SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Onthutsende blik op die geskiedenis: A. H. M. Scholtz se Afdraai (Kwela Boeke, 1998)

Andries Visagie, Departement Afrikaans, Universiteit van Zululand

Die roman Afdraai is A.H.M. Scholtz se derde boek en is ’n bewys daarvan dat hierdie skrywer nie net ’n eendagsvlieg op die literêre toneel is nie. Met Afdraai word grootliks voldoen aan die hoë verwagtinge wat gewek is deur Scholtz se debuut, Vatmaar. Net soos Vatmaar word Afdraai gekenmerk deur ’n vinnige opeenvolging van gebeure en ’n groot verskeidenheid van karakters. Die Vrystaatse dorp Afdraai en spesifiek die plaas Brinks Pos is die knooppunt van die gebeure wat sowat ’n honderd jaar bestryk met die Suid-Afrikaanse Oorlog as beginpunt.

Die ondertitel van die roman, “ ’n Kroniek van seermaak en seerkry, van vrede en verandering”, asook Scholtz se boodskap aan sy “medeburger” voorin die boek waarin hy die leser aanmoedig om “die ope deur na die verlede” toe te slaan en weg te stap sonder om terug te kyk, suggereer dat Afdraai bedoel is as ’n afrekening met die pyn van die verlede. Scholtz skryf hier ’n stuk geskiedenis met gebruikmaking van fiktiewe personasies om die onreg teen gekleurdes te besweer ten einde “vrede en verandering” te kan omhels en die deur na die verlede te kan toemaak. Die afleiding wat gemaak kan word oor Scholtz se siening van sy funksie as skrywer is dat hy optree namens die lesers van die kroniek om kollektief “die donker jare se lyding en verdriet uit die gisters uit te fynkam” in die strewe na vergifnis en erbarming. Scholtz sluit hom aan by die aansienlike groep Afrikaanse skrywers wat in die jare negentig ’n eie Waarheids- en Versoeningskommissie in hulle skryfwerk van stapel gestuur het om die sondes van die verlede oop te vlek en die moontlikheid van vrede te ondersoek (vergelyk Van Coller 1997). Indien ’n mens Afdraai beskou as ’n vorm van terapie teen die pyn van die verlede word dit ook moontlik om die gereelde invoeging van hoopvolle toekomsvoorspellings te begryp: die swart prediker Metsie van Brink se voorspelling dat daar eendag “ ’n man wat al oor sy beste jare is, uit die gevangenis (sal) kom” (12) om die swart mense te verlos, is ’n aanduiding van die voortdurende gerigtheid op ’n era wat ’n einde sal maak aan die verdrukking.

Dit is met groot insig en deernis dat Scholtz die marginale posisie van individue van gemengde afkoms binne die konteks van die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan die orde stel. Hierdie aspek is myns insiens die krag van die roman. Die bruin karakters word voorgestel as individue wat probeer lewe in ooreenstemming met hulle persoonlike opvattings van waarheid en geregtigheid. Die innerlike waarheid van die bruin individu word egter in ’n krisis gedompel wanneer dit te staan kom voor die bedenklike logika van die rassediskoers. Die karakter Hester, wie se pa ’n Indiër was, voel nie dat “haar vel ... van meer belang as ander dele van haar liggaam (is) nie. Hessie is glad nie skaam vir haar blas vel nie” en ook die blankes tussen wie sy woon, beskou haar as “ ’n gewone Boeremens van die Vrystaat” (16). Wanneer haar man egter na afloop van die Suid-Afrikaanse Oorlog terugkeer vanuit Ceylon onteer hy haar en verwerp haar en hulle seun, Manie, as “kerriebekke” (51). Sonder ’n sweem van kritiese oorweging assosieer hy Hester en Manie met die mense met wie hy tydens sy krygsgevangeneskap in aanraking gekom het.

Die kwessie van velkleur word dikwels aangegryp deur gewetenlose opportuniste om hulle eie duistere doelwitte te bereik: die jaloerse Paul Cloete versprei byvoorbeeld die skinderstorie dat Manie se wit verloofde, Frieda, swanger is met ’n “basterkind” (75). Die skinderveldtog lei uiteindelik tot die selfmoord van die vertwyfelde Frieda. Die liefdesverhouding tussen Manie en Frieda, waarin velkleur geen rol gespeel het nie, word aan skerwe geruk met die skielike byhaal van ’n eksterne en arbitrêre oorweging.

In Afdraai word karakters van gemengde afkoms ook gedwing om hulleself te herdefinieer na gelang van die politieke klimaat. Met die aanbreek van die apartheidsera word Marius Smith, wie se biologiese ma ’n Kaapse Afrikaan was, toenemend gemarginaliseer deur sy blanke familie en kennisse. Daar word van hom verwag om hom te identifiseer met die bruin mense met wie hy tot op daardie tydstip min kontak gehad het. Marius is egter nie daartoe in staat om hierdie dramatiese omskakeling te verwerk nie en hy sluit hom uiteindelik aan by ’n groep boemelaars. Hy tree as ’t ware buite die geledere van die Suid-Afrikaanse samelewing wat steeds verder onderwerp word aan ’n hiërargiese rasseklassifikasie. Tot en met sy dood bly Marius egter vashou aan sy innerlike oortuigings, naamlik sy liefde vir sy vrou, Louise, en dogter, Valerie, wat hom verlaat het om ’n nuwe lewe met ’n ander (blanke) man te begin.

Scholtz maak keer op keer met vernuf gebruik van ironie om die wankelrige bodem waarop rassediskriminasie berus, te ontbloot. Regina Smith, die vrou wat Marius grootgemaak het, het hom doelbewus geïsoleer van die gekleurde Juriese op Brinks Pos omdat hy in werklikheid verwant was aan hulle en nie moes ontdek dat hy ’n bruin ma gehad het nie. Self het Regina egter ’n gemaklike verhouding met die bruin mense op haar plaas gehad en het tydens Marius se bruilofsviering verkies om saam met die plaaswerkers jolyt te maak totdat Marius in sy Voortrekkerdrag ’n stokkie daarvoor gesteek het (111). Teen die agtergrond van Marius se latere ontbering weens rassevooroordele blyk sy volgehoue afsondering van die bruin mense heel ironies te wees. Dit is ook skrynend dat Gert Cloete, wat Marius se vrou van hom afgeneem het, die sogenaamde gekleurde Marius valslik daarvan beskuldig het dat hy ’n blanke meisie onsedelik betas het, want later blyk dit dat Gert Marius se jong dogter, na wie hy verwys as ’n “halwe hotnotmeidjie” (165), seksueel gemolesteer het.

In die tweede helfte van Afdraai word die vertelling onderbreek deur ’n hoofstuk wat gewy word aan die lewe van Oom Taliep Samuels. Oom Taliep het in Afdraai kom werk nadat sy vrou hom tydens sy deelname aan die Tweede Wêreldoorlog verlaat het vir ’n ander man. Die hoofstuk oor die lewensverloop en opinies van Oom Taliep funksioneer as ’n teleskopering of spieëlteks van die kwessies waaromheen die roman as geheel gekonstrueer is. Die teleologiese oriëntasie van Afdraai op die aanbreek van ’n tyd van “vrede en verandering” word byvoorbeeld bevestig deur Oom Taliep: “Net soos die wêreld om ons verander, verander ons self ook. En apartheid sal ook verander. Apartheid sal homself vernietig in die vreet van sy eie wurms ... Ons staan almal onder die wet van verandering. Net liefde sal nimmer verander nie, want dit is van God” (129, 130). Soos daar later aan die hand van Marius se standhoudende liefde vir sy vervreemde gesin gedemonstreer word, is die liefde die onveranderlike te midde van groot omwentelings wat Marius se lewe gekenmerk het. Die verwerping wat Oom Taliep van sy eie ma te beurt geval het nadat hy ’n verhouding met ’n swart vrou aangeknoop het, plaas ook die soortgelyke familiedramas wat die lewens van Hester , Manie en Marius ontwrig het, binne ’n breër perspektief.

Die uitgerekte gesprek wat Marius met die prostituut in Johannesburg voer, verkry egter nie dieselfde trefkrag as die invoeging van die episode oor Oom Taliep nie. Die verhale wat die prostituut vertel, bring ’n hinderlike breuk in die gang van die vertelling. Die enigste wins wat met hierdie insetsel oor die prostituut behaal word, is dat dit beskou kan word as ’n aankondiging van Marius se eensame toekoms as ’n boemelaar: net soos die prostituut word Marius uiteindelik ’n randfiguur in die samelewing wat nietemin daarin slaag om ’n sekere selfrespek te behou.

In Afdraai word die geskiedenis met skerpsinnigheid oopgeskryf. Die roman sou egter kon baat by ’n beter afronding en verfyning van die stof waarmee gewerk word. In sommige tonele vervlak die spel met ironie tot effekbejag: teen die einde van die roman wanneer Marius sy lewe opoffer ter wille van sy kleindogter wat voor ’n motor ingehardloop het, word die sentiment net te dik aangepak. Hoewel ’n mens daarvoor begrip het dat ’n kroniek weinig ruimte laat vir uitvoerige karakteriserings, is te veel van die sentrale karakters uiteindelik eendimensioneel: Hester is byvoorbeeld deurgaans die goedheid self terwyl die twee Cloetes (Gert en Paul) konsekwent met alles wat sleg is, geassosieer word. Dit is ook teleurstellend dat daar nie in die slot van die roman teruggekeer word na die lewe van Marius se kleindogters op Brinks Pos nie. Hierdie verwagting word immers in die eerste hoofstuk gewek wanneer die kleindogters op Brinks Pos Anna Brink se geskrifte oor die Suid-Afrikaanse Oorlog ontdek waarna die vertelling begin oor die lotgevalle van die opeenvolgende generasies wie se paaie in Afdraai gekruis het.

Ondanks die bogenoemde besware is Afdraai sonder twyfel ’n boek van besondere belang. Scholtz se interpretasie van die geskiedenis is vars, eerlik en onthutsend. Lesers wat nog nooit deeglik kennis geneem het van die onsekerheid en marginaliteit wat vir so lank deel was van die bestaan van die bruin mense in Suid-Afrika nie, kan dit gerus oorweeg om Afdraai te lees. Die roman bly end-uit boeiend en speel sterk in op die emosies sodat ’n onverskillige lesershouding van meet af aan uitgesluit word.

Verwysing

Van Coller, H.P. 1997. Die waarheidskommissie in die Afrikaanse letterkunde: die Afrikaanse prosa in die jare negentig. In: Stilet IX (2): 9 — 21.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.