|
Dit reën op Rietfontein!'n Beskouing oor Eugène Marais se Versamelde Werke, The Soul of the White Ant, The Soul of the Ape en DwaalstoriesDesmond Painter
I Sy gekanoniseerde rol as een van die "vaders" van die Afrikaanse letterkunde (die gedig "Winternag", nou 'n honderd jaar oud en een van die redes vir die herpublikasies, is aan menige generasies Afrikaanse leerders voorgehou as die "eerste" Afrikaanse gedig, terwyl Dwaalstories 'n vroeë bliksemstraal was wat eers in die 1950's en veral 1960's gevolg sou word deur 'n storm in die Afrikaanse prosa) is egter maar een van die redes vir die periodieke oplewing van belangstelling in Eugène Marais. Om die waarheid te sê, belangstelling in - en eintlik is dit eerder 'n fassinasie met - Marais setel veel eerder in sy persoon as in sy werk as skrywer. Nie dat dit 'n mens hoef te verbaas nie. Eugène Marais se lewensverhaal is veel interessanter en sy persoonlikheid veel meer kompleks, tragies en enigmaties as wat sy werk, en die werk van die meeste ander skrywers, ooit kan hoop om te wees. Mense het natuurlik verskillende redes vir waarom hulle Marais so fassinerend vind. Vir 'n Afrikaanse skoolseun, soos ek was toe Marais se priemende blik uit 'n dowwe foto'tjie in die Senior Verseboek my die eerste keer probeer hipnotiseer het, was die stories van sy dwelmmisbruik, saam met Breyten Breytenbach se tronkstraf, miskien die enigste tekens van lewe, die enigste "cool" elemente, in wat 'n andersins dodelik vervelige inleiding tot die Afrikaanse letterkunde was. Vir ander, soos Athol Fugard, Reza de Wet en Anton Goosen3, is Marais 'n skynbaar onuitputbare literêre onderwerp, 'n lewensverhaal wat tydloos praat oor die menslike kondisie, oor ons afsonderinge en verlangens, ons geworteldheid aan die aarde en in Afrika en ons moeilik verklaarbare verbondenheid aan die transendente en die spirituele. 'n Historikus soos Sandra Swart, weer, se fassinasie met Marais lê by die manier waarop hy as 'n Afrikanerheld gekonstrueer is, in terme waarvan sy dan die oorspronge, ontwikkeling en distorsies van die Afrikanernasionalisme kan lees, om sodoende 'n kultuurhistoriese en politieke eerder as 'n geïndividualiseerde interpretasie van Marais as "groot figuur" te lewer4. En dit is maar net in Suid-Afrika. Fassinasie met Marais, ten spyte daarvan dat sy vernaamste roem as Afrikaanse literêre figuur is, ken klaarblyklik nie die grense van taal en nasionaliteit nie. Die populêre wetenskapskrywer Robert Ardrey het Marais in sy African Genesis geloof as nie net 'n miskende genie nie, maar as die werklike vader van die wetenskap van die etologie5 - wat van Marais seker een van die weinig twintigste-eeuse figure maak wat sentraal staan in die oorsprongsmites van 'n letterkunde én 'n wetenskap! Meer onlangs was die Belgiese natuurwetenskaplike en skrywer David van Reybrouck gefassineerd genoeg deur Marais se wetenskaplike werk en die beweerde plagiaat van sy skrywes oor termiete deur die Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck dat hy 'n uitgebreide ondersoek geloods het en 'n uitstekende boek oor die aangeleentheid geskryf het6. Van Reybrouck het onlangs ook 'n toneelstuk oor Marais in Nederlands geskryf, en dus kan 'n mens, soos in die geval van Ingrid Jonker, toenemend Nederlandse belangstelling in Marais verwag. II Die tweedelige Versamelde Werke hoort op enige ernstige leser se boekrak. Marais se rustelose, veelkantige en wydlopende intellek verskaf ure se vermaak, en dikwels nog baie insig in allerlei onderwerpe. In 'n tydperk van kenniswerkers eerder as intellektuele, en waar kennisgenerering die vorm aanneem van óf spesialisasie óf bloot utilitêre kontraknavorsing, is die mengelmoes van belangstellings, onderwerpe en style wat Marais verteenwoordig, 'n werklike fees vir die leser. Sy onderwerpe strek van die sielkunde tot die uitwerking van slanggif; van hipnose tot die Egiptologie; van drome tot Boesmanklippe; van Modjaje tot die Mormone in Suid-Afrika - en vele, vele meer. Soos die meeste lesers sal weet en ook duidelik uit sy tekste blyk, was Marais ook nie bloot 'n onderhoudende wetenskapsjoernalis nie (is hy dalk ook die "vader" van hierdie genre in Afrikaans?), maar is baie van sy verslae gegrond op sy eie "navorsing". Sommige hiervan is klein, terloopse eksperimentjies, maar hy het natuurlik ook meer uitgebreide studies onderneem en het redelik hoë wetenskaplike aspirasies gehad. Die twee Engelse boeke, The Soul of the Ape en The Soul of the White Ant, verteenwoordig dan ook die hoogtepunte van sy meer ambisieuse wetenskaplike werk. Wat die wetenskaplike meriete van hierdie werke vandag ook mag wees, dit bly twee fassinerende en meevoerende boeke. Dit het sekerlik steeds die vermoë om mense se belangstellings aan te vuur en vang die noodsaaklike mengsel van nuuskierigheid, passie en intellek waarmee goeie wetenskap bedryf word, waarskynlik beter vas as menige skool- of voorgraadse handboek. The Soul of the Ape is as Engelse teks net so in die Versamelde Werke ook opgeneem, terwyl The Soul of the White Ant in die oorspronklike Afrikaanse weergawe, Die Siel van die Mier, opgeneem is. As jy die Versamelde Werke koop, het jy dus hierdie twee boeke ook, maar hulle is sulke mooi en interessante boeke dat dit goed is dat hulle ook afsonderlik heruitgegee is. Vir lesers wat meer in Marais se wetenskaplike as in sy literêre werk geïnteresseerd is, maak dit dan ook sin om hierdie twee boeke afsonderlik te koop. Marais is nie 'n onberispelike skrywer nie en heelwat van veral sy kortverhale is vir my uitgesponne en vervelig, terwyl nie al die gedigte vandag nog oortuig nie. Naas enkele gedigte, soos "Winternag", "Skoppensboer" en "Die Dans van die Reën", is die hoogtepunt van sy literêre oeuvre natuurlik die Boesmanverhale, Dwaalstories. NP van Wyk Louw het in die vroeë 1960's na hierdie verhale as van die grootste prosa in Afrikaans verwys, en ten spyte van 'n verdere halfeeu se prosahoogtepunte en huidige debatte oor die appropriasie van inheemse kultuurgoed en plagiaat, sal ek steeds nie van hom verskil nie. Dwaalstories bly, al is dit al 'n geykte uitdrukking met betrekking tot hierdie verhale, bekoorlik. Hulle is opgeneem in die Versamelde Werke, maar ook afsonderlik heruitgegee in 'n pragtige, hardeband-kopie met die oorspronklike sketse van Katrine Harries. Dit is werklik 'n lieflike boekie en behoort sonder skroom vir verjaardae, Kersfees en sommernet gekoop te word. III Marais vertel sy lesers van 'n besoek aan 'n "lokasie" naby Pretoria, begelei deur Harry, "die seun van 'n swart vrou en 'n Engelsman" (p 317). Volgens Marais kan hy nie onthou wanneer laas hy so 'n lekker ondervinding gehad het nie, en sy beskrywings van die mengelmoes van mense, kulture en kleure is by tye so uitbundig dat dit enige postkoloniale aanhanger van idees oor hibriditeit en kulturele vermenging en veelvuldigheid se mond sal laat water. Daar is dan ook iets verrassends, selfs indrukwekkend, daaraan om hierdie Afrikanerikoon so gemaklik, so nuuskierig en meelewend in die hart van 'n vroeë twintigste-eeuse "township" aan te tref. En tog, ten spyte van die gemeensaamheid en kulturele vitaliteit wat hy waarneem en vrygewig op kommentaar lewer; en ten spyte van sy, vir hom verrassende, ontdekking dat die lingua franca van die mense Afrikaans is, staan die hele stuk ook met een voet in die diskoers van die gevare van "ondertrouery" en die gevolglike morele paniek oor die verlies aan "suiwerheid" en "degenerering" wat so 'n belangrike komponent van die apartheidsideologie was. Marais sien in hierdie gebied, so tussen sy vreugde en fassinasie deur, "die wier uit al die sewe seë van die aarde saamgespoel" (p 318) en dit stem hom tot somberheid oor die implikasies van hierdie verskynsel van vermenging vir die Afrikaners van die toekoms. Maar wat Marais laat wanhoop het, het dalk die vermoë om ander vandag te laat hoop. Dis Marais-seisoen, en dit reën op Rietfontein; daar is, wil ek seker maar net sê, vandag nog baie redes om Eugène Marais te lees.
Notas
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |