SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Te kitsch en te keur

Willem de Vries is ’n senior student aan die Kaapse Technikon

Vier susters en ’n vent

Donderdag die 25ste Maart val ek en vier susters, van twee families, in die pad Oudtshoorn toe. ’n Citi Golf sonder lugverkoeling is net aangenaam in die winter. Dít het die lang pad vir my tot swetens toe bevestig.

Een-en-twintig jaar lank ry ek al vakansies Ladismith toe, maar die een keer dat ek nie passasier is nie, draai ek hopeloos te vroeg af in Worcester. Al blindelings en vasberade om op die regte pad af te kom, ry ek volmoeds tot ná De Doorns toe ek eers weer kon afdraai Montagu toe. Van Montagu af bel ek mense wat ek dié dag al sou help by ’n stalletjie in verre Oudtshoorn.

Om ’n lang pad kort te maak is ek regs by Ladismith verby op pad Calitzdorp toe, óm die haarnaalddraai waar ’n hoenderlorrie hom destyds te pletter gestort het. In die verbygaan kan ’n mens nog dele van die lorrie se karkas uitmaak. Die laaste stukkie tussen Calitzdorp en Oudtshoorn bestuur ek op autopilot. Aangekom op Oudtshoorn, ’n rukkie ná skemer, is die tent al opgeslaan deur die ander motor se susters toe ons daar instof in ons mikro-Golf-oond.

Nadat ek vir die soveelste keer by iemand gebitch het oor my verdwalery en genoeg rondgeloop het om die ry uit my lyf te kry, grom my maag ontstellend en vaar ons die dorp binne op soek na ’n eetplek.

In Baron van Rheedestraat kom ons tot rus by ’n Bistro-plekkie met ’n tuin wat uitkyk oor dié besige straat; onder die bome en sterre sit ek en praat nonsens met die susters.

Ek dog ek het nou al genoeg van padkaarte gehad toe die kelnerin ons die spyskaart bring. Dit is nogal heel verwarrend as jy nie daaraan gewoond is dat ’n spyskaart twee menus het nie, waarvan die een blykbaar van ’n plekkie oorkant die straat is. Toe ons vra: “Nou hoe dan so?” is haar antwoord eenvoudig dat dieselfde eienaar albei eetplekke besit. Moeg, gatvol en nie lus om ’n scene te maak nie, bly ek liewers stil. Die betrokke spyskaart lyk vir my ’n bietjie na ’n show-off, kyk wat kan ons alles voorberei met volstruis, so ek ignoreer die supercallifragilisticexpialvolstruicious en bestel vir my ’n hoenderbaguette. Ons drink en rook en vloek en eet darem alte lekker, volgens een van die susters, en ek knik my kop soos ’n luilekker Bacchus. Onderwyl die girls lag en skooldae opgrawe, loer ek ’n bietjie rond ...

Dis Boeremusiek, vrouens geperm en geparfoem, vergesel deur ooms met bierpense pregnant van jare se Lion Lager. Daar’s preutse poppies, instellasie-kuns, bedswerwende vrouens, mense wat loop of sit. Daar’s soveel te kitsch en te keur!

Versadig en klaar betaal met almal se kleingeld gaan maak ons ’n draai by die Rock Art-kroeg. Hier is iets vir almal: van Nick van Egoli tot Gert Vlok Nel, tot die Gauloises girls wat so vrygewig is met hulle sigarette. Op pad Rock Art toe het ons verby ’n ry instellasie-kunswerke in die vorm van huisies geloop. Ek onthou dat een van binne kniediep gevul was met vere, maar hoe later jy die aand daar verbystap, hoe minder was die vere in die huisie en hoe meer op die kinders wat soos afkophoenders daar rondgehardloop het. Instellasie-kuns is ’n bietjie te esoteries vir my. Die lyn tussen die verduideliking van die kunswerk en regverdiging is te nou na my sin. Moeg is ons terug tent toe. Net voor ons inkruip, het ons gou ’n koffietjie gemaak op die Easigas-stofie. Toe ek agteroorstrek, sien ek dun wolke spokerig gesaai in ’n donker Karoolug.

Die oggend 08:30 gaan my wekker af en is ek op na ’n slaap aan die voetkant van vier vroumense. Onderwyl ek slaap se roes uit my kop uit probeer was met vars oggendlug, wonder ek of ’n mens iets soos atleetneus kry. Opgestaan 08:30 en wakker geword so ’n halfuur daarna, is ek by die stalletjie in die CP Nel-museum waar ek ’n hand moes bysit met ’n banier, en het ek allerlei ander take ook verrig.

12:00 is ek by die M-Net Banketsaal vir die eerste vertoning van die dag se Boertige Boerneef. Die show is ’n soort multimedia-vertoning oor Boerneef se lewe en werke, met die stem van Boerneef se seun uit die SABC se SAUK-argiewe en toonsettings gespeel op elektroniese klavier en ghitaar. Driekwart deur die vertoning verskyn Stellenbosse rocker Valiant Swart op die verhoog en werk hy afwisselend met die argiefstem deur een van sy eie komposisies, die Mystic Boer. Toe ek hom na die tyd vra of hy enigsins beïnvloed is deur Boerneef toe hy Mystic Boer geskryf het, is sy antwoord eenvoudig nee, iemand van RSG het hom approach ... ’n Mens kan kwalik die Mystic Boer meer mystic maak met so ’n antwoord. Boertige Boerneef was baie geslaag en het brûe aangewys tussen genres en geslagte en is verpersoonlik deur die humoristiese en deernisvolle manier waarop die stuk opgevoer is. My kop is aan die gons toe ek daar uitstap en ek loer in by ’n kroegie om ’n bier lank te verwyl by ’n plekkie genaamd Die Hoenderkop. Dis eintlik eerder ’n bierstop tussen biertente en kroëe as ’n volwaardige kroeg. Net agter Die Hoenderkop is daar ’n eiesoortige eier wat geen volstruis, nevermind hoender, sou kon lê nie. Die kolossale eier is maak staan bo-op ’n houtstellasie en word bereik deur ’n loopplank. Binne die eier is glo ’n beeld van ’n man met ’n enorme hangende geslag—’n Dawidbeeld vir bysiendes, het iemand nog gespot.

By die SASOL-uitstalling is ’n paar mooi goed van Erik Laubscher, Jan Vermeiren, Willie Bester en ietwat kriptiese werke van Louis Jansen van Vuuren. Op pad na die vlooimarkte is ’n mens genoodsaak om verby ’n amfiteater te stap waar die vreemdste mense die vervelendste goed gesing het, van laerskooltreffers tot FAK geATKVeerde liedjies. Daar was egter nie veel tyd oor om my te vergaap nie en ek moes uitkom by die Boekeparadys as ek na Petra Müller se gesprek met Anoeschka von Meck oor Anoeschka se boek, Annerkant die Longdrop, wou gaan luister. Daar aangekom, is Anoeschka nie daar nie. Petra Müller praat egter so mooi oor Anoeschka en haar boek dat ’n mens halfpad bly is dat sy nie daar is nie. Petra skets haar as ’n soort Salinger-figuur en dit dra so by tot Annerkant die Longdrop dat dit die boek net goed kan doen.

Net agter die CP Nel-museum is daar ’n kolossale biertent waardeur die meeste mense koers kies as hulle Pick ’n Pay toe wil gaan of om geld uit die muur te trek, maar ai my volk, die gaskunstenaars wat dáár hulle liedjies gepleeg het! Daar was in die besonder twee blondes wat met al wat ’n man is in die gehoor flirt en soos platbekpaddatjies sing, liedjies soortgelyk aan “Ons is op ’n Weskustoer en ons drink net mampoer”, en ander versies met selfs rymrape, want rymdwang was nie sterk genoeg nie. Êrens teen ’n muur van die Pick ’n Pay bespeur ek iets wat net in Oudtshoorn geskryf kan staan: langs een van daardie rooi strikkies, die teken vir Vigs-bewustheid, het iemand in koki geskryf: “Save the koeksister!”

Die dag stroom voort met al sy mense op Oudtshoorn en ek is al moeg van verken rondom die CP Nel-museum, met die gevolg dat ek ’n draai gaan maak by ’n uitstalling getiteld Bloedlyn in die Principia-kollege. Die hele uitstalling is gedoen deur 10 Afrikaanse skrywers en 10 kunstenaars wat in pare gewerk het. Elke paar het ’n vertrek gekry vir hulle uitstalling. In die een kamer is ’n multimedia-instellasie van Charles Fourie en Veronique Malherbe getiteld All this Useless Beauty. Veronique verduidelik dat sy en Charles ’n bietjie mediums geruil het sodat hy hom moes toespits op ’n gedeelte van die instellasie, terwyl sy op ’n paar handgeskrewe bladsye die hele idee agter All this Useless Beauty omskryf het as ’n soort betoog oor aspekte van seks en liefde. Ek moet erken dat dit baie interessant was, maar nie vir my nie. Die multimedia-instellasie van Berni Searle en Anoeschka von Meck, Julle moet nou trek, was meer toeganklik. Die kamer vir Julle moet nou trek het bestaan uit twee luidsprekers aan teenoorgestelde sye van die vertrek, met ’n Boesmanjagter wat die verhaal van ’n jagtog in Khoi vanuit die een luidspreker vertel, terwyl die Afrikaanse weergawe vanuit die ander weerklink. Tussen die twee luidsprekers was ses lang blokke, drie aan elke kant, waarop sand die vorm van ’n vrou se lyf afgeëts het in verskeie lêposisies. Tussen twee van die panele is ’n gedig van Anoeschka op transparant op ’n spieël aangebring wat handel oor Afrikaans as bastertaal, en die feit dat dit nie net die taal van een bepaalde groep is nie.

Na Bloedlyn kies ek koers na ’n vertoning van Die Skandaal 2. Hoewel dit by tye snaaks was, is dit meerendeels ’n platvloerse Vetkoekpaleis op die verhoog. Daarna sluit ek weer aan by die vier susters en soek ons na die opening van Breinkomieks, ’n venue wat ons nêrens kry nie. Ek het eers later by Kaktus gehoor dat daar maar tien mense by die opening was en dat die boekie self, by tye, ’n bietjie te veel soos Bitterkomix is. In ons ronddwaal sien ek ’n soort braaivleiskafee met die naam Eggzactly en verorber ons daar hotdogs tot ek voel soos ’n Kaapse taxi wat net nie meer kan inlaai nie.

Later die aand is ek en die susters Baron’s Palace toe, om een van die opwindendste shows te gaan kyk. Namaqua, ’n jazz-groep, met mnr Vet en Ready D van die Kaapse hiphop posse Brasse vannie Kaap. Ek het die ongelooflikste weergawes van Charlie Parker-liedjies gehoor. Ready D op draaitafels het mense met ek-kan-dit-nie-glo-nie’s gevul met sy akrobatiese tempoverwisselings. Alhoewel ek my bedenkinge gehad het oor hoe die twee genres sou vermeng, is ek uitgeboul deur hoe suksesvol die projek afgeloop het. As daar kans is op ’n album, sal ek al die vorige aand buite die CD-winkel kampeer. Skuins voor twee die oggend val ek moeg neer langs die vrouevoete.

Die volgende oggend dwarrel ek in by die biblioteeksaal om ’n vertoning by te woon van UCT’ers se vertolking van vertalings van Uys Krige (onder andere Paul Eluard en Pablo Neruda) se gedigte. Dit was niks minder as baie geslaag nie. Die akteurs is goed vertroud met hulle rolle en hulle atipiese voorstelling laat my my hande rooi klap toe hulle hul buiging maak. My laaste show is ook ’n studenteproduksie, maar dié keer van Stellenbosch, getiteld Varknek, ’n gyselaarsdrama met meer draaie as ’n koeksister. Baie goed.

Reeds van ver af kon ’n mens die mense sien toustaan vir Kaktus is Voëlvry, die tienjaarherdenking van die eerste alternatiewe Afrikaanse musiektoer. Min lus om rond te staan, stap ek tot reg voor, wys my kaartjie en betree die rugbyveld. Jy kon sien dis net na 15:00 op Oudtshoorn , want mense sit omtrent net waar daar eilandjies skaduwee is. Dis ’n veld vol goed geoliede lywe—op watter manier ook al—om ’n bietjie verweer teen die son te bied. ’n Groep mense voor my is bewys van hoe weird die Afrikaner soms kan raak: ’n groep stoere boerseuns wat verbystap met Voortrekkerkappies, en 24.com se kenmerkende bull’s eye-kussings wat hulle aan hul agterstewe vasgebind het met hulle broekgordels—seker sodat hulle die minimum dinkwerk hoef te doen wanneer hulle gaan sit of opstaan. Elke hand word koel gehou deur twee Castles. Daar is skooldogters en ouer vrouens met korter mini’s en gesandaalde Billabong-atlete. (Dis vir my eienaardig hoeveel seuns rondstap met surfer-klere in die middel van die Klein Karoo.)

Die middag skop af met ’n Stellenbosse band, Akkedis, ’n groep wat niks te make het met Voëlvry nie. Miskien was dit moegheid en irritasie, maar die band het vir my geklink soos ’n kombinasie tussen Coenie de Villiers en Chris Isaac op steroids. Ek dink die sanger se uitspraak van absoluut elke klinker en medeklinker, asof die gehoor Afrikaans moeilik volg, het my tot raserny gedryf, maar daar was baie mense wat Akkedis geniet het, moet ek byvoeg.

Next up was Gert Vlok Nel. Hy het ’n kalmerende invloed op die skare gehad, met sy endearingly af-van-die-noot neuriesang. Die paar biere wat ek gehad het, slaan toe op my blaas. Gert se mooi woorde en neuriestem klink great vanuit die Sanitech-toilet, lekker akoestiek. Hy eindig met ’n baie lang huldeblyk aan Koos du Plessis, en terug op my plekkie dut ek onwillekeurig in die namiddag gangster van ’n son.

Kaktus ruk wakker met die verskyning van die energieke Brasse vannie Kaap: mnr Vet, Ready D en die res van die boys. Met hulle aansteeklike energie en breakdance acrobatics en draaitafeltoordery het die deel voor die verhoog vinnig vol geword. Almal wat daar was, van Kaap tot Kuruman, het saamgesing en gatgeswaai. Volgende op die lys was Ras Tamie and the Warriors. Hulle was rustig, kleurvol en irie. Met die reggae klaar, is dit Piet Botha en Jack Hammer, en oorval hulle die skare met cool boereblues. Weer op pad biertent toe, stap ek verby die toilette waar ’n groep mans noodgedwonge ’n pie-peleton teen die muur gevorm het en ek hoor een skree: “Any traditional weapons?”, gevolg deur verskeie dirty old man laggies.

Terug voor die verhoog ná my halfuur lange wag vir my bier, is dit tyd: the ego has landed, Johannes Kerkorrel. Hy laat die skare riot met ou songs soos “Sit dit af” en “BMW”, ’n paar siele spring selfs op die verhoog. Johannes is iemand wat weet hoe om nihilisme cool te laat klink in Afrikaans, en dít blykbaar op sy verjaarsdag. Anton Goosen is op sy hakke met sy lekker rock en kry die mense behoorlik aan die skoffel. Toe Anton Goosen en die Bushrock band smile en tot siens sê, is dit tyd vir Koos Kombuis en die Warm Blankes. Koos Kombuis is die enigste mens van wie ek weet, wat mense al aan die lag het as hy 1,2,3 oor die mikrofoon sê. Selfs die vurigste jong Volkstater sing saam aan sy “AWB-tiete”, en almal, en ek bedoel álmal, cheer toe Koos ons laat weet dat ons “almal kaffers in ons harte” is. Deur sy hele vertoning lyk dit of hy aan die heup verbind is met sy alomteenwoordige bottel Tassenberg. Daarbenewens het hy ’n pruik op wat lyk soos iets uit Guns ’n Roses se wasbalie. Die res van die band is uitgevat in mooi nuwe rooi overalls—babygrows vir grootmense. Vanaf sy bestyging van die verhoog is daar al krete dat Koos “Johnny is nie dood nie” moet sing, en hy eindig sy deel van die aand met votum, seëngebed (vir baie) en Johnny, opgedra aan Bernoldus Niemand.

Skaars klaar gecheer, toe’s dit tyd vir Valiant Swart. “Hy lyk vir my nes die Swart Kat wat grootgeword het,” sê ’n naburige vriendin. Valiant het nou maar eens en vir altyd ’n goeie verhoogpersoonlikheid en die vonke van sy geesdrif spat deur die skare, met “Ek en die Valk” en “Cybersakkie”. Moeg gebons, bly ek nie lank toe Wouter van Deventer op die verhoog sy verskyning maak nie en sit sy hele Eighties-met-attitude my so af dat ek koers inslaan hekke se kant toe, op soek na die susters. Die veld lyk soos een van Zibi se nagmerries, of soos die Slag van Rommel met blikkies, flyers, bottels en hier en daar halfversteekte grootwildjagsters.

Die volgende oggend vertrek ons sak-en-pak, een tent, vier susters en ’n vent, terug Kaapstad toe. Ons stop vir brekfis by Calitzdorp en toe, terug in die Kaap, voel ek asof ek omgekyk het toe ek nie moes nie en kan ek myself letterlik ’n gesoute feesganger noem. Volgende jaar is ek weer daar, al is dit met ’n ompad.

boontoe

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.