SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.



Lesingreeks, KKNK 2004

 

Floors Strauss

is sekretaris van die Richtersveld Gemeenskapseiendomsvereniging.

Die grondvraag is die grondvraag: Grond en demokrasie in Suid-Afrika

Floors Strauss

Wat is grond?
Grond gee aan iemand identiteit, maar die wegneem van grond stroop ook iemand van menswaardigheid.

Grond is ’n belangrike faktor in die siklus van voortbestaan. Grond is ook ’n element wat gebruik is en nog steeds gebruik word om die toekoms van mense te bepaal en wat baie hartseer veroorsaak het en dit nog steeds doen. Daar is niks so wreed as om iemand van sy geboortegrond te ontneem, die grond waarop hy/sy die eerste tree geloop het nie, die grond waarin die voorgeslagte nou in naamlose grafte rus nie.

Ek deel met u die storie van die Richtersveld en hoe die vraag na grond twee verskillende groepe mense verenig het in ’n hegte gemeenskap en hoe demokrasie uiteindelik die wenner was.

Geskiedenis van die eksodus van die Bosluis-Basters
Baster is ’n neerhalende term wat in die verlede algemeen in gebruik was om na mense van gemengde kleur te verwys. Die Bosluis-Basters se geskiedenis strek terug tot die tyd dat die eerste Europeërs voet in die Boesmanland gesit het. Gedurende die 1960’s stuur Jan van Riebeeck ontdekkingspanne na die Namakwaland op soek na koper en edelgesteentes. Hierdie mans, prospekteerders en soldate, kom in kontak met die plaaslike Khoi-Khoi-bevolking en kort daarna word die eerste Euro-Khoi-kinders gebore. In die dekades wat volg, en met die konstante invloei van boere van Europese herkoms, groei die getalle van die sogenaamde Basters en vorm hulle uiteindelik ’n los gemeenskap bestaande uit trekboere en ongeskoolde plaasarbeiders. Mense met geen grond om met hul vee te wei, mense met geen grond om hul huise te bou. Selfs geen skole of ’n kerk om hul godsdiens te kan beoefen nie. Van die begin af was daar vir die Basters geen twyfel omtrent die werklikhede van rassevooroordeel en -veroordeling nie. Hulle is deur beide die Europeërs en die Khoi-Khoi verwerp, en oorgelaat aan hul eie lot en genadelose onderdrukking.

Die Basters was uitgeworpenes, maar hulle het die name van hul vaders behou — Cloete, Strauss, Uys, Rossouw, Farmer, Diergaardt — en was geforseer om in die soomgebiede van die wit gemeenskappe te bly, beswaarlik welkom. In 1903 tref die eerste van die euwels van rasseskeiding hulle. Die Basters word verbied om God in die wit kerke te dien. Vir hierdie nomadiese trekboere, versprei oor die vlaktes van die Boesmanland, was hierdie nie net die oorsaak van geestesverarming nie, maar dit het ook gelei tot ongeletterdheid, mans en vroue wat buite die eg moes saamlewe, kinders wat nie gedoop kon word nie en hul oorledenes wat in naamlose grafte in die veld agtergelaat is.

In 1927, toe die Basters hulself in ’n geestelike en emosionele woesteny bevind, kom ’n blanke man met die naam Meyer — hy was met ’n kleurlingvrou getroud — tydelik tot hul redding deur vir die Basters ’n morg grond op sy plaas, Bosluis, te gee. Hier het hulle ’n nederige sinkkerkie gebou en toe bekend gestaan as die Bosluis-Basters. Van heinde en ver het die Bosluis-Basters twee maal per jaar opgetrek na hul kerkie om hul God te dien, te trou, te doop en met mekaar sosiaal te verkeer.

Terwyl hulle hier langs Bosluis se dorre wit soutpan ’n helende geestelike hawe gevind het, het hulle materieel agteruitgegaan en stelselmatig verval tot ’n ongekende vlak van armoede. Die wit boere het natuurlik ook in hul getalle gegroei, grond het al skaarser geword en gou is die nomadiese Basters gesien as ’n bedreiging vir die natuurlike hulpbronne. Die blanke boere het gereageer deur hul plase met draad toe te span en sodoende die Basters hul toegang tot weiding en water ontneem. Die Basters was ’n groepie mense sonder ’n gesamentlike stem, magteloos en oorgegee aan die beslissings van ’n fanatiese, rassistiese regering wat hul menswees misken het, ’n regering wat die Bybelse leerstelling, Jou Naaste, gesien het as ’n eksklusiewe klub bestaande uit ander Blanke Christen-Nasionalistiese Afrikaners.

Die Bosluis-Basters se armoede en hulpeloosheid het tot so ’n mate vererger dat ’n sendeling, ds Eksteen, uiteindelik vir hulle in die bres getree het en hulle saak by die regering gaan bepleit het. Onder druk het die regering toe ’n stuk grond, die Richtersveld, aan hierdie hawelose mense toegeken. Onwetend dat hierdie grond destyds op die landkaart aangedui is as “onbewoonbaar”, begin die Bosluis-Basters se Groot Trek uiteindelik in 1949. Met hul karige besittings op hul donkiewaens het hulle hul oorblywende vee aangejaag — ’n eksodus na ’n onwaarskynlike Kanaän.

Alhoewel die afstand van die plaas Bosluis tot in die hartjie van die Richtersveld vandag as ’n skamele 300 km gesien sal word, het die meerderheid trekkers omtrent vier weke geneem om hierdie afstand af te lê. Dit moet in gedagte gehou word dat geeneen van die Bosluis-Basters ooit vantevore die Boesmanland of die Hantam verlaat het nie, en behalwe vir ses afgevaardigdes wat die Richtersveld kortstondig besoek het, was nie een van die Bosluis-Basters ooit voorheen in die Richtersveld nie. Vreesaanjaende gerugte, versprei deur die wit boere wat afhanklik was van die Basters as ’n bron van goedkoop arbeid, het die rondte begin doen: die Richtersveld is niks anders as ’n woestyn sonder water of weiding nie; die Namas (die plaaslike inwoners van die Richtersveld en afstammelinge van die Namibiese Namas) is bloeddorstige en moorddadige mense; die Bosluis-Basters bewerkstellig sonder twyfel hul eie lot.

Die werklikheid was ook nie rooskleurig nie. Hulle het ’n maand op die trekpad deurgebring. Water en weiding was slegs op die blanke boere se grond beskikbaar. Hierdie plase is bewaak deur gewapende boere wat die trekkers vyandig gesind was. Moord op anderskleuriges is daardie tyd nie gereken as ’n halsmisdaad nie.

Die trekkers het hulle in ’n onbekende en vyandige land bevind. ’n Geestelike, fisiese en politieke woestyn het hulle voorgelê. Hulle is langs die pad aangeval en geteister; water en weiding is geweier; noodsaaklike mediese hulp is hulle ontsê. Al waarvan hulle seker kon wees, was God se weldadigheid en hul Kanaän wat aan die onderkant van die Garieprivier op hulle wag.

Met dié wete het die Bosluis-Basters aangehou en uitgehou. In die woorde van tant Kobie Uys: “God het bepaal dat nie een van ons op die trekpad sou dood nie en nie een het nie! Hierdie is die grond wat Hy ons belowe het en Hy het ons gelei deur die Dal van Doodskaduwee en geen onheil het ons oorval nie!”

Die Nama Raad het die groep mense aanvaar. Grond en weiding is aan hulle beskikbaar gestel. So het ’n groep mense hul menswaardigheid teruggekry.

Die ontneming van grond in die Richtersveld
Die Richtersvelders, onder Nama-kaptein Paul Links, het die hele Richtersveld benut, prospekteerregte uitgegee aan maatskappye, en in vrede met sy volgelinge die vryheid van die Richtersveld geniet. In die 1920’s is diamante tussen Port Nolloth en Alexanderbaai ontdek. Dit was die begin van die verdrukking en ontneming van grond in die Richtersveld. Die inwoners van die Richtersveld is stelselmatig beperk tot sekere weiding, en later is drade gespan om die mense toegang te verbied tot hulle grond. Grond waarin hul voorvaders begrawe was.

Na 1994, met die koms van demokrasie, het nuwe wette in plek gekom wat die weg gebaan het vir die Richtersvelders om hul grond terug te kry. Gedurende 1998 het die Richtersveld-gemeenskap by die Grondeise-hof ’n eis ingedien vir 85 000 ha grond wat ontneem is. Die uitspraak van die betrokke hof was teen ons, maar ons het nie gaan lê nie. Ons het appèl aangeteken en groot was die vreugde toe vyf Appèlregters eenparig in ons guns uitspraak lewer dat ons wel geregtig is op eienaarskap en minerale regte van die betrokke grond. Die staat en Alexkor was nie tevrede en het appèl aangeteken na die Grondwetlike Hof. In die uitspraak het tien regters eenparig in ons guns uitspraak gelewer.

Die volgende berig het in Die Burger van 16 Oktober 2003 verskyn:

Richtersveld-regte

DIE konstitusionele hof se uitspraak waarin hy beslis het dat die verarmde Richtersveld-gemeenskap die wettige eienaars is van die diamantryke grond wat van hul voorouers afgeneem is en tans deur Alexkor ontgin word, is geskiedkundig.

Die konstitusionele hof het die saak, anders as die grondeisehof, uit die oogpunt van inheemse reg benader. Die hof het bevind eiendomsreg ingevolge inheemse reg is net so geldig soos eiendomsreg ingevolge gemenereg.

Die stryd van die Richtersvelders kom sedert hul grond — wat langs die Weskus van die eertydse Garieprivier in die noorde tot by Port Nolloth in die suide strek — in 1847 as kroongrond geannekseer is. Diamante is eers in die 1920’s daar ontdek.

Hul hofstryd teen die staat en Alexkor kom ’n ewe lang pad. Eers was Alexkor die wenner in die grondeisehof. Daarna het die Richtersvelders in die appèlhof geseëvier, maar Alexkor het appèl na die konstitusionele hof aangeteken.

Dié hof het die appèlhof se uitspraak bevestig dat die Richtersvelders sedert die ontdekking van diamante onregmatig hul grond ontneem is om redes wat met rasdiskriminerede wette te doen het.

Die Richtersveld-gemeenskap het hul menswaardigheid teruggekry. Na jare se geveg in die howe het demokrasie eindelik geseëvier. Ons gaan ons grond volhoubaar benut, tot voordeel van al die inwoners, maar ook vir ons volgende geslagte. Nooit weer gaan grond ontneem word in die Richtersveld nie. Nooit weer gaan die Richtersvelders aan die agterste speen suip nie.



LitNet: 2 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.