|
Die KKNK oftewel Knus Kuierplek vir Net AfriKanersNèlleke de Jagern Kunstefees het n identiteit van sy eie. Tien jaar gelede was Grahamstad n trekpleister vir hippies, daring kunstenaars en huisvroue wat wou wegbreek van Gauteng se vaal stof. Deesdae bespreek ons ons kaartjies vooruit en vertoef net n paar dae, vóór PE se gangsters op die laaste dag van die fees die dorp oorneem. Want dan jaag die taxis heen en weer met musiek wat blêr, op en af in Beaufortstraat. En die huisvroue? Dié sleep nou hul mans na die KKNK op Oudtshoorn vir gemmerbier, skaaptjops en flou pantomimes in die M-Net Banketsaal. Terwyl Jurie Els kliphard bulder op RSG se verhoog in die middedorp: Moet my nie verlaat nie. Ek is so lief, so lief vir jou! Subtlety is die wagwoord, dink ek. Subtlety en verskeidenheid. Iets wat tot op hede ongelukkig nog nie kenmerkend is van die KKNK nie. En tog stroom ons jaarliks soontoe. Met sonhoede, velskoene en baie kontant. Want wat maak dit saak jy haat Karin Hougaard? Dis n droomland van n volkstaat, selfs al ontken ons donker onderbewuste dit. Om ons is dit so heerlik wit en veilig, en goddank, so Afrikaans. Al is dit net vir n paar dae. So, nee, die KKNK is nie soseer n tuiste vir Hari Krishnas nie. Dis n boerebasaar vir die hele gesin, en n platform vir gevestigde Afrikaanse kunstenaars wat nie te gewaagde streke op die verhoog uithaal nie. Dit het die bohaai oor Boklied alte gou uitgewys laas jaar. Die ironie is, Grahamstad self is nie meer wat dit was nie. Of dit vanweë die veranderende politieke klimaat in Suid-Afrika is, of deels die ontstaan van die Oudtshoorn-fees, verskeidenheid betreffende produksies én feesgangers is aan die afneem. Besoekers het altyd geld in hul gatsakke, die shows is minder risky, en selfs die ou bekende reuk van vure wat brand voor die Spur is nie meer dieselfde nie. Miskien is dit net n feesganger se eie wispelturigheid, altyd op soek na iets nuuts. Maar ek glo nie so nie. Dis n veel komplekser probleem wat dreig om ook die KKNK te verswelg. Dit gaan oor politiek, en nogmaals politiek. Dalk het die Grahamstadse Feeskomitee destyds n fout begaan om Afrikaans te sidestep. Nie net vind Afrikaanse kunstenaars dit toenemend moeilik om daar op te tree nie (laas jaar was daar n skamele vyf of ses produksies), die plaaslike feeskoerantjie, Cue, publiseer deesdae net in Engels. Gevolglik verminder die getal Afrikaanssprekende gehore, want Oudtshoorn verwelkom n mens dan met ope arms. Aan die ander kant, die KKNK sukkel om n jazz-fees van die grond af te kry. Daar is min dans te sien op die fees, en dis eerder die bekende huishoudelike name wat die geld laat inrol. Innoverende, ontluikende talent trek klein gehore, want die KKNK-feesganger willie waag nie. Nie terwyl oupa en ouma saampiekel nie, nevermaaind die jongspan. Die basiese uitgangspunt van n kunstefees word dus meerendeels nagelaat of geïgnoreer, naamlik om n platform te wees waar gewaag en geëksperimenteer kan word, en benewens dit, om blootstelling aan die sogenaamde eklektiese aard van Suid-Afrikaanse kultuur te gee. n Fees dra juis waarde by tot gehore en medekunstenaars in die graad van verskeidenheid wat dit aanbied, en dit dien as n barometer vir die aard én die standaard van n land se kunstenaarpsige. Soveel te meer van belang op die vooraand van n nuwe millennium. Tog kan n mens nie die feesgánger blameer vir Oudtshoorn se gebrek aan veelsydigheid nie. Kom hy/sy na die fees weens n liefde vir kuns en kultuur, of om Afrikaanse kunstenaars te ondersteun, in Afrikaans bedien te word en heeldag braaivleis te eet? Dis n moeilike vraag om te beantwoord. En ek vrees die dilemma is hier om te bly. Want die oeroue Afrikaner-geneigdheid om apart te wees, steek al weer sy kop uit. Selfs as dit kom by die kunste, hou ons daarvan om op ons eie te wees. Dis dus gn wonder dat die Engelse media so krities is oor die fees nie. Maar dalk het Lauren Shantall in die Mail & Guardian n punt beet as sy verklaar: If die taal is to outlive its first century then its selfproclaimed national fees needs to ... inclusively promote the arts rather than a burgeoning commercial venture which bolsters the dominance of a particular facet of Afrikaans culture. Of dit ooit sal gebeur, is n ope vraag. Dalk moet ons eerder die naam Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees herdoop en praat van Die Klein Karoo Nasionale Kultúúrfees. Ten minste kan ons dan ons hande in onskuld was. En saamjuig as Karin Hougaard begin met ons all-time favourite, Afrikaners is plesierig ... 1. Mail & Guardian, Vol 15 nr 13, April 1, in Friday, p 4. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |