|
Groep van 63 byeen oor minderheidsbelangeJohann Rossouwn Aantal voorstanders van minderheidsbelange wat hulleself die Groep van 63 noem, het onderneem om die moontlikheid van die totstandkoming van n verteenwoordigende Afrikaanse liggaam te ondersoek, ter bevordering van die volle spektrum van Afrikaanse belange. Die Groep van 63 wat die naweek by Hammanskraal buite Pretoria vergader het, verteenwoordig n aantal wyduiteenlopende standpunte en lewensterreine binne die Afrikaanse gemeenskap. Breyten Breytenbach, Van Zyl Zlabbert, Johan Degenaar en Jaap Steyn is die eerste beskermhere van die Groep van 63. Ander leidende Afrikaanse individue sal in hierdie verband genader word. Die volgende referate is gelewer. In sy boodskap het Breyten Breytenbach gepleit om die oprigting van n demokraties verkose verteenwoordigende Afrikaanse liggaam wat al die belangegroepe in die Afrikaanse gemeenskap kan huisves en wat hom toelę op ontwikkelings- en werkskeppingsprojekte. Hy het ook gevra om die stigting van n Afrikaanse Instituut wat Afrikaanse kultuurprodukte bemark en uitvoer, wat navorsing doen, en wat vir opheffing werk. Van Zyl Slabbert het Breyten in sy boodskap gesteun, en toegevoeg dat n landelike ontwikkelingsbank, die privatisering van RSG en die bestendiging van Afrikaans aan minstens een bestaande universiteit behaal moet word. Hermann Giliomee, historikus, het n pleidooi vir die uitbreiding van demokrasie by wyse van die erkenning van minderheidsregte in Suid-Afrika gelewer en voorgestel dat n verbuikersindeks vir maatskappye wat gunstig teenoor Afrikaans staan oorweeg word. Giliomee het ook gewys daarop dat die rede waarom dit tans op sommige vlakke so goed met Afrikaans gaan eintlik die gevolg is van wat n vorige generasie in die taal belę het. Daarenteen vra niemand waar die taal oor 15 of 20 jaar gaan staan nie, en is die beleggings wat tans gemaak word nie genoeg nie. Lawrence Schlemmer, marknavorser, het gewys op die feit dat moreel-godsdienstige, sowel as ekonomiese kwessies vir meeste Afrikaanssprekendes nou belangriker as taal as sodanig is. Danie Goosen, filosoof, het n pleidooi gelewer vir die ontwikkeling van nuwe, inklusiewe progressiewe simbole vir die Afrikaanse węreld. Johann Rossouw, filosoof, het die volgende as probleme op weg na demokrasie in die Afrikaanse gemeenskap uitgesonder: rassisme, seksisme, n oordrewe godsdienssin, n geneigdheid tot fundamentalisme en kitsoplossings, ou Broederbondstylpolitiek agter geslote deure en dies meer en gepleit om die oprigting van n Afrikaanse tydskrif wat onder alle gemeenskappe in Afrikaans versprei word en n kritiek op globalisering en ander ondemokratiese impulse ontwikkel. Hy het ook gewys op die oningeligte vlak waarop die huidige debat tans nog in nagloed van die kultuurboikot gevoer word. Deon Geldenhuys, politieke wetenskaplike, het n aantal knap voorstelle oor die internasionalisering van die Afrikaanse gemeenskap se belange en behoeftes gemaak, waaronder die bearbeiding van plaaslike ambassadeurs en alliansies met internasionale organisasies wat hulle reeds vir minderheidsregte beywer. Dan Roodt, filosoof en sakeman, het aangetoon hoe belangrik dit vir n voormalige kolonie soos Suid-Afrika is om n invloed op die groot metropole soos Londen, New York en ander uit te oefen ten einde n eie Suid-Afrikaanse stem te ontwikkel. Flip Buys, arbeidsaktivis, het daarop gewys dat nuwe wet op regstellende aksie geen verwysing na die historiese ongeregtigheid van die verlede bevat nie, maar bloot ingestel is op die demografiese reflektering van Suid-Afrika in die werkplek. Syfers wat hy in samewerking met Statistiek Suid-Afrika en die Departement van Arbeid se navorsing bereken het, dui daarop dat meer as 700 000 lede van die Afrikaanse gemeenskap in die volgende paar jaar werkloos kan word. Willem Frost, ekonoom, het gewys op die groot potensiaal wat privatisering, toerisme en omgewingsbestuur veral op die kontinent van Afrika vir die Afrikaanse gemeenskap inhou. Hew Davies, onderwyskundige, het dit gestel dat uit n totaal van meer as 2 800 skole daar sedert 1994 meer as 800 skole na dubbelmedium, of selfs Engels enkelmedium, oorgeskakel het. Voorts het hy aangetoon dat daar ongeveer 8% Afrikaanse leerders in die totale skoolbevolking is, waarvoor ongeveer 8% skole uit die totale skole Afrikaans is. Ten spyte hiervan het hy Blade Nzimande aangehaal wat onlangs beweer het dat Afrikaanse skole wat Afrikaans wil bly onder n volkstaatmentaliteit gebuk gaan. André van den Berg, onderwyskundige, het die alternatiewe onderrigmodel wat hy ontwikkel het voorgehou. Volgens sy model werk leerders volledig teen hul eie tempo en het matrieks die afgelope jaar sonder enige toesig van onderwysers die matriekeksamen van die Onafhanklike Eksamineringsraad suksesvol geslaag. In sy model moet die leerder self kennis inwin en toepas, en tree die onderwyser slegs in ondersteunende hoedanigheid op. Reeds meer as 30 skole gebruik al dele of die geheel van sy model en die Universiteit van die Vrystaat het dit met groot lof getakseer. Hennie van Coller, letterkundige, en Jaap Steyn, taalkundige, het gewys op die vlakke van stigmatisering wat Afrikaans heeltemal ten onregte sedert 1994 ervaar. Hulle het gewys op die valsheid van die bewering dat Afrikaans se status aan apartheid te danke is, en klem gelę op die prestasies wat reeds voor 1948 behaal is. Hulle het ook die Duitse taalkundige, Kloss, aangehaal, wat bevind het dat Afrikaans die enigste taal is wat buite Europa en Asië ontstaan het en daarin geslaag het om al die hoërtaalfunksies te beklee. Chris Louw, joernalis, het n fonds voorgestel waarmee Afrikaanse joernaliste betaal kan word om stories in die elektroniese media te dek, aangesien die huidige opset by die SABC dit heeltemal onmoontlik maak om nuus van gehalte in Afrikaans aan luisteraars te bring. Koos Malan, regsgeleerde, het gewys hoe min beskerming n grondwet binne n eenpartydominante staat inderwaarheid bied, veral omdat die skeiding tussen politieke, uitvoerende en regsgesag binne so n staat eintlik maar teoreties is. Dit is elders ook die geval, soos byvoorbeeld in die VSA waar Al Gore onlangs gevra het dat mense vir hom stem in die komende Amerikaanse presidentsverkiesing, sodat hy kan verseker dat die regte drie regters tydens sy ampstermyn tot die Amerikaanse Hoogeregshof verkies word. Hennie Strydom, regsgeleerde, het verwys na verskeie internasionale konvensies vir die beskerming van minderheidsregte wat die afgelope drie dekades internasionaal gesluit is. Die probleem is egter dat Suid-Afrika wel van hierdie ooreenkomste onderteken het, maar nie enige daarvan bekragtig het nie. Marinus Wiechers het n sterk saak daarvoor uitgemaak dat die Afrikaanse taalgemeenskap ongekende prestasies in Afrika behaal het, en dat hierdie gemeenskap op n progressiewe, uitmuntende basis binne die parameters van die Suid-Afrikaanse staat en grondwet moet voortgaan om n bydrae te maak. Hierin is hy goed ondersteun deur die beraad. Die Groep van 63 het besluit dat hy sy steun aan soortgelyke aksies van ander minderhede gaan verleen. Suid-Afrika is n land waarin verskille nie soos tydens apartheid geradikaliseer kan word nie, en ook nie soos tans ontken kan word nie. Die uitdaging is eerder om ons verskille op n demokratiese en kreatiewe wyse te hanteer. Tydens die beraad wat die vorm van n aantal voorlesings en n ope bespreking aangeneem het, is heelwat kommer uitgespreek oor die huidige toestand van Afrikaans en Afrikaanse belange in die breë. Die Groep van 63 is voornemens om hierdie knelpunte effektief onder die aandag van die Afrikaanse gemeenskap te bring en deel van die nasionale vraagstuk (national question) te maak. Tydens die beraad is daar bykomend tot die moontlike verteenwoordigende Afrikaanse liggaam op die ondersoek van n aantal projekte besluit, onder meer:
n Werkskomitee, ondersteun deur n tussentydse sekretariaat, is verkies om hierdie en ander projekte van stapel te stuur. Die werkskomitee bestaan uit Danie Goosen (voorsitter), Martjie Bosman, Dan Roodt, Deon Geldenhuys, Flip Buys, Johann Rossouw, Piet Muller, Hennie van Coller, Christo Viljoen, Marinus Schoeman, Hennie de Wet, Kallie Kriel en Koos Malan. Die sekretariaat bestaan uit Johann Rossouw (voorsitter), Martjie Bosman, Kallie Kriel en Hennie de Wet. n Volledige lys van die Groep van 63 wat onder andere Ampie Coetzee, Dione Prinsloo, Pieter Fourie, Abraham de Vries, Fanie Olivier ingesluit het, is op aanvraag beskikbaar. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |