SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Lees ook:
Ons jong skrywers is ’n ankerlose, drywende generasie
Geweld, die skewe werklikheid in die jong skrywer se blikbrein

Die eeuwending: dekadensie buite die salon

Antonia Steyn

André P Brink het tydens die TT Cloete gedenklesing te Potchefstroom ’n referaat gelewer getiteld “Die duisend-en-tweede nag”. Daarin bespreek hy die dilemma van die skrywer op die “drumpel van ’n nuwe millennium”, en in Suid-Afrika ná apartheid. Hy formuleer die vraag soos volg:

    “Soos vele ander totalitêre state in die wêreld — in Sentraal Europa, Afrika, Latyns-Amerika — het Suid-Afrika uit ’n donker tydperk van onmenslikheid in die rigting van demokrasie begin beweeg. Die ondenkbare het gebeur. Die wonder van die alledaagse het die norm geword. En nou? Wat gebeur nou? Wat word van die literatuur — waarheen gaan ons met kultuur — ánderkant die 1001ste nag?”

Volgens Brink lê die redding van die literatuur én kultuur (na apartheid en in die aangesig van die nuwe millennium) in ’n terugkeer na die storie. Die skrywer as ’n storieverteller:

    “Nadat al die toevallighede afgestroop is van Postmodernisme soos ons dit leer ken het [ ... ] dink ek, sal daar een bemoeienis wees wat ons saam met ons in die nuwe millennium kan inneem, en dit is die oorheersende en bepalende betekenis van die storie.” (Brink;1999:11).

* * *

Dié gevoel van Brink word deur sommige van die jonger generasie skrywers gedeel. In ’n onderhoud met S.P. Benjamin beklemtoon hy keer op keer dat hy net stories wil vertel:

    “Ek sal bly wees as ons by ’n punt kom waar ons net stories vertel, goeie stories wat by die wye publiek byval vind [ ... ] Ek hou van ’n lekker storie [ ... ] Ek hou van mense wat lewe, maar nader aan die lewe, nader aan die werklikheid. Dit is in elk geval dié soort mense wat my interesseer ... ”

Izak de Vries deel dieselfde sentimente. As skrywer, is hy veral ingestel op die raakpunte tussen die Afrika-tradisie en die ‘plattelandse’ Afrikaner. Sy stories is oorvertellings, wat nou aansluit by die Afrika orale tradisie. “Ek hou daarvan om stories te vertel. Ek wil baie graag dat normale mense my boeke lees.” Izak voel dat die jonger skrywers moet wegbreek uit die groef van “die idee dat jy literêr moet skryf” en die storie op die voorgrond moet plaas.

’n Terugkeer na die verhaal is dus ’n poging om van die post-Apartheid sindroom gekuur te word. En dit is ’n tendens onder ’n paar van die jonger skrywers — byvoorbeeld Jaco Fouché se Die ryk van die rawe en Paartie by Jakes; Sonja Loots se Spoor en, tot ’n mate, In Drie Riviere van Jaco Botha — waar die verhaal vooropgestel word.

* * *

Daar is egter ook ’n ander tendens teenwoordig in die werk van die jong skrywers wat moontlik die gevolg is van die fin de siècle gevoel: daar is ’n mate van dekadensie wat nou en dan deur die oppervlak breek.

Die Skryfaksie:
  • “Dis ’n soort therapy ... Deur te skryf probeer ek iets vasvat.” — Tom Dreyer
  • “Ek het ’n sosiale verantwoordelikheid ... Ek skryf omdat ek lees.” — Izak de Vries
  • “ ... kry nie eintlik kans vir skryf nie. Probeer so tussen-in darem krap vir stories.” — Herman Wasserman
  • “Dis ’n persoonlikheids-eienskap: soos sommige mense, as hulle ’n bal sien, wil hulle hom slaan en sommige mense, as hulle ’n boom sien, wil hulle ’n storie skryf.” — Jaco Botha
  • “ ... op my ouderdom is ’n nag in die kroeg waarskynlik net so waardevol as een agter die rekenaar...” — Sonja Loots
  • “Mý job is net om ’n storie te vertel ... die storie vat my, gebruik my.” — S.P Benjamin
  • Dié dekadensie verskil egter van die dekadensie wat die draai van die vorige eeu gekenmerk het, en die dekadensie soos dit in Afrikaans deur Hennie Aucamp se verhale na vore kom. Vir die ondersoek na die eietydse dekadensie in die jonger skrywers se werk, sal daar veral gekyk word na Grobbelaar se studie, Hennie Aucamp as dekadent.

    Grobbelaar verduidelik die term dekadensie soos volg:

      “In literêr-historiese konteks verwys die term dekadensie na ’n literêre stroming wat sy ontstaan gehad het in die Romantiek en wat sy bloei in 1884 in Frankryk bereik het, met uitlopers in die letterkunde van menige lande waarskynlik tot vandag toe, ook in die Afrikaanse letterkunde. Die dekadensie is ten nouste verbind met die estetisisme, wat gewoonlik omskryf word as ’n negentiende-eeuse literêre stroming waarin die crédo l`art pour l`art ’n bepalende rol gespeel het.” (1994:2).

    Die jong skrywers beoefen nie dekadensie per se nie. Hulle is nie dandy’s wat met manelpakke, keile en walking sticks in die strate paradeer nie. Die dekadensie in húlle literatuur is ’n dekadensie búíte die salon. Die klem het verskuif van ’n gekultiveerde dekadensie na ’n populêre dekadensie — nie ’n “gekweekte” of geaffekteerde dekadensie nie, maar ’n realistiese, bestaande “straatdekadensie”. Dit is asof dít wat ’n eeu gelede as dekadent beskou is, en deur dekadensie die literatuur binnegedring het, nou, ’n eeu later, kenmerkend van ons daaglikse lewenstyl geword het.

    Oor politieke kommentaar:
  • “Die ware literêre skrywer is geen aktivis nie...” — Jaco Botha
  • “The personal is political ... letterkunde is vanselfsprekend polities.” — Sonja Loots
  • “ ... ek skat wat ek ookal aanpak, sal noodwendig my verwronge weergawe van die werklikheid om my wees. Daarom is van my goed seker polities ... ” — Jaco Fouché
  • “ ... ’n skrywer hoef [nie] noodwendig polities betrokke te wees nie, maar ek dink in ’n samelewing soos ons s’n is alles min of meer polities gelade.” — Herman Wasserman
  • “ ... [’n nuwe begin] Vir wie? Eers was daar gat geskop en nou word daar gatte geskop!” — S.P Benjamin
  • “ ... ek kan en wil nie ontken dat ek bewus is van Afrika nie.” — Izak de Vries
  • “As ek tien jaar ouer was, sou ek skuldig gevoel het oor die verlede.” — Tom Dreyer.
  • Die dekadensie wat in die jonger skrywers se werk voorkom, is dus nie ’n Aucamp-dekadensie nie, maar enersyds minder geaffekteerd en meer eksplisiet. Dit is asof die dekadente “artifisialiteit” van die vorige eeu nou kenmerkend van ons daaglikse bestaan geword het. Moontlik kan dit ’n rede wees waarom die tekste — dalk onbewustelik — kenmerke van die 19de eeuse dekadensie toon.

    Sekere kenmerke en temas van die negentiende-eeuse dekadensie word deur die literatuur van die jonger skrywers aan die einde van die 20ste eeu, weer herroep. ’n Moontlike antwoord op Brink se vraag is dan dat sommige van die jonger skrywers, vanuit die void van post-apartheid terugskryf na die literêre tradisie van ’n eeu gelede. En hulle werk spruit voort uit hulle samelewing en omgewing. Só word hul werk tydsdokumente van die algemene gevoel van dekadensie wat ook hierdie fin de siècle kenmerk.

    Die dekadente temas, soos hier onder blyk, kom veral na vore in die romans Die ryk van die rawe deur Jaco Fouché en Tom Dreyer se Erdvarkfontein. Jaco Botha en Herman Wasserman se kortverhaalbundels vertoon ook aspekte van die dekadensie. Die politieke apatie, wat kenmerkend is van dié skrywers (met die uitsondering van Izak de Vries), kan ook as dekadent gelees word. ’n Gevoel van l’art pour l’art eerder as kritiese politieke kommentaar, oorheers hulle skryfwerk.

    * * *

    Volgens Grobbelaar is die “eiesoortige dekadente tematiek ... motiewe soos die eksotisme, vampierisme, sadisme, masochisme, flagellantisme, homoseksualiteit en biseksualiteit, en karaktertipes soos die femme fatale en psigopatologiese figure ... ” (1994:2).

    Dekadensie word deur sommige literêre kritici as ’n uitvloeisel, of “verval” van die romantiek beskou (Grobbelaar 1994:40). Morele en seksuele verval is dan ook een van die kardinale kenmerke van die dekadensie.

    Jaco Fouché se Die ryk van die rawe speel af in Londen. Die motto van dié roman is William Blake se bekende gedig, getiteld ‘London’. Dié gedig beklemtoon reeds die dekadente tema van verval — Londen, in die roman, word dus die beeld van die ou vervalle en immorele stad. Verder word dit die beeld van Ratkas Goosen se uiteinde. Interessant is ook om te merk dat Blake, wat ’n romantiese digter is, se gedig as uitgangspunt gebruik word vir dié dekadente verhaal.

    In ’n resensie in die De Kat van Desember 1996, verduidelik Henning Pieterse dit soos volg:

      “Terwyl Ratkas deur Londen dwaal, teken hy sy indrukke in ’n joernaal op, maar terselfdertyd is hy, as outsider, besig om homself te stroop om gestroop te word, tot op die byna onvermydelike einde. Hoewel Ratkas lig soek [ ... ], stap hy dieper in sy skadukant in en sy verlede en toekoms word weerspieël en vooruitgeloop deur Edna se donker strokiesprent. Ratkas se skadukant en dié van sy generasie word veral goed versimboliseer deur die beskrywings van die stad, wat weer duidelik verbind word met ’n tipe hedendaagse hel.”

    Dit bring ons by die karakter Edna en haar strokiesprente, Black Edna’s tales. Black Edna, is soos haar naam suggereer, die perfekte dekadente femme fatale. Sy is volkome sadisties en demonies, en deur haar strokiesprent dryf sy Ratkas om Cathy, ’n onskuldige, naïewe meisie, te verkrag.

    Sy is, in aansluiting by die dekadente tradisie, ’n voyeur wat ander misbruik. So bewerkstellig sy uiteindelik Ratkas se morele en fisieke verval. In Ratkas se soeke na homself, is sy die verleidster en sy seksuele inisieerder en uiteindelik die rede vir sy ondergang. Met die karakter Black Edna sluit Fouché by die eeu oue tradisie van die fatale vrou aan.

    Teikenmark:
  • “Ek wil baie graag dat normale mense my boeke lees.” — Izak de Vries
  • “Ek cater vir mense wat hóú van lees ... net ’n bietjie meer user friendly omdat dit nie so literêr geskryf is nie.” — Tom Dreyer
  • “As jy skryf oor ’n sekere groep mense, moet jy altyd vir woorde gaan soek, want daar is woorde wat jy gebruik van nie heeltemal by hulle pas nie, en dan moet jy ’n bietjie skep en skaaf ... ” — S.P Benjamin
  • Ratkas self is ook ’n dekadente karakter. Hy is ’n outsider en sy verlies van onskuld word die beeld van sy morele verval. Hiermee sluit Ratkas ook aan by die tradisie van die eksistensialisme. Wanneer Edna hom na haar kamer neem, word hy gekonfronteer met Collin Wilson se bekende stelling oor die outsider:

      “The atmosphere of the Existentialist Outsider is unpleasant to breathe. There is something nauseating, anti-life, about it: these men without motive who stay in their rooms because there seems to be no reason for doing anything else. It is essentially an adult world, this world without values.” (212).

    In ’n onderhoud met Fouché laat hy hom soos volg uit oor die vraag of hy deur die dekadensie beïnvloed is:

      “Dekadensie? Miskien tog, ja. Moet sê, my kennis van die Victoriaanse era is grotendeels beperk tot twee museums en The French lieutenant’s woman, maar ek kan tog verbande insien met die huidige tyd. Veral die godsdienstige is vir my nog geweldig belangrik in die Afrikaanse kultuur, nie net die modieuse ‘Calvinisme’ nie, maar secretly die hele Christendom ding: Drie-eenheid, engele, profete ... In baie se private wêrelde fungeer hierdie dinge nog sterk. So glo ek, in elk geval. Of hoop ek.”

    * * *

    Tom Dreyer se roman Erdvarkfontein sluit, op ’n totaal ander manier, ook aan by die dekadente tradisie. In Dreyer se roman skets hy die dorpie Erdvarkfontein wat, soos Brink in ’n resensie in Insig sê: “op sy manier mikrokosmos van ons land en ons tyd” is (Desember 1998). Dié roman, wat sterk geïnspireer is deur televisie en films, met die karikatuuragtige klem op oppervlak-aksie, sluit veral aan by die dekadente tradisie se artifisialiteit. Juis deur die filmiese aard van die roman, bevestig Dreyer tot watter mate dekadensie deel van ons daaglikse bestaan geword het.

    Die taalgebruik verval dikwels in die cliché, en, nie alleen die landskap nie, maar ook die karakters, se artifisialiteit leen aan die boek sy “action movie comic strip novel-aard”. In ’n onderhoud met Dreyer laat hy hom soos volg oor die karakters uit: “In Erdvarkfontein is daar nie deernis met die karakters nie — die karakters is marionette wat op interessante maniere rondgeskuif word.”

    Afrikaans en sy invloed:
  • “ ... ons voel gedistansieerd van die ouer skrywers se idee dat Afrikaans under threat is ... die nuwe generasie gaan net weer dinge doen met die taal ... ” — Tom Dreyer
  • “Daar is min werklik noemenswaardige goed in Afrikaans geskryf ... ” — Jaco Botha
  • “Ons skrywers is regtig ’n bietjie stereotiep — drink te veel, is jags, skryf om die depressie te bestry.” — Jaco Botha
  • “Ek is volledig midde-in die stoet.” — Izak de Vries
  • “Dit stem my swaarmoedig dat die jonger Afrikaanse skrywers steeds oorwegend wit en manlik is.” — Sonja Loots
  • “Ek’s jonk en Afrikaans en teen wil en dank ’n citizen of the world, en as ek oor iets skryf is dit dalk hieroor.” — Jaco Fouché
  • “Ek lees nie fiksie nie, want dan vergelyk ’n mens jou werk met díe van ander ... Ek lees eerder kaarte, atlasse en reisjoernale ... ” — Anoeschka von Meck
  • “Maar dan is dit so dat Suid-Afrika ’n dinamiese plek is vir ’n skrywer om te wees ... ” — Herman Wasserman
  • Oor die dekadente artifisialiteit in Aucamp se werk, wat ook van toepassing is op Tom se roman, laat Grobbelaar haar soos volg uit: “Artifisialiteit, wat as alternatief vir ’n onaanvaarbare werklikheid as die mees opvallende tematiese element van die negentiende-eeuse dekadente literatuur beskou word, vind in Aucamp se oeuvre ’n sinvolle neerslag in ruimtelike en karakterbeskrywings, maar veral in die tendens tot fiksionalisering van die werklikheid.” (1994:3)

    Aan dekadente ontheiliging en morele verval ontbreek Erdvarkfontein ook nie. Soos die leser met die “Eerste blik” reeds gedwing word om te sien: “Gewoonlik is die kerkgebou so ’n dorpie se verwysingspunt, die spil waarom alles draai, en die eerste ding wat die naderende besoeker se oog tref. ’n Heel skaflike toring rys dan ook bo die kameeldoringbome uit, maar op Erdvarkfontein is daar ’n mededinger om die besoeker se oog: die Suiderkruis-sinkmyn in die middel van die dorp” (1).

    Dié profanisering en verwerping van tradisionele Christelike norme word op ’n humoristiese wyse aangebied. Dink byvoorbeeld aan die “prediker” se preek in die tronk, ’n preek wat eindig met die “profetiese” woorde: “Vrek, fokkers!” (43).

    Die karakters is ook meestal randfigure. Daar is die vouyeur, Simon Finkel; Henry Kapp die anti-held en as geamputeerde, een van die talle beelde van verval. Sy ontroue vrou Vicky is ’n femme fatale, so ook is Tara.

    Erdvarkfontein verestetiseer die gruwelike. Op humoristiese wyse dwing dit die leser om die dekadente credo, “die bose skoonheid”, te herinterpreteer: “Bloed het gevloei, uit baldadigheid, maar ook om ons aan die verruklikheid van die lewe te herinner. Skote het geklap, uit pure uitbundigheid, maar ook om die stil slag te benadruk as gewone dinge met gewone mense gebeur.” (167)

    * * *

    In ’n onderhoud deur Dreyer en Jaco Botha met die digter Antjie Krog, wat op LitNet verskyn het, bespreek hulle die kwessie rakende die skrywer se sosiale verantwoordelikheid. Beide Botha en Dreyer glo nie dat die skrywer ’n sosiale verantwoordelikheid het nie. Hulle haal Oscar Wilde twee maal aan. Botha sê:

      “Aan die einde van die dag stem ek saam met Oscar Wilde wat gesê het: ‘There are no such things as moral or immoral books, only well or badly written ones’.”

    Tom skaar hom by Jaco: art for art’s sake — weer dié estetiese dekadente credo. Dit wórd dan die redes vir die twee skrywers se politieke apatie.

    * * *

    Jaco Botha se kortverhaalbundel, In Drie Riviere, sluit, soos sy uitsprake, ook aan by dié eietydse dekadensie. Botha se werk is egter nie so dekadent soos Fouché en Dreyer s’n nie. Tog ondersoek hy ook sekere dekadente temas, byvoorbeeld dié van seksuele inisiasie (die ouer vrou as verleidster in die verhaal “Hoe ry die boere”); die tema van morele verval (soos die owerspel in die verhaal “Tee”); die geïmpliseerde seksuele geweld in “Oggendbesoek” en die fisieke verval van die VIGS lyer in “Die mak aap”.

    In die titelverhaal word die skryfproses aan die erotiese gelykgestel. En daarmee sluit hy aan by die literêre tendens van die laat negentiende eeu, soos Mario Praz dit verduidelik in sy studie The romantic agony:

      “In no other literary period, I think, has sex been so obviously the mainspring of works of imagination ... ” (1970:XV).

    Dit is veral deur sy hipergestileerde skryfstyl, dat sy werk aan die gestileerde artifisialiteit van die dekadensie herinner. Dié artifisialiteit / gestileerdheid raak soms surrealisties, soos in die titelverhaal, “as alternatief vir ’n ontnugterende realiteit” (Reddy Insig: November 1997).

    * * *

    Herman Wasserman sê in ’n onderhoud aan Theunis Engelbrecht in Beeld van 10 September 1997, die volgende oor sy stories: “Die idees vir my stories kry ek maar in die strate en kroeë van die stad, dinge wat ek sien rondom my, mense wat ek ontmoet of raakloop.” Sy bundel kortverhale, Verdwaal, het ontstaan terwyl hy ’n nuusverslaggewer was. As skrywer ís hy voyeur.

    Soos Botha se verhale, vertoon sy stories sekere dekadente temas, soos die morele verval van die samelewing en die seksuele frustrasie wat daarmee gepaard gaan. Juis omdat hy sy stories put uit die strate en die kroeë, bevestig dit die feit dat dít wat as dekadent en “artifisieël” beskou is ’n eeu gelede, nóú inherent deel van ons samelewing geword het.

    * * *

    Op die drumpel van die 21ste eeu lewer die jonger geslag dus tydsdokumente van die algemene gevoel van onbetrokkenheid, wanhoop en verval, wat kenmerkend is van hierdie fin-de-siècle, soos dit ook was ’n eeu gelede. Aan die ander kant, is daar die groep skrywers wat ’n terugkeer na die blote storie bepleit.

    Dalk kan ’n mens hul houding in ’n meer positiewe lig sien: as ’n ander, meer private betrokkenheid. André P Brink bied die volgende oplossing vir die literatuur van die hede aan:

      “Meer as ooit tevore, veral as mens aanvaar dat dit nie gaan help om net harder as al die ander te probeer skree nie, moet die literatuur plek inruim vir die private visie, die persoonlike verbeelding, die klein stil stemmetjie van die individuele gewete. Dit is iets anders as die individualisme van die 19de eeu, die egoïsme en / of die eksistensialistiese eensaamheid van ons eie eeu: dit is eerder ’n private ruimte wat juis geskep is deur ’n langdurige ondervinding van die mee-lewe en mee-lye met ander.” (10)

    Hy verwys ook na die woorde van die Zoeloedigter Mazisi Kunene: “onder apartheid is ons omskryf deur die dier waartéén ons in opstand was; nou word dit tyd om onsself in terme van onsself te begin definieer.”(4) En as die jonger geslag skrywers dié waardevolle woorde die 21-ste eeu indra, kan ons lesers uitsien na dit wat nog op die rakke gaan verskyn.


    Grobbelaar, M. (1994). Hennie Aucamp as dekadent. Kaapstad: Tafelberg.

    Praz, M. (1970). The romantic agony. London: Oxford University Press.

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.