SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Breytenbach gooi ’n groot skadu

Joan Hambidge

Die Toneelstuk
Breyten Breytenbach
Human & Rousseau
ISBN 07981 4174 3
Prys: R89,95

“Nie alles bly behoue nie. Die kop is te vol verdriet.”

Die figuur Breyten Breytenbach is as digter, romanskrywer en dramaturg ’n bestendige en vernuwende stem. As skryf die uitlê van skaduwees is, soos hy self bely, dan kan ’n mens ook beweer dat Breyten Breytenbach daardie boom is wat ’n groot skadu gooi oor ’n primitiewe en parogiale (letter)gemeenskap.

Sy jongste drama is hoofsaaklik gestriem en soos gewoonlik met onkunde begroet. Enkele reaksies was intelligent, maar onkundige, lewensmoeë, en veral lúi resensies was aan die orde van die dag.

Ook in Woordwerk, ’n roman, het Breytenbach die konvensies van die romankuns op sy kop gekeer en in Die Toneelstuk doen hy dit weer. Hierdie resensie benader die gepubliseerde teks en nie die opvoering nie, ofskoon die semiosis tussen die twee tekste ook tersaaklik is weens die belangrike en innoverende werk van Marthinus Basson, voorste regisseur, wat waarskynlik die verbintenis tussen werklikheid en fiksie, tussen binne en buite ten beste begryp soos ons ook weet uit sy imposante opvoering van Ek, Anna van Wyk.

Die titel, Die Toneelstuk, wil kennelik die ou Afrikaanse aanslag van die reisende Hanekoms, et al debunk. Die leser kan dus nie daardie ou ATKV-wenner Kom ons speel toneel mislees of ignoreer nie, behalwe dat die gegewe nou gelaai word met ’n verdoemende analise van ons land, (skuld)belydenis en behorende tot ’n troebel geskiedenis.

Die dramatitel dra die subtitel: ’n Belydenis in twee bedrywe. Onmiddellik word die leser geplaas binne die gegewe van die onlangse WVK-debat en die algemene verwyt dat die meeste Afrikaners, hul Calvinisme ten spyt, ongeneë was om aandadigheid te erken. Die leser roep ook in die herinnering Antjie Krog se Country of my skull en reaksies op haar interpretasie van ons geskiedenis en skuld.

Ook is die Calvinistiese belydenis waarskynlik vir die meer Boeddhistiese BB ’n onding; jy aanvaar jou karmatiese lot en die effek van jou (wan)dade of (nie)dade.

My bespreking moet dus gewoon as kanttekeninge gelees word by ’n verwikkelde dramateks en soos sy roman Woordwerk is daar ’n verbluffende spel met moderne literatuurteorie aanwesig. Die skrywer voorsien die leser met ’n bywoord: dus nog ’n aanhangsel wat die spel tussen toneelopvoering-reaksie-gedrukte teks-die lewe-BB se geskiedenis-SA politiek problematiseer.

Soos in Bertolt Brecht se Mutter Courage word daar heen en weer beweeg tussen teks(werklikheid) en teks(fiksie). Insgelyks word die leser van meet af aan bewus gemaak van die “vervreemding” wat hier op die spel is in Die Toneelstuk. Ons ken die histeriese reaksie, die geskiedenisse en hierdie leser het eerste die bywoord gelees wat ’n “skoon lesing” onmoontlik maak. Nog nooit was Derrida se “daar is geen buiteteks nie” so nommerpas nie!

Die meesterteks is hier die SA geskiedenis en die sub-teks is dat Breytenbach in die tronk was weens sy opstand teen die vorige regering. Die intertekste is onder meer die WVK, Dostoejefski se lewe en romans, en ook, die tekste van Bertolt Brecht. (“Eers kom die kos en dan die moraal”, p 63.)

Martiens(’n regisseur); Dawid (die Inkwisiteur wat Dawid Minnaar moes wees, volgens die agternawoord en ’n speler wat gesien kan word as BB se “double”, net soos Marcello Mastroianni ’n besliste fisiese trek had op Federico Fellini en hierom in sy semi-outobiografiese films Fellini vertolk); Anna/Mamma Jesus die argetipiese aardmoeder; Baba Halfjan (’n Menspop en ook BB); die Bewaarder/Ivan; die Hond/Aljosja en les bes Dostoejefski, ’n swart man.

Ek, Anna van Wyk is eweneens ’n spieëlteks, daardie ondersoekende drama van Pieter Fourie oor die psige van die Afrikaner, eweneens deur Basson geregisseer en met Dawid Minnaar en Antoinette Kellerman in die rolverdeling.

Breytenbach se kennis van die teater en teaterkonvensies word op sy kop gekeer en die belangrike verwysing na Dostoejefski aktiveer die skrywer se eie tronkhel. Die skietbevel het by beide uitgebly, maar die psigiese letsels kan nie misgekyk word nie. By Breytenbach is daar die wete dat die nuwe bestel die waansin van die oue dupliseer; by Dostoejefski dat die mensdom nooit van sy sotterny verlos kan word nie. Hierom word daar na die letsels om die enkels gewys: hierdie merke gee aan jou die reg om kritiek uit te spreek. BB se opoffering en kerkering maak ook van hom ’n relevante kritikus.

Die teks is egter skryf-in-aksie soos vele van Fellini se films filmmaak-in-aksie(Otto e mezzo) is. ons word herinner dat die toneelstuk nooit geskryf is nie en in die bywoord vertel (bely!) BB dat die teks verlore geraak het. Ons is dus binne-in die skrywer se werkswinkel en sy kop vol drome. Miskien beleef ons iets van ’n hallusinasie of ’n “besoeking” van Dostoejefski?

Hier is dus sprake van ’n reïnkarnasie van tekste of ’n wederopstanding van die woord. Die teks wil ook kommentaar lewer op die mea culpa, mea maxima culpa proses waaraan ons so lank uitgelewer was.

Dobbel is eweneens ’n sentrale metafoor in hierdie teks. Nie net was Dostoejefski ’n dobbelslaaf nie, maar om ’n teks te skryf wat die huidige SA vierkant in die oog kyk, is ook ’n proses van Russiese Roulette. Immers is die sogenaamde “wheel of fortune” in die Tarot ook ’n wiel wat vorentoe of agtertoe kan draai; positief of negatief kan wees ...

Hierom ook die verwysing na die Le Pendu oftewel die Opgehangde Man(p 63). Dit is ’n komplekse kaart en indien onderstebo, dui dit op ’n toestand van gevangenskap binne ’n psigiese of fisiese toestand. Breytenbach wil hiermee via Dostoejefski sy eie psigiese gevangenskap binne ons siek bestel artikuleer.

Die drama eindig met ’n orgasme. Die klein dood heet dit op Frans en dood en hergeboorte is die sentrale metafore in hierdie opwindende en innoverende skrywer se werk.

Inderdaad: die mond is te geheim om die pyn te kan wegsteek.


Nawoord van die kritikus:

Gedagte een:
Kopstukke — vir Beeld (April, 2000)
Die Tarot

Dit is waarskynlik al hoog tyd om die gereelde leser van hierdie rubriek in te lig oor die betekenis en werking van die Tarot. So pas het daar ’n Suid-Afrikaanse stel verskyn: Soul tidings van Susan Marais.

Die 23 major arkana verteenwoordig die spirituele ontwikkeling van die speler wat plaasvind vanaf totale onskuld tot ’n gevoel van spiritualiteit. Ook Carl Gustav Jung het uitgebreid oor die Tarot geskryf.

Daar bestaan vele spekulasies oor die oorsprong van die Tarot. Volgens die neëntiende eeuse mistikus, Eliphas Levi, sou dit moontlik wees om die stand van die volledige universum te weet al sou ’n mens in eensame opsluiting wees. Deur die kaarte te lees, kan die wêreld begryp word.

Daar is vele spekulasies. Sommige mistici meen dat oorspronklike kennis van die Egiptenare in die kaarte opgevang is. Dit het hulle gedoen uit vrees vir verwoesting (Lomax, Rand Daily Mail, 14.12.1972). Vir ander is dit egter gewoon speelkaarte. In Italië word dit gebruik in ’n spel tarocchini. Ek het selfs na Marokko gereis om die oorsprong na te gaan. Skynbaar bestaan daar die geloof dat die kaarte hul oorsprong had in Fez in die dertiende eeu. Niemand kon dit egter bevestig nie. Vir ander weer is hulle gekoppel aan die soektog na die Heilige Graal.

Maar dit is juis hierdie teenstrydige teorieë wat my boei. In vele boekwinkels bestudeer ek telkens die Tarotpakke wat ’n mens kan aankoop en ekself is in besit van vyf uitsonderlike stelle kaarte waarvan Osho Zen, ’n Japannese stel, my jongste toevoeging is.

Die sogenaamde minor arkana behels: Swaarde (of die ekwivalent van die sogenaamde Skoppensboer in ’n speelpak); Munte (Diamante); Stokke (Klawers) en Koppies (Harte) .

Dit heet dan ook die Tarot of Tarok en in Hebreeus word daarna verwys as die sogenaamde Torah en in Egipties as die Tarosh.

Dit blyk dat daar groot onsekerheid bestaan oor die funksie van hierdie kaarte en vele skrywers ontken kategories dat die doel van hierdie kaarte enigsins iets te make het met fortuinvertelling.

Gedurende die sogenaamde Middeleeue was die kaarte ’n weergawe van die wêreld wat deur konings geregeer was. Die kerk is voorgestel deur die sogenaamde bekers (cups) ; die leër (swords) ; die handelaars (pentacles) en die boere (batons) .

Aanvanklik kon net die rykes die lieflike handgemaakte kaarte bekostig en die kaarte was in houtsnee beskikbaar. Later, toe dit meer populêr geraak het, het die voorkoms ook verander. Die koppies het harte geword; die swaarde die sogenaamde skoppensboer/skoppensvrou(spades) ; die geldstukke of (pentacles) diamante en die sogenaamde batons is verander na clubs of klawers.

In Duitsland weer vind ons harte, blare, akkers en klokkies op die stel. Daar word ook beweer dat die Franse die grootste invloed had op die ontwikkeling van die kaarte soos ons dit dan vandag ken. Hiermee is die major arkana verwyder en die kaarte verminder na 52 plus harte, diamante, “spades” en klawers.

Ongeveer in die veertiende eeu is die Tarot vanaf die Ooste gebring na Italië deur die sigeuners. Party skrywers meen dat hulle die kaarte gesteel het in die Ooste. Ander bronne beklemtoon weer die rol wat die Kruisvaarders gespeel het.

En wat beteken die Tarot? Is dit gebaseer op die Hebreeuse alfabet of is dit eerder Hindoe-mitologie wat hier ’n rol speel? Of is dit ook, soos Jung beweer, ’n blote voorstelling van argetipes uit die kollektiewe onbewuste?

Was hierdie kaarte gesteel uit die Ooste? Of geleen? Soms word die Tarot ook The book of Thoth genoem, in navolging van die Egiptiese God Djowtey (Thoth in Grieks) wat die wysheid en magiese kragte beheer het. Hy het beheer oor alles uitgeoefen en skrif en wiskunde uitgevind. Hy word voorgestel met ibis-hoof met ’n pen en inkhouer in die vorm van ’n bobbejaan met ’n hondekop. In die Hellenistiese tydperk is hy ook geassosieer met die Griekse God Hermes en lateraan met Hermes Trismegistus, die beskermheer van die towenaars. Ons meen die Tarot het so teen 1270 of selfs 1085 die Weste bereik. (Al hierdie inligting is deur die jare vergaar en onder meer is die Encarta-ensiklopedie bestudeer.)

Deur die jare het die Tarot aangepas by nuwe werklikhede. Soultidings is eweneens fassinerend omdat dit moderne prentjies verskaf — gedoen deur Lou Henning en Visual FX — en die Bybel betrek. Waarskynlik sal ’n paar teoloë frons oor die versoening tussen die mistieke en die Bibliese.

Tog bewys hierdie reeks iets: daar is sekere waarhede wat so oud as die berge is.

Revelo Publishers publiseer hierdie reeks.


Gedagte twee:

“The familiar Oedipus story begins with the hero killing an old man at a crossroad. The old man is Oedipus’s father Laius, who had ordered his newborn son to be taken to the mountains to die in order to prevent exactly this event. But the ’prehistory’ of the myth involves a key episode in which the young Laius, received graciously at King Pelops’s court, ungratefully repaid his benefactor by abducting Pelops’s beautiful son Chrysippus. It is in fact Pelops seeking reparation for Chrysippus’s rape, who calls down the curse on the house of Labdacus, the prophecy of Laius’s murder by his own son. The myth of Oedipus thus has its origins in a tale of homosexual seduction — and in Laius’s bisexuality” (Garber, 2000, p 176).

Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of everyday life. Routledge, New York. 2000.


Gedagte drie:

Die verwysing na ander digters is ook relevant in twee voetnotas. Hiermee erken BB onder andere die Russiese en Oosterse van Petra Müller. Ook Tatamkhula Africa kom aan bod: die ou man wat hom nie aan bande laat lê deur benepenheid met identiteit nie.


Gedagte vier:

’n Opgeleide Jungiaan sou waarskynlik ’n fassinerende analise kon maak van al die karakters as aspekte van een persoon.


Gedagte vyf:

Die skietbevel bly uit en Ernst van Heerden se gedig bly in my gedagtes maal. Op Kersaand 1849 is Dostoejefski ter dood veroordeel en op die laaste moment deur die Tsaar begenadig. Hierdie ervaring van bykans dood wees, moes die psige van die skrywer vir ewig belas het. Net soos BB se tronkervaring ’n hellevaart was wat in teks na teks besweer word.

Die soektog na die verlore gedig is eweneens opvallend by Breytenbach. Die verlore teks aktiveer die droom, die hallusinasie en speel ook in op Dostoejefski en aktiveer Derrida se differance of uitgestelde betekenis ...

Prof Joan Hambidge is verbonde aan die Dept Suider Afrikaanse tale en Linguistiek aan die UK.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.