SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Nuwe stemme 2 se eiesinnige stemme

S E (Lisbé) Smuts

nuwe stemme 2nuwe stemme 2

Tafelberg-Uitgewers
Kaapstad 2001
Sagteband
ISBN 0 624 04017 8
R79,95

Terwyl ek die gedigte in nuwe stemme 2 gelees en herlees het, het die woorde, “... when someone speaks, it gets light ...” by herhaling by my aangemeld. Dit is ’n reël van Freud wat verwys na ’n kind se reaksie op die stem van die ma — nie die fisiese teenwoordigheid nie, maar die stem en die teenwoordigheid wat die stem bring.

In nuwe stemme 2 is sestien digters se gedigte gepubliseer, eiesinnige stemme, elkeen met ’n unieke teenwoordigheid. Die gedigte in hierdie bloemlesing bied ’n leeservaring wat op uiteenlopende maniere lig laat opgaan. Sommige gedigte bekoor met ’n ligte, verrassende aanslag. ’n Hele aantal gedigte illustreer hoe skryf ’n vorm van transformasie kan wees. Van hierdie gedigte ondermyn die gemaklikheid van gemeenplase of bevraagteken en herskryf bekende betekenisse. Sodoende motiveer die gedigte ’n leser om heeltemal ander vrae te vra, om ander of nuwe insigte te oorweeg. En soms word ’n sensitiwiteit vir eietydse sienswyses met skokkende (?) taal en blatante beelde ingestem. Eenvormig of enkelvoudig is hierdie stemme nie; uiteenlopende liedere en afwisselende standpunte word gehoor ten opsigte van die liefde, en God, en die engele, en die dood, en die alledaagse “... ditjies en datjies,/ koeitjies en kalfies,/ spek en boontjies; / daai dingetjies, jy weet, / ...” soos Jelleke Wierenga hierna verwys in “Die węreld is jou woning nie”, haar speelse omkering van Totius se gedig.

Opvallend is die versameling liefdesgedigte in die bundel — van kuis tot geheel en al katools. “Carpe Diem” (Yolandi Woest) en “Waterpas” (Ilse van Staden) ondersoek die heen-en-weer en op-en-af, die waterpassing van verhoudings. Die eerste strofe van “Waterpas” lui so: “Alles wat eers vas / en argumentloos regop in my was, / dít wat ek in ekwilibrium / skynbaar waterpas kon hou, / alles waaraan mens getrou / drome, gebede en gebeure meet, / het jy so ongeërg skuins kom stoot en nou / struikel planete en mane kosmies deurmekaar, / kompasse swaai versteur / sonder koers of rigting rond / ...”. Die gedig se spilpunt is die beelde in die laaste reëls: “Ek dryf in die klein presisie van ’n lugborrel / heen en weer in jou waterpas rond / en saans in drome wonder ek / waar is hemel / waar is grond?”. Yolandi Woest se “Geheime ontmoeting” en “’n Trilogie met ruim erkenning aan H. J. Pieterse” is treffende en ongewone liefdesgedigte wat ’n nadraai by die leser het.

“Heemkunde” en “Gesinsgedig” (Bernard Odendaal) beskryf verhoudings in die waterpas-posisie. Eersgenoemde besing ’n jong bruid. In beide gedigte is die liefde die bron van bekoring en die inspireerder van geluk: “ek voel my ongerymd gelukkig // my vrou se heup staan bak in ons bed / afgeronder as enige slotkoeplet” (“Gesinsgedig”).

“Bom in Breestraat” begin met ’n beskrywing van lyflikheid: “Die middag, op ons bed, vertel ek jou / van jou lyf, uitgestrek soos ’n ou gebou / ...”. Hierdie is een van die uitsonderlike gedigte van Hans Pienaar, met ’n digtheid en verrassende teenaanlegging van beelde en ruimtes. En ontploffings. Die gedig moet in sy geheel gelees word. Lees dit self! Lees ook Melt Myburgh se reeks oor Lorca.

Liefdeloosheid se uitkoms en afloop vorm kil kontraste met die liefde se hoogtepunte. ’n (Geliefde-)loosheid word met ander temas verweef in “Die Manhatten-brief” (Petrus de Kock): “... / en ek het gekom / om van jou te vergeet / soos bosse uit die vouberge / waar vallei en lug ontmoet // en ek het gekom om / deur lughawens parkades winkels restourante / boekwinkels jou spoor te sny / verniet / ... ”.

“Buffelsbaai” (Jelleka Wierenga) is een van die kaalkop-voorstellings van seksuele hitsigheid: “Seenat kom sit ek / op jou everysunlyf / sonbeskermingsfaktor vyf/ losarm skuitry ek / die boggel / van jou fratsgolf / terwyl jy sonvoos protesteer / deinend / tussen lus en rus.” Strofe twee verwys na “die preutse klein / vaginatjie”: “Kriewel kietel kielie / langs jou lende / af / gomlastiek my tong / onder die spanrek van jou speedo / totdat die preutse klein / vaginatjie van jou vleesfluit / oopbek / sopbek / son toe lag.” Hierdie implisiete vergelyking, ’n vergelyking as ’t ware in die verbygaan, tussen die vagina (by die vrou) en hierdie “vaginatjie” kan as tersyde en kommentaar en ’n ontgoding van die penis as fallus gelees word.

Elsibe Loubser se gedigte, onder andere “Hondvrou I” en “Hondvrou II”, is ook reguit, onbedek in die verwysings na die lyflike en die seksuele. Die gedigte van die vroue huiwer nie om die seksuele by haar naam te noem nie

’n Mening wat ’n mens dikwels hoor, is ’n opvatting wat Richard Rorty só in ’n onderhoud uitspreek: “I have this vague sense that the art world has become so isolated from everything else in the universe that you’re either in it or in the rest of the world — nobody has time to be in both.” Hierdie stelling is in die meeste gevalle nie van toepassing op die Afrikaanse letterkunde nie — of verbeel ek my dit maar?

Dit is juis die uiteenlopende węrelde en leefruimtes van die gedigte in nuwe stemme 2 wat die bloemlesing so ’n interessante leeservaring maak. Toast Coetzer se gedigte, wat verrassende en nuwe beskrywings van ’n plaasomgewing en plaas-/plattelandse gemeenskappe skep, is opvallende voorbeelde. Die samestellers van die bloemlesing verwys na “die stem van die jongmens in interne asiel, veral teenoor die plaasbestaan” en die verwysing is van toepassing op Coetzer. Maar hierdie “asiel”, die intrek in innerlike ruimtes in, en in die beskutting van die gedig in, is nie ’n onttrekking nie. Onttrekking en oopstelling bestaan tegelykertyd — die een bestaan dikwels as gevolg van en in afwisseling met die ander. Bestaan word as terselfdertyd “gewond maar gelukkig” beskryf: “... / want deur die weke soek ons na woensdae, gewond maar / gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons sater- / dag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, / want teen maandag, teen maandag” (“tussen stasies”). Die dag-tot-dag-bestaan is vasgelę in die natuur van die omgewing. Unplugged? — nee. Dit is ingestel op radiofrekwensies en e-kontakte (“jan tuisbly se karretjie”): “dis desember en god stuur sy swaeltjies elandsdrift toe / vierhonderd vyfhonderd miskien ’n duisend of twee / my karradio snuif en ritsel deur die statiese selfmoord / waar radio algoa se frekwensies spring tussen there she goes again / en lance klusener wat 100 slaan op st georges / arm by die venster uit ruik ek nog gister se reën / en my oë kyk verby laasjaar se karlisensie / na waar vandag s’n vandaan kan kom / ...” (Coetzer: “10 desember 1999”).

“Om boer te wees” (W E G Louw) word radikaal in Coetzer se gedigte herskryf. Die titel “plaasroman II” gee off-beat kommentaar op die vorm van hierdie gedig. Die woorde ingeryg tot stringe versreëls, die inkantatiewe aard van die herhaling en die meesleurende s-klank dwarsdeur die gedig, dit alles kondig iets anders aan en ’n mens moet saamstem, “destyds het ouens soos van wyk louw en opperman / nice gedigte oor die natuur geskryf./ ons het nie meer tyd vir sulke kak nie” (“natuurgedig”). Dit laat die leser ook besef ’n grondverskuiwing is besig om te gebeur — die kartering van landskappe verander.

Coetzer se gedigte is ingebed in ’n Suid-Afrikaanse omgewing en natuur. Sy eiesoortige gedigte kan vergelyk word met ander karterings van ander Suid-Afrikaanse omgewings en landskappe. Dit kan vergelyk word met “nice gedigte oor die natuur”. Die gedigte van Bernard Odendaal, soos byvoorbeeld “Harmonie, distrik Bloemfontein”, vorm ’n interessante en belangrike teenstem. Renée Marais se (eiesoortige) gedigte, onder andere “Afrika, snags” en “Magaliesberg, Akasia”, brei hierdie kontraste uit met ’n geoefende sin vir verhouding en tegniese samehang.

Die konkrete węrelde wat die gedigte in die bloemlesing herskep, oorvleuel ook met die węrelde van engele en die goddelike. Die gedigte “’n mens kan nie as die see só lyk”, “Eng(el)” en “Ligloop” (Ilse van Staden) en “die wet” (Gilbert Gibson) is ingestem op “deursigte dun” “daarwees” (“Ligloop”). Hierdie gedigte (en feitlik al die gedigte van Ilse van Staden) gee ’n verskuiwing na ’n ander vlak van bewussyn. Dit is betowerende gedigte en belangrike toevoegings tot die meerstemmigheid in die bloemlesing.

“Meneer God” ontvang ’n skrywe in die treffende “Brief insake Down-sindroom” (Sarina Dönges): “by my het ’n fabrieksfout / ingesluip. ek kan nie begryp / in hierdie tyd waar pos- / stukke en aflewerings / so onseker is, vertrou U / ’n ooievaar as klerk / om kosbaarhede te versend: / wat voer hy in die vlerk?”. Hierdie gedig en ander gedigte van Dönges, soos “Oëverblindery”, “Blindelings”, “Apostaat”, “Lief hét ek U, maar ...” en “Narrery” is almal gedigte wat ’n religieuse ervaring op ’n nuwe en soms speelse, maar ingrypende manier verwoord.

God word aangeroep in verskillende tongvalle en vanuit verskillende omgewings. “Halleluja, prys die Jirre” klink dit op in “waentjie-evangelie” (George A Hill). En in “die drie-enige god ...” word gevra, “alle-hoegste god, hoo net my gebed”. Hierdie gedigte van Hill sluit gebede in, maar ook kritiese kommentaar en besinnings: “Jy loep voort en jy wôt sienende blind. / Gesigte dwaal orie godverlate vlaktes. / Geraamtes vannie verlede kraak onne jou. / But djy loep nog altyd an / Ennie son sak nog altyd oppe selle spot.” (“Ghetto-dagboek”) Die digter se gedigte gee ’n inkyk in en ’n raaksien van “(w)indverwaaide godverlate vlaktes van swaarkry”. Dit laat vrae oor siende blindheid by die leser.

Ek het die uitgebreide tematiese register, die kaperjolle met titels en skryfwyses (van onder andere Hans Pienaar), die dapperheid om openlik te praat in nuwe stemme 2 geniet. Ek is beďndruk. Joan Hambidge is beďndruk, soos haar bespreking in Die Burger bewys as sy skryf: “Daar is iets nuuts aan die gebeur in die Afrikaanse digkuns. Hierdie bundel bewys dit. Hier is die bloedoortapping waarop ons so lank gewag het.” Die samestellers van die bundel, Petra Müller en Nčlleke de Jager, verwys na die insendings wat hulle ontvang het: “Toe ons daardeur begin werk, het dit dadelik opgeval dat ons hier waarlik te doen het met nuwe stemme.” (“Verantwoording”) Digterskap wat jou asem wegslaan is die “poësieverslaafde” se “fix”, het Petra Müller een keer in ’n bespreking van ’n debuutbundel geskryf. Hierdie bloemlesing gaan inderdaad ’n fix vir vele lesers wees.

Tweehonderd jong digters, skrywers wat nog nie genoeg gedigte het vir ’n eie bundel nie, het bydraes ingestuur. Eenhonderd vier-en-tagtig digters gaan dus nie die poorte langs hierdie weg binne nie. Die bloemlesing se noodwendige begrensing sluit in en sluit uit — skep ’n binnekant en ’n buitekant. Die leesraam wat die “Verantwoording” gee, is nuttig by die lees van die gedigte wat ingesluit word, maar kan meer volledig kommentaar lewer op die redes vir hierdie keuse. Kon die keuse van digters en gedigte heelwat anders, ietwat anders, of glad nie anders nie, gewees het? Teen die agtergrond van die gesprekke die afgelope tyd oor die inklusiwiteit en meerstemmigheid van Afrikaans (dink onder andere aan Neville Alexander se kommentaar in hierdie verband), wonder ’n mens hoekom so min bruin en swart digters bydraes voorgelę het vir oorweging?

S E (Lisbé) Smuts is verbonde aan die Departement Linguistiek en Suider-Afrikaanse Tale aan die Universiteit van Kaapstad.
E-posadres: Lisbé@beattie.uct.ac.za

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.