|
Oranje blanje blues - 'n nostalgiese tripAndries Gouws
Max du Preez.
In 'n kroeg-konteks: Skielik is besluit om shooters te drink. Effens laat. Effens bitter. Beslis nie goed nie. Op die eerste een: Fonts: Baie Times New Roman. Foto's: Swart-en-wit. Kleure: Magenta. Oranje. Wit. En blou. Die houding: Hardegat/humoristies. Die opskrifte: Mandela: 'n Nuwe era. Slovo en die Boere. Dis November 1988. Effens bitter. Nogal goed. Koos Kombuis sing destyds: "As Afrikaans net kon dans ... en die NP beweeg." Miskien die twee elemente waarmee Vrye Weekblad die meeste behep was. Maar net "beweeg" was nooit goed genoeg nie. Van die begin af was die bedoelings duidelik. Spotprente: Die keiser - PW Botha - is kaal. 'n Minister gaps geld uit 'n kollektebordjie. Geloftedag is nie bloot 'n vakansiedag nie. Dis tyd vir filosofeer: Wat presies is 'n Boer? En was dit eintlik Bullshit? Dit alles … verpak elke Vrydag. Om te lees in die veiligheid van 'n wit woonbuurt. (Net wiskunde-huiswerk gooi 'n skadu oor die naweek.) In my geval, in elk geval. Oranje blanje blues probeer nie 'n volledige geskiedenis weergee nie. Eerder 'n paar kernpunte. Hoofstuk 2 gaan byvoorbeeld oor Kerkorrel, die verbod op die Voëlvry-toer en iemand wie se naam toe nog André Letoit was. (Daardie einste Voëlvryers het in 1992 by Houtstok gerock. Vrye Weekblad had dié naweek honderde kruisies op die voorblad: “Die oes van die totale aanslag - hoe gemaak met staatsmoordenaars?” Nietemin was Black Label-bier en vry-planne 'n groter prioriteit.) Die boek bied baie om na te kyk – treffende blaaie, plakkate, foto's en sketse – en net genoeg om te lees. Die nostalgiese trip is beslis die moeite werd. Soos die eksklusiewe onderhoud met dr Verwoerd in die hiernamaals. Hy praat oor Apartheid: "Man, Vorster en Botha, die arme swape, het gedink ek was die groot ideoloog en filosoof en hulle moes my navolg. Hulle was te domonnosel om te besef dit was net 'n interessante eksperiment ..." Asook 'n ontmoeting met Nataniël in 1992: "Hello, kan ek jou interview?" "Wie's jy?" "Charl Blignaut. Ek werk vir Vrye Weekblad." "Jissis fok, jou fokken koerant gaan ek sink voor die maand op is ..." "Wag, ek wil dit neerskryf." Later is die Times New Roman-voorblaaie verruil vir wonderlike tydskrif-ontmoet-tabloid-voorblaaie. Elvis. Sarajewo. FW. Leon Schuster. Hoekom nie? Daar was altyd iets uitdagends. Deesdae klink dit soms of al meer Suid-Afrikaanse hoofstroompublikasies eintlik destyds hul tyd ver vooruit was. As die ander dus kastig binne die Hitler-konteks die oopkop, logiese Albert Speer was ("Moenie die bome afkap in die laaste dae nie! Laat staan die fabrieke!"), was Vrye Weekblad sekerlik 'n Josef Goebbels in linkse gewaad. Met 'n sin vir humor en sinkonstruksie. Die Goebbels wat gepropageer het: Eintlik is almal in hierdie land baie nader aan mekaar as wat jy dink. Die beginsel van objektiwiteit was nie “Alle leuens dra dieselfde gewig” nie. Eerder: “Wie lieg?” 'n Oudredaksielid skryf oor Max du Preez: "Ons moes soms baklei en konkel en tande kners, maar onder hom kon jy skryf wat jy nooit kon droom om elders te skryf nie." Daar was onthullings oor moordbendes, die Derde Mag en Lothar Neethling en sy gif-appels. Wat 'n mens laat wonder: Is daar nie meer vandag dinge om oor kwaad te raak nie? Om oor woedend te raak nie? Terug na Nataniël en die joernalis: "Het jy ten minste van die show gehou?" "Ja, ek het dit baie gelaaik." "Dis 'n nice ou showtjie, nè?" "Ja, dit is."
Dit was. Die afwagting op Vrydae – om te sien wat Vrye Weekblad dié keer gaan aanvang. Ja, dit was.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |