SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

George Weideman - Draaijakkals

Louise Viljoen
Universiteit van Stellenbosch, Desember 1999

’n Kalahari.net-resensie

Draaijakkals
Koop by Kalahari.net

In 1993 het George Weideman in ’n resensie oor André Brink se roman Inteendeel gesê dat Brink hom met die skryf van hierdie skelmroman oor die historiese figuur Estienne Barbier voorgespring het met ’n romanvorm wat hy self lankal wou gebruik. Ses jaar later, aan die einde van 1999, verskyn daar van Weideman die roman Draaijakkals. Dat dít waarskynlik die roman is wat hy in gedagte gehad het toe hy Brink se Inteendeel moes resenseer, sê die roman se subtitel “ ’n skelmroman” vir ons. Die verskyning van Draaijakkals is dus in ’n sekere sin die vervulling van ’n belofte, miskien ook die reaksie op ’n “uitdaging” gestel deur die uitmuntende roman van Brink.

Dié romanvorm wat Weideman so gefassineer het en as ’t ware die bloudruk neerlê vir Draaijakkals, het sy oorsprong in die sestiende-eeuse Spaanse literatuur. Kenners van die skelmroman (ook die pikareske roman genoem na aanleiding van die Spaanse woord picaro vir skelm) vertel ons dat voorlopers van die hoofkarakter in hierdie romansoort aan te tref is in die deugniete, avonturiers en voëlvry rebelle van die Griekse seerowerverhale, Middeleeuse eposse soos Van den Vos Reynaerde en verhaaltradisies soos dié van Tyl Uilspieël en Robin Hood (aan wie die hoofkarakter in Brink se Inteendeel ’n mens laat dink). Die romansoort was egter veral ’n reaksie op die fantasieryke ridderverhale van die Middeleeue waarin karakters soos towenaars, reuse, ridders en drake voorgekom het. Die hooffiguur in die skelmroman leef nie in die hoofse wêreld van ridders en edelvroue nie, maar aan die keersy van die samelewing waar hy as onderdaan of kneg van verskillende meesters allerlei oorlewingsvaardighede moet ontwikkel. Eerder as hoofse held, is hy ’n soort anti-held of sosiale verstoteling (dikwels ’n weeskind) wat vertel hoedat hy deur allerlei skelmstreke die een moeilike situasie na die ander oorleef. Die skelmroman verskil ook van die hoofse ridderromans van die Middeleeue deurdat daar nie eintlik sprake is van ’n liefdestema nie, maar eerder van ’n blik op verskillende sosiale strukture soos waargeneem vanuit die hoofkarakter se randposisie in die samelewing. Ten spyte hiervan kan daar in die geval van die skelmroman nie gepraat word van sosiale protes nie; daar is eerder sprake van ’n hoofkarakter wat op ’n lig-humoristiese manier vertel hoedat hy so goed as moontlik sy pad deur die ongeregtighede van die samelewing baan. Omdat die skelmroman meestal vertel word vanuit ’n ek-perspektief word daar soms daarna verwys as ’n soort pseudo-outobiografie. ’n Ander uitstaande kenmerk van hierdie soort roman is dat dit ’n sterk episodiese karakter het omdat dit toon hoedat die hoofkarakter van die een avontuur na die ander beweeg sonder dat hy noodwendig beheer het oor sy lot. Dit is dus nie vreemd dat die reistema herhaaldelik in hierdie soort roman voorkom nie en dat daar meestal sprake is van ’n oop slot nie.

Die prototipe van die skelmroman is La vida de Lazarillo de Tormes geskryf deur ’n anonieme Spaanse outeur in die omstreke van 1554. Hierdie roman het die patroon geword vir ’n hele aantal verdere voorbeelde van die skelmroman in en buite Spanje; Franse voorbeelde van die skelmroman, soos Le Sage se Gil Blas, het byvoorbeeld ook afgespeel in Spanje. Met die verskyning van Thomas Nash se The Unfortunate Traveller in 1594 het die vorm ook in Engeland gewild geword en het voorbeelde soos Daniel Defoe se Moll Flanders, Tobias Smollet se The Adventures of Roderick Random en Henry Fielding se Tom Jones gevolg. In Duitsland het die skelmroman die vorm aangeneem van die sogenaamde rowerroman (“Räuberroman”) waaraan Goethe ook meegedoen het. Na gelang van veranderinge in die samelewing het die vorm ook belangrike wysigings ondergaan: in sommige gevalle is daar psigologies diepte gegee aan die figuur van die pikaro; in ander is die plot weer sodanig beklemtoon dat dit die aanskyn gekry het van ’n avontuurroman. Naas die “klassieke” skelmromans kan ’n mens ook wys op ’n hele aantal romans in die Westerse literatuur wat ten minste trekke van hierdie tradisie vertoon: vanaf vroeë voorbeelde soos Cervantes se Don Quijote tot by Saul Bellow se The Adventures of Augie March.

Presies waarom skrywers soos Brink en Weideman dit boeiend vind om terug te keer na hierdie tradisionele vorm, is ’n interessante vraag. In sy resensie van Brink se boek het Weideman indertyd gesê dat hy homself tot die skelmroman wil wend omdat ons “die tyd van die Groot Skelms” beleef. Net soos wat Brink in Inteendeel die figuur van die skelm gebruik het om apologie aan te teken vir die skelmhede van die koloniale verlede in Suid-Afrika, lyk dit asof Weideman die figuur van die klein skelm wil gebruik om kommentaar te lewer op bedrywighede van die Groot Skelms in bepaalde fases van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. By die lees van Draaijakkals is dit duidelik dat hy die vorm van die skelmroman nougeset navolg, maar dat hy ook daarin slaag om aan sy weergawe van hierdie romansoort ’n heel besondere Suid-Afrikaanse tekstuur en plaaslike toepaslikheid te gee. Dit kom veral deurdat die avonture van die hoofkarakter geplaas word in daardie deel van Suid-Afrika wat vandag die Noord-Kaap genoem word, maar ook in die huidige Namibië en Botswana. (’n Mens kan jou skaars voorstel dat die ylbevolkte en barre landstreke waarin die grootste deel van die roman afspeel, so kan léwe van die mense, sêgoed, ellende, luste en plesiere.) Die “plaaslikheid” van die roman word verhoog deurdat die gebeure in die roman ook afspeel teen die agtergrond van bepaalde historiese gebeure wat hulleself uitspeel in die tydperk vanaf 1913 (wanneer die hoofkarakter gebore word) tot waar die roman afsluit aan die einde van die dertigerjare met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Eerder as wat Weideman konsentreer op die groter samehang van historiese gebeure, wys hy watter uitwerking ontwikkelinge soos die Land Act van 1913, die Eerste Wêreldoorlog, die Groot Griep van 1918, die opkomende Nasionaal-Sosialisme in Duitsland, die Ossewatrek en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog gehad het op die randfigure van die samelewing wat hulle bevind het in plekke soos sendingstasies, afgesonderde plase, bordele en armoedige dorpsbuurte.

Die hoofkarakter in Draaijakkals is Nicolaas Alettus Lazarus wat volgens oorlewering in ’n bakoond in die Onderveld verwek is (as verteller is hy self nie seker hieroor nie en moet hy hom voorstel hoe dit sou kon gebeur), in ’n Home in die Kaap gebore is en die eerste paar jaar van sy lewe saam met sy ma deurbring op die Katolieke nedersetting Bakoondskraal. Die naam Nicolaas is ’n aanduiding dat hy dalk die seun kan wees van die legendariese Klaas Duimpie, ’n karakter wat loop in die spore van bekende ”skelms” uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis en folklore soos Dirk Ligter, Koos Sas, en ander. Sy tweede naam Alettus is afkomstig van sy ma Let Lyf en die van Lazarus suggereer ’n verwantskap met ene George Mclachlan Lazarus, die Boerejood wat Nicolaas ken as sy peetpa en Uncle noem. Sy swerftogte begin met die sluiting van die armsorgkoshuis waar hy as weeskind deur Katolieke sendelinge grootgemaak word na die dood van sy ma in die Groot Griep van 1918. In die tradisie van die skelmroman is daar baie wat toevallig en amper grotesk is aan die grilligheid waarmee die noodlot Niklaas rondgooi sodat hy gedwing word om ’n oorlewingskunstenaar te word wat homself moet behelp in die een probleemsituasie na die ander. Hy word spoedig geskei van die ander “grootmaakkinders” van Bakoondskraal wat in ’n groot mate sy lotgenote is. Tog kom hy in die loop van die roman op die mees onverwagte tye en plekke weer vir Anaat, Amy Patience, Mias en Joy teë (wat elkeen op sy of haar eie wyse oorleef).

Ten spyte van die willekeurigheid van sy lot word Nicolaas gedryf deur ’n soektog na sy herkoms en ’n antwoord op die vraag wie sy vader is. Om hierdie rede soek hy naarstiglik na ’n oplossing van die raaisel wat hy gevind het tussen die besittings wat hy van sy ma geërf het en is hy voortdurend op soek na enige inligting oor die enigmatiese Klaas Duimpie (van wie hy soms hoor dat hy lewe, soms dat hy dood is). Die episodiese vertelling oor Nicolaas se avonture word saamgebind deur hierdie soektog wat langs verskillende soorte spore plaasvind soos wat die vier afdelingtitels (Ouspoor, Douspoor, Dwaalspoor en Spoordood) van die roman te kenne gee. Dat die soektog hom nie noodwendig by ’n bevredigende antwoord gaan uitbring nie, word alreeds voorspel deur die leser se verwagting dat die skelmroman ’n oop eerder as ’n afgeronde einde sal hê.

Ten spyte van sy vaderloosheid kan Nicolaas hom tog beroep op sekere vaderfigure in sy lewe. Een van hulle is Stryker wat, net soos die Griekwa Ta Vuurmaak in AHM Scholtz se roman Vatmaar, een van die lewende biblioteke van die landstreek is. By hom leer Nicolaas heelwat van sy herkoms deurdat hy by hom die rympies en liedjies hoor wat hy dwarsdeur sy lewe sal onthou. By hom leer hy ook van die legendes waardeur hulle voormense natuurlike verskynsels verklaar het en van die onregte wat sy mense in die loop van die geskiedenis aangedoen is. ’n Ander vaderfiguur is sy peetpa Uncle: Nicolaas se omswerwinge is baie nou verbonde aan die planne, skelmstreke en skemas van hierdie aartswendelaar wat hom van vroeg af inwy in die kuns van lieg en bedrieg. Alhoewel Uncle hom dikwels uit die moeilikheid red, laat hy hom net so gereeld in die moeilikheid beland omdat hy in ’n groot mate geregeer word deur wat sy swingel hom voorsê en uitermate verknog is aan die bottel. Dit is tekenend van hierdie roman se begrip vir die kompleksiteit en ironieë van die lewe dat hierdie karakter enersyds ’n belangrike begeleier en ondersteuner is vir Nicolaas, maar hom aan die ander kant ook van die grootste teleurstellings van sy lewe besorg. Wanneer Nicolaas uiteindelik in besit kom van die brief waarin sy ma uitspel wie sy vader was en watter rol Uncle in haar lewe gespeel het, is dit vir hom ’n oomblik van oplugting sowel as groot ontnugtering.

Nicolaas se soeke na sy vader en sy herkoms is ’n wesenlike aspek van die soeke na identiteit wat in hierdie roman ter sprake kom. Net soos die hoofkarakter in die tradisionele skelmroman is Nicolaas in feitlik alle opsigte ’n buitestander in die samelewing: hy is ’n weeskind, het ’n byna dwergagtige figuur (met die toegif van ’n uitsonderlike groot voël waarvoor die roman die raarste versameling benoemingsvorme vind), speel dikwels die rol van nar, bevind hom meermale in die geselskap van Jode of half-Jode soos Uncle en eindig uiteindelik in ’n sanatorium vir sielsiekes waar hy beskryf word as ’n “patologiese leuenaar”. Daarby sou ’n mens kon beweer dat hy vanweë sy menigte avonture ’n soort nomadiese bestaan lei wat verder verhinder dat hy vir hom ’n vaste plek in die samelewing vind. Mettertyd blyk dit ook dat hy van gemengde afkoms is; hy self raak eers daarvan bewus wanneer hy op neerhalende wyse ’n “halfnaatjie” en ’n ”baster” genoem word. Dit is veral op grond van sy gemengde afkoms wat hy telkens gemarginaliseer word — in Windhoek sien die Duitsers onder die invloed van die Nasionaal-Sosialisme in die dertigerjare hom as onsuiwer en tydens die Ossewa-trek in 1938 voel hy die vieringe is vir “almal wat weet waar hulle vandaan kom” (511), nie vir hom nie. Tog lê daar juis in die randposisie van die “tusseninner” die begin van ’n soort identiteitsgevoel: wanneer daar by geleentheid van hom gesê word dat hy ’n “klein oorlams” is, voel hy “dan is ek al iets” (258). Alhoewel Weideman met sy uitbeelding van Nicolaas aansluit by die eeue-oue tradisie van die skelmroman en hier skryf oor ’n figuur wat geleef het in die eerste dekades van hierdie eeu, is daar in die kontemporêre samelewing baie aandag vir hierdie soort figuur. Daar word byvoorbeeld gesê dat identiteit in ’n wêreld waarin migrasie, verplasing en ballingskap ’n algemene verskynsel is, dikwels gebaseer is op onsekerhede, onvastighede en verskuiwings eerder as sekerhede. Sommige van die kommentare op identiteit wys daarop dat dit juis hierdie soort figuur is wat die vermoë het om van buite na sosiale strukture te kyk en te wys op die sosiale misstande wat daar bestaan. Dit wil voorkom asof Weideman in hierdie roman vir ons ’n karakter voorhou wat met sy vertelling ’n belangrike rol in die samelewing kan speel, naamlik om die sekerhede van ander krities te beskou en die uitwasse waartoe daardie sekerhede lei te kritiseer. Juis vanweë sy byna dwergagtige gestalte en omdat hy — in sy eie woorde — “geleer het om op die rand van lig- en ander kringe te beweeg” (275), beskik Nicolaas oor ’n perspektief wat diegene in die sentrum van dinge nie beskore is nie.

Die roman se diskoers oor die skelm lewer eweneens interessante kommentaar op die kwessie van identiteit. Dit begin reeds op die omslag van die boek waar daar ’n parallel gelê word tussen die figuur met die narrekap en staf op die voorblad en die foto van die skrywer op die agterblad van die boek deurdat albei op ’n skampere manier deur hulle vingers na die leser loer. Hierdeur word die skrywer in die algemeen en Weideman in die besonder betrek by die uitbeelding van die buitestander-figuur in hierdie roman. Die skrywer word dus ook geplaas in die rol van die skelm, die nar, die sirkusfiguur, die halfbloed, die buitestander wat die gemeenskap bekyk van buite en daarop kommentaar lewer. Die skalkse aanslag van die buiteblad en die vermaaklike omskrywings by die titel (“oftewel die ongelooflike eerste jeug van Nicolaas Alettus Lazarus - stofpoepertjie, tusseninner en aartskalant van die Onderveld waarin die verteller se wedervaring oor sowat drie dekades aan die leser voorgehou word, beginnende met ’n ontvangenis in ’n bakoond, padlangs verder verby Samaritane wat op hul moer kry, gehoorsame en ongehoorsame meisies, ’n spul Nazi’s en diverse holmolle, en eindigende met ’n tuiskoms tussen ’n klomp skewe brode in ’n anderster bakoond”) is die voorspel tot ’n interessante ontleding van wat die term skelm beteken. In die proses speel die roman verskillende soorte skelms teen mekaar af: dié skelm wat deur omstandighede gedwing word tot sekere skelmstreke soos Nicolaas, dié wat gebore swendelaars is maar tog ’n soort flair en ruimhartigheid het soos Uncle en dié wat deur die samelewing gesien word as die helde, maar eintlik die moreel korruptes is soos Lot Vermaak en die ander grond-afvatters, uitbuiters en onverdraagsames in die roman. Dit lyk selfs asof die sogenaamde skelm van die skelmroman ’n metafoor word vir die “tusseninner” vir wie daar weinig begrip bestaan in ’n korrupte en onregverdige samelewing. Dit is tot Weideman se krediet dat hy die gesprek oor die rol van die skrywer so skalks en subtiel aanroer. Eerder as wat hy besin óór die skryf van die storie, skrýf hy ’n storie wat die leser enduit boei. Dit is opvallend dat die skrywer self ’n soort “aartskalant” is wat weet hoe om spanning in sy roman op te bou en sy leser te manipuleer. Een voorbeeld hiervan is die ouderwetse sjarme van die opsommende hoofstuktitels wat net genoeg prysgee om die leser se nuuskierigheid te prikkel.

Daar is geen twyfel dat Weideman se roman ’n belangrike en bewuste bydrae maak tot die vaslê van ’n bepaalde stuk Suider-Afrikaanse kultuurgeskiedenis nie. Deurdat hy die taal, kultuurgoedere (liedjies, raaisels en rympies), gebruike en geskiedenisse van bepaalde landstreke opteken, bestendig hy dit ook. Tog gaan hy op speelse en ironiese wyse met hierdie gegewe om. Hy voer naamlik ’n professor Posthumus in wat naarstiglik allerlei kultuurhistoriese tekste versamel waaroor hy dan artikels skryf. Die roman toon hoedat die professor sy materiaal meestal uit die nie-wit gemeenskap kry, maar dan tog toelaat dat sy navorsing gebruik word ter regverdiging van die wit Afrikaners se afsonderlikheid in die opstuwende golf van die Afrikanernasionalisme aan die einde van die dertigerjare. Die roman steek ook die draak met akademici en hulle navorsing: Nicolaas verkul die professor keer op keer deur sommer self die sogenaamd oorgelewerde rympies te fabriseer en ander te vervorm sodat hy hulle weer aan hom kan verkoop. Weideman lewer dus kritiek op die outentisiteit van talle van hierdie oorgelewerde volkstekste, maar wys terselfdertyd hoe hierdie soort volkstekste tot stand kom. In die proses skeer hy ook die gek met homself en die bronne waarop ’n groot deel van sy boek gebaseer is.

Die episodiese aard van die roman sou daartoe kon lei dat die leser hierdie roman as verbrokkeld ervaar. Weideman slaag egter daarin om die haas verbysterende veelheid van karakters en gebeure in hierdie roman bymekaar te hou. Dit is veral motiewe soos dié van die jakkals wat hierdie bindingsfunksie het. Die motief van die jakkals as skelm, wat teruggevoer kan word na talle verhale en legendes in die Suid-Afrikaanse en Europese volkskultuur, figureer op verskillende vlakke van die roman. As hoofkarakter in ’n skelmroman is Nicolaas Alettus, wat ook Vossie genoem word en hom met slinkse vernuf uit die een probleemsituasie na die ander kan wikkel, natuurlik een van die draaijakkalse waarom dit in hierdie roman gaan. Die draaijakkals van die titel is egter ook beeld van alles wat ontglippend en ontwykend is (soos in Strachan se heel andersoortige roman Die jakkalsjagter): die oplossing van die raaisel, die betekenis van die roman (en die lewe), die geluk wat jou bly ontwyk selfs nadat sekere raaisels opgelos is. ’n Ander belangrike motief in die roman word ingegee deur die herhaalde verwysings na patrone wat dikwels die vorm van spirale of draaikolke aanneem. Dit is veral die karakter Piet Praaimus wat die argeologie en oer-geskiedenis van die streke wat in die roman ter sprake kom, probeer ontsyfer deur die tekens op die klippe te lees. Hy trou uiteindelik met die argeoloog Rosamunde saam met wie hy soek na hierdie “boodskappe” uit die verlede wat die een of ander groot patroon onderliggend aan alles sou kon blootlê. Wanneer hy meen dat die patroon onderliggend aan die heelal dalk dié van ’n spiraal sou kon wees, dink Nicolaas daaraan dat hierdie patroon ook ’n draaikolk sou kon word wat jou kan vasdraai (soos die een wat byna sy verdrinking veroorsaak het).

Weideman is bekend vir sy veelsydigheid as skrywer. Alhoewel hy reeds ’n aantal knap digbundels, kortverhaalbundels, jeugromans, toneelwerk en een roman op sy kerfstok het, is Draaijakkals iets van ’n samevatting en hoogtepunt. Dit bring heelwat van die ruimtes, temas en motiewe uit sy vroeër werk saam: daar is byvoorbeeld die bemoeienis met ’n bepaalde streek, met die kultuurgeskiedenis van daardie streek, met die politiek van Suid-Afrika en die gebruik van motiewe soos die sirkus, die karnaval en byeenkoms van kunstenaars. Veral die motiewe van die sirkus en karnaval is nog nie elders in sy werk op so ’n groot skaal verwesenlik en so oortuigend geïntegreer in die gang van ’n verhaal soos in hierdie roman met sy weelde aan karakters, situasies en gebeure nie. Dit is egter wel so dat die leser in die eerste paar hoofstukke ’n bietjie moeite het om hom- of haarself te oriënteer te midde van die oordaad. Kry die roman egter eers sy loop, is daar nie keer aan die verhaal nie en bly ’n mens enduit geboei. As ’n mens vitterig wil wees, sou daar ook gesê kon word dat die roman ’n bietjie haastig afgerond word na die ietwat langsame begin. Alhoewel dit ’n besondere vonds is om Nicolaas Alettus se buitstanderskap te bevestig deur hom te laat eindig in ’n sanatorium vir sielsiekes en daar ’n knap verband gelê word tussen die raaisel en die sanatorium as die koekoek se nes, vang sy oorgawe aan die “laaste groot donkerte” die leser wat in hom ’n taai klein oorlewer leer ken het ietwat onverhoeds. Dit is ook jammer dat die gevreesde herontmoeting met Lot Vermaak op niks uitloop en die dreigende konfrontasie nooit plaasvind nie. Dis egter ’n kort lys besware in vergelyking met die lang lys plesiere wat hierdie boek die leser gee. Een van hierdie plesiere is die wyse waarop die skrywer die rykdom van verskillende soorte Afrikaans in die vertelling ontgin. Die roman wemel byvoorbeeld van woorde wat die geskiedenis van die streek waaroor dit handel, vasvang sonder dat dit ooit pretensieus of gemaak aandoen.

Alhoewel daar ’n wêreld wag om ontleed en bespreek te word in Draaijakkals, is dit kortom ’n heerlike boek om te lees. Die boek is ’n karnaval van joligheid, skunnigheid en skreeusnaakse insidente — en êrens onder dit alles lê daar ’n diep treurigheid oor die onbevatlikheid van die lewe wat werklik aangrypend is.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.