|
Duskant die eindersDeborah SteinmairKlik op boekomslag om by kalahari.net te bestel.
Die boekehuis het baie wonings. In die toring van poësie woon Charles Bukowski regoor TS Eliot, Arthur Rimbaud onder AG Visser, TT Cloete skuins oor Gert Vlok Nel, Toast Coetzer langs Lina Spies. n Papierdun muur skei die kombuise van Sheila Cussons en Sylvia Plath. Hoe verruklik zoem die woordtoring! Die asem van die poësie is verlange, aldus Lina Spies in Manifes, die eerste gedig in haar jongste bundel Duskant die Einders. Ek wil die heimwee behou Lina Spies is n poeët, een van ons fynstes. Sy adem verlange, verwondering, n ontvanklike oor vir die heelal se tik, aanbidding, asook n haas pynlike huidloosheid, n aantreklikheid vir die wisselende stemmings van lig en lug: Die tintel wat die najaar deur my stuur Die titel, Duskant die Einders, dui op die nabye, die onmiddellike omgewing. Die temas is huislik, soos die pragtige gedig oor Tonya, n blougrys katjie en Dood van die Verkleurmannetjie. Ver plekke soos Nederland in die herfs is ook ter sprake, maar daar is telkens n terugkeer, in gedagte en daad … na die Vermeerblou berge Daar is heimwee na die landskap van haar kindertyd: Plekke wat jy eenmaal liefgehad het Die digter is ook planeetburger wat die krimpende aardbol slegs minuskuul/ in stukkies en brokkies ken. Daarom is daar naas heimwee ook van fernweh sprake: n terugverlang na die vreemde, aangewakker deur Vermeer se skildery Gezicht op Delft, waar n bo-aardse lig sag soos stuifmeel lê Die gedigte in Duskant die Einders is visueel ryk. Met die woord skilder Lina Spies beelde van Nederlandse meesters soos Vermeer, Gerard van Honthorst en Vincent van Gogh. Duskant haar einder word haar onmiddellike leefwêreld bevolk deur genieë van anderkant die einders en tyd, soos Jesus van Nasaret, Laurens van der Post, Albert Camus, Paul van Ostaijen, Robert Frost, Colette en andere. n Interessante en baie tersaaklike kategorie is drie gedigte waarin daar dwarsklappe na besigers en voorstanders van Engfrikaans uitgedeel word. In Die Koms van die Monster o.a. genaamd Raka haal sy aan uit Albert Camus se dagboek: Ja, ek het n vaderland: die Franse taal en druk haarself met drif en heimwee in haar moedertaal uit: Ek het n vaderland gehad Sy betreur die geplas van Raka in die eens glasblink poel van Afrikaans, wat gelei het tot slierte slym/ en sissende skubbe vuil en wonder: Is daar uit sulke troebel water In Landsiek kom sy ook die nuwe geslag sangers en akteurs by wat sonder formele skoling hul ding doen: Ons wil Afrikaans lekker loslit praat wat op n noot van rouklaag eindig: Haar land het weggesink dink die sjimpansee. Woede dateer, het een van ons groot skrywers onlangs gesê, maar Lina se hartstog en smart is gemotiveer deur haar liefde vir en bemeestering van die woord. Sy is die engel wat skaars waag om te trap waar gekke met moddervoete instorm, die sjimpansee wat nie meedoen nie, maar ons meeneem na die onbesoedelde vaderland van Elisabeth Eybers se skoon, skerp woordeskat.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |