|
Grahamstad: wie soek, sal steeds vindHerman WassermanDaar is n effense huiwering aan die manier waarop feesgangers vanjaar reageer as jy, n laatkommer wat eers kwartpad deur die fees op die dorp opdaag, hulle vra oor hul indrukke van die Grahamstadse kunstefees vanjaar. Enersyds is daar so n bietjie somberheid te bemerk veteraan-feesgangers wat half treurig opmerk dat dit langer geneem het vir die geroesemoes in die strate en kroeë om op dreef te kom as vorige jare, dat die program effe maerder is as in die verlede, dat daar minder van n gezoem is oor opwindende aanbiedinge. Andersyds is daar ook juis n huiwering om negatief te klink oor n fees met so n groot geskiedenis, een wat nog altyd daarin kon slaag om sterk hoogtepunte uit diverse kunstradisies bymekaar te bring. Daar is so iets soos selfvervullende opinies: as genoeg mense opmerk dat die fees vir hulle stiller voel, sal dit waarskynlik ook al hoe stiller word, omdat mense sal begin besluit dat dit nie die moeite werd is om die uittog aan te pak na die dorpie tussen die heuwels nie. En dít sal selfs liefhebbers van hierdie unieke fees ten alle koste wil vermy, watter nostalgiese gevoelens hulle ook al mag koester oor feeste wat na hul mening groter en besiger was. Die huiwerige gevoel het grootliks te make met die verlies van die hoofborg, Standard Bank, wat verlede jaar aangekondig het dat hoewel hy nog vir die volgende twee jaar as borg betrokke sal wees, hierdie betrokkenheid afgeskaal sal word. Dit het nie net vrae laat ontstaan oor die lewensvatbaarheid van die fees in die toekoms nie, maar het ook n sielkundige knou toegedien wat mense vertroue laat verloor het in die vanselfsprekendheid van so n groot nasionale aangeleentheid. Die voorsitter van die feeskomitee, Mannie Manim, het egter na berig word, vroeër vandeesweek die versekering gegee dat die twee grootste borge, Standard Bank en die Oos-Kaapse regering, nog vir die volgende twee jaar verbind sal bly aan die fees. Hy het bygevoeg dat vanjaar se feesbywoning verlede jaar sn volgens vooruitskattings sal ewenaar. Laat ons dit dan, broeders en susters in die Grahamstadse geloof, vir mekaar duidelik sê: daar is nog oorgenoeg rede om fees toe te kom. Wat hooffees-toneel betref, is daar werk van gerekende kunstenaars soos Zakes Mda (n nuwe drama genaamd The Bells of Amersfoort), John Kani (Nothing but the Truth), Pieter-Dirk Uys (Foreign Aids) en Lara Foot Newton (n aanpassing van Tennessee Williams se A Streetcar Named Desire). Andrea Dondolo se Beading my Soul het ook al grootliks goeie kommentaar ontlok. Daar word ook reeds gepraat oor die randfeesproduksie Chasing Chairs, met Marcel van Heerden en Sue Pam-Grant en geregisseer deur Clare Stopford, waarin die hedendaagse huwelik komies ondersoek word. Wat beeldende kunste betref, lyk Brett Murray (vanjaar se Standard Bank Jong Kunstenaar vir visuele kunste) en Terry Kurgan se tentoonstellings interessant, maar dis Male Order n tentoonstelling deur verskeie kunstenaars wat Suid-Afrikaanse manlike identiteit ondersoek wat veral opspraak verwek. Miskien kos dit bietjie meer snuffel om die uitsonderlikhede raak te sien in n program wat ook maar, onder kommersiële druk, dikwels neig na onder-die-belt grappighede en musikale huldeblyke. Maar wie soek, sal steeds vind, selfs in n stiller Grahamstad. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |