|
Watter nuwe ekonomie?Sampie TerreblancheHierdie lesing het deel uitgemaak van Die Burger-Lesingreeks tydens die afgelope KKNK, onder die gesprekstema Watter nuwe ekonomie?. Prof Sampie Terreblanche is verbonde aan die Departement Ekonomie aan die US.
1. Herformulering van die onderwerp Die onderwerp is onvoltooid en ongedefinieerd. Die bedoeling is seker dat ons sal praat oor Watter nuwe ekonomiese stelsel vir Suid-Afrika? dws, watter nuwe stelsel, omdat die huidige een nie die gewenste resultate lewer nie. In die begin van die 21ste eeu kan n mens egter nie meer net oor die ekonomiese stelsel van n land in isolasie van die politieke stelsel praat nie. Gedurende die 20ste eeu het die politieke en ekonomiese fasette van die gesamentlike polities-ekonomiese stelsel so nou vervleg geraak, funksioneer die twee fasette so komplementêr tot mekaar, kompenseer die een tot só n groot hoogte vir die foute van die ander een, én móét die mag van die een deur die mag van die ander een afgegrens word, dat dit nodig is dat ons ons voortdurend oor die doelmatigheid al dan nie van die gesamentlike polities-ekonomiese stelsel sal verantwoord. n Moderne polities-ekonomiese stelsel is nie waardeneutraal nie: dit móét funksioneel wees ter bevordering van sekere gekose waardes, en die mag waarop sowel die politieke as die ekonomiese dele van die gesamentlike stelsel gebaseer is, móét ideologies gelegitimeer word, en hierdie ideologieë moet versoenbaar wees met die waardes wat die gemeenskap wens om te verwesenlik. Die vraag word dus: Watter nuwe gesamentlike polities-ekonomiese stelsel vir Suid-Afrika, wat in terme van watter ideologieë en/of waardes gelegitimeer word?
n Tweeledige polities-ekonomiese stelsel se doelmatigheid (funksionaliteit) hang van die volgende vyf faktore af:
Is die huidige gesamentlike polities-ekonomiese stelsel in Suid-Afrika funksioneel, geoordeel in terme van hierdie vyf maatstawwe? Nee, dit is nie funksioneel nie. Om die waarheid te sê, al Suid-Afrika se polities-ekonomiese stelsels vanaf van Riebeeck tot by Mbeki was/is wanfunksioneel. Gelukkig is die stelsel wat op die oomblik in plek is, die beste en die minste wanfunksioneel van al die stelsels wat sedert 1652 bestaan het.
Kom ons vergelyk Suid-Afrika se polities-ekonomiese stelsel van 2003 met die van 1973. Die polities-ekonomiese stelsel van 1973 was: n politieke stelsel van blanke politieke oorheersing plus n ekonomiese stelsel van rasse- en koloniale kapitalisme. Hierdie stelsel was uit n eng ekonomiese oogpunt baie suksesvol. Dit het Suid-Afrika in staat gestel om vir 40 jaar n jaarlikse ekonomiese groeikoers van 4,5 persent te handhaaf. Die stelsel was in vele opsigte ook redelik stabiel. Maar uit bykans alle ander oogpunte beoordeel, was hierdie stelsel wanfunksioneel. Dit was verantwoordelik vir die sistemiese uitbuiting van 80 persent van die swart bevolking. In 1946 was die per kapita-inkome van die Afrikane 8,9 persent van die van die blankes. In 1973 was dit slegs 6,8 persent! Sedert 1973 het sowel die politieke as die ekonomiese dele van ons gesamentlike stelsel belangrike veranderinge ondergaan. Die politieke deel het verander in n konstitusionele demokrasie met n een-mens-een-stem-kiesstelsel en n handves van menseregte. Maar gegewe dat die parlement op n proporsionele grondslag verkies word, verleen ons nuwe demokrasie buitengewone partypolitieke mag aan die Afrikaan-elite wat die ANC se Nasionale Uitvoerende Raad en die koukus beheer. Hierdie elite beskik oor die mag om die regering se ideologiese ingesteldheid en beleid op n eensydige wyse voor te skryf en te dikteer. Ons kan ons nuwe politieke stelsel as n Afrikaan-elite-demokrasie beskryf wat nog lank nie die toets van n egte veelparty-demokrasie deurstaan het nie. Die moderne sektor van die ekonomie het sedert 1973 ook ingrypend verander. Dit het baie meer kapitaalintensief geword en sy werkskeppende vermoë het skerp afgeneem. Die neiging na kapitaalintensiteit is deur verskeie faktore gestimuleer, maar veral deur die struktuurverandering wat in die Afrikaan-arbeidsmark ingetree het. Toe Afrikaan-arbeid nie meer so gedweë en goedkoop was soos vóór 1970 nie, het die hoofsaaklik blanke korporatiewe sektor swart arbeid met kapitaal vervang én hy doen dit nog steeds. Oor die afgelope 30 jaar het die uitbuitende stelsel van rasse- en klasse-kapitalisme verander in n Eerste Wêreldse kapitalistiese enklave wat hom toenemend distansieer van die swart arbeidsmark, dws die armste 50 persent. In 1970 het 34 persent van die totale Afrikaan-bevolking permanente werksgeleenthede in die moderne sektor gehad. Tans het slegs 13 persent sodanige werksgeleenthede. Sedert 1994 is die Suid-Afrikaanse ekonomie holderstebolder geglobaliseer en in hierdie oop ekonomie is die geleentheid aan die korporatiewe sektor gebied om bo en behalwe die miljarde wat die sektor onwettig uitgeneem is nog meer miljarde wettig uit die land te neem sonder dat die beloofde invloei van buitelandse direkte belegging plaasgevind het. Sedert 1994 is ons polities-ekonomiese stelsel soos dit in vandag se wêreld behoort te wees n stelsel van demokratiese kapitalisme. Maar dit is ongelukkig n stelsel van demokratiese kapitalisme waarin die kapitalistiese faset in verhouding tot die demokratiese faset te veel mag en invloed het en ook die ideologiese karakter van die gesamentlike stelsel dikteer. Ons nuwe polities-ekonomiese stelsel kan dus soos volg beskryf word: n Afrikaan-elite-demokrasie plus n oop, Eerste Wêreldse, kapitalistiese enklave wat in terme van die neoliberale ideologie (dws die Washington consensus) van die Brits-Amerikaanse wêreld gelegitimeer word. Die jaarlikse groeikoers van 2,7 persent sedert 1994 is aansienlik beter as die jaarlikse groeikoers van 1,7 persent gedurende die vorige 20 jaar. n Hoë mate van sosiale, politieke en makro-ekonomiese stabiliteit is sedert 1994 gehandhaaf en dit is verdienstelik. Die gesamentlike polities-ekonomiese stelsel is egter steeds wanfunksioneel, omdat 60 persent van die swart bevolking deur sowel die politieke as die ekonomiese fasette van die stelsel uitgesluit en verwaarloos word. Die armste 50 persent van die totale bevolking het sedert 1994 armer geword, terwyl hulle indiensnemingsposisie, hulle sosiaal-ekonomiese posisie en hulle veiligheids- en gesondheidsposisies aansienlik verswak het. In 1996 het 17,1 miljoen mense onder die minimum-bestaansvlak geleef soos gedefinieer deur Unisa se Buro van Marknavorsing. In 2001 het 22,3 miljoen onder hierdie vlak geleef!
Die apartheidsregering moet deel van die skuld vir die groeiende armoede kry vanweë die aaklige sosiaal-ekonomiese erflating wat hy in 1994 aan die ANC-regering oorgedra het. Maar die ANC-regering en die korporatiewe sektor (én hul globale vennote) moet die ander deel van die skuld kry, omdat hulle in 1993/1994 gesamentlik n polities-ekonomiese stelsel geïnstitusionaliseer het wat die armste 50 persent van die bevolking sistemies uitsluit en sistemies verwaarloos. Die ANC-regering bestee wel meer op armoedeverligting, maar dit is nie naastenby genoeg om die verslegtende toestande te stuit en om te draai nie. Die wanfunksionaliteit van die huidige polities-ekonomiese stelsel moet toegeskryf word aan die aard van die onderhandelde skikkings wat in die vroeë negentigerjare tydens die informele en geheime onderhandelinge tussen die plaaslike en globale korporatiewe sektore enersyds en die leierskorps van die ANC bereik is. Tydens hierdie geheime onderhandelinge het die plaaslike en globale korporatiewe sektore saamgespan en n magtige blok gevorm wat met hiperboliese beloftes en subtiele dreigemente die leierskorps van die ANC oortuig, oorrompel en/of gekoöpteer het om n ekonomiese beleid, n ekonomiese stelsel en n ekonomiese ideologie te aanvaar wat in belang van die seksionele belang van die korporatiewe sektore is, maar wat uiters nadelig vir die bevolking as geheel blyk te wees.
Die korporatiewe sektor het n neoliberale en globaal-georiënteerde ideologie, n vryemark-beleid en n vryemark-stelsel aan die nuwe Suid-Afrika opgedwing kompleet asof die minimum mens-, juridiese en institusionele voorwaardes vir so n ideologie, beleid en stelsel in Suid-Afrika teenwoordig is of maklik tot stand gebring kan word iets wat natuurlik nie die geval is nie. Die raison dêtre van n vryemarkekonomie is daarvan afhanklik dat dit so volledig as moontlik die totale bevolking by die hoofstroom van sy aktiwiteite sal betrek en dat dit naastenby die totale bevolking deur sy werking sal bevoordeel. Die vryemark-ideologie, -beleid en -stelsel is vanweë die volgende ses redes egter onvanpas en ontoepaslik vir n ontwikkelende, verdeelde en sosiaal-ekonomies geknakte land soos Suid-Afrika ná byna 350 jaar van kolonialisme en apartheid:
Suid-Afrika is reeds n tweewêreld-wêreld. Die inwoners van die een wêreld is veelrassig, modern, ryk en leef in weelde. Die inwoners van die ander wêreld is swart, agtergeblewe, arm en krepeer van ellende. Die bourgeoisie, wat in die enklave woonagtig is, is 15 miljoen mense (en een derde van die bevolking), en hulle het in 2001 byna 90 persent van die totale inkome ontvang. Die lumpenproletariaat, wat op die periferie woonagtig is, is 23 miljoen mense en het in 2001 minder as vier persent van die totale inkome ontvang. Die ander agt miljoen het 7½ persent van die totale inkome ontvang. Hulle leef tussen hierdie twee wêrelde en kan opskuif na die enklave, maar kan ook afskuif en deel van die lumpenproletariaat word.
Die huidige gesamentlike stelsel van Afrikaan-elite-demokrasie plus n oop, Eerste Wêreldse, kapitalistiese enklave soos dit gebaseer is op ekstreem kapitalistiese ideologieë en hallusinasies produseer nie net rykdom vir die elite en armoede vir die proletariaat nie, maar dit produseer ook n ideologiese rykmanskultus en n mentaliteit van hebsug en materialisme in die geledere van die bourgeoisie, wat onverskillig en hooghartig staan teenoor die mensonterende armoede en die armoedementaliteit van die armste helfte van die bevolking. Die stelsel produseer ook n siek waarde-oriëntasie wat geen empatie en geen medelye het met die strukturele armoede wat ons geskiedenis en ons huidige stelsel aan die lumpenproletariaat toegedeel het en nog steeds toedeel nie. Hierdie ideologiese ingesteldheid en hierdie siek waarde-oriëntasie is ideologies diep gewortel in die Mynkamp wat aan die einde van die 19de eeu in Johannesburg opgeslaan is. Hierdie Mynkamp het homself op n skaamtelose wyse verryk in die 60 jaar ná 1913 toe die Grond Wet (Land Act) en die wrede trekarbeidstelsel in plek was. Hierdie Mynkamp besit n buitengewoon sterk vermoë om sy verwronge markfundamentalistiese vryemarkopvattings as sou Suid-Afrika n normale, vryemark-, Eerste Wêreld-land wees en behoort te wees deur meedoënlose ideologiese propaganda en myth-making aan ander te verkoop. Oor die afgelope 30 jaar het die korporatiewe sektor onder die leiding van Anglo-American daarin geslaag om sowel die Afrikaner- as die Afrikaan-elite-groepe by sý misplaaste ideologieë, by sý waarde-oriëntasies en by sý (vermeende) vryemarkstelsel te koöpteer teen gunstige terme vir hierdie twee elitegroepe, maar teen n yslike prys vir die armste helfte van die bevolking. Ek noem hierdie propagandistiese en organisatoriese suksesse van die korporatiewe sektor onder die leiding van Anglo-American die rampspoedige dubbele Anglo-Amerikanisering van die Suid-Afrikaanse samelewing in sowel die korporatiewe as die wêrelddeel-sin van die woord. Deur hierdie dubbele Anglo-Amerikanisering is die politieke, die ekonomiese en die ideologiese strukture van Suid-Afrika oor die afgelope 30 jaar en veral in die afgelope nege jaar berekend op so n manier gebuig (op aandrang van die plaaslike en globale korporatiewe sektore) dat hierdie twee sektore maksimale wins kan maak, terwyl die armes as gevolg daarvan maksimaal uitgesluit en verwaarloos word. In die plek van die eng seksionalisme en elitisme van die Engelse establishment (sewe persent van die bevolking) en sy uitbuitende segregasiebeleid gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu, en in die plek van die eng seksionalisme en elitisme van die Engelse en Afrikaner-establishments (6 persent + 11 persent van die bevolking) en sy uitbuitende apartheidsbeleid gedurende die tweede helfte van die 20ste eeu, word n nuwe seksionalisme en n veelrassige elitisme deur die nuwe haute bourgeoisie (4 persent + 6 persent + 7 persent) (insluitende die nuwe en gekoöpteerde swart elite) oor die afgelope tien jaar gehandhaaf wat verstommend onverskillig staan teenoor die bevrediging van minstens die basiese menslike behoeftes van die armste helfte van die bevolking. Die siellose materialisme van die Mynkamp en die res van die korporatiewe sektor het vir byna 100 jaar hoogty gevier toe die mite verkondig is dat dit onnodig is om bestaanslone aan swart trekarbeiders te betaal, want n deel van hulle bestaan (subsistence) sou kwansuis in die tuislande geleë wees. Hierdie uitbuiting is deur die Grond Wet en deur die dompas tot in die sewentigerjare in stand gehou en die wit korporatiewe sektor (in veral die mynwese) in staat gestel om op n onverdiende wyse ongelooflike rykdomme te akkumuleer. Die siellose materialisme van die Mynkamp vind sy hedendaagse neerslag in die volharding met die beloftes van die GEAR-beleid dat ekonomiese groei in die enklave spontaan n voldoende trickle-down effect vir die armes tot gevolg sal hê. Maar gegewe die sterk neiging tot enklaviteit vanweë neoliberalisme, globalisering, arbeidswette en swak vaardigheidspeile kom die beloftes van n trickle-down in effek daarop neer dat die rykes vra dat hulle vol tafels net voller gelaai moet word, want dan sal daar genoeg krummels van hulle tafels val om die 23 miljoen kreperendes aan die lewe te hou! Die lekker geloof van die bourgeoisie-elite dat die kapitalistiese enklave die privaatsektor-lokomotief gaan wees wat die armes spontaan en outomaties uit hulle moeras van ellende gaan sleep, is n gevaarlike pypdroom. Dit is n mite wat met groot oortuigingskrag verkondig word deur n bourgeoisie-elite wat n groot gevestigde belang daarin het dat ons hierdie mite sal glo asof dit n heilige waarheid is. So lank die liberaal-kapitalistiese ideologie en die vryemarkfundamentalisme hoogty vier, so lank die rykmanskultus, die oordrewe individualisme en die selfsugtige materialisme van die elite vertroetel word, en so lank die selfvoldane mentaliteit in elite-kringe volhard met die propaganda dat Suid-Afrika n normale Eerste Wêreld-land met n funksionele vryemarkstelsel is, so lank sal dit: eerstens, onmoontlik wees om die SA polities-ekonomiese stelsel te vermenslik en om dit só te herstruktureer dat dit op n doelmatige wyse in belang van die bevolking as geheel kan funksioneer; tweedens, ook onmoontlik wees om sosiale geregtigheid te herstel ná byna 350 jaar van sistemiese uitbuiting en verontregting.
Voordat n nuwe, doelmatige en n mens-georiënteerde polities-ekonomiese stelsel van demokratiese kapitalisme wat op gebalanseerde magstrukture en gesonde waardes gebaseer is tot stand gebring kan word, sal drie dinge moet gebeur:
7.3 Die beleidsverskuiwing om die sosiaal-demokratiese ideologie te implementeer en die nalatenskap van apartheid op te ruim, impliseer die volgende drie dinge:
Maar teenoor hierdie drie struikelblokke wat die nuwe veelrassige elite op die pad na n nuwe polities-ekonomiese stelsel opgestapel het, moet die Groot Gevare wat voor in die pad vir ons wag dws as die nuwe elite sou volhard met sy huidige wanfunksionele stelsel geensins geringgeskat word nie. As die gapings tussen die Eerste Wêreld-enklave en die Derde Wêreld-periferie toegelaat sou word om onbelemmerd voort te woeker, sal die lumpenproletariaat kort voor lank niks anders hê om daagliks na die enklave uit te voer as hulle geweld, misdaad en aansteeklike siektes nie. As die sterk neiging na enklaviteit en na lumpenproletarisering oor die volgende nege jaar so sterk gaan voortrol soos in die afgelope nege jaar, dan is die vooruitsigte too ghastly to contemplate ..., en dan sal dit waarskynlik ook te laat wees vir trane. Dan sal die sosiaal-politieke stabiliteit van SA ernstig bedreig word. Dan sal die materiële en ideologiese omstandighede vir n tweede struggle in oormaat teenwoordig wees. Laat ons wakker skrik voor dit te laat is. Ons roem ons daarop dat ons n beskaafde en Christelike land is. Maar as n beskaafde en Christelike land lyk soos Suid-Afrika tans lyk, dan het beskaafd en Christelik lankal hulle betekenis verloor. Of is dit n geval dat die soort beskawing en die soort Christendom wat ons hier handhaaf, geen begrip van sosiale geregtigheid en menslikheid het nie? (Lesers word uitgenooi om die gesprek verder te voer deur briewe te stuur vir SêNet by katvis22@yahoo.com.) |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |