|
Ons almal se oorlogAdinda VermaakOns oorlog Wie se oorlog was die Anglo-Boereoorlog? Wie is die ons in Klaas Steytler se laaste boek, Ons oorlog? (Behalwe vir die doofstom Konie word die hele oorlogstoneel feitlik net deur wit mense bevolk.) Het Klaas Steytler se boek dit net oor die oorlog soos dit in die Steytler-familie oorvertel is? Die drie dogtertjies in hulle matroospakkies op die omslagfoto is inderwaarheid die skrywer se ma, Henriette Sanders, en haar twee sussies, Ruth en Olive. En in die voorwoord verduidelik Nico, Klaas se seun, dat dit wat hulle persklaar sou maak ná sy pa se dood, die familiestorie n persoonlike storie, sy storie sou wees. Tog raak dit, soos die leser gou besef, baie meer as net die persoonlike storie van die Havenga-Steytler-familie se betrokkenheid by die oorlog. Dit raak óns, die lesers se storie dit raak óns oorlog. (Selfs al het baie van ons nie eens één voorsaat wat destyds oor die kraalmuur geloer en die Kakies die een na die ander gepot het nie, of nie een oumagrootjie wat in die konsentrasiekamp vlieë van n siek sussie se gesig weggewaai het nie soos oorvertel is.) Dit raak elkeen se oorlog. Die verhaal begin met n hoofstuk getitel Die pad huis toe, wat die verwagting skep van iemand wat na die oorlog terugkeer net soos die spreker in Sarie Marais wat sing van Die huistoegaan was daar…. Maar hier is die pad huis toe die dodereis en is die kryger aan die einde van sy lewenstryd. In hierdie eerste hoofstuk word n barre, letterlik doodstil landskap beskryf waardeur Niemand moet reis tot by die Swart Rivier waar die veerman Filemon en die hond van die hel wag om hom na die oorkant te neem waar sy voorsate op hom wag. Die skrywer-verteller is aanvanklik opvallend teenwoordig: hy vertel van sekerhede oor die verlede, soos die feit dat sy Britse oupa, Heinrich Sanders, sy ouma Magdalena uitgekonkel het uit haar bruidskat wat sy ontvang het as een van die dogters van die plaas waar die latere Jagersfontein-diamantmyn opgerig is. Die verteller wonder egter oor dit wat hy net dínk wat gebeur het: My ouma sit in haar leunstoel. Dalk hoor sy perdepote … (p 11). Veral aan die begin word beklemtoon dat gesteun word op familie-oorleweringe en -legendes: … dit is tant Mynie, die generaal se vrou, wat soos ons vertel is, so swaar gekry het in die oorlog. Heeltemal geknak is in die berugte Merebank, naby Durban. (p 11). En dan ook, soos op p 12, erken die verteller: Hierdie familievertelling, dit wil sê, oor die beplanning van die 1914-rebellie, is foutief. Die ware storie ... Die leser word dus gereeld daaraan herinner dat dit wat hier gelees word, oorgelewerde stories is: so is ons vertel … Die gesprek van Klasie Havenga met sy neef, die skrywer Klaas Steytler, en sy vrou Elsa in April 1955 word oorvertel. Hy vertel hulle van dr Verwoerd, die destydse minister van naturellesake. Die gesprek gaan oor die opvolger vir dr DF Malan en oor Verwoerd se brief aan Havenga n paar dae voor die verkiesing. Hy het gesê die volk wil my nie hê nie, het my oom herhaal. Wat die volk wil hê, is nie noodwendig wat die individu sou verkies nie, maar is deurslaggewend, net soos later met die verwydering van die Kleurlingstem. So beskryf Klasie Havenga dit aan Klaas en Elsa: Die volkseenheid is soos n kosbare erdekruik wat ek in my hande hou; ek durf dit nie te pletter laat val nie. (p14) Al het hierdie volk, hierdie mense so eienaardig, so half skurf, nie soos helde nie; net maar familie wat iewers heen op pad is, gelyk, het Magdalena Sanders geweet, toe sy die Boere sien op hulle terugtog aan die begin van Maart 1900 na die slag van Paardeberg dat, al lyk hulle so snaaks, hierdie Boere, so halftuisgemaak, nogtans óns mense is. (p 24) Dis ook wat Magdalena se oudste dogter, die half-verengelsde Maxi, op p 189 besef toe sy n begrafnis van n verlangse familielid in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp gaan bywoon, naamlik dat ...daardie volk agter die draad een van die twee tale in haarself, Afrikaans, praat. Sy het dit gehoor: hulle praat Afrikaans. En sy sien vir die eerste keer hoe lyk ons oorlog. Uiteindelik, na die afloop van ons oorlog, kom die skrywer-verteller (p 225) tot die besef wat die gevolge was van hierdie voorsate wat aan die volk sy harde skil van granaat gegee het, om met die vrees vir verraad verbete die volk binne te hou en die joiners, verraaiers, die Vilonels daar buite. Byna soos die gestaltes in die stofwarreling vir Niemand in die eerste hoofstuk begin vorm aanneem, so kom die karakters van die roman uit die verlede aan die leser te voorskyn, en dis asof die dogtertjies op die omslag, en hulle familie en vriende begin lewe en ook die leser se familie word. Dit word ook ons oorlog. Dan maak dit nie meer saak of die verhaal oor Klasie Havenga, minister van finansies in die Hertzog-regering, in alle opsigte histories korrek is nie. Soos byvoorbeeld, watter storie oor sy hoë stem die waarheid is nie: die volkslegende wat dit wil hê dat dit die gevolg was van n skietwond tydens die oorlog op n baie ongemaklike plek hoog in sy lies, of die oorvertelling in die Steytler-familie (p 15) naamlik dat hy sy stem oorgeërf het van sy ma, n groot, dik vrou met n hoë priemstem. Klasie Havenga was, so het die skrywer-verteller se moeder gesê, inkennig, iemand wat moeilik met ander kon kommunikeer, iemand wat nie graag oor sy oorlogservaringe wou praat nie. Ná sy dood bly daar net karige feite. Die leser word gereeld daaraan herinner dat wat hier aangebied word n storie is. (Dit herinner aan die storie van Leipoldt, Oom Gert vertel, wat so begin:
Jy wil die storie van ons sterfte hoor?) Omdat die jong Klasie Havenga aangestel is as genl JBM Hertzog se sekretaris, is hy betrokke by opspraakwekkende voorvalle in die oorlog, soos die hofsaak van kmdt Vilonel (pp 45-53) en die inval in die Kaapkolonie in Desember 1900. (Dis in hierdie tyd dat die storie afspeel, soos beskryf in die hoofstuk met die titel, Klasie jaag n trein wat hy inderdaad gedoen het.) Maar Ons oorlog is eintlik nie die storie van Klasie Havenga se oorlog nie; dis ook die storie van sy skoonmoeder Magdalena Sanders en haar dogters se oorlog, en ook die storie van Jan Visser, Magdalena se kleinneef, sy vrou Lenie en hulle kinders se oorlog. Al koop n mens die boek net om die storie te lees van Jan Visser, die onwillige kryger wat n jong Engelsman doodskiet en só daardeur ontroer word dat hy besluit om die wapen neer te lê, het n mens reeds jou geld goed bestee. Dis seker nie toevallig dat Jan Visser se plaas se naam Tweefontein is nie. (Sy redenasie op p 37 in Maart 1900 aan sy vrou Lenie oor waarom hy nie verder wil veg nie, laat n mens dink aan dié wat vandag dink dis nie die moeite werd om vir Afrikaans te veg nie: Daar is te veel om teen te baklei: daar is niks wat n mens daaraan kan doen nie ... n Mens se kop sê vir jou dis hopeloos; dit is totaal hopeloos.) Maar dit was toe nie die einde van Jan Visser se oorlog nie. Dit wat daarna met hom en met Lenie en hulle kinders en bure gebeur, sorg vir aangrypende en uiters spannende leesstof, veral die storie van hoe Jan Visser besef het dat die doodskiet van n jong Engelsman toe nie so erg was nie, nie as dit vergelyk word met die doodskiet van n vermeende joiner nie. Ons oorlog vertel ook die storie van die vriendskap van Maxi, die agtienjarige dogter van Magdalena Sanders en oudste suster van die drie dogtertjies op die omslag, met die Orange River Colony se jong luitenant-goewerneur, major sir Hamilton John Goold-Adams. Moenie dink dis n boek sonder humor nie. Daar is voorbeelde van tipiese Klaas Steytler-humor, soos in Klasie Havenga se siening van die oorlog op p 41: Dit is hoe oorlog is: jy kies die offisier van wie jy hou; hy moet lei en jy moet volg. As jy nie lus het nie, doen jy iets anders. Of die kwinkslae waarmee die Engelse tereggewys word, soos Jan Visser se woorde op p 34 aan die verwese Kakies, nadat hulle iewers in die suidwes-Vrystaat deur die Boere uitgeskud is: You can go home now, sê hy vir die offisier sonder laarse en kamaste. It is that direction, en hy beduie na die suide. The road goes by that koppie; you just follow it. Then you get to the sea. Of toe die kommando van Hertzog waarvan Klasie deel is in Januarie 1901 by Vanrhynsdorp kom en hoor dat die ou koningin Victoria oorlede is. Daar is heelwat Vrystaters wat nog nooit van Victoria gehoor het nie. Dat hulle heeltyd teen n ou vrou veg! Gn wonder nie. Of die sieklike oom Ben van Vuuren se naïewe opmerking op p 116 toe hy, sy vrou en haar suster en Lenie en haar kinders saam met die ander op n oop beestrok saamgehok is en die trein van Jagersfonteinweg uitstoom op pad na die konsentrasiekamp buite Bloemfontein: Ek was baie lanklaas in Bloemfontein. En n maand later toe hy na n nag van reën en hael nie sy kop van die modderige swart seil in hulle deurweekte tent kan oplig nie en hy op die tweedisselboomkarretjie na die hospitaaltent geneem word: Waar vat hulle my, Isak, vra hy (vir een van die ander ou ooms saam met hom in die tent) gaan ek nou Bloemfontein toe? Oom Ben was, soos Niemand in die eerste hoofstuk, op pad om sy laaste reis te begin. In die verhaal is baie karakters op reis. Die vegtendes te perd op reis deur die republieke of deur die Kaapkolonie, en die ou mans, vroue en kinders op oop trokke op pad na die konsentrasiekampe. Magdalena Sanders en haar dogters se nagmerriereis kontrasteer met die luukse reise waarvan haar man hulle vertel het toe hy, ter wille van sy gesondheid en om duur meubels oorsee te gaan uitsoek, gereeld Europa toe gereis het. Hulle reis in n beestrok en hulle reis is nie, soos haar man sn n reis na die see nie, maar na die Norvalspontse konsentrasiekamp. Net soos die reise verskil, so verskil die kos. Die sjokoladekoek, skons met aarbeikonfyt, en daarna donssagte brood met n skyfie ham daarop wat Maxi by die polowedstryd eet as gas van die jong luitenant-goewerneur, staan in kontras met die gemmerkoekies wat haar tante haar daarna trots aanbied, en in nog skriller kontras met die kos in die Bloemfonteinse kamp. Die nagmaal op Trompsburg na die oorlog staan as teken van versoening en vrede tussen die bittereinders en die joiners, net soos die koekie wat Niemand aan die veerman gee, nadat hy ook vrede met sy verlede gemaak het. Daar is n paar krapplekke: die verteller se tussenkoms is soms hinderlik en steur die verhaalgang, Magdalena Sanders se ontboeseming aan die vertraagde Etsebet oor haar man se bedrog en verraad klink nie oortuigend nie, oom Ben van Vuuren word bo-aan p 129 skielik oom Ben van Rensburg, en dr HF Verwoerd se tweede naam word nie French gespel soos op p 13 nie. Maar vir almal wat vir die eerste keer oor die oorlog wil lees, en ook vir almal wat voel hulle het nou al genoeg stories oor hierdie oorlog gelees: gaan koop Ons oorlog en geniet Klaas Steytler op sy beleë beste; dis n aangrypende leeservaring. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |