SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Is Engfrikaans en Jipfrikaans ’n bedreiging vir Afrikaans as kultuurtaal?

Lucas Malan

(Hierdie toespraak is onlangs gelewer tydens ’n colloquium oor Gemixde Afrikaans, aangebied deur die Universiteit van Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands.)


Meneer die Voorsitter

Die begrip Englikaans of Engfrikaans is al geruime tyd met ons, maar die sporadiese skermutselings oor die onderwerp het nou ’n fokuspunt gekry met die bekroning van ’n teks wat na literêre meriete streef. Ek het my kort na die bekroningsgeleentheid negatief daaroor uitgelaat teenoor ’n verslaggewer van Rapport, en ek hou by daardie standpunt. Ek skaar my dus onomwonde by die “taalpolisie”, die “grys ou ooms”, die “wagters op die mure”, oftewel “die ou prostate met gekroonde tande en die bifocals” soos Antjie Krog liefderik na ons verwys - ons wat gekant is teen die verwaarlosing en verwording van Standaardafrikaans.

Intussen het daar van beide kante van die debat verskeie verantwoorde en ook soms minder verantwoorde argumente gekom, waarvan die meeste van ons kennis sal dra. Dis opvallend dat die voorstanders van Engfrikaans selde met feite werk; hulle argumente berus op aannames, lukraak waarnemings en veralgemenings. Aangesien die boek skynbaar vergete is - of doelbewus verswyg word - wil ek almal herinner aan JC Steyn se indrukwekkende studie Tuiste in eie taal van 1980. Daarin sal u histories begronde feite aantref oor sake soos hoe en waarom tale groei of kwyn - onder meer dit waaroor ons vanaand debat voer.

Prof Steyn het ook deurlopend in die pers kommentaar gelewer op die ontwikkeling van Engfrikaans. Ek het sy samevatting van die situasie in Beeld van 9 September vir hierdie geleentheid nuttig gevind en maak daarvan gebruik om onder meer op enkele wanopvattings by die apologete vir Engfrikaans te wys:

Daar bestaan nie iets soos ’n suiwer taal nie, en nie een van die “taalstryders” het ook so iets beweer nie. Taalverandering sal ook toenemend waargeneem kan word soos globalisering die planeet verklein, en niemand probeer dit met oogklappe en botte ontkenning wegwens nie.

Leenwoorde was nog altyd nodig en sal toenemend voorkom in Afrikaans, en niemand is so bekrompe of eng - soos Koos Kombuis op LitNet suggereer - dat ons die nuttigheid daarvan ontken nie, maar dit moenie verwar word met die brutale verdringing van ’n bestaande woord deur die Engelse ekwivalent nie. (Terloops, die woord “establishment” is nie ’n Anglisisme soos Koos in Rapport beweer het nie, dis ’n leenwoord waarmee ons almal vrede het omdat hy so nuttig is; net so nuttig soos leenwoorde uit ander buurtale, bv. imbongi en kwaito.)

Kodewisseling kom in enige taal voor, maar dit kan nie van toepassing wees op ’n teks of situasie waarin ’n spreker twee tale deurgaans gelyktydig of verstrengeld gebruik nie.

Prof Steyn praat verder van die meningsvormers en eietydse magshebbers wat die seggenskap het oor radio- en televisieprogramme, advertensies, koerante en boeke.

Oor die vertroeteling van Engels in gewilde TV-programme soos Pasella, Noot vir noot, en my groot gunsteling, Geraas, kan ons ’n afsonderlike debat voer, maar ek volstaan met die opmerking dat ek dit persoonlik as ’n vorm van kruiperigheid ervaar.

Benewens die media se invloed op Standaardafrikaans is daar ook die ewe belangrike rol wat prominente Afrikaanse skrywers speel, waarna ek noodgedwonge moet verwys.

Volgens persberigte het prof André P Brink die bekroning van Nagtegaal se boek ondersteun en onder meer gesê hy is verstom dat ’n aantal vooraanstaande literatore nie die funksionele aard van die gebrekkige taalgebruik in die novelle kan insien nie. Diegene word dan ook met die verwagte vleugie kritiek “strydrosse” genoem wat skynbaar ’n voorhamer gebruik om ’n vlieg by te kom (Die Burger, 1 Oktober 2003).

Nou moet ek op my beurt, met respek, bely dat ek weer verstom is dat ’n groot kanon soos prof Brink ’n geleentheid soos ’n Van Wyk Louw-gedenklesing benut het om ’n geringe bydrae soos die boek ter sprake aan te prys as ’n “vernuwing”. Ek verlaat my natuurlik net op die kort berig oor sy lesing soos dit in die pers verskyn het, maar hoe ek ook probeer, kan ek nie insien dat taalverwording as taalvernuwing aangeprys kan word nie. As daar hoegenaamd van vernuwing sprake is in so ’n mengeltaal, dan moet die louere aan Anoeschka von Meck gaan vir haar roman Annerkant die longdrop van 1998.

Ek herhaal: Ek het nie prof Brink se volledige lesing gehoor of gelees nie, maar ek weet wel dat Van Wyk Louw in sy inleiding tot Windroos van 1964 oor vernuwing in die literatuur heel aan die begin reeds “vernuwing-met-gehalte” as aanvaarde gegewe voorop stel. Verder merk hy op:

Een saak bly bedenklik: dat so baie jongeres nie ’n Afrikaans kan skryf wat vir 100% reg en presies is nie.

Hy haal ook ’n kollega aan wat hom sy toegeeflikheid verwyt en gevra het: “… kan jy jou voorstel dat ’n jong Fransman of Duitser opgang kan maak en selfs roem as ‘vernuwer’ kan kry as hy sy taal, sy instrument, so swak hanteer?” Hierop skryf Louw: “En ek het sonder verweer gestaan.”

Ek kan dus nie met prof Brink saamstem dat ’n gebrekkige halftaal in staat is om “grondverskuiwende” en beduidende “filosofiese” vrae te artikuleer nie. Noem dit vooroordeel, noem dit taalintuïsie, moedertaalintuïsie, wat ook al, maar Engfrikaans kan my nie intellektueel boei of emosioneel ontroer nie, en daarom vind ek die hele wending by die verteller in Nagtegaal se boek geforseerd en vals.

Eweneens bederf Antjie Krog haar voortreflike digbundel Kleur kom nooit alleen nie (2000) telkens vir my wanneer sy ’n Engelse woord skynbaar laat inglip, maar eintlik in die Afrikaanse teks inforseer: “oom Jakobus de Wet praat poetry” (p 22), of op sy ergste, in die pragtige Afdeling III, “G. niks is so vulnerable soos ’n ou man nie.” Is die volkome gangbare kwetsbaar, wondbaar of weerloos dan so onbereikbaar versink in die Afrikaanse woordeskat? Maar dit sal nie help om met haar te redeneer nie - sy doen dit moedswillig en hou waarskynlik haar “struggle-Afrikaans” op dié manier aan die skop.

Koos Kombuis raas ook met ons oor ons so lelik is met Jackie. Nou waarom het ons nog nooit oor Koos se gebruik van Engels in sy boeke gekla nie? Dit het my nog nooit so gehinder dat ek nie verder kan lees nie. Ek meen dis omdat hy dit kontekstueel verantwoord gebruik en meestal ten einde satiriese, ontluisterende, as u wil, of veral humoristiese effekte te bereik. Die effens verloopte, troebadoeragtige figure in sy werk maak oortuigend gebruik van Engels - hulle probeer nie wêreldwys, verveeld met die normale of blasé voorkom nie; hulle is verrinneweerde mense wat “ironies” lewe.

Maar let daarop dat hierdie goedkeurende uitspraak beperk is tot humoristiese effekte. Dit is waarom ek sonder huiwering beweer dat ’n Raka, ’n Joernaal van Jorik, ’n Kroniek van Perdepoort, ’n Kremetartekspedisie, of ’n Toorberg nie moontlik is in Engfrikaans nie. Waar ons in die jongste tyd veel maak van die begrip erfenis, vra ek dus watter soort erfenis wil ’n jonger geslag lewer met ’n gestremde mengeltaal tot hul beskikking?

In haar jongste publikasie, Die stil middelpunt, sluit Ina Rousseau die keur uit haar werk af met ’n twintigtal nuwe gedigte, waarvan die laaste ’n vierluik is met die groeptitel “Die seuns en die dogters van die mense”. Uit die laaste een haal ek, met apologie aan haar, ten slotte net enkele reëls uit die begin en einde aan:

Die mense se jeugdige kinders dwaal rond
oor die globale dorp, in verwondering
oor allerlei ditjies en datjies:
...

... Ja, die mense se kinders
kom en die mense se kinders gaan.
Hulle sê haai as hulle kom
en baai as hulle gaan.

Is dit wat ons wil aanmoedig - ’n geslag wat so taalgestremd is dat hulle nog net “boe” en “ba” kan sê? Dit moet ’n besonder behoeftige taal of literatuur wees wat met so ’n vooruitsig tevrede kan wees.

4 Desember 2003

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.