|
Die magiese trefkrag van Keith AlexanderAlbert LintveltDavid Robbins Die verskyning van énige kunsboek in die Suid-Afrikaanse boekewêreld is n uitsonderlike en heuglike gebeurtenis. Soveel te meer as dit boonop so n pragwerk is oor die toeganklike oeuvre van Suid-Afrika se voorste kunsskilder in die realistiese / surrealistiese genre, met meer as 120 uitstekende kleurafbeeldings in chronologiese volgorde, wat die kunstenaar se groei vanaf 1979-1996 uitbeeld, twee jaar voor sy dood aan breinkanker op slegs 52. Die klinkklare teks deur David Robbins, skrywer, joernalis en kunsredakteur van die Natal Witness wat menige van Keith Alexander se vernaamste uitstallings geresenseer het, dien as n boeiende en insiggewende oorsig van sy kinderdae in die toenmalige Rhodesië en sy skooldae in Londen wat so n onuitwisbare stempel op sy jong gemoed en latere kuns afgedruk het; sy studentetyd in Pietermaritzburg, eers as beeldhouer en later skilder; sy romantiese inslag en tegniese vakmanskap. Ook sy nederige menslikheid word beskryf, sy wanderlust, dryfkrag en dapperheid, aangevuur deur sy vrou, Elizabeth White, bekende in die skakelwese en bemarking wat net ses maande na hom aan kanker van die kolon sterf. Vroeër werke toon reeds die superrealisme, altyd met n grond- of botoon van toevoegings juis dit wat weggelaat word: die alomteenwoordige personae daarin verborge of net buite die doek verskuil wat stemmings en emosies van ontsag of onheil meebring, bv Elliot Eastern Cape (1979, p 10) en Namaqualand Coupé (1983, p 16). Uit die aansteeklike interaksie tussen die egpaar ontstaan daar hoofsaaklik twee hoofneerslae. Die Namibiese word gekenmerk deur die felle, ruwe oerheid van die woestyn se onstuitbare natuurkragte wat mensgemaakte objekte indring, oorrompel en verswelg: geraamtes van geboue, bv Ghost Hall (1983, p 40) asook wrakke van skepe, bv Eduard Bohlen Sandstorm ( 1985, p 58). Algaande versmelt die skeidslyn tussen dié twee pole, soos in Rock Ship (1989, p 20) en Dead End (1990 p 90) waarin onderwerp en simboliek mekaar tot spokende eenwording dwing. Na besoeke aan Madagaskar, Kenia, Malawi en Zanzibar vanaf 1992, volg die Afrika-reeks. Hierin raak oorblyfsels van Indonesiese, Franse, Afrika- en selfs Europese beskawings en kulture in die vorm van bouwerke en murasies verstrik in die malse plantegroei van oerwoude en moerasse: die eksotiese versny met die welige, bv Basilica (1996, p 184), African Renaissance (1997, p 194) en Elysian Fields (1997, p 198) waarin herkenbare struktuur, denkbeeldige ruimte en die werklik fisieke één grootse geheel vergestalt. Die magiese trefkrag van die meeste doeke lê in Keith Alexander se onfeilbare vermoë om telkens dieper simboliese betekenis en groter visuele beduidenis aan die reeds beduidende te gee as t ware die drama van die dramatiese te verhoog. Kortom: die spanning te skep tussen bleek verlatenheid, menslike verganklikheid en die onafwendbare vernietiging deur vyandelike kragte, hetsy mens en/of omgewing. Uiteraard ook met geskiedkundige en politieke veranderinge en bestelle in Afrika én plaaslik as onderbou. Hierdie keurige beskrywing en verteenwoordigende afbeeldings van n gevierde en teelkragtig kunstenaar se woekerende oeuvre (meer as 500 werke binne 25 jaar, d w s gemiddeld minstens 20 skilderye per jaar!), elk tegnies tot in die fynste detail versorg, regverdig die aankoop daarvan en veral ook die viering daarvan met vonkelwyn as heildronk op die kunstenaar, die samesteller en die uitgewer: voorwaar n gedugte en trotse trio. Teen die uiters billike R350,00 (met in gedagte dat n roman al rondom R100,00 kos) is dit n bekostigbare én kosbare aanwins vir die boekrak van sowel kenner as leek wat met die kuns(te) omgaan. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |