|
Bespreking van Christopher Heywood se A History of South African LiteratureAmpie Coetzeeis 'n bekende resensent en akademikus, voorheen verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).
Klik op die boek en om dit te koop
Dit moet 'n moedige, en optimistiese, navorser en letterkundige wees wat 'n geskiedenis van die hele Suid-Afrikaanse letterkunde skryf. Een, Michael Chapman, het al 'n 520-bladsy-opus geskryf (Southern African Literatures), met vele hiate. Dink net waarmee jy te doen gaan kry as jy so volledig moontlik binne 'n "nasionale" letterkunde die letterkundes in hierdie land wil beskryf? Daar is groter en kleiner letterkundige produksies in die volgende Suider-Afrikaanse tale (in alfabetiese volgorde): Afrikaans, Engels, Noord-Sotho, Suid-Ndebele, Setswana, (Ntuli en Swanepoel voeg Siswati by), Suid-Sotho, Tsonga, Venda, Xhosa, Zoeloe. Die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde alleen - soos JC Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur - beslaan twee volumes van oor die 500 bladsye elk. Dis as mens deeglikheid aan lengte toets. Nietemin. Die jongse literatuurgeskiedenis is dié van Christopher Heywood: A History of South African Literature, Cambridge University Press, 2004, 296 bladsye. Daarin betrek hy die volgende "literêre tradisies": Khoisan (?), Nguni-Sotho, Afrikaans, Engels, en Indies (?). Om by die metodologie van sy geskiedenis te kom. In sy Inleiding is dit duidelik dat periodisering noodsaaklik is. Hy haal Arnold van Gennep se The Rites of Passage aan: The universe itself is governed by a periodicity which has repercussions on human life, with stages and transitions, movements forward, and periods of relative inactivity. Suid-Afrikaanse letterkunde kan dan volgens Heywood in twee fases ingedeel word: die eerste 'n wit-oorheerste letterkunde voor 1960, saam met die opkoms van swart self-ontdekking en literêre prestasies; die tweede, die periode ná 1960, toe swart skrywers leidende rolle begin speel het. Vir hom is die hoof historiese baken Sharpeville, die konflik wat op 21 Maart 1960 begin het, gelei het tot 'n noodtoestand, die aaklige gesig van apartheid aan die wêreld gewys het, en waarna die klein en geleidelike begin van politieke verandering gekom het. Dit lyk na 'n nuttige begrensing van periodes - ook as mens die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde in ag neem ten opsigte van die ontstaan van die "beweging" van Sestig. Die Inleiding is komparatisties, verstrek belangrike gegewens, en getuig van 'n wye belesenheid. Daarna volg Deel I, Towards Sharpeville, en Deel II, Transformation. Binne hierdie twee dele is hoofstukke met afdelings binne hoofstukke. Uit hierdie afdelings kan mens sy klassifikasie van tekste vasstel. Om dit te probeer vasstel word 'n verkorte oorsig gegee, gelees van die afdeling-hofies. Die Inleiding het afdelings oor Suid-Afrikaanse gemeenskappe, konflik en letterkunde, ideologie, métissage (hy verkies die woord kreolisering), en geskiedenis en letterkunde. Hoofsaaklik dan die sosiale en ideologiese. Deel I begin dan. Hoofstuk 2: Poetry before Sharpeville: singing, protest, writing. Hoofstuk 3: Theatre before Fugard. Hoofstuk 4: Prose classics: Schreiner to Mofolo. Hoofstuk 5: Fiction of resistance and protest: Bosman to Mphahlele. Nou volg Deel II. Hoofstuk 6: Poetry after Sharpeville. Hoofstuk 7: Theatre: Fugard to Mda. Hoofstuk 8: Novels and stories after 1960. Om saam te vat oor die metodiek van periodisering en klassifikasie van tekste: Daar is nie 'n definitiewe onderliggende teorie nie. Periodisering is taamlik konsekwent en op verskeie wyses gemarkeer: Sharpeville, spesifieke skrywers as bakens, en betekenisvolle literêre datums (soos sestig). Groepering volgens temas, tegnieke, en sosiale omstandighede is minder skerp. Oor die beskrywings - meestal opsommend van die inhoud - van die werk van die belangrikste skrywers in Engels kan mens geen beswaar hê nie. Dít is Heywood se gebied. Mens sou wel kon verskil van sy hoofbeswaar teen JM Coetzee se werk, nl dat hy 'n neiging sou hê om te skryf oor wêrelde waarvan hy min direkte ervaring het, dat hy soms nie "outentiek" genoeg is nie ("... a lack of the fire and authenticity of La Guma, Matthews, and others ..."). Later praat hy weer van 'n "... shortage of authenticity ..." en van "comparable impossibilites". Hy neem dus nie in ag dat Coetzee baie naby aan die simboliese werk nie - soms byna by die allegoriese uitkom. Oor die volledigheid van die oorsig van die werk van skrywers in ander Afrika-tale kan mens geen uitspraak gee sonder genoegsame kennis nie. 'n Vergelyking met DB Ntule en CF Swanpoel se Southern African Literature in African Languages toon dat daar redelik baie skrywers is wat nie hier betrek word nie. Maar dit kan ook wees omdat hulle werk nie verteenwoordigend genoeg is nie. Dis natuurlik te betwyfel of Heywood al dié tale ken. As mens kyk na sy oorsig van die Afrikaanse letterkunde, wonder jy hoe goed hy Afrikaans ken. Hy verwys telkens na die feit dat 'n werk vertaal is - wat natuurlik kan impliseer dat hy van vertaalde tekste gewerk het. Dit is nie verkeerd nie, behalwe dat jy dan nie by alles kan uitkom nie, en daar is bitter min Afrikaanse poësie vertaal - veral die onvertaalbare gedigte, soos Breyten s'n, byvoorbeeld. Dis nodig om te wys op die leemtes ten opsigte van die Afrikaanse letterkunde in hierdie literatuurgeskiedenis - al sal dit natuurlik weer lyk na 'n geval van die Afrikaanse letterkunde wat wil spog met die "modest achievements" daarvan, wat JM Coetzee so gegrief het. Alhoewel Heywood hier en daar na Kannemeyer se literatuurgeskiedenis verwys, is dit duidelik dat hy nie veel ag geslaan het op die hooffigure daarin nie. 'n Mens sou verwag dat 'n literatuurgeskiedskrywer kennis sal neem van gekanoniseerde tekste soos hulle deur die jare ontwikkel het. Die volgende foute is aangeteken: die Celliers van Jan het Cilliers geword (41). Die titel van Opperman se gedig is nie Die Joernaal van Jorik nie (50). Adam Small het nie Kaaps ontwikkel nie, Peter Blum (nie hier genoem nie) het daarmee begin. Die eerste plaasromans van Van Bruggen en Van den Heever het voor die Carnegie-verslag verskyn. Dit sou eerder die verslag aangehelp het (121). Dis te betwyfel of Jonker se gedig "Korreltjie sand" 'n "recasting" van Blake se "heaven in a grain of sand" is. Skryt, Breyten se verbode digbundel, vertaal nie as Stride nie (158; die etimologie daarvan is volgens Heywood van Nederlands schrijten en Afrikaans skyt. Miskien moet iemand hom sê dit kom van die kombinasie skryf, skyt, stryd). Antjie Krog is nie 'n "recently published" digter nie (175): haar eerste bundel het reeds in 1970 verskyn. Die vertaling van "Ons sal nou vrek van die ordentlikheid" uit PG du Plessis se Seder is nie "Oh Lord, respectability will get us to kick te bucket" (188) nie. Magersfontein was nie Leroux se laaste roman voor sy dood nie, en hy is nie in 1977 oorlede nie! (208). 'n Mens sou ook sommige aksente en interpretasies vreemd, selfs lagwekkend, vind. Enkele voorbeelde: die verskyning van Gert Garies in Magersfontein is 'n "klimaks" in die storie (16); "kriptiese" verwysings, soos in Raka en Joernaal van Jorik, is gedoen "under conditions of secrecy imposed by wartime and post-war tensions" (19). Verdere interpretasies oor dié twee gedigte: in Raka druk Van Wyk Louw sy skok uit oor die inval in Holland tydens die oorlog; Joernaal is geskryf in "light-hearted quatrains"; die naam Jorik, buiten die verwysing na Opperman se naam, kan ook afgelei word van York en jok (50). Buiten Raka word geen ander gedig van Van Wyk Louw genoem nie, net 'n paar dramas en 'n opstelbundel (78). Die Meulenaar van Malherbe toon allegoriese trekke, en verder is dit 'n voorstelling van die dubbelsinnige van verlange en verwerping van Europa, ens (120). Heywood sorg ook dat die politieke kant van tekste, veral ten opsigte van die Afrikaner, na vore kom. Byvoorbeeld: die literêre vennootskap tussen Elsa Joubert se Poppie en Die swerfjare van Poppie Nongena saam met die Soweto-opstand het die einde van apartheid meegebring (18). Later dieselfde: "... the collaboration of two seemingly innocuous females brought apartheid to its knees" (186). Die enigste noem van Daniël Hugo se naam is omdat hy 'n politieke gedig of twee weggelaat het uit die seleksie wat hy gemaak het van PJ Philander se poësie (67). Die impak van die Sharpeville-skietery en die opstande "... appeared openly in Rook en Oker" van Ingrid Jonker (153). Maar daar is net die een politieke gedig in ("Die kind wat doodgeskiet is ..."). Die vertaling in PG du Plessis se Seder van die grappige stukkie dialoog "is Aferkaners nou volk" as "d' you mean to say Afrikaners are people?" is ook veelseggend (187). Sekere skrywers word afgeskeep in terme van ruimte aan hulle afgestaan, en sommiges kry meer as wat hulle eintlik werd is, vergelykenderwys. Byvoorbeeld: CM van den Heever word twee keer genoem. Ina Rousseau kry byna net soveel aandag as Elisabeth Eybers. Net Boerneef se plaasprosa word genoem, sonder titels. Van Breyten word genoem die bloemlesing And Death White as Words wat jare gelede hier verbied is, en nie eers Suid-Afrika bereik het nie. Die Ysterkoei moet sweet het "umKhonto we Sizwe" gesteun en bevryding deur geweld voorgestaan. Dan noem hy Skryt en haal enkele reëls aan. Breyten en Van Wyk Louw kry bitter min ruimte. Karel Schoeman - "... one of South Africa's most prolific and scholarly writers ..." - kry 'n redelik goeie bespreking van Promised Land, maar dis al. En Etienne van Heerden se Toorberg word saamgegooi met WA de Klerk se The Thirstland, met John Philip se Researches in South Africa, en met Geoffrey Haresnape se Testimony. Die ergste is egter die uitlatings oor toonaangewende Afrikaanse skrywers. Mens kan verstaan as minder invloedryke skrywers uitgelaat word in 'n internasionale publikasie, alhoewel hulle natuurlik die spektrum van 'n letterkunde volmaak. Die volgende skrywers word nie eens genoem nie: Langenhoven, Sangiro, Toon van den Heever (Heywood moes sy sosialistiese kortverhaal "Werkstaking by die kleigat" gelees het), Keet, Wassenaar, Visser, WEG Louw, FA Venter, Ernst van Heerden, SJ Pretorius, Peter Blum, Anna M Louw, Jan Rabie, John Miles (en sy Kroniek uit die Doofpot is al in 1996 vertaal as Deafening Silence, en verfilm - en gaan een van die dae finaal gekanoniseer wees wanneer dit een van die "klassieke" van die Afrikaanse prosa word), Chris Barnard, Abraham H de Vries, Hennie Aucamp, Wilma Stockenström (en haar novelle Die kremetartekspedisie is nogal vertaal deur die Nobelpryswenner JM Coetzee), Rachelle Greeff; Haasbroek, en Strachan en Etienne van Heerden se grensverhale word nêrens genoem nie (die bloedige verhale oor jong Afrikaners wat vir apartheid geveg het. Ideologiese skietgoed!) Tussendeur al die weglatings en die min aandag gegee aan die belangrike digters (omdat Heywood nie Afrikaans goed genoeg ken om die poësie daarin te waardeer nie?) word aandag gegee aan die "abundant output" van Joan Hambidge, maar net van een bundel (Interne verhuising) geskryf, terwyl daar nou al 16 bundels van haar verskyn het . Een gedig van elf reëls daaruit bespreek hy. En Hambidge het self nie eens daardie gedig, "Interne weerstand", ingesluit in haar onlangse bloemlesing Die buigsaamheid van verdriet (2004) nie. Daar kan weinig beswaar wees teen Heywood se literatuurgeskiedenis van dit wat in Engels geskryf is. Maar wanneer dit kom by skrywers in inheemse tale, dan skiet sy werk ernstig tekort. Miskien het hy dit besef toe hy die eindsin van sy Erkennings geskryf het: "It should be needless to add that all the opinions, and any errors and omissions in this book, are my own."
Wil jy reageer op hierdie resensie? Neem deel in die debat. Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |