SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die struktuurelemente in Anoeschka von Meck se Annerkant die Longdrop

Rachelle Conradie (Universiteit Stellenbosch)

Inhoud

  1. Inleiding
  2. Wie is Anoeschka von Meck, waaroor skryf sy en hoe is sy ontvang?
  3. Ander aspekte van die teks wat bespreek sou kon word
  4. Struktuur
    4.1 Bewussynstroomvertelling
    4.2 Die soektog
    4.3 Die eindpunt
  5. Konklusie

1. Inleiding

My eerste indruk van Anoeschka von Meck se debuutroman, Annerkant die Longdrop, was dié van ’n gefragmenteerde onsamehangende warboel, waar die leser voortdurend gekonfronteer word met sy eie pogings om sin te maak daaruit. Wat my egter laat regop sit het, is die besef dat dit nie net die leser is wat ’n soektog deurmaak nie, maar ook die hoofkarakter, Ginkelsnoek. Sy is ’n dwelmverslaafde, besig met ’n desperate poging om al die repies van haar lewe saam te voeg om daaruit te probeer sin maak. Dié besef het my na die struktuurelemente laat begin oplet en sodoende het ek ’n magdom aspekte ontdek wat bespreek kan word. Dit is veral interessant om te let op al die outobiografiese elemente en herkenbare plekke in Stellenbosch wat in die roman teenwoordig is. Omdat ek die outeur self ontmoet het en graag iets te kenne wil gee van my eie soektog as leser, gaan ek ’n redelike gedeelte van die bespreking wy aan die voorstelling van die outeur as agtergrond vir die lees van hierdie debuutroman.

Ek beskou Anoescka se werk as besonder relevant vir die tyd en is verras met haar verfrissende, humoristiese karakterisering, wat terselfdertyd diepsinnig en universeel is. Sy probeer nie postmodernisties skryf nie, en hunker ook nie terug na ’n modernistiese ideaal nie — dis nuut, eg en eietyds. Ek was aanvanklik skepties, maar is deur die verloop van die verhaal oortuig.

Die outobiografiese element in haar werk en my “kontak” met haar is ’n baie interessante gegewe, maar vanweë die aard van hierdie bespreking — ’n analise van die roman binne ’n spesifieke fokus — het ek besef dat so ’n bespreking te subjektief sal wees en dat daar meer oor die outobiografiese kwessie (dws die verbintenis met die outeur en hoofkarakter) as oor die inhoud van die roman geargumenteer sal word. Dit sou ook moeilik wees om te bewys watter insigte in die bespreking werklik my eie is. Daarom het ek eerder besluit om my fokus te rig op iets wat my van die begin van die lees van die roman opgeval het, nl die struktuurelemente.

Voordat ek dus met die analise van die roman se struktuurelemente begin, wil ek eers die outeur aan u voorstel. Ek sal hier hoofsaaklik op drie aspekte konsentreer, nl wie sy is, dws outobiografiese gegewens; wat aanleiding gegee het tot die skryf van hierdie teks, en wat ander oor haar en haar teks te sê het. Hierna sal ek op ander aspekte wat bespreek sou kon word fokus. Ek sal dan die struktuur bespreek deur eers op die vertelwyse van die hoofkarakter, ’n bewussynstroomvertelling, dan die jagtog (soektog), en uiteindelik die eindpunt te fokus, waarna ek tot ’n konklusie sal kom.

2. Wie is Anoeschka von Meck, waaroor skryf sy, en hoe is sy deur die literêre wêreld ontvang?

Anoeschka von Meck — alias Snoek — het die literêre wêreld betree nadat sy verlede jaar met die Sanlam / De Kat romanwedstryd, soos André P Brink dit in die Insig van November 1998 beskryf, “al die keurders meerkat-voor-gat laat regop sit” het. Sy het reeds in 1994 ’n delikate kortverhaal, nl “Bokse met druiwe en drome” in die bundel erotiese verhale Lyfspel/Bodyplay, gepubliseer. Rachelle Greef skryf in Die Volksblad van 21 Desember 1998 dat hierdie verhaal volgens haar mening, “een (was) wat met die eenvoudigste maar beslis mees kreatiewe stem gesing het”.

Dit is duidelik dat die resensente in rep en roer is oor dié nuwe stem in Afrikaans. Veral uitsprake soos dié van Rachelle Greef getuig hiervan: “Lanklaas het ek Afrikaans gelees wat my so dikwels so hard laat lag het. Niemand wat nou publiseer, skryf soos sy nie”. In die De Kat van 30 Desember 1998 is Hans du Plessis selfs van mening dat “dit ’n roman (is) wat die leser uitdaag, wat die skryfkuns uitdaag, wat — (volgens hom) — die Afrikaanse letterkunde uitdaag”.

Dit is dus duidelik dat sy die literêre wêreld aan die praat het, maar wie is hierdie “nuwe stem” en wat is outobiografies aan die roman?

Ek was so bevoorreg om op Donderdagaand 15 April 1999 self met haar te kon gesels. Nadat ek verneem het dat sy net ’n kort tydperk in Stellenbosch is, terwyl sy daagliks oorlaai word met onderhoude, het ek die moed bymekaargeskraap om haar te bel. Sy het my dadelik gemaklik laat voel met haar uitstekende sin vir humor en hartlike uitnodiging om te kom kuier. Sy is ’n borrelende, sprankelende persoon, sonder om ligsinnig en selfbehep voor te kom. Sy is gretig om oor haar werk te praat, al beskou sy haar skryf as ’n “private, egoïstiese, spirituele oefening” (Johan van Zyl, Die Burger 17 Desember 1998). Sy weet wat sy uit die lewe wil hê, en kom verbasend sterk en doelgerig voor, ten spyte van Johan van Zyl se beskrywing van haar as “ ’n maltrap”. Wat egter die sterkste uitstaan, is haar opgewondenheid oor haar persoonlike verhouding met Christus. Sy straal as sy vertel hoe kosbaar en “magical” die lewe vir haar geword het, sonder om ooremosioneel te raak. Sy glo haar skryfwerk is ’n gawe van God en gee al die eer daarvoor aan Hom.

Sy vertel dat haar hele lewe ’n soektog na sin en betekenis was om die leegheid in haar te vul. En in dié proses het sy haarself gedryf om “alles” te beproef. Sy was betrokke by okkulte, rituele en dwelmverslawing. Sy het altyd ’n intense belangstelling in gelowe gehad, maar het dit uiteindelik by die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Later het sy ook met ’n beurs haar MA-studie in Egiptologie by Stellenbosch gevolg, wat oor die verband tussen die Rooms-Katolieke en Egiptiese ikone gehandel het. Tydens haar Stellenbosch-jare het sy in die studentehuis Kalulu gebly, wat hul destyds Dom Pedro genoem het. Hierdie studentehuis is die plek waar Ginkelsnoek in die roman die meeste tyd spandeer.

Na hierdie persoonlike medeling oor hierdie “werklike plek” binne die roman, was ek gretig om die studentehuis te besoek en het die raak beskrywings baie interessant gevind — die lang “prime”-kamer met groot vensters aan die linkerkant van die huis (p9), die avokadopeerboom buite hierdie venster (p67), die solderkamer wat nie meer in gebruik is nie en veral die toilet wat ’n afskortinkie binne-in die groot badkamer met die storte is (p9). Hier het sy destyds ’n brief in die dak weggesteek waarvan sy my die aand van my besoek vertel het. Sy skryf ook oor hierdie brief op p149: “(sy) wys hom sy steek die brief daar weg. Vir later herken.” Sy het gesê ek moet gaan kyk of die brief nog daar is. En met my besoek aan Kalulu het ek dit werklik daar gevind!

Dit was ’n motgevrete brief waarop daar “sacred trust” staan, met die datum: “Maandag 29 November 1993” bo-aan. In hierdie brief skryf sy dat sy met “joy” en “sadness” die studentehuis moet verlaat en bedank elkeen wat saam met haar in die huis gebly het. Sy beskryf die ongelooflike “enormous” maan wat hulle groet soos hul ’n nuwe toekoms inbeweeg. Aan die einde van die brief vra sy dan ook heel gepas : “Who knows what our destinies wil turn out to be?”

Net drie maande na die skryf van hierdie brief het sy ’n drastiese ommekeer in haar lewe ervaar. Sy vertel soos volg in Finesse van April 1999:

“Die nag van 3 Februarie 1994 verskyn Die Lieflike Een, Jesus Christus, aan my in ’n visioen in my ouerhuis. En ek lag! Ek het hom nie geglo nie. Die evangelie kon tog nie waar wees nie. Nogtans was die liefde wat vanaf Hom gekom het, so oorweldigend dat ek besluit het hierdie Persoon, wie dit ook al is, wat maak of Hy die Jesus van die Christene is, sal ek volg.”

En daarom sê sy ook die volgende oor haar skryfwerk van hierdie roman (dieselfde artikel):

“Ek bid as ek voor die rekenaar gaan sit. Die kru taal in my boek is binne die konteks van verslawing. God se genade dring deur die skerwe van gebroke lewens.”

Dit is dus duidelik dat die keerpunt in haar lewe ook aanleiding gegee het tot die skryf van hierdie roman. Oor die outobiografiese sê sy die volgende in Die Burger van 17 Desember 1998: “Skrywers se eerste boeke is baie keer ’n opbraaksel van hul lewenservaring, maar nou is die boek se outobiografiese dele meestal verouderd. Ek het lankal op ’n ander stasie afgeklim.”

Sy erken verder dat sy die roman in drie weke geskryf het, maar gee al die eer aan God. Hierdie kort skryftydperk het ’n groot reaksie in resensies uitgelok. Sy versag egter hierdie reaksie deur te erken dat dit wel tien maande geneem het om die teks behoorlik te organiseer.

By die Klein Karoo Nasionale Kunstefees vanjaar het sy opspraak gemaak saam met Bernie Searle van die Departement Beeldende kunste in Stellenbosch met die deelname aan Bloedlyn — ’n kunsuitstalling waar pare skrywers en kunstenaars saamgewerk het om kunswerke te skep. Sy sou ook op die fees ’n openbare onderhoud oor haar boek met Petra Müller voer, maar het ’n stampvol saal teleurgestel deur nie op te daag nie. Wat veral in die verband opspraak gemaak het, was die amptelike feeskoerant van die KKNK se opskrif “Wat het geword van Anoeschka?” en haar misterieuse antwoord op die vraag oor die rede van haar afwesigheid: “Ek kan nie rêrig die vraag beantwoord nie. Hulle het gesê ek moenie daaroor praat nie. Ek voel horrible, verskriklik ...”

Maar tydens die wegbly van Anoescka het Petra Müller, volgens ’n berig in die Boekebladnuus deur Pieter Redelinghuys, by die webadres www.24.com, ’n “oorweldige tribute aan Von Meck en haar debuutroman gegee”. Müller beweer dit is ’n buitengewone boek — sy noem dit “ ’n fenomeen”: “Daar is geen skrywer in Afrikaans wat nie die boek sou wou geskryf het nie ... en ek weet ook nie van een wat hom kon geskryf het nie”.

Terwyl almal so positief oor haar werk is, is daar ook diegene, soos Hans Pienaar wat in die Sunday Independent van 7 Februarie 1999 die volgende hieroor skryf:

“But this type of controversy will always be fringe-festival stuff; the book does not deserve more. What this publication will do, though, is put a promising debut behind her, creating the freedom to try something that would do justice to her fertile intelligence.”

Ek het Anoescka gevra hoe sy oor dié negatiewe kritiek op haar debuutroman voel, waarop sy geantwoord het dat sy ten minste bly is hy dink sy is intelligent. Maar die feit dat dit die enigste minder positiewe resensie is, uit die veertien resensies wat ek geraadpleeg het, laat ’n mens wonder hoeveel steun hierdie mening sal hê.1

3. Ander moonlike besprekingsaspekte en die verfyning van my fokus

Anoeschka von Meck beskou die volgende aspekte as die sleutel tot die “verstaan” van die roman. (Persoonlike mededeling.) Hiermee identifiseer sy ook van die belangrikste besprekingsaspekte. (Dit wat in hakies verskyn voeg ek by ter verduideliking):
“Dit is ’n drievlakboek: (d.w.s. die boek kan op drie vlakke gelees word)
  • die lewensverhaal van drie susters op universiteit,
    — ’n loodgieter (Sywatdroom — die middelste kind)
    — ’n reisiger (Sywatdink / Ginkelsnoek — die oudste) en
    — ’n presteerder (Sywatdoen — die jongste);
  • die ontdekking dat die drie vroue verbrokkelinge van een trauma-verwarde persoon is; (Die hoofkarakter, Ginkelsnoek is in der waarheid Dinkdroomdoen)
  • die mens se Soeke na sy Maker. (Die interpretasie dat Ginkelsnoek op soek is na God, en in die slot tot bekering kom.)”
Anoeschka vertel verder dat “dit ’n onsamehangende verhaal van ’n dwelmverslaafde (is) wat die lewe soos die opgeskeurde repies van ’n foto beleef. Daar is geen spesifieke storielyn of tydstruktuur nie. Alles is gebeurtenisse, emosies en ‘memories’ wat in splinterskerwe weggegee word. Die leser kan sekere weggesteekte simboliese sleutels gebruik om die “waarheid” agter te kom. In die kern gaan die boek oor Die Jagtog.
God wat ons met Liefde Jag.” (Persoonlike mededeling)

Dié stelling, nl dat daar “geen spesifieke storielyn of tydstruktuur is nie”, dui veral op die gefragmenteerde aard van die teks en beteken nie dat onderliggende struktuurelemente nie aanwesig is nie. Ek sal dit in die struktuurbespreking aantoon.

’n Ander belangrike aspek wat bespreek sou kon word, is die titel. Anoeschka se werkstitel was aanvanklik Skree tot jy lag. Die nuwe titel, Annerkant die Longdrop, wat met die uitgawe deur Queillerie verskyn het, trek egter baie meer aandag en is multi-interpreteerbaar. Die “Annerkant” verwys na ’n spesifieke ruimte of toestand wat verwyderd is van die hier en nou: dit sinspeel op die dwelmverslawing en terselfdertyd ook haar bekering. Die spelling suggereer gemaklikheid, wat op die studentikose of bloot die spreektaal in Afrikaans kan dui. “(D)ie Longdrop” verwys terug na die dwelmverslawing, en spesifiek die stadium wat die dwelmverslaafde na die gebruik van die dwelm ervaar. Terselfdertyd is dit ook die benaming vir ’n bos-toilet, gat-toilet (?) wat die implikasie het van ontlasting, in die letterlike, maar ook die figuurlike sin van die woord — maw dit wat uit die liggaam moet kom sodat dit gesuiwer kan word. ’n Zen-boeddistiese lesing sou dit juis beskou as die kuns, die roman,die skryfproses wat uitgewerp word en aan die leser voorgehou word (Vergelyk Breytenbach).

Ook die naamgewing, bv die hoofkarakter Ginkelsnoek, het dadelik my aandag getrek. Anoeschka verduidelik die naam as ’n samestelling van haar eie bynaam en dié van ’n Nederlandse karakter waaroor sy eens gedroom het. (Persoonlike mededeling). Ander name vir die karakters, bv Oom Boekevat, Oupa Saggiesamen, tannie Derderat ens, is onkonvensionele name wat verband hou met die eienskappe van hierdie karakters. Fransina Sussana wat later beskryf word as F.S. en volgens haar eintlik staan vir “fokken strange”, en ook die gebruik van polities onkorrekte benamings is gewaagd, maar pas uitstekend by die “minder skuldbelaste nuwe generasie” van die hoofkarakter. Rachelle Greef verwoord dit soos volg in Die Volksblad van 21 Desember 1998: “(Die) generasie is minder skuldbelas as die oueres. Hulle kan skryf van ’n Porra en ’n Slamaaier (p111) en ’n Koelie-boyfriend (p34) sonder om in die swart gat van geskiedenisskuld te tuimel”.

Daar is ’n menigte ander aspekte van die verhaal wat ook bespreek sou kon word, maar bogenoemde en die struktuuraspek, waarop ek sal konsentreer, het die meeste vir my uitgestaan tydens die lees van die roman.

Ek het aanvanklik gewonder of so ’n onsamehangende warboel enigsins iets om die lyf kan hê, totdat ek besef het dat die hele roman as ’n soektog (jagtog) beskryf kan word: met die bewussyn van die karakter(s) as die verteller wat ’n eindpunt bereik. Hierdie drie elemente vorm, volgens my, die struktuur van die verhaal.

4. Die struktuur

4.1 Die bewussynstroomvertelling

Die vertelling van die verhaal verloop asof dit die direkte weergawe is van die bewussyn van die karakter(s). Literêre terme en teorieë (red TT Cloete) 1992:41, klassifiseer hierdie soort verhaal as ’n “bewussynstroomverhaal”. Die eerste aspek wat dus duidelik uitstaan, is die onmiddellikheid van die bewussyn wat bewerkstellig word. Scholtz verduidelik dit soos volg: “Met behulp van die vrye indirekte rede en die innerlike monoloog word gepoog om die illusie te skep van die direkte weergawe van die ‘verbystromende’ gebeure in die bewussyn van die karakter(s) soos dit van oomblik tot oomblik geregistreer word” (p 41). Dit kan bv uit die volgende passasie in die roman gesien word: “Dis met dié dat sy toe per ongeluk ’n paddavissie vang. Besluit om dit vir Ma te gee. Miskien sou Ma dit in die vet bottel bo-op die yskas grootmaak. Of dalk vir die katte voer? Ma’s het nie noodwendig nurturing persoonlikhede nie. (spasie) Blinkgeverfde pampoene. Hulle lyk soos versteende uitgerekte meidetieties” (p 15).

Daar is egter soms dele waar die indirekte rede wel ipv die vrye indirekte rede gebruik word, bv: “Ek is na aan versuip, het sy sonder emosie gedink” (p15). Dit volg dus nie altyd Scholtz se beskrywing van die term nie. Dit is ook dat Scholtz spesifiek sê dat dit hier nie net om die bewussynsbelewing van een karakter gaan nie, maw karakter(s). Die implikasie hiervan in hierdie roman is dat die drie susters as drie karakters gesien kan word, dws dat daar uit elkeen se perspektief vertel kan word, wat dan ook wel die geval is. Bv die perspektief van SywatDroom:

As SywatDroom haar asem ophou en die geluide van die straat uitsny, kan sy Ginkelsnoek se rekenaar hoor. Sy wens daar wil iemand spesiaals in haar lewe kom” (p67).

Wat Scholtz se uitspraak oor die “hier-en nou”-ervaring van gebeure betref, dws dit wat van “oomblik-tot-oomblik geregistreer” word ook die volgende: Schotz wys daarop dat “een van die grondmotiewe van die bewusynstroomverhaal die totale en dikwels onversoenbare vervreemding tussen mens en werklikheid (is). Van daar dan ook die besondere klem in hierdie verhaalsoort op die binnelewe van die mens, die gebeurtenisse in die bewussyn van die karakter(s), terwyl dinge in die hier-en-nou ervaar word”. (my kursivering) (p41).

Hierdie vervreemding van mens en werklikheid verwys na die dwelmgebruiker se verwarring van die tydsaspek tydens bedwelming. Dit verwys egter ook na die oorskryding van die grens tussen werklikheid en fiksie, wat mens laat dink aan Johan de Lange se kortverhaalbundeltitel Vreemder as fiksie . Maar soos in hierdie bundel van De Lange word daar nie net verwys na die karakter en leser nie. Ook die outeur word betrek, vanweë die gebruik van outobiografiese gegewens. (Sien ook afdeling 4.2 oor die jagtog).

’n Ander struktuurkenmerk wat op ’n interessante wyse in die roman na vore kom, is “die gebruik van kompositoriese tegnieke wat in die musiek (‘Leitmotief’), in die eksperimentele kuns (‘collage’), en die film (‘montage’) ontwikkel is”. (Scholtz 1992:41). Ook hier is ’n mate van ooreenstemming en afwyking teenwoordig. Hierdie “kompositoriese tegnieke” vind wel neerslag in die herhaling of terugverwysing na simbole, bv die verwysing na water.2 Maar daar is ook dié afwyking dat daar nie net gebruik gemaak word van die kompositoriese tegnieke nie, maar dat daar ook ’n oorvleueling plaasvind tussen hulle. Dit kom bv na vore in visuele beskrywings van musiek:

Ginkelsnoek sien klank. Soos patroontjies om haar. Party is reguit lyntjies, ander het krulletjies of hoekies. Sy luister nie graag na musiek wat hoekies maak nie. Die hoekies steek in haar vas soos klitsgras” (p132-133). In hierdie gedeelte word daar nie net op die effek van musiek gewys nie, maar ook die vermenging van genres, dws deur musiek visueel uit te beeld word daar as ’t ware ’n “collage” gevorm tussen musiek (ouditiewe) en kuns (visuele) wat uiteindelik ook verwys na die kombinasie daarvan in film. Die verteller sê immers op p 62 “Ginkelsnoek beleef dié oomblikke soos in ’n fliek”. Dit word nog meer relevant binne die tema van dwelmverslawing in die roman, waar die sensoriese belewenisse as ’t ware oor mekaar “vloei”. Dit herinner mens aan die gebuik van hierdie bedwelmde visie in ’n film soos Trainspotting.

’n Ander aspek van die bewussynsverteling wat ooreenstem met die roman is, wat Scholtz noem, die “kenmerkende struktuurprinsipe”. Hy beskryf dit soos volg:

“... ’n struktuurbeginsel wat ooreenstem met die wyse waarop die registrerende bewussyn volgens die psigologiese wet van vrye assosiasie op elke buiteprikkel reageer en verbande lê soos wat die indrukke verbystroom” (p 41). Dit kan in die volgende passasie in die roman gesien word (p82): “Pa het geleer om haar groottone met ’n indent in die middel te knip. Werk soos ’n bom om ingroeitoonnaels te voorkom. En dan net hierna: Hoe werk ’n bom? Wat sê dit vir jou van ’n land of taal wat iets meet aan die suksesvermoë van plofstof?” (Eie onderstreping). Dan beskryf sy die Israeli’s wat geweld nog meer alledaags vind, wat haar laat dink aan die vertelling van ’n Israeli-soldaat, wat haar laat dink aan die feit dat hy van ’n krans afgeval het, wat haar daaraan laat dink dat hy ’n goeie ballroom-dancing-instrukteur was. Hierdie assosiatiewe denkspronge veroorsaak dan ook dat absurde verbintenisse gemaak word en bydra tot die humor in die roman. Scoltz verwys na hierdie denkspronge of absurde verbintenisse as “die chronologiese struktuur” in die bewussynsverhaal, wat “vervang word deur die segmentstruktuur” (p41). Dit verduidelik hy as volg: “die segment eindig dikwels net so onverwags as wat dit begin het, gaan op assosiatiewe wyse oor tot ’n volgende en is nie kousaal-konsekutief (“daarom ... en toe)” met ander segmente verbind nie.”

Op p 81 in die roman vind mens ook ’n demonstrasie hiervan, maar hier word die onkonvensionele kousale verband nie net deur gedagtespronge gemerk nie, dit vind ook binne woord-assosiasie plaas. Hier word pedagoog met amfibieë, spesifiek die padda, in verband gebring, wat dan verander na pedagog en dan na Paddagoggie wat na haar paddavis verwys. Weer eens, soos in die bespreking van die vorige struktuurkenmerk waar musiek, kuns en filmtegnieke vermeng word, hou hierdie “segmentstruktuur” onder meer verband met die sensoriese belewenis van ’n persoon wat onder die invloed van dwelms is, of “gerook is” om die woorde van die hoofkarakter te gebruik (p144).

Waarop Scholz egter spesifiek wys, is dat hierdie “segmentstruktuur” ’n verklaring bied waarom die medewerking — en selfs medeprodusering — van die leser van uiterste belang in hierdie verhaalsoort is. Hy bewoord dit as volg: “Dit verklaar ook waarom hierdie verhaalsoort van die leser ’n groter inset vra, van hom vereis om ’n medeproduseerder van die teks te word.” Die “medeprodusering” en “medewerking” kan in hierdie roman as ’n soektog na betekenis verwoord word. Dit is veral hierdie aspek, waar die leser, hoofkarakter en God betrek word by die soektog, waarop ek in die volgende gedeelte sal fokus.

4.2 Die Jagtog

Anoeschka wys daarop dat die kern van die verhaal opgesluit lê in “Die Jagtog” (Persoonlike mededeling). In hierdie roman gaan die jagtog volgens haar oor dié van die hoofkarakter en van God.3 Maar ek wil ook byvoeg, die jagtog van die leser.Ek gebruik spesifiek die woord “jagtog” omdat dit Anoescka se woorde was, maar ook omdat dit ’n “intensiewer soektog” suggereer.

Die jagtog van die hoofkarakter is hoofsaaklik om die “iets” te vind. Sy sê immers aan die begin van die roman: “Is gebore om te soek na die iets” (p2).

Ook die opmerking “Ma sê sy’s gebore met ’n frons asof die lewe toe al vir haar ’n puzzle was” (p7), suggereer dat sy met ’n soek- of jagtog besig is. Die jagtog vind neerslag in die deurgaanse verwysing na die gat in haar wat gevul moet word. Op p1 beskryf sy haarself as “’n uitgeknipte gat in die atmosfeer. ’n Spelonk wat sy bewoon, waarvan sy nie die dieptes ken nie.” Op p 136 is die progressie van die jagtog duidelik, aangesien sy in hierdie stadium besef dat almal sulke “gate” in hul lewens het, maar is nog steeds nie presies seker wat die “iets” is wat die gate moet toemaak nie: “Human beings is soos die vergiettes wat altyd missing is in Dom Pedro.
    Vol gate.
    Hulle was geneig om alles in hulle bestaanswêreld, hoe arm, hoe mediocre of hoe luxurious ook al, tot een dimensie te vervlak as ’n oorlewingsmeganisme. Die alles-gelykmaak-lyn waarin die hele mens se bestaan later net soveel krag gedra het of waarde gehad het as om toilet toe te gaan ... Tog het Ginkelsnoek nogtans stadig maar seker iets méér begin agterkom ... Clues het sy hier en daar begin optel. Sy’t na die gate begin kyk. Genotice dat hulle by almal dieselfde lyk. Dat dieselfde iets die gate dus moes toemaak.

Daar word dus geïmpliseer dat die een wat die gate toemaak ook antwoorde of betekenis gee. In die teks is die hoofkarakter dus ook besig met ’n jagtog na betekenis: bewyse hiervan is haar “regte naam”, nl Sywatdink, of die latere benaming SywatWonder (p90), haar voortdurende soeke om te weet en haar voorliefde vir woorde, bv op pp 24 en 25 die volgende oor haar liefde vir woorde: “Woorde is vir Ginkelsnoek ’n manier van tot stilstand kom of iets om mee te jump. Iemand se woorde of die werklikheid kan haar hele wese tot halt roep ... woord OMPAD ... iemand se hele lewe kon daarin vervat word. Haar lewe ... Woorde lok haar van ’n klip af. ’n Man moet haar eers met woorde mak maak ... Nie vir smooth praat nie, maar vir die waarheid bloot lê ...” Omdat Ginkelsnoek altyd geneig is om oor dinge te dink (SywatDink), is woorde as ’n vorm vir haar denke uiters belangrik. En die betekenis daarvan maak dinge vir haar duideliker en ook meer positief: “Woorde maak ook gate in die lug oop om mee te jump” (p 25). Die “betekenis” vra ook volgens Ginkelsnoek ’n egtheid. Hierdie egte betekenisbelewing word uiteindelik gepersonifieer: “Sy smag na iets eg. IEMAND EG.” (p 21).

Die jagtog van God is wat Anoeshcka verduidelik met “Liefde”, d.w.s. “God wat ons met Liefde jag”. Die jagtog word deurgaans gesuggereer deur die klem op oë en die gevoel dat iemand haar dophou.Van kleins af kry sy die gevoel, bv op p 87 sê sy “dit lyk vir haar of die blink keramiekoog (van die haas) vir haar aai” en dan plak sy dit met kougom toe. Ook op p 90 sê die verteller: “Snags was Sprankelsnoek geneig om nagmerries te hê van allerhande oë wat haar dophou.” Die jagtog word veral beskryf in die kursiefgedrukte gedeeltes oor die verskuilde misterieuse personasie wat haar al hoe dringender aan die einde van die roman wil ontmoet. Waar die “Hestertjie haarnaald”-kursiefgedeeltes, vroeër in die roman, “speels” háár (Ginkelsnoek) soektog suggereer, word die verlangende stem van die personasie wat gevind wil word (Hy), al hoe duideliker soos sy die “eindpunt” van haar soektog nader.

Die wag vir die regte oomblik word ook as deel van die jagtog beskryf: “Hy volg die spoor. Haar klank. Haar reuk. Gaan staan op die rotsplaat waarna sy so graag alleen kom. Maak sy voorvingers nat met sy tong. Druk dit dan teen die klip waar sy altyd sit. Hoe lank nog?” (p146).

Hierdie jagtog herinner mens aan die Jakkalsjagter (1990) van Alexander Strachan, waar dit gaan om ’n werklike jagtog, maar ook die leser se jagtog na betekenis. Met die vraag aan Anoeschka of dit ook die bedoeling met die roman is, het sy geantwoord dat sy wel Strachan se boek gelees het, maar nie spesifiek daardie konneksie gemaak het totdat iemand wat haar boek gelees het en met haar gesels het oor dié ooreenkoms tussen hierdie werke nie. Sy voeg dan ook by dat sy nie al die antwoorde op haar eie werk het nie en sy bydraes en insigte van ander verwelkom. (Persoonlike medeling).

Die leser is wel betrokke by die teks. Die leser is ’n medewerker of medeproduseerder, soos Scholtz dit in die bewussynstroomverhaal beskryf. Dit is dus asof die leser met sy assosiasies en verbeelding moet help “skep” aan betekenis. Die leser word saamgeneem op die jagtog — en meer nog, beleef dramatiese ironie deur te weet wie die jagter is . Spanning word by die leser bewerkstellig deur die vraag of die soektog wel suksesvol sal wees.

Die soektog of jagtog na betekenis in die teks sal wel anders benader word deur kritici van dié verhaal as wat daar bv oor Die Jakkalsjagter destyds gesê is, omdat dit reeds in 1990 verskyn het, maar ook vanweë Strachan, anders as Anoeschka, se doelbewuste kommentaar op die “skryf en lees-aksie”. Ek verwys spesifiek na uitsprake soos die volgende: bv die uitspraak van Van Coller in 1991: “Ek het nie oral vrede met die verkapping van volgorde nie, soms lyk dit my na ’n onnodige en selfs té bewuste poging tot kompleksiteit.” (Rapport 27 Januarie 1991). Met die eerste lesing van Annerkant die Longdrop het ek net soos Van Coller gevoel, totdat ek besef het dat dit hier gaan om ’n dwelmverslaafde se beskrywings en indrukke. In hierdie opsig en omdat die jag-tema die kern van die verhaal is, beskou ek dit as uiters gemotiveerd. Die leser gaan as ’t ware saam met die sentrale karakter in haar soeke na die eindpunt Annerkant die Longdrop.

4.3 Die Eindpunt

Die einde van die verhaal kan op verskillende maniere geïnterpreteer word. Eertens is dit duidelik dat daar wel ’n verandering in die hoofkarakter is: “In geselskap wat sy vroeër net as ’n social nuisence gesien het, sien sy nou sin. Nie omdat die gesprekke verander het of die lampskerms wat pas by die tafelmatjies wat pas by die gordyn wat om ’n paal getwirl is nie. Oor haar gat gestop is. En wanneer jou gatterigheid verby is, kom daar vrede.” (p159 — Eie onderstreping). Hierdie verkryging van “vrede”, versterk deur die betekenis van die hiërogliewe op die voorblad, nl “Sy kom uit die water”. Dit impliseer ’n vernuwing of ’n suiwering. Die watermotief is ’n belangrike religieuse simbool in die verhaal. Tweedens is daar ’n verandering wat plaasvind in die naamgewing van die hoofkarakter — Sy word beskryf as Dinkdroomdoen en die Perfekte Eva. Dit dui op die drie susters wat as een gefragmenteerde persoon gesien kan word en dat die dele aan die einde bymekaar kom, dws liggaam, siel en gees word in een persoon herenig. Derdens dui dit op ’n ontmoeting. Die slot lui soos volg:

’n Duisendmiljoen sterre verskiet met ’n jubelende kreet. Die offer is aanvaar. Saggies met onuitspreeklike teerheid kom hy haar in” (p159).

Verskeie interpretasies is hier moontlik: Vanweë die outobiografiese element sinspeel die ontmoeting in die eerste plek op haar bekering: “Die mens se soeke na sy Maker”. Die Bybelse motto suggereer reg aan die begin hierdie religieuse verbintenis: Jer 3:14:For I am your husband I will choose you”. In die tweede plek kan dit egter ook verwys na ’n liefdesverhouding tussen man en vrou wat voltrek word. Dit was aanvanklik my eerste indruk met die lees van die verhaal, totdat al die religieuse verwysings my anders oortuig het, bv die titels van hoofstuk 4: “Klop en vir julle sal oopgemaak word” (Bybelteks) en hoofstuk 7: “As hy weerkom as hy weerkom” (geestelike kinderlied wat verwys na die wederkoms: as hy weerkom as hy weerkom, kom haal hy sy pêrels...vir Jesus se kroon. Dit hou verband met die mistieke bruidsmotief — “The Divine Romance”. Die slot en die motto sluit op hierdie manier by mekaar aan. In die derde plek kan dit ook verwys na ’n ontmoeting na die dood. Hierdie punt word regverdig deur al die verwysings na die hospitaal en haar oordosis (“Oordiedoos” — p156). Dit lyk asof daar ’n ontmoeting in die hemel is, dws dat Ginkelsnoek gesterf het en dat God haar as’t ware “kom haal” het. André P Brink stem saam met lg interpretasie deur die opmerking in die Insig van November 1998 met die opskrif “ ’n Donnerse mooi boek:” “En Ginkelsnoek se illuminasie teen die einde is een van die ontroerendste passasies wat ek lank teëgekom het”.

Die leser moet dus self uitklaar watter betekenis die eindpunt — maar ook die Die Lewe — vir hom/haar inhou.

5. Konklusie

Wanneer ’n mens Anoeschka von Meck se debuutroman, Annerkant die Longdrop beskou in die tydgees waarin ons ons tans met die naderende millenium bevind, stem dit duidelik ooreen met die toenemende dringendheid oor die soektog na identiteit en na iets standvastigs. Die leser se betrokkenheid, my eie betrokkenheid en ook die outeur se betrokkenheid in die roman lewer ook kommentaar op die huidige tydgees veral binne die letterkunde. Die toenemende belangstelling in biografieë, outobiografieë, dagboeke en memoirs wat tans in die letterkunde oplewing kry, lewer ’n bewys hiervoor. In die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Stellenbosch is daar ook onlangs ’n kursus in die honneursjaar, nl egodokumente aangebied.

Hierdie roman hou verband hiermee, omdat dit ook ’n optekening is van ’n bewussynsbelewing. Die vraag wat egter ontstaan, is of daar werklik strukturele elmente herken kan word in hierdie roman vanweë die aanvanklike gefragmenteerde indruk. Die gevolgtrekking is dus dat daar wel ’n onderliggende struktuur geskep kan word dmv die bewussynstroomvertelling, die jagtog wat die verloop van die teks aandui, en die uiteindelike slot of eindpunt. Die leser besef dus dat die oënskynlike struktuurlose teks, in werklikheid ’n “bedwelmde”, merkwaardige en eiesoortige teks vorm.

boontoe

Bronnelys

  1. Brink, André P. 1998 “’n Donnerse mooi boek”. Insig, November.
  2. De Kock, G.1998. “Longdrop — boek kry lof”. Rapport, 22 November.
  3. Du Plessis, H. 1998. “’n Soeke verdeel deur drie”. De Kat, 14 Desember.
  4. Greeff, R. 1998. “Die kreatiewe stem sing luidkeels saam”. Die Volksblad. 21 Desember.
  5. Malan, L. 1999. “ ’n Boek wat jou laat tap dance.” Rapport, 17 Januarie.
  6. Pienaar, H. 1999.“ Kinky fish trawls well below the line.” The Sunday Independent. 7 Februarie.
  7. Redelinghuys, P. 1999. “Waar was Anoeschka?” LitNet.
  8. sn 1998. “Dié roman gaan opslae maak.” VRYDAG (4)48, 27 November.
  9. sn 1999. “Die Lieflike een het aan my verskyn” Finesse, April 1999.
  10. Van Zyl, J. 1998. “Op 31 wag Snoek nog op haar puberteitsjare.” Die Burger, 17 Desember.
  11. Von Meck, A. 1998. Annerkant die Longdrop. Kaapstad: Queillerie.
  12. Von Meck, A. 1999. Persoonlike onderhoud. 15 April 1999.
  13. Wasserman, H. 1998. “Ginkelsnoek vat jou op ’n dolle vaart met debuut.” Die Burger, 23 Desember.

  1. Die feit dat ek ook net een Engelse resensie raadgepleeg het, beteken dat afleidings oor die verskil in kritiekgewing tussen Afrikaans en Engels onwetenskaplik sal wees.
  2. Ek sal later in 4.3, die afdeling oor die eindpunt, die betekenis van die watersimbool bespreek.
  3. Dit kan geïnterpreteer word as “die iets” of die “Hom” omdat die Bybelteksmotto van die verhaal dit eksplisiet stel: “For I am your husband, I will choose you” Jer. 3:14. (Sien in 4.3 Die eindpunt)

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.