SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Waar trek mens die streep?

’n Reaksie op Steve Hofmeyr se voorgenome onttrekking aan KKNK

Jaco Botha

Steve Hofmeyr se dreigement om die KKNK te boikot “tot tyd en wyl die KKNK se bestuur en die feeskoerant Krit hulle ‘amptelik van onjoernalistieke haatspraak distansieer’”, soos berig in Rapport van 23 April, het betrekking.

Eerstens is ek dankbaar dat Hofmeyr ook gehalte nastreef waar hy sê: “Die fees is nie 'n aflaaiplek vir elke wannabe nie.” Hier is ons op dieselfde bladsy en ek voel die kerngedagte in my “4Werke”-artikel was dan ook: “In wese is hierdie vier dan baanbrekers binne ‘n kultuur van middelmatigheid – die voorbeeld vir 'n nuwe generasie van karaoke cover-singers.” Indien Hofmeyr self hierdie jaar op die fees was, sou hy dan ook (hopelik) ontsteld gevoel het oor die gebrek aan jong skeppendheid binne Afrikaanse musiek, die oorvloed “wannabe’s” wat op oop verhoë covers gesing het, en die meer gevestigde kunstenaars wat ’n voorbeeld stel dat dit okay is om wins te slaan uit kulturele stagnasie.

Met elke nuwe CD verbeter die liriese gehalte van Steve Hofmeyr se musiek, en sy verkope dui ook duidelik daarop dat hy iets reg verstaan en reg doen in Afrikaans – daarvoor het ek respek. (Sy nie-amptelike reklame-agent, Gavin Prins, doen in hierdie verband ook reusewerk.)

Nou, oor die gehalte van Krit en die koerant se span in my beskeie opinie as redaksielid: Indien Hofmeyr die agt uitgawes van Krit 2006 gelees het, sou hy kon sien dat ervare joernaliste en streng-gekeurde joernalistiekstudente verantwoordelik was vir hierdie publikasie. Daar is met insig, integriteit en kundigheid op verskeie kunsvorme kommentaar gelewer en die algemene doelwit wat duidelik na vore gekom het, was die nastreef van gehalte – nie bloot in die kunste nie, maar ook in die standaard van die publikasie. Krit 2006 was ’n uiters sterk feeskoerant uitgebring deur ’n talentvolle en ervare span.

Hofmeyr se kommer dat “Krit nie bloot vakansiewerk vir elke skepsel met 'n HAT (moet wees) nie” is dus ongegrond. (Wanneer jy wil modder gooi, moet jy ook darem seker maak dat daar wel substans aan daardie modder is – modderwater spat gewoonlik terug in mens se eie gesig.)

Ek voel Hofmeyr se bestempeling van my “4Werke”-artikel, en die stuk vier jaar gelede wat sy skoene beledig het, as “onjoernalistieke haatspraak” is nie tegnies korrek of juis nie. (Hierdie misverstaan van “haatspraak” sien mens gereeld in die briewerubrieke van Afrikaanse koerante.) Volgens ons Grondwet is haatspraak die aanmoediging tot geweld teen ’n spesifieke groep – die “kill the Boer”-slagspreuk is ’n prima voorbeeld hiervan. ’n Regsgeleerde sal hierdie konsepte egter beter as ek kan verhelder. Selfs die onlangse plasing van Mohammed-spotprente is nie deur Suid-Afrikaanse howe as “haatspraak” gesien nie, maar eerder as beledigend, stereotiperend en kwetsend teenoor ’n sekere groep mense en dit waarin hulle glo. In daardie geval het sekere leiers uit die Moslem-gemeenskap hulle dan ook tot die howe gewend (soos ’n individu dit sou doen in ’n lasteraksie) en gevra dat die spotprente nie verder geplaas word nie. Die hof het ingestem.

Wat ek in my “4Werke”-artikel geskryf het, kan op sy swaarste waarskynlik as kwetsend teenoor sommige lede van die gehoor en betrokke kunstenaars gesien word – dit was natuurlik om ’n sekere punt oor “aanvaarbare middelmatigheid” oor te bring. Die gebrek aan “respek” wat ek in die proses aan hierdie mense getoon het, kan op ’n sekere vlak vergelyk word met Hofmeyr se eie gebrek aan “respek” teenoor vroue (oor die algemeen) en sy eie gehoor tydens die onlangse voorval in Londen, waar hy ’n vroulike lid van die gehoor volgens die grote van haar borste geïdentifiseer en afgemaak het (waarskynlik in ’n grap). Maar soos die reaksie van sommige mense op my rubriek, en ook die reaksie van die betrokke vrou (soos gepubliseer in Beeld van 21 April), aandui, vang en geniet almal nie altyd dieselfde “grap” nie.

In die geval van joernalistiek gebruik koerante gevolglik etiese kodes om te verseker dat joernaliste nie individue, of groepe “belaster” of ongesubstansieerde stellings maak nie. Al hierdie maatstawwe en kanale is spesifiek binne die reg en die joernalistiek geskep sodat mense hulle nie tot geweld of “haatspraak” (die aanmoediging tot geweld teenoor byvoorbeeld joernaliste) hoef te wend om bevrediging te kry nie.

Enige klagtes oor die inhoud van Krit kan, soos in die geval met enige ander koerant, aan mnr Ed Linington, Suid-Afrika se persombudsman, gestuur word. Sy adres is: Posbus 47221, Parklands 2121; of stuur ’n faks na (011) 788 4990.

Daar is dus ’n kanaal wat verseker dat Krit-joernaliste etiese joernalistiek bedryf en ek moedig enigiemand aan om van sulke kanale gebruik te maak. Om dus via boikotte druk op die KKNK-bestuur te probeer plaas is myns insiens onproduktief, onbillik en eintlik ’n bietjie laf – dis eenvoudig nie die regte kanaal nie.

My opinie, en dié van baie ander skrywers/joernaliste, is dat daar slegs twee ontoeganklike gebiede vir die media behoort te wees, en dit is die plasing van kinderpornografie en haatspraak (soos gedefinieer in ons Grondwet). Natuurlik sal redakteurs ook, om die publikasie se integriteit te bewaar en ook hofsake te vermy, nie lasterlike of onakkurate stukke wil plaas nie, maar dit is nie ’n suiwer etiese kwessie nie. Van daar af is dit bloot ’n geval van smaak en goeie oordeel (wat albei uiters subjektief is).

Indien kritici van die pers hulle nie by hierdie nugter maatstawwe en bestaande etiese kodes wil hou nie, waar trek mens dan die streep?

Tydens ’n onlangse optrede van Riku Lätti in Londen was daar volgens hom heelwat mense in die gehoor wat rassistiese opmerkings gemaak het, en iemand het selfs uitgeroep: “Viva Ou Suid-Afrika!” Dit was later so erg dat hy sy vertoning gestaak het. Behoort joernaliste so ’n gehoor te “krit”? Ek sou.

In die geval van my “4Werke”-artikel, waar dit oor “aanvaarbare middelmatigheid” eerder as die ernstige kwessie van rassisme gaan, kon mens dalk meer verdraagsaam gewees het. Daarom vra ek hiermee amptelik en onvoorwaardelik om verskoning aan dié lede in die gehoor wat wel “veelseggende haarstyle” en “kleredrag vol vorm” in teenstelling met die gewraakte “vormlose kleredrag en niksseggende haarstyle” geopenbaar het.

Sou dit verder aanvaarbaar wees om ’n hipotetiese sangeres só te beskryf: “Haar stem herinner sterk aan die geluid van ’n geroesde kruiwawiel wat oor ’n veldmuis se stert beweeg”? Dis tog ’n sterk ouditiewe beeld wat lesers ’n beter idee behoort te gee oor wat om te verwag.

Waar trek jy dan die streep?

Ten slotte is dit egter duidelik dat sommige kunstenaars gegrief voel oor wat Krit (en ook ander koerante) al oor die jare oor hulle geskryf het. Of dit geregverdigde besware is en of dit bloot ’n kwessie is van klein ego’s en dunvelligheid, hang van jou perspektief af.

Ek glo al die kanale van beswaar aanteken teen onbillike, of onetiese, kritiek bestaan reeds, maar is tog bereid om hieroor in openbare debat te tree, al is dit bloot om debat eerder as geweld binne die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskap aan te moedig.


LitNet: 25 April 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.