|
n Kalahari.net resensie
Rondom n debuutboek duik daar gewoonlik vrae op soos Wie is hierdie nuwe skrywer? en Watter streek of samelewing of mense gaan hy aan ons voorstel? En soms is daar n soort dampkring aanwesig wat deur faktore buite die boek om geskep word dit wat dan in bepaalde gevalle (en soms onregverdiglik) as die hype rondom die boek bekend staan: die voorbrandstories (soos Nuwe woorde van Pharos dit so mooi noem). Dié voorbrand verhoed nie noodwendig die vurige toorn van die kritici nie (of hul ewe vurige opvyseling van n boek); dit stig wel soms brande deur reeds voor n boek se verskyning betekenisse daaraan te heg. Hierdie soort opkikkering het Kirby van der Merwe se debuutroman gelukkig nie te beurt geval nie; tog het leserreaksies sekere buite-artistieke sake na die oppervlak gedruk. Twee van hierdie sake wat tog ook nie geheel en al los te dink is van die boek nie betref die ras van die skrywer en die historiese konteks waarbinne hy skrywe. Klapperhaar slaap nie stil nie sluit dus op n breër vlak aan by twee tydgenootlike diskoerse. Dis egter belangrik om van meet af aan by te voeg dat die roman as roman gelees en geniet behoort te word. Net so belangrik is dit om te benadruk dat die debuut sterk genoeg is om tydgenootlike kwessies te oorleef. Tog is dit nodig om kortliks by die twee sake stil te staan, aangesien dit ook ander skrywers raak. n Mens sou tewens graag wou verneem hoe ander skrywers hierdie sake sien! RAS Die grootsheid van n kunswerk hang nie af van n etiket nie. Dat mense hulle die benaming gay-skrywers of vroue-skrywers laat welgeval, is seker hulle reg maar wesenlik het ras, geloof en seksuele oriëntasie nie primêr met die geskrewe produk te doen nie, tensy dit tot tema gemaak word. Van der Merwe het selfs sy spyt daaroor uitgespreek dat sy foto op die agterflap verskyn. In sy radiorubriek in Die Burger het André Blom pas ná die onderhoud juis daarop gewys dat die agterflapfoto ras by die saak insleep, of jy dit nou verkies of nie. Goed, dan kan n mens nóg redeneer: Gestel daar was nie n foto nie? Dan is die skrywer maar net nog n Van der Merwe, een met n Engelse voornaam. Ek het nog nooit aan myself as wit skrywer gedink nie; behalwe in soverre die mate van bevoorregting wat ek geniet het, bruin skrywers van dieselfde voorregte uitgesluit het. Reaksies soos die voorgenoemde sluit aan by menings rondom die (eintlik totaal onnodige) vraag Wie mag nou eintlik namens wie skryf? Mag wit oor bruin/swart skryf; mag swart/bruin oor wit skryf? Heindrich Wyngaardt het byvoorbeeld al in sy spreekbeurt oor Punt Geselsradio daarop gesinspeel dat dit eintlik nie kosjer is as bevoorregtes of hulle wat gebaat het by apartheid oor histories benadeeldes skryf nie. Is al hierdie geredekawel oor die skrywer se identiteit werklik ter sake? Mag n jong skrywer byvoorbeeld nie oor chronologies benadeeldes skryf nie? Wat sou dan van n skitterende verhaal soos n Bruidsbed vir tant Nonnie van Hennie Aucamp geword het? Hy was tog heelwat jonger met die skryf van die verhaal! En wat van John Updike se uitnemende inlewing in die geriatriese leefwêreld in The Poorhouse Fair? En Faulkner? Het hy hom soos die musikoloog John Howard Griffin laat inspuit om deur pigmentasieverandering aan die lyf te voel hoe Negers in die Old South rassemeerderwaardigheid ervaar? Tog nie. Ek herinner my dat Catherine Belsey in haar boek Critical Practice al in die 1980s daarop gewys het dat dit alles op die ou end eintlik nie saak maak nie. Die gehalte en egtheid van die gefiksionaliseerde voorstelling van mense dis die deurslaggewende! Maar hoe meet jy dit? Een manier is om na die taalgebruik te kyk. Ernst Lindenberg het so vroeg as Oktober 1964 (in Kriterium 7) daarop gewys dat die streektaal van die spreker in Peter Blum se Oor monnemente gepraat nie konsekwent is nie. Die gehalte van die skrywer se inlewing bepaal sy sukses. Neem jy die egtheidsbeginsel weg, sit jy met die standpunt wat in die tyd van die Brontës gehuldig is naamlik dat n vrou nie n boek soos Wuthering Heights kon geskryf het nie; die broer moet die skrywer wees! Hierdie soort argument ontken een van die mees basiese beginsels van skryf, naamlik dat die skrywer hom of haar moet kan vereenselwig met of inleef in die omstandighede en die lot van ander. Stem gee aan die stemloses, is die uitdrukking wat gewoonlik hiervoor gebruik word. Naas navorsing (kennis) is egte meelewing uiters belangrik. Hoeveel verklap die boek self oor so n debat? Maar kom ons kyk eers na die ander saak: Die boek is kind van sy tyd. n Tyd van geweld. GEWELD Op dieselfde wyse word die varkslag-episodes as n byna groteske viering van geweld uitgebeeld, terwyl die magsinvloed van bendes die leser ook voortdurend aan n samelewing van gewelddadigheid herinner. In n mate sluit dié gegewe en die Kinta-figuur aan by Kanna hy kô hystoe van Adam Small: kies jy vir betrokkenheid, of verkies jy die vrede van n bestaan ver weg van alles wat jou aan geweld herinner? In Afrikaans word die kwessie van geweld wat jy nie afgeskud kry nie, ook nog deur Abraham Phillips in Verdwaalde land, en in verhale van Abraham H de Vries ondersoek. Dis n universele tema, dié van mense wat hulself probeer losmaak van n eenvoudige agtergrond en wat dan in n persoonlike krisis gedompel word wanneer die tradisie of die verlede (in baie gevalle n gewelddadige tyd) hulle inhaal: die Marokkaan Hafid Bouazza se verhale (Die voete van Abdoella) is n onlangse buitelandse voorbeeld, en iets soortgelyks, deel vriend Braam my mee, is aanwesig in Vaclav Havel se essays Om in die waarheid te leef. Bekender nog is Marga Minco se Het bittere kruid. En natuurlik Solzhenitsyn en Isabel Allende. KLAPPERHAAR Kirby van der Merwe se debuutroman stel dus in dié opsig nie teleur nie. Kinta Januarie se storie haar hartstogtelike pogings om aan haar ellendige verlede te ontsnap word op n deurleefde wyse vertel. Haar ambivalente stryd oortuigend versinnebeeld deur haar verslaafdheid aan haar bloedsuier-broer, pastoor Abe, se vulgêre stories word n eg-menslike soeke na vrywording en groei. Haar respek vir die mistieke Ooste waarvandaan haar voorsate kom en haar toeëiening van veral Westerse kultuurgoedere maak van Kinta Januarie n mens wat volledig in die hier en die nou van die Suid-Afrikaanse politiek gesetel is. As n mens dan nog so gesegregeer wil bly dink, is dit egter juis opvallend dat Klapperhaar slaap nie stil nie eintlik ewe goed deur n wit as deur n bruin skrywer geskryf kon gewees het. Inhoudelik is daar ewe veel van albei wêrelde aanwesig. Dit is hier waar die ander diskoers van tyd tot tyd kop uitsteek: Die vraag na waar jy behoort of tuishoort. Dis veral die oplaaiende identiteitstrewe by mense wat hulle oorspronge in die Khoi-ryke van eeue gelede vermoed, wat opval. Was die Khoisan-gemeenskappe en hul (minder bekende) voorgangers dan nie die oorspronklike bewoners van die land nie? Dit stel sowel ou stereotipes as die alte maklike toeëiening by swart of wit n vorm van politieke hiperkorrektheid aan die kaak. So vind ons by Kinta n duidelik geartikuleerde afkeer van Afrika: Sy kan haar nie vereenselwig met enigiets van Afrika nie. Haar slawe-voorouers het hier op die einste plein swaargekry. Ja, hulle is verkrag in die slawelosies en in die stegies. Of gewilliglik in die hemelbeddens. Maar in háár are vloei nie n enkele druppel swart bloed nie. (p131) Ook ander karakters bv Hans Brink, die oud-polisieman wat op sy dae die Argus se voorblad gehaal het toe hy in die riot squad was, maar wat nou sy dae in eensaamheid slyt worstel met die verlede. Sy besoeke aan Kinta se swygende vader in die hospitaal word n soort biegbesoek aan n private Waarheids- en Versoeningskommissie. So word wyer dimensies aan Kinta se worstelstryd gegee. Waarom swyg Adriaan Januarie? Is hy verteenwoordigend van die apatiese mens? Of van diegene wat tot emosionele stilswye gedwing is? Want teenoor hom is Hans Brink n slagoffer aan die ander kant; teenoor hom is die gladdemond Abe tekenend van die aarts-opportunis wat op sy manier aan die verlede probeer ontsnap, net om ondanks sy finansiële sukses verder daarin terug te val. Afgesien van sy sterk outentieke aard, gryp Klapperhaar slaap nie stil nie hierdie leser ook aan omrede die afgerondheid van die karakters. Kinta, die moderne beroepsvrou (sy is prokureur wat in omgewingsreg spesialiseer), probeer nie net die ellende van haar jeugjare in n sinkhuis ontvlug nie, sy moet ook diegene wat haar geëksploiteer het (bv haar Engelse professor), finaal afsweer. Haar diepste hartewens, om die geheim wat haar sterwende vader skynbaar met hom saamdra, te peil, vorm skering en inslag van die boek. Wat dié geheim is? Dit moet die leser self probeer vasstel. Op n manier wat nogal aan Faulkner se As I lay dying herinner, is dit juis die bymekaarkom van uiteenlopende mense om die sterwende se bed wat die storie laat voortstu. Dis juis húlle wat bepaalde skimme uit die verlede lyf en gesig gee en dis nie altyd n mooi gesig nie. Só word die boek in eie reg n soort ontwikkelingsroman, omdat Kinta se konfrontasie met hierdie gestaltes aan haar n feitlik simboliese status verleen. Ruimte ofte wel die fyn uitgewerkte kontraste tussen ruimtes speel n deurslaggewende rol. Teenoor die blikkiestrein-milieu van haar kinderjare staan haar huis met geliefde goed; dinge wat haar kokon-bestaan verseker. Vergelyk maar haar reaksie wanneer haar smerige pastoor-broer (Abe) hom op haar rusbank tuismaak! Teenoor haar veilige voorstadsbestaan is daar die verval van plakkersbuurt en township, bevolk met ongelooflike maar dikwels ook ongure karakters. Dwarsdeur vleg daar dan die draad van haar verskeurdheid: sy hunker in so n mate terug na haar verlore jeugwêreld dat sy haar doktersvriend Gustav kort-kort soheentoe sleep. Terselfdertyd vrees en minag sy diégene wat in die ban van die bendekultuur leef, maar wanneer sy in haar dagboek aantekeninge oor hulle maak, is dit nie sonder deernis nie. Self ontvlug sy dikwels na n soort uitkykpos, of dit nou n parkeerterrein langs De Waalpad is of n bergpiek. Het sy dié afstand nodig? Haar eerlike, oop blik staan in dié opsig skerp teenoor die voyeuristiese swendelaarsbestaan van haar broer, Abe. Bergkrans teenoor muwwe moot tussen die vleie by Macassar. Fyn Oosterse en Europese spyse teenoor die geweld en die moorddadigheid van varkslag. Die uiterste gebrek aan privaatheid (haar eie grootwordhuisie, Heidi-hulle sn) teenoor die vryer ruimtes wat sy haarself as uitgestygde gun. Ook n verskeidenheid van Kaaps word aangewend om hierdie kontraste uit te werk, en om ou stereotipes op hul kop te keer. Van der Merwe het duidelik kennis van die subtiele verskille in taalgebruik en hy weet hoe om dit ter wille van milieuskildering aan te wend. Klapperhaar slaap nie stil nie het álles wat n mens van n debuutroman verwag en veel meer. Dis n hoogs leesbare boek, dit bevat wonderlike oomblikke van suiwer poëtiese magic (n mens wil die beskrywing van die sinkhokke wat so bok-bok-staan-styf aanmekaargeryg is, aaneen herlees!) en dit gee op n vars manier uitdrukking aan die partymaal onverstaanbare smeltkroes wat Suid-Afrika op die ou end is. Dis n boek van die tyd van oorgang waarin ons ons (nog geruime tyd gaan) bevind; soos die simbool van die Maleise kris wat Kinta aan Gustav persent gee, is daar veel te leer van aanpassing en van die soeke na n nuwe soort suiwerheid. Presies dít waarmee Suid-Afrika in hierdie oorgangstyd worstel. Die boek laat n mens opnuut nadink oor die mens se strewe na vryheid en die vele vorme van slawerny waaraan gees en vlees (steeds) onderworpe is; dit speel visueel ongelooflik sterk met die tekens van verval en die wil tot herstel, tot oorlewing en groei (subtiel, byvoorbeeld, wanneer Kinta se sublieme bergklimervarings teenoor die patetiese hoerjaery van haar pastoor-broer Abe gestel word). Die roman is seer sekerlik nie sonder leemtes nie. Hier en daar draal die storielyn ietwat (episodes herhaal mekaar, of lyk nie altyd so noodwendig nie). Maar in wese is dit klein besware. Klapperhaar slaap nie stil nie is n besonder sterk debuut. Besonderhede oor die boek: |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |