|
Is dit aanvaarbaar om ‘n dubbele standaard te hê?Amanda GouwsEk het jare gelede my lidmaatskap van die NG Kerk opgegee oor wat ek as die liefdeloosheid en die gebrek aan naasteliefde van die NG Kerk onder die apartheid regering ervaar het. Ek is nou ‘n lidmaat van die United Presbyterian Church in Stellenbosch. Die uitspraak van die Ring van Kaap die Goeie Hoop het weer eens vir my bevestig dat ek destyds die regte besluit geneem het. Na lang gesprekke en besinning het die Algemene Sinode onlangs laat blyk dat seksuele oriëntasie ‘n komplekse vraagstuk is en dat hulle nie ‘n algemene beleid daaroor kan aanvaar nie. Dit lyk nou asof die Ring van die Kaap van Goeie Hoop, deur van Gaum ‘n voorbeeld te maak, ‘n mosie van wantroue in die Algemene Sinode se besluit uitspreek. Die feit dat die Handves van Regte in die grondwet daarvoor voorsiening maak dat daar nie teen gays gediskrimineer mag word nie, het blykbaar geen indruk op die Ring gemaak, of begrip gekweek dat hulle ongrondwetlik optree nie. In feministiese literatuur word daar gepraat van die verskynsel van “compulsory heterosexuality”, wat beteken dat omdat die meeste mense heteroseksueel is en heteroseksualiteit die norm is, daar van almal verwag word om heteroseksueel te wees. Dit maak die stemme van gays stil en reproduseer homofobie. Dit is egter so dat daar ‘n hele spektrum seksuele identiteite op die spektrum tussen heteroseksueel en homoseksueel bestaan, maar dit is ‘n taboe om daaroor te praat. Volgens die Ring is homoseksualiteit ‘n sonde (soos rasse-integrasie ‘n sonde was) en is die kerk inderwaarheid voorskriftelik oor watter tipe lewenstyl ons as Christene moet hê. Homoseksualiteit moet dus verdoem word, en daarmee saam die mense wat dapper genoeg is om openlik gay te wees. Per definisie is hulle dus nie Christene nie. Waarin die kerk slaag, is om ‘n boodskap aan sy gay lidmate te stuur dat hulle liewer maar in die kas moet bly, of hulle op Sondae as heteroseksueles moet voordoen sodat hulle nie ook uit die kerk geskop word nie. Weer eens is dit ‘n groep mense met geen ervaring van wat dit beteken om gay te wees nie, wat namens gays besluit. Laurie Gaum is ‘n dominee, een van die leraars van die NG Kerk, maar deur ‘n proses van “othering” is hy verminder sodat hy nie gesien word as “om soos ander leraars te wees nie”. Hoekom kan die NG Kerk nie diversiteit binne eie geledere “embrace” nie? Laurie Gaum se preke het nie net tot gays gespreek nie, maar ook tot heteroseksuele mense. Ek is seker Gaum weet watter prys ‘n mens vir ‘n gaylewenstyl binne die NG Kerk moet betaal en tog het dit hom nie gekeer om gay te wees nie. Vir die meeste gays is hul seksuele oriëntasie nie ‘n keuse nie. Ek het ‘n groot gay vriendekring, en die meeste van hierdie vriende is in langtermynverhoudings. Deur hierdie vriendskappe het ek as mens gegroei, het ek insigte en lewenswyshede ontdek wat ek nie by my heteroseksuele vriende sou kon kry nie, omdat marginalisering mense op ‘n ander manier na die lewe laat kyk. Ek het deernis en liefde ervaar, omdat homoseksuele mense dikwels meer as ander mense weet wat verwerping beteken. As die NG Kerk dus so verdoemend wil wees, sou ek vra dat dit konsekwent in sy verdoemenis is en dat dit geweld teen vrouens verdoem en daarmee lidmate wat hul vrouens en kinders slaan, uit die kerk sal skop. (Of skop die kerk mense uit eers nadat hulle ’n “openbare skande” oor die kerk gebring het?) Dat die kerk ook die lesers van pornografie sal uitskop (miskien sal die kerke dan nie meer naasteby so vol wees nie). Dat die kerk die heteroseksuele lidmate wat egbreuk pleeg, sal uitskop. Is al hierdie goed nie sonde volgens die NG Kerk nie? Of is dit aanvaarbaar om ‘n dubbele standaard te hê?
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |