|
“Kan daar iets goeds uit Afrika kom?”Christi van der WesthuizenGelewer tydens die KKNK Oopgesprek, 7 April 2006, Oudtshoorn “Kan daar iets goeds uit Afrika kom?” Só ‘n vraag steek my dwars in die krop, omdat mens nooit hoor dat gevra word of iets goeds tog eendag uit Europa of die VSA sal kom nie. Nieteenstaande die feit dat die beleidsrigtings wat die Europeërs en nou ook die Amerikaners ten opsigte van die res van die wêreld volg, oorwegend armoede, uitbuiting en oorlog tot gevolg het. Nee, hierdie soort vrae word met met voorspelbare reëlmaat spesifiek oor “Afrika” gevra. Dit blyk dat ‘n soort Afrika-eksepsionalisme geld. Afrika is “anders” as ander vastelande; die politiek en sosiaal-ekonomiese faktore op die vasteland is “anders”; die beweegredes vir optrede is “anders”. In hierdie diskoers word Afrika ‘n afwyking, ‘n ahistoriese verskynsel wat ons fronsend deur ‘n mikroskoop beloer. Afrika word gepatologiseer, asof die gebeure op die kontinent onverstaanbaar en enig is. Of, meer patroniserend, Afrika word die “probleemkind” van die wêreld gemaak. “Wat is dit tog met Afrika?”, asof Afrika die stout laatlammetjie is wat maar net nie so funksioneel en verantwoordelik en suksesvol soos die ander vastelande wil wees nie. Maar natuurlik word daar nooit op dieselfde veralgemenende wyse na “Europa” of “Noord-Amerika” verwys nie. Dié vrae oor “Afrika” is dikwels verwyder van konteks en geskiedenis, insluitend dié van ander vastelande. Maar om die vraag oor en oor te vra, blyk ‘n baie vrugbare bedryf te wees, gegewe die aantal boeke wat daaroor gepubliseer word. Vir die buitelandse toeskouer beteken Afrika se “andersheid” gewoonlik een van twee dinge: Afrika is “magies”, geheimsinnig, wild, donker, vol energie. Dit doen dinge aan jou sinne. Die Franse noem dit mal d’Afrique, ‘n diep behoefte aan Afrika soos ‘n siektetoestand; ‘n toestand waarin die besoeker aan Afrika net nie die “gevoel” van Afrika, die atmosfeer, uit haar gedagtes, uit haar beendere, kan weer nie. Dit het ek onlangs gesien op besoek aan Duitsland, waar ‘n groot dansvertoning genaamd Afrika! Afrika! in Berlyn geadverteer is. Die organiseerders het nie eens gedink dis nodig om ander woorde in die titel by te voeg nie. Net om te sê “Afrika” is genoeg om Duitsers te laat verstaan wat wag, en om hulle na die vertoning te lok. Die bemarkingslyn was: “Die magiese sirkusvertoning uit die verstommende kontinent”. Afrika is waar jy verstom word. Dit is die een weergawe van “Afrika”. Voorstanders van die ander weergawe sal saamstem Afrika is verstommend, ja, maar verstommend ten opsigte van chaos, verval, vernietiging, oorlog. Dit is waar Stephen Smith se Negrology inpas. Hy benader “Afrika” asof dit ‘n homogene entiteit is. Dit is een van die grootste probleme met heelparty skryfwerk oor Afrika: dit probeer Afrika reduseer tot ‘n enkele fenomeen, ‘n enkele ervaring. Maar Afrika bestaan tog uit verskillende lande met mense wat verskillende tale praat en verskillende kulture bedryf en verskillende lewensuitkyke het. Alreeds op streeksvlak is daar baie verskille. ‘n Meer produktiewe benadering tot Afrika sou wees om na verskillende Afrika-lande te kyk deur middel van vergelykende studies, om te kyk wat in sekere lande gewerk het en nie in andere nie, en hoekom. Hierdie erkenning dat Afrika nie ‘n enkele konsep is waaroor grof veralgemeen kan word nie, het eers so laat as die 1980’s in akademiese kringe begin aftrek kry. Daar is nog ‘n rede waarom verkies word om Afrika te reduseer tot ‘n eenvormige entiteit. ‘n Skrywer soos Smith weet hy kan nie summier eienskappe toeskryf aan mense op grond van ras nie. “Afrika” word dus ‘n gerieflike kodewoord vir “swart”. Dit verklaar die nodigheid van die essensialistiese benadering tot Afrika, want op daardie manier kan veralgemenings kwytgeraak word oor die vasteland. Hierdie benadering skakel in by die sosiale Darwinisme van die 19de eeu, ‘n gediskrediteerde teorie oor rasse-evolusie wat gegrond was op ‘n konsep van die “essensie” van elke ras. ‘n Boek soos Smith s’n lees soos ‘n litanie van mislukkings en rampe – ‘n litanie van verskrikking wat sinoniem word met Afrika en met swart mense. Ons weet in Suid-Afrika hoe kragtig sulke propaganda is, hoe doeltreffend gruwelverhale oor Afrika aangewend kan word in die diens van rassistiese ideologieë. Dít, sou ek sê, is die funksie van Smith se boek. My indruk word bevestig deur die rasse-essensialisme in sy idee van “negrologie”, wat voorstel dat swart mense op ‘n sekere manier dink omdat hulle swart is. Nog ‘n funksie van die “andersheid” van “Afrika” is om die norm te bevestig. “Afrika” is “anders” as …? Die vergelyking is met die Noorde – die VSA en die EU – die fakkeldraers van wit beskawing. Die Noorde is die “ons” wat kyk na die “hulle” van “Afrika”. En “ons” lyk beter by vergelyking. Hier bedoel ek dat die buitelandse toeskouer wat met weersin en fassinasie na “Afrika” kyk, hom- en haarself kan sus dat dinge in vergelyking in hul eie lande beter is. Wat is die inhoud van die norm? Die belangrikste is dat die Noorde die setel van orde en rasionaliteit word. Teenoor Afrika se “verkeerd”, staan die Noorde se “reg”; en as mens die rasse-assosiasies byvoeg, kan mens veral die ideologiese nut van hierdie vergelykings en verdelings sien. Die Noorde se posisie as “dit wat moet wees”, word bevestig, oor en oor. Soos aangedui, impliseer die vraag: “Kan iets goeds uit Afrika kom?” dat die vraer ekstern is, nie van die vasteland is nie, en van buite na die vasteland kyk. Dit vind ons omdat die vraag gewoonlik deur buitelanders gestel word, of deur die relatief nuwe aankomeling op die vasteland: die wit setlaar. Oor laasgenoemde: die eksterne posisionering weerspieël die ambivalente posisie van die setlaar op die vasteland: deel van die vasteland, maar ook nie. Hier kry jy die vreemde geval van die Afrikaner wat in Afrika voorkom, weliswaar homself hier kom plant het van elders, maar teen hierdie tyd werklik inheems is. Die soort vraag herinner mens aan ons dubbelsinnige verhouding met Afrika, want hoe graag ons ook al sê ons wil hier wees, en aanspraak maak op hierdie vasteland as ons woning, net so maklik rol die Afropessimisme van ons lippe af. Net so graag as wat ons elders in Afrika gaan investeer en geld maak, net so maklik maak ons doemvoorspellings oor die kontinent, of ‘n rassistiese opmerking oor die ander mense van hierdie vasteland. In my praatjie gaan ek probeer om hierdie “anders”-heid van Afrika te demistifiseer, en om Afrika te kontekstualiseer, want ek dink dis vandag van die grootste denkfoute wat dikwels willens en wetens ten opsigte van ons vasteland gepleeg word. Duidelik het daar al baie wat goed is, uit Afrika gekom: paleo-antropologies, histories, ten opsigte van literatuur, analises en insigte oor die wêreld waarin ons bly, ‘n filosofiese wêreldbeskouing wat medemenslikheid predik, ‘n prekoloniale politieke stelsel wat dikwels demokraties was, ‘n stelsel waarin mans en vroue op meer gelyke voet was in die 19de eeu as wat die geval was in Europa. Ek dink aan Afrika as die wieg van die mensdom, maar nie net dit nie: ons het die vakgebied van paleo-antropologie ook inheems baie sterk uitgebou, en van die grootste name in paleo-antropologie kom van Afrika af. Prof Philip Tobias is ‘n lewende legende. Histories trek die antieke beskawing van Egipte altyd die meeste aandag, maar ons het ook ander fassinerende state, stede en stadstate gehad soos Jenne-jeno in Mali, Koumbi Saleh in vandag se Mauritanië, Aksum in Ethiopië, en antieke Zimbabwe. Hierdie sentrums was histories essensieel in internasionale handelsnetwerke, en het dikwels ontstaan weens hul strategiese posisie – wat eintlik te doen het met Afrika se strategiese posisie tussen Oos en Wes. Die netwerke het afgestrek met die ooskus van Afrika – by Thulamela in die Krugerwildtuin is selfs Chinese porselein gevind. As ek dink aan literatuur, dink ek aan Chinua Achebe, aan Moses Isegawa, aan Nadine Gordimer, aan Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Wole Soyinka, Bessie Head. As ek dink aan analises wat ons begrip van die wêreld verryk, dink ek aan Frantz Fanon, aan Mahmood Mamdani, aan Claude Ake, aan Ngugi wa Thiong’o. As ek dink aan ‘n filosofiese lewensbeskouing, word dit gemanifesteer in die werk en denke van Nelson Mandela en Desmond Tutu, die idee van “Ek is ‘n mens deur ander mense.” Hierdie benadering is die teenoorgestelde van die Westerse denkraamwerk van individualisme. ‘n Goeie skoot van hierdie benadering sou waarskynlik baie van die hedendaagse Westerse probleme van sosiale vervreemding en ‘n gevoel van die sinloosheid van bestaan kan oplos op maniere wat meer produktief is as die fundamentalisme en xenofobie wat ons tans daar sien. As ek dink aan politieke stelsels, dan dink ek aan die lekgotla of kgotla wat in verskillende gedaantes in prekoloniale Afrika bestaan het, met wisselende vlakke van demokrasie. Maar in heelparty gevalle moes die hoofmanne of hoofvroue – want daar wás ‘n handvol vroue – eers die mense raadpleeg voordat belangrike besluite geneem kon word. Nie almal was outokratiese Shakas nie, hoewel dié beeld vandag die populêre verbeelding oorheers wanneer mense dink aan die prekoloniale politieke stelsels. En dan is daar die posisie van vroue. Behalwe vir die handvol hoofvroue, het vroue ook in heelparty gevalle ‘n sê gehad by die kgotla. En die vroue was ook baie meer aktief arbeidsgewys. Hulle was nie net reproduseerders van nasate nie, maar ook produsente, in ‘n groot mate verantwoordelik vir die voedselsekerheid van prekoloniale Afrika-nedersettings. En as oorblyfsel van hierdie rol sien ons dat die vroue van Afrika steeds 70–80 persent van die kos op die vasteland produseer, en hele gemeenskappe aan die gang hou. Dit sluit aan by my volgende punt: as daar iets goeds is wat uit Afrika kom, is dit die miljoene mense wat daarin slaag om te oorleef ondanks die groot struikelblokke wat in hul pad geplaas word. Die mense van Afrika kry egter nie die agting wat hulle verdien as inwoners van hierdie planeet wat geregtig is op dieselfde stel regte wat ander mense beskerm nie. Die rede daarvoor is dat hulle op ‘n vasteland bly waarvan die bates in die visier van andere gekom het. Dit is die geskiedenis van die kontinent, en dit is een van die redes waarom dit nie goed gaan met Afrika nie. In so ‘n mate dat heelparty van die intellektuele wat ek bo genoem het wat nog lewe, hulself buite die vasteland bevind. Hulle kan nie werk vind in Afrika nie, of hulle is verjaag deur regerende elites. Hoewel ek kapsie maak teen die patologisering van die vasteland, is dit ‘n onvermydelike feit dat dit meestal nie goed gaan met die lande en die mense van Afrika nie. Maar dis nie asof dit ‘n nuwe verwikkeling is nie. Dit gaan geruime tyd nie goed nie – vanaf die era van slawerny. Soveel as 18 miljoen mense is uit Afrika ontvoer, so ‘n groot demografiese slag dat Afrika se binnelandse gebiede sedertdien onderbevolk is. Dit is ‘n populêre mite dat Afrika oorbevolk is. In heelparty binnelandse gebiede op die vasteland het ons juis nié die kritieke massa mense wat nodig is vir ontwikkeling nie. En dit is die gevolg van slawerny. Die handelsnetwerke is ongelukkig nie net gebruik om produkte in en uit te voer nie. Dit is ook gebruik om mense te koop en verkoop, ‘n praktyk wat net so aanvaarbaar was vir sekere elite-groeperings op die vasteland as wat dit was vir die Europeërs en die Arabiere. Hier sien ons die eerste historiese voorbeeld van die problematiese verhoudings intern tussen dié wat het en dié wat nie het nie. Maar hierdie problematiek is nie enig aan Afrika nie. Dit is ‘n globale probleem. Wêreldwyd het ons die stryd tussen elite-groeperings en die meerderheid mense, met elites wat altyd beur teen die populêre stromings in hul soeke na die akkumulering van kapitaal en bates. Weer eens is Afrika nie die uitsondering nie, maar wel nog ‘n voorbeeld van die werking van polities-ekonomiese mag. Daarna het die vasteland in die visier gekom weens sy ander bates. Sedertdien is Afrika die mynskag van die wêreld. Die vasteland is ryk aan alles wat die wêreld wil hê, van koper, yster, kobalt en bauxiet tot goud en diamante en hout en eksotiese fauna en flora en nou deesdae ook olie. Afrika se vrugbare grond – waarvan daar relatief min is – is opgeëis vir landbouprodukte vir die Noorde, alles vanaf tee tot kakao tot piesangs tot katoen. En in daardie tyd – in die tyd van kolonialisme – is Afrika se werksmag weer “benut”, hierdie keer intern deur stelsels van gedwonge arbeid. Die belangrikste faktor wat uitstaan in die era van kolonialisme en wat steeds tot vandag ‘n vername impak het op die vasteland se vermoë om te ontwikkel, is wat mens kan noem die kwasimodernisering van Afrika. Die aard van hierdie beperkte modernisering was dat dit gerig was op die metropolitaanse sentra in die Noorde, bedoelend Europa. Dus is die infrastruktuur wat in daardie tyd opgerig is, opgerig met die oog op ekstraksie – produksie vir uitvoermarkte. Dit kan vandag gesien word in die verspreiding van die beperkte vervoernetwerke en in die ligging van stede. Stede het nie begin en infrastruktuur is nie opgerig daar waar dit sin sou maak vir ‘n ontwikkelende binnelandse ekonomie nie. Die idee was om wat ook al van waarde was, te verwyder en na Europa te stuur. Dit is die aard van kolonialisme, wat beteken dat wat ook al gegenereer word in die koloniale ekonomie, nie teruggeploeg word in die betrokke land nie. Dit het ook arbeid gegeld: verpligte belastings het Afrikane geforseer om werk te soek; stelsels van gedwonge arbeid het gesorg dat die sweet van jou aanskyn jou nie baat nie. Net genoeg ontwikkeling het plaasgevind om die ekstraksie van grondstowwe of landbouprodukte moontlik te maak, sonder enige diversifisering van lande se ekonomieë. Om hierdie ekstraksie moontlik te maak, was dit noodsaaklik dat ‘n sekere deel van die bevolking in die kolonialiste se diens gestaan het. Daar is ‘n probleem geskep wat hardnekkig voortduur: regerende en burokratiese elites wat in die beste belang van die buitewêreld optree, eerder as in die belang van hul bevolkings. As ons kyk na die politieke sy, sien ons kolonialisme het stelsels van bevolkingsbeheer nodig gehad wat ernstige gevolge gehad het vir demokrasie op die vasteland. Mamdani noem dit “gedesentraliseerde despotisme”, die stelsel waarmee die “oortollige” deel van bevolkings op hul plek gehou is. Dit het behels ‘n korrupsie van prekoloniale tradisies en kultuur waarin Afrikane hul burgerregte ontneem is en waar die hoofman en die oudste mans in ‘n nedersetting soos despote kon regeer oor mense. Die Britte het hierdie idee van “onregstreekse regering” ontwikkel, en dit is later opgeneem deur die Franse en Portugese. Dit het mag gekonsentreer in die hande van ‘n paar lede van die elite en die tradisie van die kgotla ondermyn. En uiteraard was daar uitbuiting van hierdie stelsel deur die mense wat skielik soveel mag tot hul beskikking gehad het. Veral vroue het aan die kortste ent getrek, gegewe dat hulle onder gewoontereg in onderhorigheid ingedwing is as perpetuele minderjariges. Die koloniale administrasie het deur middel van gewoontereg die outokratiese en repressiewe aspekte van sommige prekoloniale stelsels in Afrika geamplifiseer en vasgelê ten koste van die demokratiese vorme wat voorheen bestaan het. Voorts was die tipiese vorm van die koloniale staat een wat bestaan het uit die uitvoerende en regsprekende arms, terwyl geen wetgewende arm bestaan het nie. Die instellings wat dus ontwikkel was teen die tyd dat onafhanklikheidwording aangebreek het, was dié van die uitvoerende en regsprekende arms. Gegewe dat die wetgewende arm demokratiese verteenwoordiging moontlik maak deur ‘n parlement, is dit duidelik dat die nalatenskap van die gebrekkige staat met net twee arms negatief sal inwerk op demokratisering. Weer eens het dit natuurlik ‘n erg destruktiewe effek gehad toe hierdie vorme van regering voortgesit is ná onafhanklikheidwording. Die effek van die amplifisering van outokratiese regeringsvorme by gebrek aan demokratiese instellings en praktyke het gelei tot ‘n politieke stelsel wat deur die verpersoonliking van mag gekenmerk word. In die konteks van swak geïnstitusionaliseerde state is die persoon belangriker as reëls. Die “groot man” is aan die bopunt van ‘n hiërargie van begunstigdes wat ook beskermhere is deur wie openbare hulpbronne en dienste aan ondersteuners beskikbaar gestel word. Deurslaggewend hier is die kliëntelisme van die burokratiese en militêre klasse. Die militêre en burokratiese klasse is die sterkste ontwikkel gedurende kolonialisme, klae wat nie prodemokraties is nie. Die persoonlikmaking van mag is weer eens nie ‘n verskynsel uniek aan Afrika nie, maar is ‘n proses wat ook in Europa plaasgevind het, waar magtige persoonlike regeerders hul persoonlike gesag geassosieer het met regerings voordat dié instellings legitimiteit in die oë van bevolkings verkry het. Die ander problematiese nalatenskap van die koloniale era is die landsgrense wat behou is, terwyl dié grense koloniale belange weerspieël het en nie nasionale identiteit of samehang nie. Gevolglik is etniese groepe dikwels verdeel deur grense, wat waarskynlik die wortel van die kwaad is in die DRK, Burundi, Rwanda, Soedan, en Ivoorkus, en definitief die probleem is in Ethiopië en Eritrea. Die absurditeit van, en die ware bedoeling met, die koloniale grense word goed geillustreer deur die tongvormige strokie genaamd Die Gambië in die middel van Senegal, waar eersgenoemde aan Brittanje “behoort” het en die ander aan Frankryk. Kolonialisme het ook rassehierargieë geskep op die vasteland en stamgebondenheid vererger, veral deur die stelsel van gedesentraliseerde despotisme. Onafhanklikheidwording het meer in naam plaasgevind as in inhoud. Dit is ook waar op psigiese vlak, soos Ngugi wa Thiong’o dit verwoord het in sy beskrywing van die effek van kolonialisme op die mens se gees: Die grootste wapen wat imperialisme daagliks teen onderdrukte en uitgebuite mense aanwend, sê hy, is die “kulturele bom … wat ‘n volk se geloof vernietig in hul name, in hul tale, in hul omgewing, in hul erfenis van stryd, in hul eenheid, in hul vermoëns en uiteindelik in hulself. Dit noop hulle om hul verlede te sien as ‘n woesteny van mislukking en dit noop hulle om weg te wil kom van daardie woesteny. Dit noop hulle om te identifiseer met dit wat die verste verwyder is van hulself, byvoorbeeld met ander mense se tale eerder as hul eie. Dit laat hulle identifiseer met dit wat dekadent en reaksionêr is, al daardie magte wat hul eie fonteine van lewe kan laat opdroog. Dit plant selfs ernstige twyfel oor die morele korrektheid van stryd. Die bedoelde resultate is wanhoop, neerslagtigheid en ‘n kollektiewe doodswens.” Ná onafhanklikheidwording het die eksterne gerigtheid waarna ek vroeër verwys het, voortgeduur. Dit duur steeds voort. Dit geskied op polities-ekonomiese vlak, en behels basies dat daar nie patriotiese interne middelklasse ontwikkel nie, maar middelklasse wat verbind bly aan die Noorde. Soos Fanon dit gestel het, Afrika se middelklasse tree op as besigheidstussengangers en bestuurders van Westerse belange in Afrika. Afrika-elites is histories verbind aan elites elders, of dit nou die Kommunistiese blok of die Westerse blok was gedurende die Koue Oorlog, of die Westerse blok in die era van globalisering. Gedurende die Koue Oorlog het Afrika-elites die twee magsblokke teen mekaar afgespeel en was Afrika ook ‘n speelveld vir die twee magsblokke. Dit het gelei tot regstreekse intervensies wat die swak state van Afrika verder gedestabiliseer het. Voorbeelde hier is die Weste se ondersteuning van marionet-diktators soos Mobutu Sese Seko; vir opportunistiese reaksionêre magte soos Renamo en Unita; en die moord op Patrice Lumumba. Die Weste het selfs Idi Amin aanvanklik met oop arms ontvang. Solank ‘n leier antikommunisties was, kon hy – en dit was altyd ‘n hy – wegkom met moord – letterlik. Die argument hier kan wees dat dit alles ter wille van die stryd teen die Kommunisme was, maar die feit bly staan: onder sulke omstandighede kon demokrasie kwalik gevestig word. In Afrika het ons ook natuurlik eksperimente gesien wat rampspoedige resultate gelewer het, soos die “Afrika-weergawe” van sosialisme wat Nyerere in Tanzanië toegepas het. Uiteindelik kom dit daarop neer dat die onafhanklikheidwording se nasionalistiese elites, op wie soveel hoop gestel is, hoegenaamd nie kon lewer wat verwag is nie. Stringe staatsgrepe en intrastaat-oorloë het sedert die 1960’s die vasteland se aangesig ontsier. Maar die punt hier is dat dit nie in isolasie gesien kan word nie. Nie net interne nie, maar ook eksterne faktore het ongelooflike eise aan hierdie jong lande van Afrika gestel en hulle kon meestal nie die pyp rook nie. Gemeet aan sosiaal-ekonomiese ontwikkeling was die onafhanklikheid-generasie se era nie erger as wat gevolg het nie. In die era van globalisering, veral vanaf die laat 1970’s, is dit afdraande, en die rede daarvoor was die skerp daling in kommoditeitpryse, die dramatiese styging in rentekoerse en die skuldlokval waarin Afrika-state hulself laat beland het. In 1980 was die kapitaal wat uit Afrika gevloei het vir skuldvereffening sowat een derde van die $9,6 miljard in lenings wat ingevloei het. Teen 2000 het dit omgeswaai, en Afrika-state het $9,8 miljard vir skuldvereffening betaal, teenoor die $3,2 miljard se lenings wat ingekom het. Weens skuld word Afrika-lande gedwing om sekere beleidsrigtings te aanvaar wat nie noodwendig ten bate van ontwikkeling is nie. Hierdie programme word afgedwing deur die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank, en behels ‘n neokoloniale voortsetting van eksterne gerigtheid. Dieselfde beleid wat Afrikane gekeer het om in die koloniale tye hulpbronne aan te wend om die vereistes van interne ontwikkeling na te kom, word geperpetueer deur die IMF en die WB se strukturele aanpassingsprogramme (SAP’s). Daarom het Afrika se menslike-ontwikkelingsindeks oor die afgelope 25 jaar verswak. Afrika se berugte hongersnode word byvoorbeeld vererger deur SAP’s, omdat die beperkte vrugbare landbougrond dikwels beslaan word deur uitvoergewasse eerder as voedsel vir plaaslike verbruik. Die inhoud van die SAP’s en die nuwe gedaante daarvan, die Armoedeverminderingstrategieë (PRSPs), word in Washington bepaal; tegnokrate van die WB en die IMF werk saam met nasionale presidensies en tesourieë in ‘n ondeursigtige, ondemokratiese proses om die planne in beleid en praktyk om te skakel. Selfs die Britse eerste minister, Tony Blair, se Afrika-kommissie het bevind dat die WB en IMF se besluite te eensydig en ondeursigtig is, en dat hervorming van hierdie instellings nodig is om te keer dat hulle oorbodig raak. Weer eens is deel van die probleem eksterngerigte elites – elites wat simbioties inskakel by multinasionale elites en hul belange dien, eerder as om te kyk na wat die binnelandse behoeftes van hul lande is. Meer word aan skulddelging bestee as aan noodsaaklike begrotingsitems soos onderwys en gesondheid. Die afgelope paar dekades vloei meer geld uit Afrika om skuld te delg as wat na Afrika vloei. Dit is ook hier waar die probleem van korrupsie inkom. Elites wat onverantwoordbaar is, kan nasionale hulpbronne vir ‘n appel en ‘n ei aan buitelanders verkoop. In terme van toekomstige hoop vir die lande van Afrika – dus, in antwoord op die vraag of iets “goeds” uit Afrika kan kom, is die enigste werklike hoop vir Afrika-lande wesenlike demokratisering. Slegs die burgers van ‘n land kan ontwikkelingsdoelwitte bepaal wat responsief is tot die werklike behoeftes van daardie land; en demokratiese prosedures en die beskerming van menseregte is die voorwaardes vir die daarstelling van ontwikkelingsdoelwitte, omdat dié voorwaardes legitimiteit en breë deelname verseker, aldus Martinussen (1999). Demokratisering beteken lande se bevolkings kan regerende elites tot verantwoording roep en druk toepas om te verseker dat beleid eerstens die burgers van die land bevoordeel. Demokrasie impliseer burgers wat bemagtig is, wat toegang tot onderwys en basiese dienste het, wie se menseregte gerespekteer word en wat toegang tot inligting het. Maar daar is geen regering in die wêreld wat regte respekteer sonder populêre druk nie. Menseregte en demokrasie het nie in Europa in die 18de en 19de eeu die lig gesien weens die warmhartigheid van elites nie. Dit het opstand en bloed geverg. Wat weer eens wys dat wat in Afrika gebeur, nie enig is nie. ‘n Aktiewe burgerlike samelewing is nodig vir die daarstelling van demokrasie. Dit is juis wat baie regeerders in Afrika probeer voorkom deur die repressie van die media, nieregeringsorganisasies en ander kritici. Die 1990’s in Afrika het gelyk asof dit demokratiese bestelle gaan oplewer. Die huidige prentjie wys verskillende ervarings, maar wel dat demokrasie in Afrika opdraande kry. Sommige lewenslange leiers het daarin geslaag om met demokratiese verkiesings hul tydperk in die warm kussings voort te sit (Moi in Kenia, Conte in Guinee, Eyadema in Togo); nuwe demokraties verkose leiers het net so korrup geblyk te wees as hul voorgangers (Chiluba), of net so outokraties (Museveni); regerings wat gegroei het uit nieregeringsorganisasies het misluk (Kenia, Zambië); “bevrydingsbewegings” stel ook meer belang in die opbrengste van hulpbronne as in die opheffing van hul mense (Angola); leiers wil nie die mag laat vaar nie, en stel hul trawante aan in hul plek (Namibië); wedergebore demokrate gaan nie noodwendig die aansienlike inkomste uit hulpbronne met die mense van die land deel nie (Nigerië); siviele regerings is intussen weer omvergewerp en vervang met militêre diktature (Sentraal-Afrikaanse Republiek) en weer omvergewerp en vervang met demokratiese regerings (Niger); en in sommige plekke hou die diktators nog die fort, “derde golf van demokrasie” ofte not (Ekwatoriaal-Guinee). Hierdie breë skets is nie opbeurend nie. Veral as mens dit kombineer met die invalle van Rwanda, Uganda, Zimbabwe, Angola en Namibië in die DRK; die burgeroorloë in Sierra Leone, Liberië en Ivoorkus; die endemiese geweld teen vroue in oorlogsituasies; die vlugtelingkrisis; die omvang van die MIV/VIGS-pandemie, ensovoorts. Kon ons oorweeg die kontinentale aksies. Die Afrika-Unie (AU) se stigtingswet is positiewe leesstof, veral weens die bepalings dat lidstate wat misdade teen die mensdom pleeg, uitgeskop sal word, en die bevestiging van demokratiese beginsels en geslagsgelykheid. In die praktyk bots die implementering van AU-beginsels met die soewereiniteitsbeginsel, iets waaroor Afrika-leiers obsessief waak sodra hulle van menseregte-vergrype beskuldig word, maar waaroor hulle heel laks is as dit kom by ekonomiese beleid. Oor die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (NEPAD): die identifisering van die uitdagings wat Afrika in die gesig staar, is korrek. Maar weer eens is die gerigtheid ekstern. Weer eens word staat gemaak op eksterne “vennote”. Afrika-lande is baie arm, en ontwikkelingshulp is nodig. Maar ontwikkelingsdoelwitte moet eers op nasionale vlak deur demokraties verkose verteenwoordigers vasgestel word. NEPAD se ondemokratiese wortels is ook reeds uitgewys deur Afrika-akademici. Dit voorspel niks goeds as so ‘n bloudruk vir ekonomiese ontwikkeling opgestel word sonder die raadpleging van Afrikane op grondvlak nie. En intussen is die Pan-Afrikaanse Parlement dit net in naam – besluite wat daar geneem word, is nie afdwingbaar nie. Vir lande so swak soos Afrika-lande is Suid-Suid-samewerking lewensnoodsaaklik. Maar mens sien maar min daarvan in die praktyk. Ons het baie te leer by Suid-Amerika se ervaring van kolonialisme, diktature, ekonomiese krisisse en aanhoudende eksterne inmenging. Maar min pogings tot samewerking met die Suid-Amerikaners word gesien. Selfs Suid-Afrika, wat voor-die-hand-liggende vennote op daardie vasteland het, het eers onlangs begin wakker skrik oor die moontlikhede. Maar eerstens is integrasie op streeksvlak noodsaaklik. Nieteenstaande al die moeite om substreeksliggame op te rig – die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Oos-Afrika-Gemeenskap, die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse State (ECOWAS) – word die liggame ondermyn deur lidstate wat nie hou by gemeenskaplike ooreenkomste en besluite nie. Die AU se probleme is reeds uitgewys. Tussen dit alles deur duur eksterne inmenging voort. ‘n Onlangse voorbeeld is toe ECOWAS aan die begin van 2005 die ongewone en bemoedigende stap gedoen het om daarop aan te dring dat ‘n demokratiese verkiesing uitgeroep word om Eyadema se opvolger in Togo te verkies nadat sy seun, Gnassingbe, onregmatig deur die weermag aan bewind gestel is. Die voormalige koloniale meester, Frankryk, ondersteun Gnassingbe omdat gemeen word hy sal Franse sakebelange ongesteurd laat. Jacques Chirac het Eyadema onomwonde as ‘n “vriend van Frankryk” beskryf. Dus het Parys stappe gedoen om te verseker dat nie demokraties-gesinde ECOWAS-lede bepaal wat in Togo gebeur nie, maar eerder die klub van diktators in die substreek, soos Burkina Faso se Campaoré en Gabon se Bongo. Hierdie naakte najaag van eie belang ten koste van bevolkings in Afrika is ook kenmerkend van die posisies wat die Noorde inneem in die Wêreldhandelsorganisasie en in die EU se onderhandelinge met Afrika-state oor ekonomiese-vennootskapsooreenkomste (EPA’s). Dus, terwyl die Noorde se agente in die WB en die IMF Afrika-lande aanmoedig om verder te liberaliseer en dereguleer, het Afrika se aandeel in wêreldhandel sedert die 1960s net afgeneem. In die 1980’s het dit van 4 persent na 2 persent gedaal; Afrika se aandeel in wêrelduitvoer het vanaf 3,1 persent in 1990 na 2,2 persent in 2002 afgeneem. Hierdie syfers wys nie dat Afrika-lande, soos sommige mense argumenteer, uit globalisering uitgesluit nie, maar eerder hoe hulle ingeskakel is. Afrika-lande is ingeskakel op die periferie van die internasionale kapitalistiese stelsel. Dus is die onderontwikkeling wat ons in Afrika-lande sien, slegs die manifestasie van kapitalisme op die periferie, waar die aard van die kapitalisme hoofsaaklik ekstraktief is. Afrika se onderontwikkeling is dus ‘n funksie van die wêreldstelsel; Afrika se onderontwikkeling dra by tot die ontwikkeling van die middelpunt van die stelsel, naamlik die nywerheidslande. Die onderontwikkeling word gehandhaaf deur die skuldlas en die onregverdige handelsreëls. Afrika-elites se simbiotiese verhouding met multinasionale elites, en multinasionale elites se gewilligheid om Afrika se bates op korrupte wyses te bekom, hou hierdie stelsel in stand. Die stelsel word voorts in stand gehou deur die stelselmatige ontmagtiging van die mense op grondvlak. Dit word nie net gedoen deur die standaard repressiewe maatreëls en gebrekkige toegang tot onderwys, gesondheid en basiese dienste nie, maar ook deur die daaglikse lewe ‘n oorlewingstryd te maak. Afrikane is dikwels so besig om te oorleef dat daar bitter min ruimte is vir demokratiese uitdrukking. Maar niks is vir altyd nie. Net soos nasionalistiese bewegings opgestaan het teen die versmoring van kolonialisme, en die burgerlike samelewing in die derde golf van demokratisering opgestaan het teen die versmoring van korrupte outokrate, so is daar mindere en meerdere aanduidings in elke land in Afrika dat mense op grondvlak politieke en sosiaal-ekonomiese stelsels wil hê wat hulle dien. Hierdie stryd is nie uniek aan Afrika nie, maar so oud soos die mensdom. En dit sal voortduur. En daarmee sal die goeie én die slegte weer eens uit Afrika kom, net soos die goeie én die slegte steeds uit ander vastelande kom. Christi van der Westhuizen is ‘n onafhanklike ontleder en navorser. christiw@mweb.co.za Bronne Bond, P. 2005. “Is the New Partnership for Africa’s Development already passé? Afrika-dialoog-lesing. Sentrum vir Internasionale Politiek, Universiteit van Pretoria. 15 Februarie. Fanon, F. 2001 (1961). The wretched of the earth. Londen: Penguin. Hugon, P. 2004. The economy of Africa. Pretoria: Protea. Le Monde Diplomatique, April 2005. Mamdani, M. 1996. Citizen and subject. Contemporary Africa and the legacy of late colonialism. Martinussen, J. 1999. Society, state and market. A guide to competing theories of development. Londen en New York: Zed Books; Halifax: Fernwood; Pretoria: HSRC; Dhaka: University Press; Kopenhagen: DAIC. Moore, B. 1993 (1966). Social origins of dictatorship and democracy. Lord and peasant in the making of the modern world. Boston: Beacon. Reader, J. 1998. Africa. Biography of a continent. Londen: Penguin. Wa Thiong’o, N. 1997. Decolonising the mind. The politics of language in African literature. Oxford: James Currey.
Walker, C (red). 1990. Women and gender in Southern Africa to 1945. Kaapstad: David Philip.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |