|
Een Jaar: Die Franse meesterstuk nou in AfrikaansKlara MajolaEen Jaar, deur Jean Echenoz. Vertaal deur Lydia van Eeden. Uitgegee deur Praag ISBN 0-620-30253-4. Aanbevole prys: R95
Daar was n tyd nie so lank gelede nie toe talle boeke van internasionale belang in Afrikaans vertaal is. Hier langs my staan die uitstekende vertaling van Don Quijote deur André P Brink, Vercors se Die Stilte van die See vertaal deur Jan Rabie en Uys Krige se Spaans-Amerikaanse Keuse. Daar is baie ander. Die afgelope tien jaar het daar nie veel verskyn nie. Maar gelukkig is dié droogte nou op n wonderlike wyse gebreek deur die Uitgewery Praag, wat die Goncourt-pryswenner Jean Echenoz se boek Een Jaar (Un An in Frans) die lig laat sien het. Dié Franse prys is vergelykbaar met die Hertzog-prys en is vir Echenoz n groot prestasie. Dis n fassinerende verhaal, knap vertaal deur Lydia van Eeden. Die jong vrou Victoire word een oggend wakker langs die lyk van haar vriend Felix. Sy skrik haar boeglam, storm by die woonstel uit, trek al haar geld uit haar bankrekening en spring op die eerste en beste trein wat toevallig na Bordeaux in die suidweste van Frankryk vertrek. Victoire se afwaartse spiraal van welaf jong vrou tot bedelaar binne die bestek van n paar maande word so lewensgetrou uitgebeeld dat dit n mens laat met die onthutsende gedagte: dit kan baie maklik met my, met enige mens gebeur. Die leser kom gou agter dat Victoire stadig maar seker besig is om die kluts kwyt te raak. Elke dag voel presies soos die vorige dag in die huis wat sy huur. Victoire se wasige toestand word raak beskryf deur Echenoz: Die eerste paar dae het sy dikwels so deurgebring, uitgestrek op haar bed, terwyl sy òf tevergeefs probeer dink het aan haar lewe òf net so tevergeefs probeer het om nie daaraan te dink nie. Victoire begin n obsessie ontwikkel om golfballe op te tel, geslaan deur golfspelers by n nabyliggende golfbaan. Haar hele kas is naderhand vol balle. Sy skrik drie uur in die oggend wakker, n aanduiding van n naderende depressie.As sy ontdek dat byna al haar geld deur haar vriend Gerard gesteel is, verval sy in n maniese toestand. Die passasies in die boek waar Victoire in beweging is, sal die leser nie maklik vergeet nie. Haar fiets verander gou van n voertuig wat sy gekies het om mee te toer na die enigste voertuig wat sy tot haar beskikking het. Wie die Duitse film Run Lola Run gesien het, sal dadelik die ooreenkoms tussen Lola en Victoire aanvoel. Victoire se pogings om van die gereg te vlug word treffend beskryf: Sy het gery, sy het rondgedwaal op reguit, gelyk paaie, presies loodreg in lyn met die bome. Kunsmatig soos n meer, bestaan die bos uit parallelle rye dennebome, elkeen lyk soos die een langs hom, in geometriese hellings langs die pad gerangskik. En soos Victoire aanbeweeg, beweeg die rye ook, haar blik sny soos n permanente beweging van perspektiewe, soos n waaier wat sonder ophou oopgemaak word, elke boom beklee sy plek in n oneindigheid van rye wat gelyk op die vlug slaan, n bos wat skielik met die trap van pedale aan die beweeg gaan. Echenoz se gebruik van personifikasie is verrassend: n doofstom gebou, n huiwerige kombuis en n gelate sitkamer. Victoire self kom mettertyd afgerem, woes, doofstom en miskien geestelik afwesig voor. Sy besef sy het selfs te ver agteruit gegaan om as prostituut werk te kry. Te swak geklee, te vuil, was haar voorkoms nie meer aanvaarbaar genoeg om die geringste begeerte uit te lok nie. Die boek bevat talle momente van verstilde, maar intense belewing, soos die volgende beeld van Gerard wat na n nag saam met Victoire, voor die venster aantrek: … met sy somber silhoeët afgeëts teen die helder parallellogram, het Victoire vir n oomblik haar oë oopgemaak en is hierdie profiel op haar retina afgedruk, n wit negatief op n swart agtergrond, en het sy weer aan die slaap geraak terwyl sy agter geslote ooglede die foto van Gerard oorkant haar bekyk het. Echenoz is, in Flaubert se woorde, soos God in sy skepping; oral teenwoordig maar nêrens sigbaar nie. Plek-plek is skrywer en karakter nie meer van mekaar te onderskei nie: ons sou maar moet sien of ons uiteindelik as prostituut moet werk maar intussen het ons n plek by die Albizzia-hotel bespreek (bladsy 36) Selfs Echenoz se randkarakters is interessant en loop oor van energie. Daar is Noëlle Vallade, wie se huis Victoire huur en die twee mans met wie sy later n huis deel: Castel en Poussin. Laasgenoemde uiter die sleutelwoorde van die roman as n tersyde: as ons nie verdwaal het nie, was ons verlore. Die wending in Victoire se situasie kom baie skielik en beslissend en die einde is van die mees ontstellende wat ek in n lang tyd gelees het. Skielik maak Louis-Philippe se misterieuse verskynings sin, of maak dit? Geen resensie kan n mens egter volledig voorberei op die offbeat, magiese styl van Echenoz nie. Toe die boek in 1997 in Frankryk verskyn het, was Franse resensente gaande. Wat n fantastiese voorreg om hierdie meesterstuk in keurige Afrikaans te kan lees. * Een Jaar is beskikbaar by boekwinkels of kan by Uitgewery Praag, Posbus 3103, Dainfern 2055 teen R95 per kopie (posgeld ingesluit) bestel word. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |