SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Party van hulle

Melt Myburgh

Party van ons
Danie Botha
Homeros
2001

Party van onsI
As gay leser het ek Homeros se “Leesboek”, Party van Ons, met gemengde gevoelens in die hand geneem. Hierdie leser vra homself af wat die publikasie van ’n gay leesboek soos hierdie regverdig? Hopelik is daar ’n mark groot genoeg om hierdie werk die moeite werd te maak.

Party van ons kan beskou word as ’n “nodige euwel”. Nodig, omdat daar ’n behoefte in gay geledere is om die gay stem te laat hoor, om ’n gay identiteit te verken en te help vestig in ’n samelewing wat nog ly aan die “shock of decriminalisation” waarvan Adam Mars-Jones praat in sy Mae West is Dead Recent Lesbian and Gay Fiction (1983:13). ’n Euwel, omdat die gay leser in elk geval die hele Afrikaanse letterkunde en heelwat gay publikasies tot sy beskikking het wat sodanige identiteit help opbou, en waarin hy homself kan uitdruk.

Daar is geen argument oor die feit dat ons leef in ’n samelewing waar te veel mense daagliks in vullisdromme moet krap vir kos nie; ’n maatskappy waarin geweldsmisdade burgers in hul eie huise verslaaf agter diefwering, hul gedagtes paranoïes geprogrammeer met alarmkodes; ’n gemeenskap waarin ’n onaanvaarbare aantal have nots van die uitskot van ’n minderheid haves afhanklik is. Kortom, Suid-Afrikaners leef in ’n tuisland van vrees wat steierend dobber in die vaarwater van ’n onderhandelde revolusie. Om gay te wees, soos party van ons, binne so ’n samelewing, en dan nog Afrikaanssprekend ook, slaan die individu hok as ’n minderheid binne ’n minderheid.

Boonop moet die Suid-Afrikaanse gay saamleef met die vrotpiesang-reuk van uitsprake oor gays wat aanmuf uit buurlande soos Sjimpbabwe. Om nie eens te praat van die domastrante verdagmakery van gays deur die Namibiese president, wat om die dood toe nie die woord “lesbians” uitgespreek kan kry nie.

Net soos wat die ongelykhede in ons samelewing besig is om deur middel van sosiale en ekonomiese grondverskuiwings ’n korrektief op die vergrype van die verlede te bewerkstellig, net so is die gay “revolusie” steeds besig om homself te voltrek in ons nuwe bedeling. Hierdie leser vra homself af in watter mate, indien wel, ’n boek soos Party van ons ’n bydrae lewer in hierdie maatskaplike proses, en hoe dit die algemene gay leser raak.


II
In sy voorwoord wend Danie Botha ’n poging aan om die publikasie van hierdie boek te verantwoord. Hy voer aan dat Party van ons “die leefwêreld van Suid-Afrikaanse gay mans weerspieël deur middel van ’n verskeidenheid genres” (bl. 3). Hierdie leser het nie ’n probleem met die onderskeie genres wat in die boek geakkommodeer word nie, eerder met die groot verskeidenheid in die kwaliteit van bydraes wat wissel van hoogstaande tot reddeloos vrot. Mens kan nie help om hierdie “Leesboek” te vergelyk met internasionale Engelse uitgawes soos Patrick Higgins se A Queer reader (1993: Fourth Estate) waarin bydraes deur die geskiedenis heen opgeneem is nie — deurgaans van uitstekende gehalte.

Dit pla hierdie leser dat gay vroue nie ’n spreekbeurt in Party van ons kry nie. Botha en sy medewerkers se keuse van die titel vir dié publikasie kon dus nie meer gepas gewees het nie. Behalwe dat vroue uitgesluit word, word daar in elk geval ook slegs ’n fraksie van stemme uit die man-gay-spektrum verteenwoordig. Nog voordat die bevryding van die gay gemeenskap voltrek kan word, beleef die proses hier ’n ongemaklike hou tussen die blaaie deur die uitdoof van die vrouestem. Soos die samesteller op bl. 3 sê: “ons stel ’n eie bundel vir hulle in die vooruitsig.” As die “hulle” na wie Botha verwys, gay vroue is, wonder hierdie leser inderdaad wie die “ons” is van wie hy praat. Word die paternalisme waarvan die gay gemeenskap besig is om haarself te bevry, nou altemit vervang met ’n skaamtelose kapaternalisme? Spaar ons asseblief dié treurmare van afsonderlike ontwikkeling!


III
Die afdeling “Kopstukke” bevredig die meeste in terme van gehalte en relevansie vir gay lesers vandag.

In sy artikel “So maak hof en parlement nou deure oop vir gays” gee adv. Jens Friis ’n informatiewe oorsig oor die posisie van Suid-Afrikaanse gays in terme van wetgewing en die grondwet. Die gay leser besef opnuut hoe bevoorreg hy is in Suid-Afrika wat besig is om “wat gayregte betref, een van die politiek korrekste lande te word” (bl. 12). Hy besef egter ook dat sg. politieke korrektheid ’n politieke strategie is wat nie volkome bevryding waarborg nie, en dat die stryd nog lank nie verby is nie.

Dankie tog vir Friis se opmerking op bl. 10: “Gays maak op niks anders aanspraak as wat heteroseksuele toekom wat kan trou nie.” Hierdie uitspraak moet nie gelees word as ’n poging om die “huwelik”, in die tradisionele straight sin, vir gays te beding nie. As instelling, weet ons mos reeds, het die huwelik lankal selfmoord gepleeg. Die uitdaging, en onus, rus juis nou op gays om ’n langtermyn gay verbintenis te formuleer en aanspraak daarop te maak binne die raamwerk van wetgewing. In godsnaam, nie ’n “eengeslaghuwelik” (bl. 11 — my onderstreping) in navolging van straight society nie, en asseblief sonder die “bagasie van die huweliksinstelling”, soos Friis tereg daarna verwys.

Gerusstellend vir gays in Suid-Afrika is die simpatieke stemme van figure soos Nelson Mandela en Desmond Tutu wat dit onomwonde stel dat diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie onaanvaarbaar is (bl. 9). Ook die feit dat daar wetgewing in die pyplyn is om die diskriminerende ouderdomsperk van 19 vir toestemming tot “seksuele dade” te verlaag na 16.

Die feit dat ’n jong regsgeleerde soos Friis (ongelooflik handsome op die foto in die biografiese afdeling agter in die boek!) saam met ’n klompie ander bydraers hulself openlik uitspreek en beywer vir die gay saak is ’n pluimpie vir Party van ons en ook ’n bemoedigende teken in terme van die daarstelling van positiewe gay rolmodelle in die Suid-Afrikaanse opset.

Kobus Burger se artikel oor impotensie en die mediese alternatiewe daarvoor verskaf nie net broodnodige inligting vir gays wat nie toegang tot die internet of gay publikasies het nie; dis heerlik vermaaklik geskryf en daar word geen doekies omgedraai nie. Hierdie artikel lewer onomstootlik getuienis waarom hy beskou word as joernalis van uitnemende gehalte.

Niel le Roux se artikel, “Wie moet gay dramas skryf?”, is gegrond op ’n MA-skripsie waarin ondersoek gedoen is na die teenwoordigheid van gay temas in die professionele teater van die negentigerjare. Hierin word interessante kwessies aangesny. Dramaturge soos Deon Opperman, Reza de Wet en Athol Fugard lewer kommentaar op die idee van gay karakters en temas in hul werk. Fugard se uitspraak teen “Labelling” ten gunste van “human drama” op bl. 25 is veral insiggewend.

Andries Visagie se akademiese bespreking van “Seks en liggaamlikheid in Slagplaas van Koos Prinsloo” is hoogs interessant en het hierdie gay leser genoop om Prinsloo se oeuvre vir die soveelste keer te herlees. Visagie se verantwoording van Prinsloo se werk aan Foucault se siening van desubjektivering as “’n bevestiging van nie-identiteit” (bl. 32) sorg vir ’n insiggewende huldeblyk aan een van die uitstaande ikone in die Afrikaanse letterkunde.

Teenoor Visagie se akademiese diskoers in tipiese Stellenbosse modus, is Theunis Engelbrecht se besinning oor homoseksualiteit in die wêreld van popmusiek baie meer toeganklik vir die leser wat nie ’n literêr-akademiese agtergrond het nie. Engelbrecht slaag daarin om ’n viriele gay tradisie binne die wêreld van populêre musiek uit te wys. Hierdie artikel is noodsaaklik om ’n gevoel van selftrots by gay lesers wat nog worstel met ’n gay identiteit aan te moedig.

Op bl. 49 verwys Engelbrecht na “sekere homoseksuele en lesbiese Afrikaanse popsterre in die kas”. Gedagtig aan die “outing” van openbare figure as strategie in die gay bevrydingstryd in oorsese lande, wonder hierdie leser onwillekeurig of die gay emansipasieproses hier te lande ’n fase sal betree waarin bekende publieke figure inderdaad uit die kas geforseer gaan word. As mens in ag neem dat die onsekerheid oor seksualiteit persentasiegewys die grootste oorsaak is vir tienerselfmoorde in hierdie land, wonder mens of dit nie die morele plig is van openbare figure om hul platforms te gebruik om openlik as positiewe rolmodelle te dien nie. Dit geld veral vir die gay akteurs en Springbok-rugbyspelers, en nie net vir Afrikaanse popsterre nie.

In dieselfde afdeling poog Danie Botha en Kalie Burger om die afwesigheid van die gay element in geskiedskrywing aan te spreek. Botha benader gedeeltes uit die dagboek van Gideon Scheepers tydens die Anglo-Boereoorlog met ’n “gay-geestesingesteldheid” (bl. 52). Hierdie leser kry egter die gevoel dat ’n gay -interpretasie opgedring word aan die toneel waarin ’n swaar gewonde Scheepers se 16-jarige adjudant huilend met sy kop op sy kommandant se borskas van hom afskeid neem. Interessant is Jan F E Celliers se beskrywing van die “dandy” of “mooie jongens uit de steden” (bl. 56) wat dikwels onwillig was om te veg en gevolglik onder die boeresoldate moes deurloop.

Burger se staaltjie oor ’n drag queen wat as die Amerikaanse sangeres Sophie Tucker vir ’n partytjie opgetof het, en later onder die bed moes wegkruip om die Priscillas van haar lyf te hou, is ’n juweel van ’n vertelling. As Homeros ’n sinvolle projek vir die toekoms beplan, kan hulle gerus ’n boek die lig laat sien waarin die versweë Suid-Afrikaanse gay geskiedenis met behulp van vertellings soos hierdie tot sy reg kan kom.

Stephan Bouwer se “Die vreemdeling by jou poorte” is ’n vermaaklike, toeganklike essay waarmee gays met trots kan identifiseer. Ongelukkig laat Theo Kleynhans se selfkoesterende stommiteite in “Dertiger-blues” ’n goor smaak in die mond. Suid-Afrikaanse gays is tot op hede hopeloos te lank blootgestel aan Kleynhans se persoonlike vertwyfelinge in oninspirerende artikels in gay-tydskrifte.


IV
In die afdeling vir kortverhale, poësie en ’n toneelteks staan enkele kortverhale uit. Hennie Aucamp, Johann de Lange, Lucas Malan en Theunis Engelbrecht se verhale verleen ’n mate van legitimiteit aan Party van ons. Aucamp, Malan en De Lange se verhale speel met die motief van die “slot”, en by implikasie, ook die motief van die “sleutel”.

Die soeke na ontsluiting — en dus wegsluiting — is reeds opvallend aanwesig in Aucamp se verhaaltitel, “Op soek na ’n slot”. Met die ordening van verhaalgegewens en die verskeidenheid tekstipes sluit hy baie meer opsigtelik aan by die postmodernistiese benadering wat deur Koos Prinsloo in sy werk tot ’n kuns verfyn is. (Moet my nie verkeerd verstaan nie: Aucamp het Prinsloo lank gelede reeds subtiel voorgeloop met postmodernistiese strategieë in sy werk.) In hierdie verhaal krap ’n literêre eksekuteur deur die dokumente van ’n ontslape skrywer, en in die tweede afdeling besoek ’n biograaf ’n afgetrede sielkundige in sy soektog na inligting oor dieselfde skrywer. Daar is sprake van karaktermoord, afrekening en verrekening in hierdie verhaal, wat die leser lei tot die konteks van die onlangse kortverhaaltradisie in Afrikaans, en spesifiek die sage rondom Prinsloo se poging tot ’n “karaktersluipmoord” op Aucamp. Hierdie leser kry die gevoel dat Aucamp, ongetwyfeld die maestro van die Afrikaanse kortverhaalkuns, steeds besig is om literêr met Koos Prinsloo af te reken. Die konvensionele leser mag homself in die woestyn bevind na die lees van hierdie verhaal, juis omdat ’n tradisionele slot ontbreek. Ten spyte van die “sleutels” wat die verteller in die eerste afdeling van die verhaal aan die leser verskaf oor hoe om die verhaal te lees en daarvan sin te maak, stel die tweede afdeling met die poësiereeks teleur.

Johann de Lange se “Bloudraad” is egter ’n uitstekende verhaal waarin die diskoers van geweld in ’n spanningslyn tot reg aan die einde loop. In hierdie “Kaapse paragrawe” word daar in dagboekvorm verslag gelewer van ’n gay man se soms waaghalsige sekskapades. De Lange sluit aan by die wêreldwye “manlike” tradisie in die gay letterkunde waarin cruising en optelseks in detail beskryf word. In die proses word die weerloosheid en onthemding van die gay man wat die voortdurende jag na casual seks op ’n pedestal plaas, aangrypend blootgelê. Aan die einde van die verhaal fokus die verteller op ’n beeldhouwerk van Christo Liebenberg om die kompleksiteit van hierdie soeke na intimiteit te belig: “Die torso is opgebou uit dik bloudraad met in die middel ’n ysterhart vasgeheg aan die torso met drie leerbandjies. Ook tussen die bene is ’n soort codpiece wat eweneens gesluit is. Die sleutels na hierdie twee begeerde domeine is nêrens te sien nie” (bll. 242-243).

Hierdie verhaal sal hopelik as aansporing dien vir die nuwer stemme in Party van ons, wat hulself verlaat op swak gekonstrueerde pielverdrietige beskrywings van onwaarskynlike situasies wat nie eens daarin slaag om ’n kreatiewe bydrae te lewer tot die uitbreiding van die hygtradisie nie.

In Lucas Malan se “Midnight Cowboys” word die siniese ouer queen wat haarself tuisvind in ’n soort ouwêreldse fatsoenlikheid, as staaltjie-verteller teenoor twee jongelinge geplaas. Malan se verhaal herinner aan Aucamp se Markies-verhale in Wat bly oor van soene? , maar is nie naastenby so stylvol en effektief nie. Die queen vertel ’n aangrypende storie van ’n nag saam met twee “cowboys” en hul “nefie van die Kaap” (bl. 174). Later word daar gesuggereer dat die “nefie” ’n jeugmisdadiger is wat deur die Welsyn in die sorg van die twee “cowboys” geplaas is op hul kleinhoewe. Die uitkoms van die “cowboys” se voogdyskap oor die “jeugdige prins” (bl. 176) is nie seker nie, maar die queen kom jare later in haar verbeelding tot die waarskynlike slotsom dat daar ’n gewelddadige einde aan hul samesyn was. Malan se verhaal struikel ongelukkig by sy eie slot aan die hand van ’n killjoy-aanhaling uit C M van den Heever se “Die gevalle Zoeloe-indoena”.

Theunis Engelbrecht se “Krismis ’99” het hierdie leser soms laat skater van die lag met die wrang humorsin, oordrywing en op-die-man-af vieslikhede. Die koketterige hoofkarakter, Lammie Malan, reken op hoogs vermaaklike wyse af met sy irriterende ouma en mev. ds. Dora de Wet voordat hy, ná sy ouma se noodlottige beroerte later die dag, saam met sy lover intrek neem in haar woonstel, kwansuis om die honde te versorg. In Engelbrecht se verhaal word ’n breër bewussyn as bloot die gay gegewe aangeroer. Hier is daar sprake van plaasmoorde, misdaad, dwelmgebruik, die afgewaterde populêre Afrikaanse kultuur en les bes, die stiksienigheid van die Kerk.

Ander kortverhaalskrywers wat indruk maak in Party van ons is Etienne du Pisani met sy verhale “Jaglus” en “Spesiale aanbiedinge”, asook Arie Kuijers met sy “Foefieslaaid”. Onder die hygmenere verskaf Gerrit Vermeulen (“The Rose Tattoo” en “Die Israeli in ’The Video Den’”), Willie Cloete (Droogtefontein se prospekteerder”) en Brandt Vermeer (“’n Man se best man”) vermaaklike draadtrekstof vir diegene wat Party van ons vir dié doel in die hand neem. Die probleem is egter dat visuele internet- of tydskrifpornografie ’n veel vinniger en duursame orgasme teweeg kan bring as om deur hierdie verhale te swoeg.

Die oorblywende Afrikaanse verhale, wat die meerderheid van die boek uitmaak, laat veel te wense oor. Oordeel maar self na aanleiding van die volgende histeriese grepies:

“Ian ... belowe jy sal my nie net so los nie ...” en ek verwelkom jou greep wanneer ek my gesig in jou kamerjas druk sodat jy my nie kan sien huil nie.
“Emile, ek belowe.”
Uit: Dewald Botha se “Risques à être emu”.

*

Voor my geestesoog vervorm die karookoppies tot ’n Olyfberg. ’n Golgota. Ek verwonder my aan die mag van die brein.
Uit: Nelius Boshoff se “Gaasgordyn”.

*

O Here, Here, vergewe my asseblief ... of is daar niks om te vergewe nie?
Uit: Tiaan Neethling se “Desembervakansie”.

*

Nog so kaal bolyf val hulle saam op die bed neer en slaap, hulle hande sterk inmekaar gevleg. Die een of ander tyd moes Bertus sy hand by Theuns se broek ingedruk het en met dié se manlikheid ferm en rustig in sy hand verder geslaap het.
Uit: Ockert Potgieter se “Plesier te koop, met liefde opsioneel”.

Hoekom Engelse verhale in Party van ons opgeneem is, weet nugter alleen. Beslis nie om die kwaliteit daarvan nie; hopelik nie om die Engelse mark te probeer betree nie.

V
Met die uitsondering van Roux Engelbrecht se liefdesgedigte aan Stephan Bouwer en Arie Kuijers se speelse “koggelmander”, beïndruk die poësie-oes in Party van ons nie. Hierdie leser wonder of Danie Botha nie perdalks die digters wat aan die woord gestel is, per toeval op ’n gratis elektroniese sletwerf opgetel het nie. Die gedigte is meestal naïef, ongeloofwaardig of ’n selfbejammerende versugting na mans met g-kolle — vergelyk Anthony Gillespie se “’n Sin” op bl. 146. Meestal versmoor die gedigte in clichés. Louis Nell se vers “Aanvaarding” behoort as effektiewe strafmiddel te dien vir kriminele, sou dit in polisieselle aan hulle voorgelees word.

En wil iemand nie asseblief die hoogs gedateerde Koekie Ziervogel-figuur nou maar vir eens en vir altyd op die dorpsplein finaal verkrag en teregstel (om in tipies Suid-Afrikaanse terme te praat) nie? Dis hoog tyd vir ’n varser satiriese personasie in die Afrikaanse letterkunde!


VI
Die waarde van ’n boek soos Party van ons lê in die feit dat dit wel gepubliseer is, en by ’n uitgewer soos Homeros. Die blote feit dat ’n uitgewersreus soos Nasionale Pers ’n afdeling vir die gay mark in stand hou en iemand soos Danie Botha vrye teuels gee om sy ding te doen, is gerusstellend vir gay lede van die publiek. Ongetwyfeld lewer dit ’n bydrae om ’n sterk gay bewussyn in Afrikaanse geledere te help vestig in ’n samelewing waar transformasie ’n sleutelbegrip geword het. Hopelik speel hierdie publikasie ’n rol daarin dat meer gays aanspraak sal maak op hul regte tot tyd en wyl alle vorme van diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie uit die weg geruim is. Of so ’n ideale situasie uiteindelik bereik sal word, is te bevraagteken. Waarskynlik nie in ons leeftyd nie.

Ongelukkig lê die sterkte van die boek nie in die inhoud daarvan nie. Die kwaliteit-bydraes wat in Party van onsopgeneem is, is nie afhanklik van ’n gay “Leesboek” vir publikasie nie. Daarvoor is daar reeds ’n gevestigde letterkunde, genoeg tydskrifte en koerante, en ook die internet. Party van ons gee op hierdie stadium publikasiestatus aan ’n horde bydraes wat kwalik die waarde regverdig van die ink waarin dit gedruk is.

Hierdie leser hoop dat daar ’n volgende uitgawe in die beplande reeks sal wees, dié keer met vrouestemme ingesluit. En met bydraes waarin daar daadwerklik in alle erns omgegaan word met kwessies wat gays in Suid-Afrika raak, nie net die gewone gestoei met kwessies soos aanvaarding, om uit te kom, ens. nie. Gay skrywers sal die energie wat hulle spandeer om ’n pielbeheptheid in stand te hou, moet kanaliseer tot ’n besinning oor hul posisie binne ’n breër samelewing. Daar sal ’n stem gegee moet word aan swart gays en lesbiërs. Daar sal rekenskap gevra moet word van gays en straights oor onderdrukking en verswyging wat toegelaat is om vir eeue lank aan te gaan. Hulde moet gebring word aan gays wat, ten spyte van die odds wat teen hulle getel het, ons letterkunde oor die jare verryk het met hul kreatiewe bydraes. Kwessies soos die afwesigheid van programme in skole waar diskriminasie teen gays uitgedaag word, sal aangeroer moet word. Die onwilligheid van gay individue om as rolmodelle vir tieners en volwassenes in ’n publieke forum op te tree, moet sonder versuim aangespreek word. En as dit nog nie voorskriftelik genoeg is nie, liewe leser: Die bevraagtekening van die neiging onder veral verstedelikte gays om hulself in hedonistiese ghetto’s te isoleer, behoort ’n vernuwende wending in die vestiging van ’n gay kultuur in te lui waarop ons almal trots kan wees.

Eers dan sal ’n boek soos Party van ons die “begrip onderling en ook by heteroseksueles” (eina! al gehoor van heteroseksualisme?), waarvoor Botha op bl. 4 pleit, in die hand werk. Om mens te wees binne ’n veranderende samelewing beteken ongelukkig om ’n politieke dier te wees; om gay te wees, des te meer.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.