|
Hierdie bydrae is gelewer in die gewilde Filosofiekafee wat vroeër vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch plaasgevind het. LitNet plaas oor die volgende paar weke die bydraes van twaalf skrywers en filosowe wat mekaar die stryd aangesê het oor die woorde Wie?, Wat?, Waar?, Waarom?, Hoe? en Watter?. Wat?Vasti Roodt (filosoof)Ek moet beken, dames en here, dit is nie maklik om te sê wat wat is nie. Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal die WAT is wat onderskeidelik n voornaamwoord, n voegwoord en n tussenwoord. Maar selfs al ken ons die betekenis van hierdie woorde, weet ons waarna ons vra as ons vra na die wat van iets? Om hierdie vraag te beantwoord dus: om te probeer sê wat wat is moet ons begin by wat wat was. In die filosofie het die wat-vraag n bepaalde geskiedenis. Vroeër het filosowe aangevoer dat wat verwys na n onderliggende, onveranderlike substansie wat dieselfde bly te midde van alle verandering, en waarvan die bestaan nie afhang van enigiets anders nie. Die vroegste filosowe het geglo in n enkele, oorspronklike substansie waaruit alle ander substansies gevorm word. Vir Thales was dit water, Anaximenes het gesê dit is lug. Demokritos, meer as 2 000 jaar voor sy tyd, het beweer dit is onsigbare, ondeelbare deeltjies genaamd atome. Latere filosowe het weggedoen met die soeke na n universele substansie en die wat-vraag begin toepas op alledaagse dinge. So wou Aristoteles laat sien dat n appel, byvoorbeeld, rooi kan wees of groen, ryp of vrot, soet of bitter, groot, klein, rond, of halfrond, maar dat hierdie kwaliteite nie verander aan die substansie, die basiese appelheid van die appel nie. Die onveranderlike wat van iets waarop alle veranderlike kwaliteite betrekking het, noem hy hypokeimenon; letterlik: dit wat onder lê. Maar in n veranderlike wêreld is dit nie so maklik om te vertrou dat ons die onderliggende substansie van dinge kan ken nie, veral as n mens in ag neem hoe maklik die sintuie waardeur ons die dinge waarneem, ons bedrieg. Descartes probeer hierdie twyfel besweer deur te bewys dat, alhoewel ons nie seker kan wees van die substansie van enigiets in die wêreld buite onsself nie, ons wél seker kan wees van ons eie watheid. Jy kan sober wees of dronk selfs baie dronk musikaal of onmusikaal, gelukkig of ongelukkig, filosoof of skrywer, maar onder al hierdie kenmerke bly jy nog jy, die onveranderlike subjek van al jou kwaliteite. Maar selfs hierdie poging kon die vertroue in wat nie permanent beveilig nie. Want, het latere filosowe gevra, as ons wegdoen met al die sigbare, kenbare kwaliteite van dinge, weet ons nog iets van hul substansie? Anders gestel: Wat is die wat van enigiets, onsself ingesluit, apart van die veranderlike hoedanighede waarin dit in die wêreld sigbaar is? In ons eie tyd het die kwantumfisika, naas die filosofie, veel gedoen om die geloof in n onveranderlike substansie die nekslag toe te dien. Nogtans sou ek wou wou raai dat die meeste van u, al gee u die wetenskaplikes gelyk, steeds heimlik glo in u eie wat. Maar, dames en here, dis tyd om die bitter pil te sluk: wat is nie meer wat dit was nie. Die geloof in substansie is ongegrond. Wat het, filosofies gesproke, sy gat gesien. Wat nou? Hier sit ons vanaand, u en ek, maar wat is elkeen van u, en wat is ek? Laat my waag om te sê: ons is nóg onveranderlike substansie, nóg hersenskimme, maar kenbaar en herkenbaar juis in die veranderlike, onvoorspelbare gesigte wat elkeen van ons na die wêreld toe draai. Met ander woorde, ons is nie n substansie agter die hoedanigheid waarin ons aan ander verskyn nie, maar is kenbaar slegs in ons verskyning. En omdat ons altyd weer anders kan verskyn vanaand vol wyn en sorgeloos, môre sober en hardwerkend, oormôre, wie weet? is elkeen van ons altyd slegs voorlopig wat ons is. Die wêreld mag sy wat verloor het, maar daardeur het ons nuwe horisonne gewen. Die afwesigheid van n substantiewe self maak die lewe gevaarliker en meer onvoorspelbaar, maar ook vryer, wyer, oper. So, liewe gehoor, eerder as om te treur oor n verlore substansie, kom ons roep vaarwel aan wat en drink n heildronk op die voorlopigheid. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |