanvang van een van sy televisie-opnames vertel het. En toe was dit snaaks, maar nou met die lees daarvan … nou ja, word dit vlak, is die grappe flou, die beskrywings druppend van die purperste prosa en die slotte onaf en onafgerond. Dit word Laurel & Hardy in drag, Monty Python in M(adame) Butterfly en lees soos verheerlikte beginnersprosa, besonder mooi uitgegee met n ooglike foto op die band. Aangesien ek in my hoedanigheid as plaaslike resensent nie voorskriftelik mag / kan / wil wees nie, sluit ek af met die volgende aanhaling uit Ballet wat gelees kan word as n refleksie op die praktyk van resensiekunde: Die een kyk hier, die een kyk daar … Judge jy maar soos jy lus kry (p 40). |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |