SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Grahamstadse fees bly ’n belangrike gebeurtenis

Herman Wasserman

In ’n toeligting tot een van die liedjies in sy enkele konsert op die Grahamstadse Kunstefees vanjaar lig Johnny Clegg sy konsertina op en vertel hoe musikante op Suid-Afrikaanse myne hierdie oorspronklik Europese instrument aanpas vir hul musiekstyl. Nadat jy die instrument teen sowat tweehonderd of driehonderd rand gekoop het, vertel Clegg, moet jy eers nog ’n paar rand uithaal wanneer jy die konsertina neem na ’n man in die mynkampong wat daarin spesialiseer om die knoppies te verskuif alvorens die instrument gereed is om Zoeloemusiek te speel.

Hierdie appropriasie en omvorming van die konsertina gebruik Clegg as ’n metafoor om te verduidelik dat Suid-Afrikaanse kuns juis so interessant is omdat dit nie netjies inpas in rigiede etniese of kulturele kategoriserings nie. Ondanks die pogings van apartheidsideoloë om kulturele en etniese skeidings as natuurlik of gegewe voor te hou, vertel Clegg, was daar nog altyd vele gemeenskaplikhede en raakpunte tussen verskillende groeperinge in Suid-Afrika, wat hy ontgin in sy musiek.

Johnny Clegg het reeds in die jare tagtig vir die eerste keer op die Grahamstadse Kunstefees opgetree; toe reeds was die fees ’n forum waar gesprekke oor Suid-Afrikaanse kultuur deur middel van kuns aangeknoop kon word, te midde van ’n groter nasionale konteks waar die vind van raakpunte juis ten sterkste ontmoedig is.

Vanjaar het die Grahamstadse Kunstefees vir die 28ste keer as so ’n forum opgetree — al het die kulturele opset in die land al baie verander en al is die fees self in ’n proses van herdefiniëring gewikkel. Omgeef deur nuwe politieke dinamika, te midde van ’n skynbaar groter wordende kommersialisering van die kunste in Suid-Afrika, en ondanks die totstandkoming van ander feeste soos dié op Oudtshoorn met ’n meer eksklusiewe karakter, het die fees voortgegaan om verskillende kunstradisies te inkorporeer, nuwe vrae te vra oor die konteks waarin Suid-Afrikaanse kuns vandag gemaak word, en gehore uit te daag om hul kulturele horisonne te verbreed. Kenmerkend weer eens van die Grahamstadse Kunstefees was die kaleidoskopiese aard daarvan: die viering van veelheid, die veronderstelling dat kuns juis te make het met voortdurende verandering en die ontsluiting van nuwe verbintenisse en moontlikhede eerder as die herbevestiging van die vertroude. Met apologie aan diegene in Stellenbosch wat nou in nóg ’n taalbakleiery gewikkel is: Grahamstad staan vir ’n idee. Hierdie idee, begin ’n mens vermoed na jy ’n paar feeste oor die jare bygewoon het, hou verband met die besef dat ’n kunstefees ’n ontmoetingsruimte skep; dat hierdie ontmoetings soms moeite verg, maar ook beloning inhou; en dat terwyl daar soveel moontlik mense uit soveel moontlik verskillende plekke na hierdie ontmoetings genooi moet word, die ruimte ’n baie bepaalde Suid-Afrikaanse een moet wees.

En al het die fees self ’n tydperk van onsekerheid betree, is hierdie idee steeds springlewendig.

Vanjaar se Grahamstadse Kunstefees het in sommige opsigte wel effens skraler gevoel wat aanbod betref. Veral wat drama betref, was daar min produksies waaroor daar werklik opgewonde geraak kon word. Die belangrikste groeipunt blyk eerder die New Music Indaba te wees, waar uitdagende kontemporêre werke uitgevoer en nuwe musikale vennootskappe gesluit word. Ook die filmfees bly ’n sterk deel van die hoof- en randfeesprogram, in so ’n mate dat ’n mens eintlik fees toe kan kom en net flieks kyk. Op die randfees is ’n groot aantal gewilde en bekende kunsflieks gewys wat wissel van Monty Python tot Wim Wenders, van David Lynch tot Stanley Kubrick, met tussendeur ook films oor die kunstenaars Frida Kahlo, René Magritte en Salvador Dali, of die advertensies wat by Cannes bekroon is. Op die hooffees is ses rolprente van die Russiese filmmaker Sergei Eisenstein vertoon, spesiale programme van onlangse Suid-Afrikaanse films aangebied, sowel as ’n reeks filmbesprekings deur Leon van Nierop. Benewens ’n verskeidenheid ander kunsfilms, waaronder ’n sestal deur vroueregisseurs uit Afrika, ’n versameling dokumentêre en kortfilms (waarvan ’n paar spesifiek toegespits is op vigsbewusmaking), is Murnau se klassieke vampierfilm Nosferatu aangebied in samewerking met die New Music Indaba, en is daar spesiaal vir dié vertoning ’n postmodernistiese, eklektiese klankbaan vermeng.

Getrou aan die Grahamstadse tradisie het politieke kwessies nie onaangeraak gebly nie. John Kani se debuut as dramaturg, Nothing but the truth, is veral entoesiasties ontvang en onder meer beskryf as ’n stuk wat Suid-Afrikaanse teatergeskiedenis maak. In dié drama, geregisseer deur Janice Honeyman, word kwessies soos ballingskap en terugkeer aangeraak vanuit die perspektief van ’n familietwis, maar ook krities gekyk na hoe postapartheid Suid-Afrika daar uitsien.

Die onreg van die verlede word minder kompleks behandel in He left quietly, met Duma Kumalo — een van die sogenaamde Sharpeville Ses wat in 1984 ter dood veroordeel is — as hoofspeler en onderwerpmateriaal. Die stuk, geregisseer deur Yael Farber, fokus grootliks op die emosionele trauma wat ’n terdoodveroordeelde ondergaan. Hoewel die teks slim omgaan met problematiek rondom die opskryf van die verlede deur die skryfproses deel te maak van die narratief (die “skrywer” van die teks is ook een van die karakters), beweeg dit dikwels naby aan sentimentaliteit en word daar nie heeltemal in geslaag om die persoonlike ervarings van Kumalo te integreer by die breër geskiedenis of die hedendaagse politieke problematiek nie. In Kumalo se geval was die persoonlike natuurlik nie te skei van die politieke nie, maar dit kon groter relevansie verkry het indien daar meer bewustelik vanuit die hede na die verlede teruggekyk is.

Die politiek van identiteit, en dan spesifiek gesien vanuit ’n postapartheid-konteks, is wel boeiend ondersoek in verskeie ander werke op die fees. Die tentoonstelling Male Order, onder die kuratorskap van Carol Brown, het deur middel van ’n versameling werke deur uiteenlopende kunstenaars die konstruksie van manlike identiteit probeer peil. In ’n inleiding tot die tentoonstelling word daarop gewys dat die einde van apartheid ’n herdefinisie van manlikheid moontlik gemaak het — ontdaan van die vertroude opposisies van Self en Ander waarvolgens manlikheid in apartheidsdiskoerse gekonstrueer is, is nuwe identifikasieprosesse aan die gang gesit. Die verskeidenheid maniere waarop opvattings oor manlikheid opnuut heronderhandel word, is vervat in werke van onder andere Zwelethu Mthethwa, Robert Hodgins, Wilma Cruise en Andrew Verster, sowel as optredes deur Peet Pienaar en Greig Coetzee, aangebied as deel van die tentoonstelling. Die tentoonstelling het ’n prikkelende jukstaposisie van uiteenlopende perspektiewe gebied — van die manlike blik van dominasie oor die landskap vervat in ’n Pierneef-werk tot die weerloosheid van die fallus in die lewelose liggaam afgebeeld in Paul Stopforth se Elegy. Hierdie jukstaposisies het egter soms ook effens gedwonge en onsamehangend voorgekom.

Brett Murray se tentoonstelling White like me het ook postapartheid-identiteit as onderwerp gehad. In groot panele wat steun op die tegniek en humor van strokiesprente, dryf Murray die spot met die verwarring van wit mense in die hedendaagse Suid-Afrika en die oppervlakkige pogings tot transformasie waardeur wit postapartheidsdiskoerse dikwels gekenmerk word. “I must learn to speak Xhosa” bid ’n priester op een van die werke, en op ’n ander een vra Petrus by die hemelpoort aan ’n wit kaalkopman in ’n strepiespak: “Say … I want to go to heaven … in Zulu”). Murray se werk is soms wel vermaaklik, maar na jy die aanvanklike grappie gesnap het, bly daar nie veel oor waaroor ’n mens kan wonder of bespiegel nie.

Veel anders in dié opsig is Terry Kurgan se installasie Lost and Found, waarin gesinskiekies reusagtig vergroot en gedruk is op deursigtige materiaalpanele wat van die dak af hang. Die teruggryp na ’n onskuldige (en ook bepaald wit) verlede, die onvermoë om herinnerings vas te pen of die verbygaan van die tyd te keer, word evokatief gesuggereer. Die beelde wat oormekaarskuif, byna verdamp as die lig daarop skyn en weerloos sweef in die tentoonstellingsruimte, is tegelyk spookagtig en ontroerend, terselfdertyd ’n teer blik op die verlede wat vir ewig verby is, maar paradoksaal genoeg steeds bly talm in die hede.

Die wyse waarop kulturele identiteit tot stand gebring word deur verhale en herinneringe het ook in The Coolie Odyssee aan bod gekom. Hierin is die aankoms van Indiërwerkers in Suid-Afrika in herinnering geroep, ’n gebeurtenis wat, so lui die premis van die stuk, die komplekse identifikasieprosesse aan die gang gesit het wat tot vandag in dié gemeenskap voortduur.

Die rol wat vroue speel in die oordrag en vorming van gemeenskappe se kulturele identiteit is ook belig in Andrea Dondolo se Beading my Soul, wat die vleg van kralewerk gebruik as metafoor vir die kreatiewe prosesse waardeur identiteit tot stand gebring word.

Vanjaar was The Studio, ’n projek gekoördineer deur Janet Buckland waar Oos-Kaapse gemeenskapskunstenaars hul werk aanbied, weer deel van die hooffeesprogram. In ’n produksie soos Potjie Grahamstown is daarin geslaag om die slaggate van ’n eksotiserende aanbieding van Xhosadanse en -kos (’n maaltyd is ingesluit by die vertoning!) te vermy en gewoon op uitbundige en vaardige wyse ’n verhoog te bied aan musiek, dans en toneelspel uit die Grahamstadse gemeenskap.

Dieselfde is ongelukkig nie gesê van Zakes Mda se stuk The Bells of Amersfoort nie. Mda se sukses met Love and Green Onions (’n verwerking deur Michael Williams van Mda se roman Ways of Dying) verlede jaar het gehore met verwagting laat uitsien na sy jongste werk, ’n koproduksie met die Nederlandse teatergeselskap De Nieuw Amsterdam. Dié verhaal klink reeds op papier onoortuigend: ’n Suid-Afrikaanse balling maak in Nederland kennis met ’n Afrikaner-dominee wat voorheen ’n polisieman was wat haar gemartel het maar op ’n WVK-verhoor tot bekering gekom het. Die stuk, wat musiek en dans inspan, is deur resensente gekritiseer as clichématig, melodramaties en slagspreukagtig.

Ander produksies wat met kritiese voorbehoude begroet is, is Lara Foot Newton se produksie van Tennessee Williams se bekende A Streetcar named Desire. Hoewel die aanbieding stylvol en die toneelspel (veral deur Vusi Kunene as Stanley Kowalski en die effens te jong Moshidi Motshegwa as Blanche DuBois) sterk was, was die verplasing van die stuk na Sophiatown inkonsekwent en daarom hinderlik. Die dekor en musikale inkleding was wel oortuigend, maar terwyl daar byvoorbeeld Xhosa- en Afrikaanse frases ingevoeg is, word die Amerikaanse milieu steeds geaktiveer deur verwysings in die teks. Vir sitvoos feesgehore kon die stuk ook doen met inkorting.

’n Interessanter produksie, wat tegniese verwerking en aanpassing betref, was William Kentridge en The Handspring Puppet Company se multimedia-verwerking van Italo Svevo se roman Confessions of Zeno, met Dawid Minnaar in die hoofrol. Met behulp van skadupoppe, filmbeelde en musiek van Kevin Volans (uitgevoer deur die Sontonga Quartet en die sangers Otto Maidi, Lwazi Ncube, Pumeza Matshikiza, Linelle Wimbles en Joyce Mogoloagae) is ’n indrukwekkende oudiovisuele vertoning bewerkstellig. Nietemin is al die komponente, hoe goed hulle ook al uit eie reg is, nie oortuigend genoeg tot ’n geheel gevoeg nie en het die grootskaalse produksie nie daarin geslaag om ’n mens volledig te oorrompel nie.

Wat leemtes betref, sou ’n mens ook kon vrae vra oor die insluiting van ou werke soos Paul Slabolepszy se Mooi Street Moves en Noel Coward se Private Lives op die hooffeesprogram eerder as opwindende nuwe werke. Op die randfees was daar ook heelwat musikale huldeblyke en produksies wat op die oog af gemik is daarop om munt te slaan uit ’n skurwigheidjie of twee.

Op die randfees het die uitstekende Chasing Chairs, met Sue Pam-Grant en Marcel van Heerden, geregisseer deur Clare Stopford, egter uitgestaan. Dié skerpsinnige komedie oor huweliksproblematiek het verskuiwende genderrolle en die hedendaagse idees oor die huwelik oortuigend en vermaaklik te berde gebring.

Dus: ja, daar was leemtes wat die feesprogram betref. Daar is steeds onsekerheid oor volgehoue borgskappe. Maar daar was ook heelwat om ’n mens positief te stem. Nie die minste hiervan nie is die inklusiwiteit van die fees — anders as op talle ander kunstefeeste is die gehore nie oorwegend wit nie en die plaaslike en omliggende gemeenskap is betrokke by verskeie produksies. Daar is ook ’n mate van diversiteit wat taal betref — ’n hele paar Afrikaanse produksies was te sien, waaronder Jana Cilliers in Opdrag Ingrid Jonker, Valiant Swart by Safm se Taphuis-konsertreeks en die nimlike Dowwe Dolla, en ’n paar Afrikaanse skrywers is ook betrokke by die literêre program Wordfest. Maar soos medefeesgangers tereg opgemerk het, sou ’n mens graag ook wou sien dat meer Afrikaanse dramaturge en akteurs ook hier hul werk kom aanbied en nie net op die Afrikaanse kunstefeeste nie, en moet daar ook gepoog word om stukke in ander inheemse tale op die fees aan te bied. Dit sou die unieke kenmerk van die Grahamstadse fees, naamlik die reeds genoemde uiteenlopendheid, die heterogene Suid-Afrikaansheid van die aanbod, nog verder versterk.

Die Grahamstadse fees bly ’n belangrike gebeurtenis, ’n instelling waarsonder Suid-Afrika nie behoort klaar te kom nie. Dit is tyd dat die feesorganiseerders gaan sit en besluit wat dié fees se rol in die toekoms gaan wees, opnuut duidelikheid kry oor die definisie, skopus en aard van die fees, en dit dan deeglik gaan bemark.

Want waarheen anders sal ’n mens dan nou jou kulturele konsertina wil neem vir die nodige verstelwerk?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.