|
Repliek op resensie van JP Smuts se Die roman: n Inleidende studieJoan Hambidge, Departement Afrikaans en Neerlandistiek, UKI Daar verskyn bittermin teoretiese of kritiese handleidings binne die Afrikaanse letterkunde. Die stand van die uitgewerswese, die geldelike nood én die ineenstorting van die voorskryfmark is welbekende redes vir die min publikasies. Tog verskyn daar studies wat vir sowel die student as die teoretikus van waarde is, soos Alkant Olifant van CN van der Merwe en Hein Viljoen, uitgegee deur JL van Schaik. In Tydskrif vir Letterkunde (November 1998/Februarie 1999) bespreek Anthea Jordaan JP Smuts se Die roman: n Inleidende studie wat foutiewelik aangegee word as datum van publikasie: 1988. Die datum is natuurlik 1998. Hierdie drukfout, Freudiaanse vergissing of wat ook al, is n ironiese sleutel tot die handleiding wat Me. Jordaan, n jong kritikus, aanprys. Die gedateerdheid is iets wat n mens moet aanspreek. Die feit dat die Afrikaanse letterkunde tans n krisis beleef, beteken nie dat middelmatige of gewoon gedateerde publikasies kritiekloos moet verbygaan nie. Ook die feit dat almal binne hierdie scène mekaar persoonlik ken, behoort beslis nie n rol te speel in die kritiese taksering van n teks nie. Hierdie repliek wil gewoon kommentaar lewer op die stand van akademiese of teoretiese publikasies wat tans sonder kritiese kommentaar of vraagstelling deel word van n biblioteek. Die vrees oor die toekoms van Afrikaans en die stand van die letterkunde behoort ook nie minderwaardige studies te verduur nie. II Moderne literatuurteorieë saamgevat in insiggewende toeganklike gids heet die opskrif van haar resensie. Jordaan argumenteer tereg dat dit nuttig sou wees om al die ou en nuwe teorieë n keer op datum te bring in n diepgaande dog toeganklike studie. Volgens haar is Smuts se studie diepgaande en toeganklik. Sy skryf: Hierdie gids is uiters toeganklik vir die gewone leser en aangesien dit die belangrikste, mees resente dimensies van die skryfkuns aanraak, is dit ook n wins op die rak van die gesoute leser. n Gesoute leser? Indien hierdie leser haarself as sodanig posisioneer, vind sy etlike gebreke in hierdie studie wat bepaald aangespreek moet word. Natuurlik kan n mens nie net by impulsiewe gevoelsreaksies bly vassteek nie. Nog minder beteken ouer teorieë nie minder as nuwe(r) teorieë nie. Maar hoe die leser die diskoerse versoen, is van kardinale belang vir die kritiese leser. Tot sover Jordaan se resensie wat myns insiens nie die papier werd is waarop dit gedruk is nie. III JP Smuts se studie word aangebied as n ingrypend hersiene en uitgebreide weergawe van sy blokboek Hoe om n roman te ontleed wat in 1977 verskyn het. (Hierop het hierdie kritikus reeds kommentaar gelewer in Stet en sekere van die besware is wel bygewerk.) Die boek is op swak geel papier afgedruk (onthou die kostefaktor) en in groot gedruk (amper soos vir die blinde [teoretiese?] leser). Die studie beslaan 119 bladsye. Die studie word van mottos voorsien. Onder meer uit Umberto Eco se The role of the reader (wat nie in die bibliografie genoem word nie) waarin Eco waarsku dat n oop teks nie enige interpretasie gedoog nie. Lees n mens egter die hele stuk waaruit Smuts dit haal, dan beteken dit iets heeltemal anders as binne die konteks van sy waarskuwende plasing. Die boek (dit is ónmoontlik om dit as n studie te tipeer) begin met n Historiese agtergrond wat so skraps is dat n mens jouself afvra: waarom dan enigsins begin met n historiese oorsig? Die outeur spring van Don Quijote na die twintigste eeu: hiermee word die komplekse transformasie van die roman as realistiese dokument tot self-verwysende sisteem volledig geïgnoreer. Meer nog, die hele kwessie van vraisemblance binne die romankuns (om die outeur se woord te gebruik) bestaan ook nie. Waarom is skrywers soos Balzac of Flaubert so belangrik vir die roman? Of Laclos se Les Liaisons Dangereuses? In hierdie opsig is André Brink se The Novel (Language and narrative from Cervantes to Calvino) (UCT Press, 1998) meer bevredigend, omdat dit die leser n historiese oorsig van die ontwikkeling van die roman gee. Smuts bely dat hy eklekties met die teorie omgaan. Eklekties beteken darem nou ook nie dat die skrywer onversoenbare of botsende standpunte mag saamgooi nie. Vanaf die historiese oorsig beland die leser binne die Afdeling 2 Die twintigste eeu. Ook hier word daar soveel gemeenplase rondgestrooi dat die kritiese leser die hoop uitspreek dat hierdie studie nie as n weergawe van Afrikaanse teorie in die buiteland beskou sal word nie. Sy siening van die bydrae van die New Critics is eweneens prekêr en n mens wonder of die skrywer besef hoe hierdie skool hom aansluit by (en verskil van) die sogenaamde Practical Critics en Franse Strukturaliste? Die volgende opmerking oor Derrida bewys dat die skrywer waarskynlik nog nooit Derrida óf gelees óf begryp het nie: - in dié verband kan op Derrida se bekende stelling gelet word dat daar niks buite die teks is nie, dat alle grense dus opgehef is (p. 11). Nog nooit is Il nya pas de hors texte so verinneweer nie. Jakobson wat sommer na Derrida ingespan word (praat van die kar voor die perde inspan) word tweedehands uit n ander oorsig geneem! Hierna beweeg ons na 3 Terminologie waarin die volgende boemerang-woorde geuiter word: Dit is nodig om in hierdie stadium iets oor terminologie te sê aangesien die keuse van terme groot probleme oplewer (p. 12). Om een probleem uit te lig: die outeur se gebruik van vertellersteks/persoonsteks vra darem om méér omskrywing. Dieselfde geld die ander kardinale konsepte waaroor daar in hierdie teks gedartel word. En die belangrikste bron? n Kompendium! Met ander woorde daar word via ander tweedehandse en derdehandse interpretasies gekyk na terme. Die moderne kritikus as tweedehandse motorverkoper. In die afdeling Tyd word Genette heel tersaaklik as n belangrike narratoloog aangewend. Maar verwikkelde konsepte word van die tafel gevee met n opmerking dat al die kleiner onderskeidings nie gebruik sal word nie. Overgesetsynde: hy het nie al die polemiek rondom hierdie kwessies gelees of begryp nie. Daar word so vinnig oor al die konsepte gehardloop en dieselfde as wat die outeur skryf oor Die Sprinkaanbeampte van Sluis is hier van toepassing: al die oppervlakkige opsommings laat die leser onbevredig. Wanneer daar oor Ruimte geskryf word, word daar volstaan met n vae vir die meeste ondersoekers. Man en perd, asseblief! As daar na Lotman verwys word, is dit eweneens in n soort short hand en sommer via Die Jakkalsjagter wat n mens laat wonder of die outeur besef dat dit Strachan se subjektiewe interpretasie is! Oor die peregrinasieroman n belangrike subgenre word daar ook maar minnetjies en dunnetjies geskryf. Die Afrikaanse letterkunde word gekenmerk deur hierdie soort roman. n Mens sou meer hieroor wou sien, veral gedagtig aan die feit dat die hele reistematiek op n SAVAL-kongres al onder die loep geneem is. Die ontwikkeling van tyd as n tydruimtelike begrip na aanleiding van Einstein se relatiwiteitsteorie word gewoon handig afgemaak as n saak van onmoontlikheid binne n inleidende studie. Maar die outeur vergeet kennelik dat dit wel tersaaklik is om hierdie konsep anders te definieer binne die hele postmodernistiese denkwyse; iets waarvan daar al tot en met bladsy 49 geen blyke is nie. Ten spyte van striemende kritiek op sy proefskrif deur André P Brink, gaan die outeur steeds voort met sy siening van Karakter. Die outeur kan steeds nie wegkom van die klassifikasie-sisteem nie. Colin Wilson se The Outsider het in 1956 die eerste keer deel van ons denke geword en nie in 1965 nie. Wanneer Greimas betrek word, is dit sonder enige verwysing! Op bladsy 61 tref n mens n tersluikse verwysing na Heilna du Plooy aan. Beteken dit dat die outeur deur hierdie skrywer Greimas se modelle bestudeer het? Net soos Cloete se gids n wegwyser is? Tegnieke van karakterisering Ook hier word belangrike en tersaaklike kwessies so vlugvoets aangeraak dat dit die (gesoute?) leser nie behaag nie. As daar onder meer verwys word na kleredrag by Leroux word ons nog nie oortuig welke belangrike funksies dit het nie (p. 66). Dieselfde geld die implikasies van blokkarakterisering wat net so in die verbygaan aangeraak word. Oor metafiksie (pp. 68-69) word daar eweneens niksseggende kommentaar gelewer en die implikasies van so n roman vir die leser se ervaring van werklikheid versus fiksie word volledig geïgnoreer. Patricia Waugh? Linda Hutcheon? Postmodernisme? Hallo: nommer asseblief. Op bladsy 78 word daar na die erlebte rede verwys as sou Brink in Vertelkunde daarna verwys as dinkpraat. Daar is egter geen bladsyverwysing na die Brink-studie nie. En dit is maar een verdere voorbeeld van onnoukeurige werk. In die afdeling Handeling en Intrige word die leser verder verwen met oppervlakkige en kortpad-interpretasies van ingewikkelde aspekte van die romankuns. Ook in die slotafdeling Die Verteller word komplekse aspekte van vertel so onoortuigend gehanteer dat die leser nou maar liewers die handdoek ingooi. Die leser moet weer teruggaan na Henry James en Lubbock! JP Smuts is iets van n teoretiese Rip van Winkel. Die jongste studie wat geraadpleeg is in hierdie oorsig is Cloete se kompendium uit 1992. IV Anthea Jordaan is die Afrikaanse literatuurkritiek n verduideliking vir haar positiewe resensie verskuldig. (Die uwe is dikwels ongelukkig oor die feit dat jonger kritici nie aan die woord kom nie, maar as dit is hoe die nuwe geslag gaan resenseer, is daar werklik nie veel hoop vir die letterkundige toneel nie.) Net soos hoogleraar Smuts moet redes aanvoer waarom hy dink n student behoort hierdie swak en intellektueel onuitdagende studie te koop en te lees. Die roman: n Inleidende studie is n laagtepunt binne die Afrikaanse literatuurkritiek en behoort n sigaretboksie-advertensie te dra: DIE LEES VAN HIERDIE BOEK MAG JOU INTELLEKTUEEL VERDOM. GEVAARLIK VIR DIE ERNSTIGE STUDENT VAN DIE ROMAN! Daar bestaan n Hiemstra-fonds vir navorsers. Kom ons stig n nuwe fonds vir teoretici wat intellektueel behoeftige boeke skryf. Die prys kan dan n waardevolle klompie titels bevat vir die voornemende ondersoeker: Derrida se Dissemination, n Barthes en Sontag Reader, n Patricia Waugh of Linda Hutcheon oor postmodernisme ... So sal die gesoute leser beskerm word teen lui en oppervlakkige studies. Selfs die beginner-reeks van die Icon-uitgewers in Cambridge het meer om die lyf.
Bibliografie |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |