|
Die soeke na n intellektuele basis vir voortgesette betrokkenheid by AfrikaansChris LouwBaie dankie aan Dan Roodt vir die deeglike (hoewel hoogs teoretiese) resensie van ZB du Toit se politieke boek Die Nuwe Toekoms n perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling. Ek het daarvoor gevra omdat ek wou sien hoe Roodt Du Toit se argumente beoordeel teen die agtergrond van sy verblyf in Europa en sy eie blootstelling aan die nuwe Westerse morele debat rondom nasionalisme en etnisiteit. By al die opheldering wat hy wel bring, verbaas sy positiewe reaksie my glad nie; dit bevestig eerder my vermoede dat Roodt hoofsaaklik put uit n essensieel Europese debat wat hy op die situasie in Suid-Afrika van toepassing wil maak. Natuurlik is daar niks mee verkeerd nie (ek het die boek self fassinerend gevind lees maar my resensie in n volgende uitgawe van Insig), maar dit is n feit soos n Afrikaner-koei dat die politiek-kulturele dinamiek by ons (veral in die slip-stream van apartheid) n ietwat ander dimensie het, en dat dit baie moeiliker sal wees om internasionaal simpatie spesifiek vir Afrikaans te wek. Binnelands gaan die stryd (om maar by Roodt se terminologie van uitdagings, stormjaers, aandurf, en selfs manalleen, ens. te hou) selfs nog taaier wees. As establishment-figuur kan ek getuig van die enorme frustrasie waaraan mense soos ek blootgestel word wanneer ons in die praktyk nie eens begin om te probeer om Afrikaans te handhaaf nie, maar selfs net daarop aandring dat die SABC hom by sy eie taalbeleid hou en dat nuusbydraes vir Monitor en Spektrum meer deurlopend in Afrikaans gedoen word. Na vier jaar van eers vriendelik versoek en later baklei vir n mate van gelykberegtiging, van beskuldigings van bestuurskant dat ons n volkstaat binne die korporasie probeer stig, dat Afrikaanssprekendes n eiland vorm, van openlik opstaan teen my eie base, van beledigings van veral blanke Engelssprekende kollegas dat n ou reaksionêr is bloot omdat jy daarop aandring dat jou Afrikaanse luisteraars ook geregtig daarop is om volledig ingelig te word oor wat in die land gebeur, van dissiplinêre verhore ... na al die skatologiese twak wat n mens moet opvreet ter wille van n utilitêre Afrikaans, klink n vrolike optog na die Uniegebou soos n wonderlike ontsnapping n lekker eendaagse wegbreek wat die werklikheid agterna weer meer draaglik maak. Maar wat dan? In my brief van 12 Januarie het ek (met my tong deeglik in my eie kies) probeer aantoon wat die werklikhede is waarteen so n veldtog vir Afrikaans gaan stuit dit gaan nie net n intellektuele debat wees nie, maar in die praktyk sal die bloed vloei, en dan kan Roodt hom beroep op Derrida, Heidegger en Deleuze tot hy blou in sy bleek gesig is, dit sal bokkerol help. (Dat Roodt nie die ironie in die brief snap nie, is nie my skuld nie dit was bedoel vir mense met n sin vir humor. Kyk ook my naskrif.) Roodt kom (moedswillig?) tot die gevolgtrekking dat ek Sanco se toyi-toyi steun; die feit dat ek op die realiteit van die massa-optrede (en histerie) wys, beteken net ek glo hierdie emosionele en selfs gewelddadige reaksie sal verreken moet word by enige beplanning van betogings rondom Afrikaans. Roodt is bloot stompsinnig as hy my daarvoor verantwoordelik wil hou. Hy moenie met my baklei nie dis die voetsoldate van die revolusie wat hy in die visier moet kry. Dit is juis my probleem met Roodt se soort argumentering. Hoogdrawendheid, bravade, arrogansie, woordekramery, pretensie, en n goeie klap af-show, is nie n plaasvervanger vir praktiese strategie nie, al word die argument ook hoe logies aangebied. n Mens kry omtrent deurgaans by Roodt die gevoel van n eendimensionele, humorlose en egosentriese intellektualisme. Die kritieklose aanvaarding van feite wat sy argument pas, het nogal iets sektaries daaraan. (Dink maar net hoe logies is die J2K-krisis deur intellektuele voorspel aan die hand van sogenaamde wetenskaplike feite en daar WAS eindtyd-sektariërs wat in die veiligheid van die Karoo gaan skuiling soek het teen die onafwendbare elektronies-geïnduseerde katastrofe, wat toe n blote poef geblyk te wees het. Die Internet bied vandag genoeg aanhalings om elke doemprofeet se argumente te staaf. Dis nie eens nodig om Frankryk toe te gaan nie.) Die probleem met Roodt se benadering is dat die argumente hoogs voorspelbaar word, net soos die seleksie van die feite wat die aannames moet staaf. Vir nuanses buite die rigiede verwysingsraamwerk is daar in hierdie soort vinger-wys, spoegspat en staar-oog-logika nie plek nie. Outentisiteit word ongelukkig die eerste slagoffer van selfvoldane slimmigheid. ( ... but where is the bloody horse?!) (Dit was nogal n verleentheid om n tyd terug in die Mail & Guardian te lees dat Roodt die koerant beskou as die naaste aan n ANC-propagandamedium in die land ... Word wakker, Rip Roodt! Al gehoor dat juis die Mail & Guardian deur die ANC uitgesonder word as n vyand van transformasie, en dat dit die eerste koerant was wat die teiken van die Menseregtekommissie se eerlose ondersoek na rassisme in die media geword het? As jy ANC-meelopers soek, gaan kyk na The Sowetan, Tribute, The Star met sy politiek korrekte padda-en-prins-sprokies, en selfs Nasionale Pers se City Press. By al sy gebreke is die Mail & Guardian onverskrokke in sy onthullings van korrupsie en wanbestuur in die nuwe bedeling. Moenie so in die openbaar n gat van Afrikaners maak nie, man! Ons het klaar vir Jaap Marais.) Steeds by die stereotipiese en voorspelbare Roodt ... n Mens kon byvoorbeeld vooraf weet dat Roodt sou toesak op aanhalings in Du Toit se boek soos dié van William Malegapuru Makgoba waarin na die verdwyning van die witman in Suid-Afrika verwys word. Wie maak van Makgoba n prominente ANC-intellektueel? Eers Du Toit, en dan, klakkeloos, Roodt. Die swart Makgoba se uitsprake het soveel met ANC-beleid te doen soos die wit Roodt sn met dié van die Nasionale Party. Dieselfde geld die verwysing na die sogenaamde onjuridiese sirkus in die Grondwetlike Hof-saak oor Afrikaans. Du Toit se weergawe van die sirkus berus op n enkele artikel wat hoogs subjektief voorkom, maar wat nóg hy nóg Roodt hoegenaamd bevraagteken, bloot omdat dit makliker is om verlekkerend daaruit aan te haal en primitiewe Afrikaner-emosies n bietjie op te stook. Dat die Grondwetlike Hof gelaai is met ANC-gesindes, is sekerlik waar. Maar daar is darem ook onafhanklike denkers, en ek sluit Albie Sachs en Johan Kriegler hierby in, al hoor Roodt net wat hy wil hoor. Wat die NP-onderhandelaars se naïwiteit betref, berus Roodt se instemming eweneens klakkeloos op weergawes wat met sy eie aannames strook. Ek het die onderhandelinge intiem meegemaak (as betaalde waarnemer; nie as deelnemer nie!), en enigiemand wat vandag nog glo dat vaal mannetjies soos Roelf Meyer enigiets beter kon beding as wat hulle reggekry het, het nie n benul vanuit watter swak posisie die Afrikaner-establishment die onderhandelinge betree het nie. Diegene wat nie in die NP en die Broederbond gekonformeer het nie, soos lede van die Vryheidsfront en veral die Konserwatiewe Party (die rukkie dat hulle daar was), het nog swakker gevaar: n mens wou soms jou kop onder die tafel wegsteek oor vergelykings soos dat die Amerikaners hulle Rooi Indiane uitgemoor het, maar dat die Afrikaners die swartes laat bly leef het! Op grond hiervan kon Afrikaners dan op spesiale behandeling in Suid-Afrika aanspraak maak. (Namens wie en hoe individualistiese, verbeeldingryke Afrikaners sou onderhandel het, is iets wat Roodt miskien vir ons moet verduidelik; ek verstaan dit nie. Die hegemoniese benadering van die ANC / Cosatu / SAKP was juis dit wat hulle spierkrag gegee het. (En, natuurlik, die immoraliteit van apartheid, die verwerping van die vorige regime deur die internasionale wêreld, die bevooroordeelde verslaggewing deur die buitelandse en plaaslike media Afrikaanse koerante inkluis wat help klimaat skep het ... die hele konteks waarin die onderhandelinge plaasgevind het. Ja, en ek weet, Dan, my vriendin Patti Waldmeir was met tye die een uitsondering, ek was daar maar sy kon nie vrou-alleen onderhandelingsruimte vir Roelf-hulle skep nie. En soos ZB vir wie ek andersins baie waardering het weet sy ook maar hoe om agterna slim te wees.)) Laat ek dit net duidelik stel: dit was nie my doel om vir Roodt n strik te stel toe ek gevra het dat hy Du Toit se boek resenseer nie. Ek het eerlik belang gestel in sy mening. Baie van ons is op soek na n intellektuele en morele basis vir ons voortgesette betrokkenheid by Afrikaans; noudat ons die underdogs is, lyk selfs baklei vir my orraait as die omstandighede daarvoor reg is dis in elk geval in ons bloed. Ek is net nie seker dat ons ons morele en intellektuele basis kan bou op wilde (anti-Engelse) veralgemenings, onbekookte beledigings en n optoggie na die Uniegebou nie. Oningeligtheid, halwe waarhede, maklik verteerbare aannames oor Engelse, swartes, kommuniste en Amerikaanse imperialisme was juis die stapelkos van Nasionalisme. So mooi en slim soos dit is om Franse en Duitse filosowe in die Afrikaanse diskoers in te bring, so belangrik is dit dat ons genuanseerd na ons eie situasie kyk; anders loop ons steeds die gevaar dat ons aan die agterlike stereotipe van sommige van ons nie-Afrikaanssprekende landgenote voldoen. Chris Louw (Eertydse Dopper, leerling aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd (geskors 1970), stoere NP-joernalis, hanskakie vir Dirk Mudge by Die Republikein, Dakar-ganger, ANC-lakei, useful idiot, dienspligontduiker, gewese korrespondent van Novosti (1988 1990), eertydse redakteur van Die Suid-Afrikaan, toentertydse politieke korrespondent van die Mail & Guardian, voormalige Suid-Afrikaanse korrespondent van die Derde Wêreldse nuusagentskap Inter Press Services (IPS), besoeker aan Orania, by geleentheid genoem die grootste vyand van die Afrikaner en die Afrikaanse taal (Volksblad, 22 Julie 1997), en nou danksy sy noue skakeling met Die Party uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum, RSG se twee nuus-aktualiteitsprogramme. Ook agnostikus en vooraanstaande lid van die establishment. En ja, hy het sy twee kinders na Engelse skole gestuur.) Ns: Ek het nie nou die lus om in te gaan op al die feitelike onjuishede en ander belaglikhede in Roodt se verwarde reaksie op my brief van 12 Januarie nie; LitNet se lesers moet maar weer my oorspronklike brief bekyk en dit vergelyk met Roodt se antwoord. Net n paar leidrade vir die bevooroordeeldes: 1. Skatologiese terme en anale beelde in my uitnodiging aan Roodt om sy optog in Meyerton te hou? Dit moet sekerlik n Freudiaanse glipsie wees, tensy dit die begrip knypboude is wat Roodt se verbeelding so op hol gesit het dat hy dit as skatologies en anaal vertolk, in welke geval ek glo hy het dringend hulp nodig. Knypboude het vir my die assosiasie van n soort angsvallige verfyndheid, en het meer met die wegstap te doen (figuurlik bedoel, Dan!) as met dit wat toegeknyp word en dit wat agter die toeknyp skuil gehou word, soos Roodt dit blykbaar vertolk. Skaam jou. 2. Die beskuldiging dat ek eers n stoere NP-joernalis was en nou blykbaar lid is van die Party, die ANC, lê op die vlak van die onnoselste en mees reaksionêre luisteraarsbriewe wat my week na week by Monitor bereik. Die meeste van hulle doen dit darem sonder adres en onder skuilname, die een opsig waarin Dan Roodt hom eerbaar van hulle onderskei. 3. Ek aanvaar met graagte Roodt se uitdaging om tyd af te staan op my radioprogram waar n mening gelug word wat openlik krities staan teenoor die Party oor kultuur in Suid-Afrika. Verduidelik net wat jy bedoel, ek verstaan nie eintlik nie. Wat my betref, kan jy die tyd, die plek en die wapens kies (swaarde? rapiere? die outydse pistool? of n Sanna?) en jou eie sekondant ook saambring. Of ons kan gewoon n gesprek hê lewendig op die lug, sodat ons jou nie kan / hoef te redigeer nie. Jy kan die tema bepaal. My telefoonnommer is (011) 714-4553. (Ek is van Donderdag tot Sondag (27 tot 30 Januarie) by n bosberaad saam met my kamerade in die Wildtuin om sluwe planne te smee oor hoe ons Afrikaans verder kan onderdruk; andersins is ek op kantoor beskikbaar van so half-sewe soggens tot half vier-smiddae.) |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieλl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |