|
Kunstefeeste: onderskei tussen kuns en vermaakFloyed de VaalIn ‘n onlangse opiniepeiling het die redaktrise van De Kat, Louine van der Vyver, gevra of “… daar enigiets werklik vernuwend of grensverskuiwend op die kunstefeeste (was) hierdie jaar”. Na aanleiding hiervan wou sy verder weet of “… die standaard van die uitvoerende kuns stagneer of selfs degradeer”. Om te kan sê of daar enigiets grensverskuiwend plaasgevind het op die kunstefeeste sal daar eers bepaal moet word na watter grense hier verwys word. Alhoewel kunstenaars normaalweg skep vanuit onmiddellike indrukke op hulle persoonlike ervaringsbewussyn, is alle kunswerke wat blootgestel word aan die publiek, ook onmiddellik deel van ‘n groter gesprek. Dit is tog deur die toetrede tot ‘n tweerigtinggesprek dat die funksie van die kunswerk gepeil word en daar waarde aan ‘n werk geheg word. Geen kunswerk, en geen kunstefees, word vrygespreek om as ‘n losstaande eiland ‘n reeks van eie reëls of kriteria te skep waaraan die produkte wat dit voorlê, gemeet word nie. Tog het beide kunstefeeste (ek verwys na die KKNK en Aardklop), as die grootste afsetgebied van spesifiek dramatiese werke, wel tendense tot stand gebring wat dalk beskryf kan word as “kunstefees-tipes”, onderworpe aan spesifieke kriteria en interpretasies. ’n Unieke eienskap van beide die “groot Afrikaanse feeste” is dat hulle as gevolg van hulle monopolie as afsetgebied van kreatiewe werke geïnkubeer geraak het en eie standaarde wat as maatstawwe en rigtingwysers dien, gekweek het. Hierdie twee betroubare vertoonhuise ding sekerlik tog in ‘n mate met mekaar mee, het prominente, dog afsonderlike “Afrikaanse kunstefees”-karakters en is beslis vergelykbaar met betrekking tot standaarde en uitsette. Tog kom dit voor asof daar min, of selfs geen, sprake van vergelyking of werklike mededinging in die volksmond of deur publisiteitsagentskappe is nie. Die waarde van die feeste en die doelstellings wat beide voor oë hou, maak dat beide unieke aangeleenthede is, gemik op spesifieke markte wat bevredig moet word. Op vele terreine, waaroor ek hier onder verder sal uitbrei, is die kunstefeeste op eie bodem veel eerder koöperatiewe instellings wat nie noodwendig daarop ingestel is om primêr aktiewe kultuur te bevorder nie. Die feeste volg eerder ‘n resep waarvolgens die groter publiek gelukkig, gemaklik en gevoed gehou word. Dit kom tog voor of die gebruikersnaam kunstefees die publiek lok en die kleinerige handjievol werknemers gelukkig hou en motiveer om ‘n maand en ‘n half per jaar af te staan aan ‘n “betekenisvolle” kulturele onderneming. In die agt jaar wat ek die kunstefeeste al bywoon, was daar niks grensverskuiwend ten opsigte van die fees in sy eie hoedanigheid nie, en ook nie in terme van die internasionale verhoog waarteen dié hul verplig moet voel om hulself te vergelyk nie. Met betrekking tot die dramatiese kunste het die apatiese houding, wat gemaklik in “Eerstewêreldse konsepsies” lê, gelei tot ‘n verstadiging en selfs stilstand van kulturele-identiteitskepping. Maar is dit moontlik om dan aan te neem dat daar ‘n afname in die waarde van kuns by die feeste is waaraan geen aandag gegee word nie? Die feeste bly tog, na jare, steeds op die been, en lok elke jaar groter getalle belangstellendes. Het die Afrikaanse kultuur tot op so ‘n vlak verlaag dat elke bietjie, van hoe lae gehalte dit ook al is, tel? Uit my ondervinding was die feeste tot dusver nie primêr daarop ingestel om die uitsette van kritiese dialoog of vorme van kulturele kruisbestuiwing in te stel as konstruktiewe, vormende faktore in kulturele vooruitbouing nie. Dié skuheid is in ‘n mate verstaanbaar in ‘n kultuur wat in elke sin van die woord die afgelope 11 jaar op sy rug gedraai is. Miskien is die eerste stap om die weg te baan vir kulturele ontwikkeling en identiteitsvorming juis om die sekerheid van opvolgende feeste in die weegskaal te plaas deur grensverskuiwings te laat plaasvind op alle vlakke. Nie net met betrekking tot die kunste nie, maar ook op uitvoerende vlak. Ons sien steeds dat in die “demokrasie” waarin ons die vryheid gegun word om artistieke en humanitêre ideale na te streef, ‘n baie klein groep eendersdenkendes die verantwoordelikheid vir alle fasette van produksie op die fees het. Kommissies wat toegeken word, mediablootstelling, pryse toegeken, ensovoorts word, ten spyte van oogpunte wat voor die tyd uitgelê word, nie noodwendig gedoen om daadwerklike kulturele ontwikkeling voort te bring nie, maar eerder om geykte waardes in ‘n soort “veilige spel” te herbevestig. ‘n Mens kan ‘n “suksesresep” skoei op sukses as finansiële welvaart, of sukses as kritiese openbare opinie. Na aanleiding van Van der Vyver se vraag of daar enigiets grensverskuiwend plaasgevind het, wil ek ‘n uitleg gee van die basiese karakter van die oorgrote meerderheid van produksies op Aardklop dié jaar. Die fees het meestal dramatiese vertonings met tussen 2 en 5 akteurs/aktrises op die verhoog gehad. Die meeste stelle was minimalisties. Die meeste het geen unieke klankbane gehad nie. Produksies het dikwels ‘n “token” swart of bruin persoon op die verhoog gehad. Die meeste werke is op konvensionele geskrewe tekste gebaseer. Die meeste vertonings was 'n uur lank. Die meeste vertonings het deur middel van ‘n poster geadverteer. Die meeste vertonings het op ‘n verhoog, in ‘n saal, plaasgevind. Die meeste se sukses is bepaal deur die teenwoordigheid van 'n groot ster (meermale met televisieblootstelling), of komiese/toilethumor. Die meeste was in die realisme-genre, of wisselvorme daarvan. In die meeste van die vertonings was die gehoor weggesny en afgesluit in 'n donker ouditorium. Sou “grensverskuiwend” nie impliseer dat die basiese formaat van die dramatiese werke uitdagend en aanpassend teenoor die bogenoemde norme sou wees nie? Lê die fout dan in hierdie geval by die kunstenaars eerder as in die hande van die organiseerders? Of het die organiseerders ook ‘n aandeel in die aanspoor van grensverskuiwende werke? ‘n Verdere, en miskien meer ontlokkende, vraagstelling sou wees of hierdie formaat noodwendig die dramatiese kuns as sodanig omvat? Of beskryf dit net die fees se uiteenlegging, waarbinne grensverskuiwende werke moet plaasvind? Is die strukturering van elemente soos bogenoemde aangebore in die mens se aard as dit kom by toneelspel? Om te bepaal waarom die vermaaklikheidsverhoë propvol is, en die teaters dolleeg, sal sosioloë, psigoloë, filosowe en teaterpraktisyns maande lank kan besin oor die wese van elke tersaaklike element en die daadwerklike funksie van kuns in die geheel moet blootlê. Ek gaan ‘n klip in die bos gooi, maar na aanleiding van bogenoemde klink dit nie of die bierdrinkende “mob” regtig so dom is nie. Hulle klink eerder verveeld. In Saartjie Botha se LitNet-artikel “Sokkies optrek” verhaal sy ‘n gebeurtenis op straat wat alle grense van wat teater kan wees en tot dusver in Suid-Afrika was, bevraagteken en uitdaag. Dit is duidelik dat daar ‘n ongelooflike oorstimulasie van sintuie plaasvind op die algemene feesterrein, of wat selfs die fees se SSK genoem kan word. Uit ‘n algemene feesganger se oogpunt is dit wat hulle op so ‘n gebeurtenis kan verwag en teëkom. Daar's 'n oormaat mense. Jy kan nie alleen voel nie, jy kan iemand sien wat jy ken, jy kan iemand nuuts ontmoet. Ons is uit en uit 'n verbruikersgemeenskap. Daar word op groot skaal handel gedryf op elke vlak van sosiale omgang. Die sintuie word verhelder en verblind. ‘n Oormaat mooi liggies, vroueborste, vleis, drank, klanke, geure, keuses, word aangebied. Tog bestaan die illusie steeds dat jy besig is om aan jou eie kultuur te bou deur so 'n oorstimulasie van die sintuie. Maar dit kom eerder voor asof ons ‘n kultuur probeer beskerm deur onsself te verdoof. Die meeste feesgangers daag nie op om van kultuur in die algemeen, of van ander kulture, of selfs van ons eie te leer en intieme ontmoetings te hê nie. Dit kom eerder voor asof hulle daar is om die bietjie wat daar oorbly, met versadigdheid aan te gaap. In Nederland word Koninginnedag elke April gevier. Elke moontlike kultuurproduk van die tyd toet af kan aanskou word en selfs aan deelgeneem word. Ek dink nie ‘n mens kan sê dat die Nederlanders enigsins minder moes veg of steeds gaan veg teen “invallende” kulturele intervensie nie. Tog is hulle identiteit sterker gemanifesteer as ‘n blote taalverskynsel of leerhoed wat herinner aan die plaas. As ons die verbruikerskultuur as ‘n vertrekpunt neem, raak dit op die oog af duidelik hoe ‘n identiteitskrisis gelei het tot ‘n slaafse navolging van die Amerikaanse kultuur. Daar is nie meer boeresport (of selfs 'n variasie daarvan) nie; die vermaaklikheidsverhoë is vol mense wat vervlakte lirieke uitbasuin, ondersteun deur 'n “back track” wat dieselfde klink as enige oorsese popster se jongste treffer. Daar is waaragtig nie eens boeremusiek nie. Die kunste is gevestig en funksioneer binne ‘n tekenstelsel gemanifesteer en ondersteun deur 'n sekere sosiale groepering, in hierdie geval dié van 'n hele kultuur. As ons nie ons kultuur kan definieer in terme van herkenbare tekens geproduseer binne sy kulturele produkte nie, hoe kan ons bepaal of die kunste verswak of nie? Dit kom voor of die verswakking, na aanleiding van die bogenoemde, al veel verder gevorder is as wat die meeste besef. In my vorige artikel vir LitNet, wat gehandel het oor die KKNK 2005, het ek genoem dat die Suid-Afrikaanse, en dan spesifiek Afrikaanse, “sterre-stelsel” wel in plek is en dieselfde afgodery tot gevolg het as wat ons oorsee sien. Nietemin is die ondersteunersgetalle baie klein vergeleke met Europese en Amerikaanse markte. Ons kultuur integreer hierdie Westerse sterre-stelsel ook ten volle. Die reperkussies hiervan loop ver en diep. Ek wil graag ‘n voorbeeld bied, ter ondersteuning van die tipe vervlakking van ‘n kultuur se kunstige uitsette. Een van ons mees begaafde jong talente, Neels van Jaarsveld, was te sien in Verkeer, Le Chat Noir en Wit Sneeutjie en die dwergreus, wat hy ook self geskryf het. Sy bekendste rol op verhoog tot dusver is dié van Uys Krige in Goue seun, waarvan Marthinus Basson die regie behartig het. Die rol het van hom 'n bekende naam in teaterkringe gemaak. Tog word hy die "Eish-man” genoem in kunstefeesresensies en profielonderhoude, nie die "Uys-man" nie. Selfs by 'n KUNSTEfees word nie 'n flenter omgegee oor die intellektuele vermoëns of kunstige integriteit van die kunstenaar nie. “Hy's die china van die brannas ad.” Kan ons verder gaan en vra of die kunstefeeste ‘n insiggewende bydrae tot die kultuurfront gelewer het tot op hede? 'n Bydrae is dan sekerlik in hierdie konteks 'n soort verwerkliking en vooruitbouing wat teweeggebring word deur uitdagings en blootstellings op verskillende terreine. Hierdie interaksies word geïnisieer en uitgevoer in georganiseerde opsette wat ‘n kultuurdefinisie blootlê, en wat op dié wyse ‘n dinamiese entiteit skep wat op sy eie en in aanraking met ander kulture ‘n waardige voortbestaan kan volg. Die kunste self speel 'n essensiële rol in alle fasette van enige gemeenskap. Die kultuurprodukte wat op 'n georganiseerde vlak tentoongestel word, sal dié wat daaraan blootgestel word, op elke vlak van sosiale omgang op een of ander wyse beïnvloed en hopelik verryk. Maar die kapasiteit van 'n groepering (in hierdie geval die kunstenaars) om 'n gemeenskap te lok, te bevredig en uit te daag is 'n tweerigtingstraat van gee en ontvang. Hierdie verhouding is nie duidelik op die “Afrikaanse” kunstefeeste nie. Daar is dalk nie 'n groot genoeg onderskeid tussen kuns en vermaak nie. Alhoewel die twee mekaar in hul definisies omvat, is hulle uitkomste verskillend, op allertreffende wyse. Voordat ek ‘n gevolgtrekking maak, wil ek graag ‘n unieke gebeurtenis meedeel wat hom hierdie jaar by Aardklop afgespeel het. Die insident het so om en by 20h30 die Woensdagaand van die fees langs die “Gooi Mielies”-stalletjies plaasgevind. 'n Sanger van Ligte Afrikaanse Musiek was besig om sy heupe ritmies so hard as moontlik die lug in te pomp op die ritme van musiek met die woorde, "gooi hom, gooi hom, gooi hom” (ad infinitum). Skielik het hy vooroor gebuk en vir sy “band” (die platejoggie) beduie om 'n oomblik te stop. Die platejoggie het “Pause” gedruk, en ons man het die woorde, "Jirre, ek't nou miltsteek," gekreun. Op hierdie stadium het die hordes belangstellendes bloot die diepte van die tentflappe ingestaar. Hy het sy driekwart leë glas donkerige konkoksie gegryp en besluit hy “gooi hom” by sy keelgat af. Hy het grotendeels sy keelgat gemis, en sy drankie het op sy hemp (wat lees: “Nie mooi nie maar maklik”) beland. In reaksie hierop het hy gesê: "Ag, dit maak nie saak nie, gooi hom Dave." Dave het “Play” gedruk en ons man en sy lirieke het weer die markiestent gevul. Op ‘n manier sluit dié storie seker aan by Saartjie Botha se artikel, wat handel oor haar ondervinding met “impromtu” teater in Kloofstraat, Kaapstad. Die feesgangers sien waarskynilik die interessantste teatrale oomblikke reg rondom hulle. Almal is besig om te observeer en in te neem. Of hulle die gebeurtenisse interpreteer en analiseer, is ‘n ander saak. ‘n Insident van dié aard is inderdaad werklik snaaks, maar ek hoop kommerwekkend ook. Die meeste konvensionele teaters in Suid-Afrika is steeds van so ‘n aard dat dit jou laat dink jy sit in die kerk as jy die gebou binnegaan. Tog laat ons gesiene stuurmans en -vrouens dit toe dat die erns van ons kulturele gemeensaamheid besoedel word deur gebeurtenisse wat dragster mechanics op ‘n plattelandse skou sal laat skaam kry. Ek wil graag ‘n voorstel rig aan die organiseerders van ons twee uiters belangrike kultuurgebeurtenisse. Maak dit nie méér sin om die twee aangeleenthede van mekaar te skei nie? Sal dit nie meer sinvol wees om die kunste eerstens te laat plaasvind vir vier dae, en dan die feesviering daarna te laat plaasvind, met ‘n goeie rede daarvoor, vir die daaropvolgende vier dae nie? Is dit regtig nodig om te kyk hoeveel geld gemaak kan word in agt dae as ons reeds elke aspek van ons lewens moet rig op lewensvatbaarheid en ekonomiese welstand? Sal die kultuur as verrinneweerde en onsekere entiteit nie eerder groei in ‘n klimaat waar sy belange op die hart gedra word, en nie gedeel word met opponerende entiteite nie? Vir kunstenaars, reeds van die vroegste tye af, was die lewe nog nooit 'n “bed of roses” nie. Die kunstenaar word geroep om ‘n kritiese reis mee te maak waarvan sy kunstige instelling en kulturele opset die roete bepaal. Kunstenaars is dikwels krities en oorgevoelig. Hulle beweeg in die donker poele van kreatiwiteit en ontbloot die implisiete teks van ons alledaagse bestaan. Hulle probeer die ingewikkelde, die onverstaanbare, oordra in ‘n vorm wat kommunikeer met die siel én verstand. Dit is tog Langenhoven wat geskryf het: “Vir jouself beklee jy ‘n beroep, vir jou medemense beklee jy 'n roeping.” In Bloemfontein, voor die Landboudepartement, staan daar:” ‘n Land wat sorg vir sy boere sorg vir sy toekoms.” As ons die kultuur bewerk met ons kuns, is die land nie ook verantwoordelik om na die kunstenaars se belange om te sien nie?
Floyed de Vaal is ‘n dosent in Drama aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is ook ‘n vryskutakteur en -regisseur.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |