SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Bestekopname van die Afrikaanse poësie

JC Kannemeyer

Van Gerrit Komrij, die samesteller in drie dele van die grootste bloemlesing uit die Nederlandse poësie vanaf die Middeleeue tot hede, het einde verlede jaar ’n eweneens omvangryke keuse in een deel uit die Afrikaanse poësie verskyn. Dit dra die titel De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten en is gepubliseer deur Uitgeverij Bert Bakker in Amsterdam.


Koop by Kalahari.net

Met sy 1179 bladsye (saam met die “Woord vooraf” en die inhoudsopgawe) is Komrij se aanspraak dat sy boek “de grootste bloemlezing (is) die ooit uit de Afrikaanse poëzie werd gemaakt”, inderdaad korrek. Die vergelykbare Groot verseboek van D J Opperman beslaan slegs, in die laaste uitgawe wat die digter self in 1981 versorg het, 535 bladsye. ’n Mens moet egter onthou dat die opset van die twee bloemlesings aanmerklik verskil. Terwyl Opperman hom beperk tot gedigte wat in die Afrikaanse taal geskryf is, het Komrij ’n lang aanloop uit die koloniale en negentiende-eeuse Nederlandse poësie en neem hy verder ook voorbeelde op uit Suid-Afrikaanse digters wat in die twintigste eeu sporadies in Nederlands geskryf het. Verder het Opperman sy keuse uit kleuter- en kinderverse, saam met die ryk skat van piekniekliedjies, dansriele, koggelspele en raaiselrympies, grotendeels vir sy Kleuter- en Klein verseboek gereserveer en in sy Junior en Senior verseboek - in opset kleiner maar wesenlik met dieselfde uitgangspunte as sy Groot verseboek - dikwels om ’n verskeidenheid redes ander tekste opgeneem van die digters wat hy in Groot verseboek bloemlees. Uit al hierdie poësie neem Komrij voorbeelde op. Ook randverskynsels soos alfabetryme en konkrete visuele poësie het hom nie ontgaan nie; hy ruim selfs plek in vir die anonieme “Durbanse poepwedstryd” en soortgelyke geestighede. ’n Mens kan dus sê dat die omvang van Komrij en Opperman se totale aktiwiteit as bloemlesers nagenoeg gelykwaardig is. Tog het ’n mens waardering daarvoor dat Komrij dit alles in een band doen en daarmee ’n panoramiese blik op die hele poësieproduksie in Afrikaans gee, al rek hy dan die betekenis van wat alles onder “Afrikaans” verstaan word.

Wat doelstelling en uitgangspunte betref, is daar ook verskille tussen Komrij se boek en Opperman se Groot verseboek. Volgens sy “Verantwoording” wil Opperman die mooiste Afrikaanse gedigte in een band saamvat, maar tegelykertyd ’n beeld van die ontwikkeling gee. Sowel die estetiese as die literêr-historiese is dus vir hom van belang. Ander riglyne, soos die politiek van die dag of aansprake van die kerk, bestaan eenvoudig nie vir hom nie, soos blyk uit talle uitsprake in sy kritiese opstelle en uit sy onwrikbare standpunt in dié verband wanneer dergelike sake ooit ter sprake gekom het. In sy “Woord vooraf” sê Komrij dat hy homself twee beginsels opgelê het: om sonder ’n enkele idee vooraf en ongehinderd deur watter belangegroepe ook al na “de kwaliteit van de poëzie en naar wat poëzie met ons vermag” te kyk; en om hom - in ooreenstemming met ’n prinsipe wat hy ook in sy Nederlandse bloemlesings toepas - tot maksimaal tien gedigte per digter te beperk. Hoewel hy dit nie in sy “Woord vooraf” eksplisiet noem nie, verskyn die verse in sy bloemlesing chronologies volgens die geboortedatum van die digter en - in die geval van anonieme poësie en in gevalle waar die biografiese gegewens onbekend was - die publikasiedatum en ’n benaderde ontstaansdatum.

Die beperking tot tien gedigte per digter en die enigsins buitengewone chronologie het vir Komrij se bloemlesing nadelige gevolge. Met tien gedigte as afsnypunt word die werklik belangrike figure van die Afrikaanse poësie - Leipoldt, Van Wyk Louw, Opperman, Eybers, Breytenbach, Stockenström, Krog - nie voldoende geprofileer nie en vind die leser wat ingewy wil word, nie ’n voldoende wegwyser wat hom toegang tot die beste poësie in Afrikaans verleen nie, veral in gevalle waar die keuse uit die mees prominente figure aanvegbaar of betwisbaar is. Nog groter word die probleem wanneer Komrij alle literêr-historiese ordening ignoreer en die geboortedatums van digters as uitgangspunt vir die volgorde in sy bloemlesing neem. Die digter Boerneef, in 1897 gebore, het in die jare 1938 tot 1956 in prosavorm geskryf. Sy eerste digbundel verskyn eers in 1958, lank nadat W E G Louw, Van Wyk Louw en Eybers in die dertigerjare gedebuteer het. Nou kom hy egter chronologies vóór hulle te staan, selfs voor I D du Plessis wie se eerste verse in die twintigerjare verskyn. T T Cloete, wat eers betreklik laat in 1980 debuteer, kom op grond van sy geboortedatum nou te staan voor Kirsch, Cussons, Toerien, Philander en Blum wat almal reeds in die jare 1945-1955 hul verskyning op die literêre toneel maak. Daarteenoor staan M H Neser, wat in die dae van die Eerste Afrikaanse Beweging gedigte geskryf het en in die tydperk vóór 1900 tuishoort, nou in die buurt van Langenhoven en Gustav Preller. Enigiemand wat iets weet van die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, sal besef dat Komrij se plasing van figure histories onhoudbaar is.

Maar die belangrikste toets vir ’n bloemleser is die vraag in watter mate hy iets bring wat nuut is. Wyk hy in sy keuses af van die gekanoniseerde poësie, laat hy die aksente anders val en lig hy tekste uit wat tot dusver oor die hoof gesien is?

Wat ’n mens dadelik tref, is die volledige beeld wat Komrij van ons digkuns gee en die spektrale verskeidenheid wat sy keuses bied. In die Nederlandse aanloop tot sy bundel bloemlees hy selfs uit digters soos Aletta Beck wat nie in die deeglike Elizabeth Conradie se tweedelige standaardwerk Hollandse skrywers uit Suid-Afrika figureer nie. In hierdie verse vind die leser telkens fraai onderdeeltjies, soos De Marre se waarneming van die Kaap as “één der schoonste dalen / Die immer oog beschouwde, of kunstpenseel kan malen” en De Lima se blik op die Kompanjiestuin waar die “moeden wandelaar” hom in die “lommerrijke groen” kan verlustig. Borcherds se liefdelose blik op die “woelzieke” Hottentotte sal ’n mens vandag wel laat glimlag, veral waar Borcherds, teen sy eietydse verheerliking van die “edele barbaar” in, hierdie mense sien as “een soort van dieren, / Die ongeregeld aan hun drift ten teugel vieren”! Die insluiting van hierdie Nederlandse aanloop gee vir die leser ook ’n beeld van hoe Afrikaans geleidelik in woord en beeld die Nederlandse taal verdring om dan in die digterlike aanhef van Pulvermacher uit te mond en in Marais se “Winternag” poëtiese volwassenheid te bereik.

Wanneer hy by die Afrikaanse poësie kom, konsentreer Komrij nie alleen op die digters in die hoofstroom nie, maar neem hy ook talle digters op wat selfs aan goeie kenners van die Afrikaanse poësie onbekend sal wees, name wat uit die literêre geheue weggeraak het en selfs digters wat ’n mens nooit bloemlesingwaardig sou geag het nie. Ek noem hier digters soos H H Joubert, Harper Martins - van wie hy selfs vyf verse opneem! - en F C L Bosman wat vandag hoogstens tot die domein van die literêre grap gereduseer is. Dit alles getuig daarvan dat Komrij werklik diep in die poësie gaan delf het, niks op sigwaarde, deur ander aan hom voorgehou, aanvaar het nie en met ’n oorspronklike keuse kom. In die inleiding tot die tweede deel van sy bloemlesing uit die Nederlandse poësie sê hy trouens dat die voornemende bloemleser die feit dat hy skoolgegaan het, uit sy geheue moet verban, die aan hom bekende bloemlesings na “Nergenshuizen, poste restante“ moet versend en die literatuurgeskiedenisse moet wantrou.

Met hierdie instelling gebeur dit dan ook dat Komrij die leser - ook die kenner - van Afrikaanse poësie op sekere tekste attent maak wat by ander bloemlesers, selfs by ’n strenge werker soos Opperman, verbygegaan het. So verras hy ons deur nie minder nie as agt gedigte uit Melt Brink op te neem, ’n digter wat met sy geestige sienings en kostelike sêgoed om herwaardering vra. Van J H H de Waal, ’n skrywer wat vandag nog slegs as prosaskrywer bekend is, neem hy “Die Afrikaanse pop” op, ’n gedig wat met sy vergelyking tussen die Afrikaanse en uitlandse nooiens die voorloper is van ’n dergelike siening in A G Visser se “Eheu fugaces...” Wat ’n mens telkens tref, is hoe Komrij by herhaling gedigte opneem wat tematies met mekaar verband hou of in ’n teenstellende verhouding met mekaar staan. Teenoor die vroeëre lof vir die Hollandse taal by De Lima en Van der Hoop is daar die besinging van die Afrikaanse taal wat met Lion Cachet se bekende allegorie begin, ’n lyn wat deurgetrek kan word tot by Sheila Cussons se “Gebed van die loot aan die wynstok”. Teenoor die idilliese siening van die boer in “Luilekkerland” (p108) van ’n anonieme digter staan die eweneens anonieme “Die arme boer” (p107). En vir mense wat meen dat Hoogenhout slegs in “Vooruitgang” (“Engels! Engels! alles Engels! Engels wat jy siet en hoor”) oor taalsake uitgevaar het, neem hy dieselfde digter se minder bekende “Alles is Engels” naas Pannevis se “Rasende afgodery” en Brink se geestige “Hoe die Engelse taal in die wereld gekomen is” op, almal verse wat in die hedendaagse taalstryd bekend-aktueel klink. ’n Ander subreeksie in die bloemlesing is die alfabetgedigte van Goldblatt, Carinus, Elizabeth van der Merwe, Krog, Patrick Petersen en Rautenbach, ’n tipe vers waarvoor Komrij - soos ook uit sy Nederlandse bloemlesings blyk - ’n voorliefde het.

Maar die vraag is steeds of Komrij, naas hierdie boeiende beeld wat sy bloemlesing met die tematiese verbande en polêre teenstellings tussen gedigte opbou, vir sy lesers met hierdie keuse genoeg verse van kwaliteit bied dat sy boek ’n bevredigende inleiding tot die Afrikaanse poësie kan wees. Die opname van Marais se “Die towenares”, wat by Opperman ontbreek, is ’n besliste wins, terwyl geen bloemleser vroeër W E G Louw se “Heimwee” en “Somerreis” raakgelees het nie. Oor “Heimwee” skryf Komrij uitvoerig in De Afrikaanse poëzie: 10 gedichten en een lexicon, die gratis boekie wat die bloemlesing vergesel. Uit sy bespreking van dié gedig word ’n mens, soos ook elders in dié boekie, getref deur die besonder moeitelose wyse waarmee hy sonder die gebruik van die dikwels afskuwelike hedendaagse kritiese jargon intuïtief oor die poësie kan skryf. Hoewel ek sy geesdrif vir dié vers deel, meen ek dat hy deur sy voorliefde vir die katalogus verlei word en by die enigsins retoriese dreun verbylees. In elk geval word W E G Louw se gedig myns insiens oortref deur Van Wyk Louw se verwante “En as ek dood is” (wat nie hier verskyn nie).

Soms verras Komrij die leser met sy voorkeure, maar ’n mens vra jou af of die dikwels idiosinkratiese keuses ten koste van beter en goeie verse van dieselfde digter geregverdig is. Wat die keuse uit Celliers betref, het ek eintlik net vrede met “Dis al”; om “Nagwandeling” voorkeur te laat geniet bo die verwante “Eensaamheid”, is vir my onbegryplik; en Komrij oortuig my nie as hy met die opname van struikelende verse waarin die Afrikaanse taaleie aangetas word, iets wil red uit Die groot geheim en Liefdeslewe nie. Ek vind dit verbysterend dat daar in hierdie ruim bloemlesing geen plek gevind kon word vir selfs een van Leipoldt se heftig-dramatiese verse oor die Anglo-Boereoorlog nie. Met die keuse van “Boggom en Voertsek” en “’n Handvol gruis” gaan ek akkoord, maar waarom in hemelsnaam die power “Dingaan, die Zoeloe, was ’n duiwel” opneem as daar soveel beter verse van dié digter vir die gryp lê, selfs al het Leipoldt, bekend vir die swak oordeel oor sy eie werk, dit by geleentheid sy beste slampamperliedjie genoem. Ek is bly dat Komrij soos ek waardering het vir dié digter se “Kinderverstand”, ’n gedig wat by Opperman ontbreek, maar ek mis “Die aakligste”, Leipoldt se allerbeste sonnet. Anders as Opperman vind Komrij enkele van Langenhoven se limerieke met hul vernuftige woordspel goed, maar vir die res is sy keuse uit dié skrywer se werk oorwegend erg retories, al kry dié retoriek ’n bietjie lewe in “Die water wat verby is”. Uit Eitemal verskyn hier van die powerste verse, voos van die retoriek, terwyl by Krige “Tram-ode” en “Romanza” ontbreek. Die teleurstellendste keuses is dié uit Van Wyk Louw, Eybers en Opperman. Om Alleenspraak met die enkele “Fees” te verteenwoordig, is ’n growwe oordeelsfout, want die gedig word ontsier deur eksplisiete beeldspraak (“leë sale van my siel”, “groot fees van ons liefde”) en toon reminissensies aan Heine. Waarom nie ’n enkele vers uit Die halwe kring nie, en dít terwyl Mulder dit die eerste Afrikaanse digbundel op Wes-Europese niveau genoem het en die pragtige “Vier gebede by jaargetye in die Boland” daarin verskyn? Uit Gestaltes en diere is my persoonlike voorkeur “Ballade van die bose” bo “Ballade van die drinker in sy kroeg”, terwyl “Reënwoud” darem ’n besonder kort en yl vers is om as een van net drie gedigte die magtige bundel Tristia te verteenwoordig. Dat Komrij nie ’n enkele fragment uit Raka opneem nie, terwyl hy elders wel dele van langer gedigte bloemlees, is een van die ernstigste vergrype van hierdie bloemlesing. Om Eybers te verteenwoordig sonder die wonderwerk van haar “Maria”-gedig, geskryf op die ouderdom van agtien jaar, is vir my onvoorstelbaar, terwyl die weglaat van “Uitsig op die kade”, ’n gedig uit die Nederlandse fase in haar lewe wat klassiek gaan word, ’n groot hiaat laat. Nog onbevredigender as die keuse uit Van Wyk Louw vind ek dié uit Opperman. Uit Heilige beeste neem hy twee verse op wat, in die afwesigheid van ander en beter gedigte, bevreemding wek. Uit Negester oor Ninevé en Blom en baaierd het hy niks waardig genoeg vir sy bloemlesing geag nie, terwyl hy uit Dolosse die verse van werklike kwaliteit weglaat en uit Kuns-mis van alle moontlikhede “Stilbaai” met sy power slotreël opneem. En soos in die geval van Raka word die grootse Joernaal van Jorik volledig verswyg.

Komrij het ’n ruim keuse uit die Afrikaanse poësie en die Nederlandse poësie hier te lande vir sy bloemlesing gemaak en ’n mens is dankbaar dat hy in die proses soveel speurwerk onderneem het, plek-plek met verrassings voor die dag kom en ons opnuut aan ’n groot aantal vergete digters bekendstel. Van die beste gedigte in Afrikaans staan wel in hierdie bundel, al is dit jammer dat ’n mens so baie goeie en selfs voortreflike gedigte tevergeefs soek. Dit moet my helaas ook van die hart dat van die allerslegste gedigte wat ooit in Suid-Afrika geskryf is, in al hul aakligheid ook in hierdie bloemlesing pryk.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.