SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

My Kunstefees

Mandy Rossouw

Die KKNK was vanjaar anders as gewoonlik. Dit was asof daar iets vreemds in die lug was — slég-vreemd, nie “interessant dog anders”-vreemd nie.

Snaaks dat mens so voel. Alles was tog daar wat elke jaar daar was. Stalletjies wat mekaar probeer uitoorlê om daai laaste boereworsrol ook verkoop te kry. Ou ooms wat heerlik saamsing, hoewel hulle eintlik net die jong dingetjie op die RSG/ATKV-verhoog en haar borste raaksien. Hier en daar ’n kunstenaar wat agter ’n sonbril wegkruip, maar hulself steeds in die mees prominente deel van Friedl’s/Jemimas of Godfather sitgemaak het.

Jy kon as’ t ware ’n lys van jou kaartjies van verlede jaar maak en dit weer net so aftiek op jou “gedoen”-lysie. Laurika, Elsabe en Amanda. Pedro Kruger, Stef Bos en Mathys Roets. Die classics van die fees. En as jy nie jou siklus van bierdrink-en-braaivleis wou verbreek nie, was daar steeds die Hap&Tap waar jy van smôrens tot saans kan sit en celebrity-spotting kan doen om heel gemeensaam vir die mense tuis te gaan vertel dat “Karen (Zoid, jy weet) darem haarself gedra het hierdie keer”, of van “Steve (Hofmeyer wat laas jaar daai ou gedonner het) wat deesdae met plakkies rondslof”.

Nuwighede soos die big screen op die hoek van die twee hoofstrate — “moerse big screen met fokol sitplek,” het ’n feesganger opgemerk — het seker gemaak Pappa mis nie die rugby terwyl Ma deur die stalletjies drentel nie. Selfs Afrikaanse stylikone soos oom Riaan het klokslag sewe-uur bo die feesgangers uitgetroon om aan hulle die nuutste sterftesyfer uit Bagdad te bring. (Terloops, ’n seun vra sy pa: “Wat’s Bagdad, Pappie?” “Dit is die bad waar Jesus siek mense gesond gemaak het.”)

Rock-aanhangers is verban na die periferie van feesvreug en moes na Zoid en Valiant gaan luister in ’n groot skuur-cum-konsertsaal waarvan die mure uitgepak is met bierkaste. Soveel vir die intimiteit van verlede jaar se Tassenberg Stalteater. As jy agter in die saal sou staan, lyk Karen soos ’n Barbie wie se haarborsel weggeraak het. En Valiant se romantiese klanke sypel deur die rye stoele soos water wat te lui is om te vloei.

Maar as alles dieselfde was, waarom het dit anders gevoel? Was dit ’n afwagting, deesdae inherent aan ’n Afrikaansekunstefeesganger, dat een van die mooi beroemdes inderdaad bos gaan los en hul broeke aftrek of die vuiste laat sing? Het die ou slagspreuk, “’n paartie is nie ’n paartie sonder ’n goeie bakleiery nie”, uiteindelik verskuif van die agterplaas van ’n klomp Bellvillers na die oop vlaktes van Oudtshoorn?

En toe gebeur dit.

Niks.

Niemand ruk die hoender en erken hy is Nataniël en Nadine se liefdeskind nie. En niemand kry die kans om hul te skaar by die sondebok nie. En almal gaan huis toe, kop onderstebo. Die enigste juicy nuus is dat dit lyk of Jana Cilliers ’n plooi of twee bygekry het.

Op pad fees toe ontmoet ek ’n meisie op die bus. Sy is 20, van die Oos-Rand van Johannesburg, en werk as ’n ontvangsdame. Sy gaan fees toe, “want ons gaan maar elke jaar”. Dit is nou sy self (haar naam is Tharina, haar ma Kariena — ja, sy is na haar ma vernoem) en haar pa en boetie.

“Hoekom?” vra ek met my beste kom-ons-wees-vriende-stem.

“Hoekom wat?”

“Hoekom ry julle, jaar na jaar, meer as ’n duisend kilometer na die middel van nêrens toe?”

“Want die fees is regtig lekker,” glimlag sy incredulously, asof daar geen ander antwoord ooit op daai vraag kan wees nie. Sy dink waarskynlik dit is seker dié nuuskierige agie se eerste keer.

Maar ek krabbel terug.

“Wat was jou gunstelingshow by verlede jaar se fees?”

“O, ek kyk nie juis shows nie.”

“Nou wat doen julle dan?”

“Ag, my pa hou daarvan om in die biertent te sit en kuier terwyl die gratis musiek op die verhoog is. My ma en ek is mal oor die stalletjies, so ons gaan koop klere.”

Dit is nie goed genoeg nie.

“Wie is jou gunstelingkunstenaar?”

“Gunsteling wat?”

“Die persoon wat vir jou die mooiste sing op die fees.”

“O, dis maklik, Theuns Jordaan, want hy is sooooo sexy.”

Voor ek kon vra, voor ek kon keer, besef ek dat ek binne-in hierdie beknopte Interkaapbus ’n grootse oomblik beleef. Ek praat met Die Tipiese Feesganger. ’n Régte een. Die een waaroor die Kunstekabinet praat wanneer hulle besluit om nog ’n Cutt Glass-vertoning in te druk en vir Huisgenoot vra of hulle nie ook ’n gratis musiekverhoog wil borg nie. Die ware Afrikaners, wat nie hul taal met fênsie woorde akademiseer nie, eerder met heelhartige toewyding saamsing met Dozi en sy backtrack. Want dis Ons Mense.

“Ons Mense” blyk egter minder te raak, as mens so kyk na die stalletjies wat minder boereworsrolle verkoop as verlede jaar en die strate wat leër is as tevore. So leeg, jy groet al die straatkinders op hul name en weet op watter hoek die kinders met Henties Vrugtesappe T-hemde hul harte gaan uitsing aan die volkslied (of ten minste die deel wat in Engels en Afrikaans is).

En die feeskantoor weet dit. ’n Ontstellende boereneiging het hier sy kop uitgesteek: die powers that be wou laer trek. Karen Meiring, feesdirekteur, en Rhodé Snyman, bemarkingsdirekteur, is telkemale aangehaal waar hulle uitwys die fees moet “sy belange beskerm”.

Teen wat?

Een van die “beskermingsaksies” was dat “in die lig van moontlike alternatiewe feeste” hulle genoop is om nuwe klousules in die kunstenaars se kontrakte te voeg: hulle mag nie tydens feestyd binne 150 km van Oudtshoorn optree sonder die toestemming van die KKNK nie.

Dit kom na gerugte van die sogenaamde Pro-fees wat Deon Opperman op die been sou bring. ’n Poging om ou shows, wat hul run by die fees gehad het en dus nie weer gekeur is nie, in George te laat herlewe. Net oorkant die berg.

Maar Meiring het op haar perdjie gespring en oor die berg galop. Woepswaps is die Burgersentrum, George se grootste venue, bespreek vir die KKNK, hoewel die fees g’n voet uit Oudtshoorn sou sit nie. Dit het mooipraat van die burgemeester van George gekos om haar te oortuig om haar bespreking te kanselleer, maar net vir ingeval het hy maar die sentrum op sy eie naam bespreek vir volgende jaar, voor die pôpô weer die fan strike.

Weet Meiring dalk iets wat ons nie weet nie? Bespeur sy en die kabinet van Feesland ’n tendens van markversadiging en/of ’n afname in belangstelling? Word die invloed van Aardklop, die fees op Hermanus en ander uiteindelik na waarde geskat? En hopeloos te swaar bevind?

Solank mense soos Tharina en haar familie van die Oos-Rand van Johannesburg bestaan, sal Oudtshoorn jaarliks ’n skouspel van draughts, Dowwe Dollas en droë koekies wees. Of dit die voorste Afrikaanse kultuurfees sal bly, daaroor sal ons tot volgende jaar moet wonder.

En dit is die nuwe “vreemdheid” wat so aan mens knaag. Net omdat alles steeds dieselfde lyk, beteken dit nie dit is hoe dit gaan bly nie. ’n Duur les wat die Kunstekabinet en elke Tipiese Feesganger en kunstenaar-agter-’n-donkerbril vinnig moet leer, met of sonder ’n backtrack.

Mandy Rossouw


Mandy Rossouw (23) is ’n gebore Kapenaar wat nou as politieke verslaggewer by Beeld in Johannesburg werk. Elke dan en wan skop die kultuurkliere in en haar passie vir die Afrikaanse kunste neem oor.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.