|
Onderhoud met Pascal Quignard, skrywer van Elke Oggend van die Wêrelduit Frans vertaal deur Johann RossouwHierdie onderhoud met Pascal Quignard is oorspronklik deur Michèle Gazier en Xavier Lacavalerie vir die tydskrif Télérama (no 2511, 25 Februarie 1998, p 10-14), gevoer. Die redaksie van Fragmente bedank Télérama graag vir hul vriendelike vergunning om hierdie vertaling te publiseer. Pascal Quignard is, soos die leser in die onderstaande onderhoud sal agterkom, n besonder teruggetrokke skrywer. Al reeds in dié opsig is hy n buitengewone figuur van die hedendaagse Franse letterkunde, waar skrywers dikwels mediasterre is. Die Afrikaanse vertaling van Quignard se suksesvolste roman, Elke Oggend van die Wêreld die verhaal van die viola da gamba-speler Sainte Colombe, en sy bekendste leerling, die komponis Marin Marais is deur Protea Boekehuis uitgegee. Ons hoop om met hierdie onderhoud die Afrikaanse leser n eerste oogopslag van hierdie skrywer te gee. Op vyftig, al dertig jaar aan die skryf en met nagenoeg veertig boeke gepubliseer, waaronder Elke Oggend van die Wêreld, Le Sexe et leffroi (Geslag en angs), The Salon of Wurtemberg en La Haine de la musique (Die haat van musiek), is Pascal Quignard een van die oorspronklikste, belangrikste en vernuwendste figure van die hedendaagse Franse letterkunde. Anders as al daardie skrywers wat sonder grasie hul naeltjies bekyk, het Pascal Quignard vir drie dekades en tot en met sy jongste werk, Vie secrète (Geheime lewe) -gewy aan die liefde gewag om direk oor homself te praat. Afgesien van sy natuurlike diskresie, wat hom van alle vorme van liriese ontboeseming verhoed, is Quignard veels te nuuskierig, leesgierig en belese om slegs in sy eie persoon belang te stel. Hy hou daarvan om op sy eentjie op die ryk klawerbord van die literatuur te speel en al die vorme daarvan te verken: die roman, die poësie, vertaling, en daardie belese en sensitiewe fragmente wat hy Les Petits Traités (Die klein traktate) noem. Sy passies omvat die musiek, die Romeinse wêreld, die Chinese denke, kuns, seksualiteit, die vertelling … Om te skryf is ook vir hom die middel waarmee die onbekende verlorenes in die warrelwinde van die geskiedenis herstel word, om reg te doen aan die skeppers wie se dikwels toegelate marginaliteit hul vergetelheid in die hand gewerk het. Die bekendste van hierdie onbekendes is nou die musikus Sainte Colombe, wie se Jansenistiese noukeurigheid in sy werk en monastiese keuse van bestaan nie anders kon nie as om Pascal Quignard mee te voer. Want buiten die periode waarin hy n boek publiseer, sal jy tevergeefs na hom soek in openbare plekke, kongresse, debatte of skemerkelkies. Soos hy self sê, het hy reeds etlike jare gelede uitgetree. Hiermee bedoel hy dat hy uit sy professionele ampte by Gallimard-uitgewers getree het, waar hy leser, later uitgewer, en uiteindelik sekretaris-generaal van publikasies was; dat hy bedank het uit sy amptelike posisies in die wêreld van barokmusiek; maar ook dat hy hom kortom teruggetrek het, ver van die geharwar van die wêreld. Pascal Quignard leef nou op n afstand, terwyl hy sy tyd verdeel tussen sy ligryke, Spartaanse Paryse woonstel en sy huis aan die oewer van die Yonne-rivier. Dit is n posisie wat tegelyk gemaklik en moeilik is, en sowel innerlike krag as n smaak vir alleenheid en stilte ver bo die gemiddelde, vooronderstel. Sonder om hom aan skole en neigings, meesterdenkers en ghoeroes te steur, gaan Pascal Quignard voort op n ruwe weg wat hy self uitvind. Sy rolmodelle behoort nóg tot hierdie eeu, nóg tot die vorige een. Sy intellektuele nuuskierigheid is dié van n Diderot, n Voltaire, n Rousseau. Sy skryfkuns is verwant aan dié van Montaigne. Soos laasgenoemde ervaar Quignard die behoefte om kennis op te gaar en dit dan in stilte te herkou en te verhelder totdat n lewende gedagte einde ten laaste opwel. TELERAMA: Waarvandaan kom hierdie passie vir skryf by u? PASCAL QUIGNARD: (Na n lang stilte …) Dit is so goed as om vir iemand die rede vir sy simptoom te vra. Dit is soos dit is. Dit is soos dit was. Vandaar my moeilikheid om u te antwoord. Wat ek wel kan sê, is dat skryf nie n wilsdaad is nie. Ek glo dat ek my lewe sou kon deurbring deur te lees. Die simptoom, oftewel skryf, is om taal te gebruik, maar sonder om aandag te probeer trek, sonder om die stilte of die gang van dinge te verbreek. Om taal ten alle koste in sy stom vorm geskrewe te laat. As kind het ek sekere probleme gehad ek kon nie eet nie, ek kon nie praat nie. Dit het my gewis daartoe gelei om my in stil tale soos Latyn of Grieks te werp. Dit is antieke tale, tale wat beide dood en oorspronklik is. T: Hoe en wanneer het u eerste boek ontstaan? PQ: Tydens die groot staking van Maart, April en Mei 1968. Ek het destyds filosofie studeer aan die Universiteit van Parys-10 Nanterre. In 68 was ek twintig. Ek was n student saam met Daniel Cohn-Bendit, wat ek later jare weer tydens n paneelbespreking van Apostrophes gesien het … In Junie het ek vir myself gesê dat ek in elk geval die filosofie gaan agterlaat omdat ek gevind het dat die denke n uniform, selfs n geklede herejas, aangetrek het, wat my nie langer gepas het nie. Om dit te doseer het skielik vir my oninteressant gelyk. Die filosofie is n denkvorm wat in die naam van almal praat en aan die ontstaan van stede verbind is. Ek wou my loswring van hierdie kollektiewe voogdyskap. Ek het vertrek na Ancenis-sur-Loire, waar my familie n orrel gehad het. Ek het n boek geskryf oor Maurice Scève, die outeur van die Délie, wat ek beskou as die grootste liefdesgedig in Frans. T: Hoe het hierdie poësie van die Renaissance verband gehou met die rewolusionêre winde wat destyds in 68 gewaai het? PQ: Ek het nodig gehad om te werk deur iets ouer en ook vervlietender, soos die passie. Die oudste lyk altyd vir my die wildste. Ek het die manuskrip na Gallimard-uitgewers gepos, en Louis-René Des Forets het vir my die deure oopgemaak. Hy het my gou deel gemaak van die tydskrif LEphémère, saam met Celan, Du Bouchet, Leiris. Ek het tekste oor opstand geskryf wat gehandel het oor die tragiese wêreld van die Grieke aan die einde van die Aleksandrynse wêreld, sowel as die Romeinse wêreld. Ek wou destyds iets meer oppervlakkig en bytend aan die taal gee: ek was sterk daartoe verbind om dit van sy onlangse vorme te stroop. Die taal van poësie is in feite die bytendste. Maar skielik moes ek vir myself sê dat elke soort regverdiging vir die uitdrukkingsmiddel wat n mens vir oorlewing gekies het, mooipraatjies is. Dit is altyd hoogs toevallig en onverwoordbaar. Ekself moes eintlik n musikus wees soos die mense van my familie sedert drie eeue gelede. Aan die einde van die somer van 1968, in Ancenis, het ek elke oggend opgeklim na die platform van die kerkorrel, en my groottante, wat die orreliste was, het gedink dat ek haar sou opvolg. Dit was net logies. T: Daar is dus iets paradoksaals omtrent u keuse vir die letterkunde? PQ: In elk geval iets paradoksaals in my lewe. Wanneer n mens aan moederskant n familie van grammatici het, mense wat n geskiedenis van die Franse taal in twaalf bande geskryf het, en aan vaderskant musici, is jy genoop om die twee stukke, die twee tradisies, te lap, om die bloedlyne te probeer verenig, om die genealogieë te soldeer, om die drade stewig te hou en die twee wêrelde in akkoord te bring. Die paradoks is in my lyf, aangesien ek nóg musiek nóg grammatika gekies het. Ek het met stilte op hierdie spanning geantwoord. Daar was eerstens die stilte van my kindertyd, wat n onwillekeurige stomheid was. Vervolgens was daar die stilte van skryf, wat byna net so dig as die stilte van lees is. Hierdie skeur is miskien selfs die oorsprong van al die bedankings wat ek gedurende my professionele lewe ingedien het, van al my vertrekke, van die feit dat ek vandag geen sosiale posisie meer beklee nie. Daar is iets wat my betower en begelei in die breuk met die samelewing, in die afstigting. T: Kan n mens praat van die stilte van die skrywer? n Skrywer skryf, praat … PQ: Ek glo nie regtig so nie. Ek glo n mens is tog gedwing om die geskrewe en die gesproke, die belese en die samelewing, die kluisenaar en die religieuse gemeenskap, die stilte en die geraas, die alleenheid en die koorsagtige dialoog naas mekaar te stel. Of miskien is dit die woord skrywer wat nie pas nie. Wat die passie van my lewe betref, verkies ek die woord lees, en lees maak geen geraas nie. Ek wil twee groepe teenoor mekaar stel. Aan die een kant is daar diegene wat van taal hou en dit gebruik weens die mag wat dit vir hulle bekom en vir die betekenis wat dit bring die professore, die historici, die politici, die ideoloë, die profete. Aan die ander kant is daar die belesenes wat die samehang van die taal ontbind en wat dit ontworstel van die fassinasie wat dit uitoefen. Laasgenoemde noem ons letterkunde in die streng sin van die woord. Die digters en die belesenes is altyd in die breuk, in die marge. In die Chinese beskawing is die berg teenoor die stad gestel, die kluisenaar teenoor die minister, Tsjoeang-tsû teenoor Confucius. Dit wil sê, die man van die berg wat nóg die wet nóg die rowers ken en aansluit by die natuur, teenoor die man van die stad wat die wet uitvind, die rowers skep en homself in die rites sluit. Dit is die oudste vyandskap: tussen die groep jagters en die sjamaan … Daar is diegene wat naby die bron van die tyd en die oorsprong van dinge leef, en diegene wat die hawe, die delta en handel verkies. Hoef ek daarop klem te lê dat Tsjoeang-tsû vir my dié literêre grootmeester is? Hy verkies moeilikheid bo die waarheid self. T: Hoe stel u as belesene sodanige beginsel in praktyk? Deur die argaïese onder taal te agtervolg? PQ: Daar is n eerste wêreld waar mens n diertjie is wat nie praat nie, wat nie taal het nie, en wat tóg ervarings intens sonder woorde beleef. Dan is daar n tweede wêreld waarin die taal waarmee ons deur opvoeding geïnfiltreer is, ons in die samelewing plaas en ons van sy gebruike en morale voorsien. Dit alles diertjie en pratende apie is hoogs onpersoonlik. Ek probeer nie om die werkwoord aan die oorsprong van alles te stel nie, soos wat ons moderne godsdienste doen. My benadering is op n baie klein skaal. Ek probeer n bietjie meer individueel as kollektief wees, n bietjie vreemder as inheems, n bietjie meer verwarrend en angstig as in pas met sosiale integrasie. T: Hoe rym u werk oor uitgestorwe tale met u wantroue van taal? PQ: As jy onder Frans grawe, kom jy by Latyn uit; as jy onder Latyn grawe, kom jy by n Indo-Europese taalsisteem uit wat ek graag Mediterreens noem. Dan kom jy by meer antieke tale uit: die Etruskers, ens. Mens moet probeer om al die klippe wat daar is, op te lig, om te kyk agter al die woorde wat mens soos n blinde gebruik, sodat dit steeds beweeg, sodat dit steeds lewend bly. Dit is nie n kulturele projek nie, maar n lewensnoodsaaklike projek. T: Maar is daar nie tog n soektog na waarheid, n verheuging in kennis, n soort historiese soektog in u benadering nie? PQ: Ek glo dat ek ontwrigtende denke wat gebore word, verkies bo n gevestigde of formele lering. Vir my is alle gevestigde leringe leuens. Ek stel mense op hul hoede teenoor die reproduksie van sosiale kodes, omdat die sosiale vir iets anders as vir die waarheid gemaak is. Dit is gemaak om verwantskappe aan te dui, dit is vir oorlog gemaak. Die ware passie van menslike samelewings is oorlog. Dit is voldoende om rondom ons en na onsself te kyk: burgeroorlog spoel sonder ophou soos n groot golf terug oor alle menslike samelewings. So gesien was Geskiedenis soos ons dit onderrig, noodwendig in diens van regerings, wat dit gebruik het om die toekoms te skets, dit wil sê in die verbete voorneme om die verlede te herhaal. Wanneer mens byvoorbeeld die byna mitiese wyse sien waarop die kleinboere in Algerië uitgewis word om die hand op reuse gebiede te lê, soos wat die Indiane n eeu gelede tydens die verowering van die Weste in die VSA vermoor en verjaag is om hul grond in te neem en sodat die VSA n welvarende toekoms kan hê, is hierdie wreedheid net so weersinwekkend as die sinisme wat daartoe lei. Die bewys dat die toekoms die herhaling van die verlede passievol lief het, die Renaissancee, word sonder ophou gelewer. My werk as ondergrawer van sekerhede en taal het slegs een oogmerk: om op nederige wyse dit te vind wat nog angstig, lewend, nieherhalend, nieherhaald, hier en daar opwellend is. T: Is dit waarom u onbekende kulture en verbygegane tale ondersoek? PQ: Ek grawe die dinge op wat vir my mooi is. Ek neem dit een maal per jaar op my om n onbekende van die vergetelheid te red. Maurice Scève, wat nie regtig n onbekende was nie, was die eerste wie se versamelde werk ek gepubliseer het. Daar is heelwat ander: Lisifron van Aleksandrië; die sofis Kong-soeïn Long; die obskure en geniale Latynse outeur Albucius, voorloper van romaneske skryfwerk; die musikus en viola da gamba-speler Sainte Colombe … Verlede jaar het ek die voorwoord van die enigste werk van die Jansenis, Jacques Esprit, vriend van La Rochefoucauld, geskryf. Dit is die mees ongemerkte deel van my werk, maar dit gee betekenis aan elk van die jare wat ek leef. Dit is sowel n plesier as n vorm van betrokkenheid, want as mens die verlede verander, verander jy die toekoms. As mens die gegewens van die geskiedenis wysig, wysig jy miskien n bietjie van die gevolge daarvan … T: Wat moet Geskiedenis wees sodat dit nie manipulerend is nie? PQ: Geskiedenis is uit die mite gebore en sal altyd aan die reproduksie van die samelewing, waarvan dit die evolusie in n onvermydelik kollektiewe sin ontleed, gewy wees. Dit moes miskien gebly het wat dit was, n verhaal van staaltjies wat saamgegooi is. Daar was in antieke Sjina n ander manier om Geskiedenis te beoefen. Dit was n manier om mense oor hul diep en onthutsende wreedheid te laat huil. Dit is n manier om jou na die verlede te wend om dít te beskou wat eerder nie weer beleef moet word nie. By die Chinese is Geskiedenis n vorm van melancholiese humanisme. T: Hoe kan n mens n skrywer wees as jy taal in so n mate wantrou? PQ: Die retorici, die politici, verordineer, fassineer, en hiërargiseer met woorde. Hulle het die mees vooraanstaande sosiale rol. Die literêr is die spesialis van dit wat verdeel en skeur. Dit is hy wat elke ideologie offer, wat elke stelling ontbind, elke sin in sy elemente, sy letters, sy atome, sy geskiedenis, sy etimologie. Dit is sy rol. Maar deur hierdie rol te aanvaar kan die skrywer nie in die hedendaagse sin van die woord betrokke wees nie. Hy kan slegs poog om hom los te maak van die sosiale gewig, nasionale gebruike, familiale matrys. Dit beteken om n bietjie verder as slegs sy geslag (sexe) te gaan, as die idee van die nasie, as die lidmaatskap van n party. Dit is om toegang te verkry tot n ander lig as die een waarin jy gebore is. Dit is om buite die nou grense te gaan wat die noodlot aan jou geboorte toegedeel het. Dit is, ek herhaal, om die klippe op te lig. T: Is dit ook die taak van musici om die klippe op te lig? PQ: Mens kan rondom ware musiek draal deur dit uit te voer. Dit is die mooiste deel van die ongeskrewe musiek wat byvoorbeeld in Indië van meester na dissipel oorgedra word. Hierdie musiek is n tog, n reis waarvan die terugkeer nie seker is nie. Die doel is nie om aan te kom nie, maar om sonder ophou in n soort warrelwind nader te kom. Om hierdie onderrig te vervang het ons in die Weste musikale notasie probeer. En hier is ons baie naby aan die literatuur, want musiek is geskrewe. T: Die skilderkuns is ook een van u ander studie-onderwerpe. PQ: Dit interesseer my soveel meer omdat dit nie dieselfde probleme as literêre of musikale skryfwerk bied nie. Anders as met taal wat die vrug van onderrig is, bestaan daar onwillekeurige beelde in die skilderkuns wat die ekivalent is van daardie stadia voor enige verwerwing, wat ek in skryfwerk soek. Selfs voor ons nog sigbaar is, voor ons nog gesien het, voor ons nog gebore is, droom ons. Soos baie soogdiere is ons in die vorm van drome aan onwillekeurige beelde onderworpe. Maar die onwillekeurige beeld is figuratief. Ek wil egter nie hier reaksionêre stellings verdedig deur hierdie soort skilderkuns te bevoordeel ten koste van dit wat onherkenbaar is nie. Die figuratiewe lyk vir my eenvoudig of dit aan begeerte verbind is. As ek die abstrakte skildervriende van wie ek baie hou, neem, byvoorbeeld Louis Cordesse met wie ek vroeër so lank saamgewerk het, bied om uit te stal vir hulle geen probleem van skaamte of transgressie nie. Om uit te stal, stel jou nie aan sensuur bloot nie. Daarteenoor is die werk van my vriend, die figuratiewe skilder Rustin, byna oral onder openbare druk verbied omdat dit aanstoot gee. Soos dit vir my lyk, het abstrakte kuns die tekortkoming dat dit altyd vertoonbaar is. Weens die onwillekeurige beelde van drome is die figuratiewe sonder twyfel nodig ten einde die ontoonbare te hê. Dit is wat my noop om n verskil tussen kuns van die beeld en skilderkuns te stel. T: Wat dra die eerste onwillekeurige beeld volgens u tot die skilderkuns by? PQ: Dit kan verduidelik hoe mense figure, diere, tekens en gode in die hemelruim kon sien vanaf eenvoudige goue spykers, ligte aan die hemelgewelf. Verder kan dit ook die eerste verskyningsmodus van die skilderkuns verklaar, verberg in die nag van grotte, in die diepste, ver van die dag af, in die ánder wêreld van die droom, gitswart. Hierdie keuse is nietemin baie, baie geheimsinnig. Dit kan ook die verbysterende uitvinding van rolprentteaters, wat hierdie hele eeu lank vermenigvuldig is en self ook kunsmatige swart grotte is, verklaar. So glo ek dus dat daar n outonome kuns van die onwillekeurige beeld, die fantasma, die droom, die spook, die verlore wese is. T: U sê in Vie secrète dat u u lewe kan verwyl deur te lees en ook dat daar sekere ooreenkomste tussen lees en liefde is. PQ: Wanneer mens jou nabyheid aan die ander wil uitdruk sê jy dat jy hom soos n oop boek lees. Dit is hierdie sensasie wat die liefde vir my definieer. Dit wil nie sê dat mens noodwendig alles van die ander aanvoel nie, maar jy is op jou naaste aan hom, sonder n derde persoon. Dieselfde geld vir die literatuur. Daar gebeur iets deur boeke heen wat die seksuele, tydelike, ruimtelike wande afbreek. Daar is werklik n ongekende en min of meer dieselfde towertapyt in alle tye se letterkunde en in die liefde van alle eras. Die amoreuse of die leser is die een wat dieselfde droom as die ander droom, wát ook al die afgrond is, wát ook al die afstand is, en dieselfde onwillekeurige beeld het. Daar is iets ekstaties in lees. Mens vergeet jouself in lees. Die werklike verdwyn. In die liefde ook. T: U sê steeds dat om te lees, om te skryf, om lief te hê, dit nodig is om ver van die wêreld te wees. PQ: Menslike samelewings was nog nooit so kollektief en onderwerpend soos nou nie. Die reël van drie, die wet van statistiek of die druk van die Ondenkende Outomaat het nog nooit oor so n wye deel van ervaring as nou geheers nie. Die kos van n paar het almal se kos geword. Die klere van n paar het almal se klere geword. Die liedjies, die rolprente … n Mens moet elke oomblik skarrel. Ek het nodig om elke dag vir n paar uur alleen te wees, om stil te wees, niemand te sien nie, onbereikbaar te wees, in stilte te bly, te lees. Daarsonder sal ek vergaan. Om met byna niks te leef nie en te swerf in die avontuur van dit waaroor ek onkundig is … Ek voel soos daardie skrywers wat n bietjie meer individueel as die ander is. Dit beteken om ook meer onttrek te wees, minder gemerk, sonder duidelike identiteit, sonder sosiale rol, sonder enige funksie van watter aard ook al.
Hierdie artikel sal in die nuutste uitgawe van Fragmente verskyn. Bestel die tydskrif by Fragmente Uitgewers BK, Posbus 12707, Hatfield 0028 E-pos: mjschoem@postino.up.ac.za of goosedp@unisa.ac.za |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |