|
Gay nie noodwendig happy nieWynand HauptEn toe kom die reën Homeros Die hoofkarakter, Dawid, kan wat die liefde betref net n mislukte, eensydige verknogtheid aan die promiskue Wim agter sy naam skryf, plus n klompie eenmalige vleeslike verbintenisse. Sy verhouding met sy ouers, wat verongeluk het, was ook nooit goed nie. Die roman begin met Embeth, sy vrou in n gerieflikheidshuwelik, se aankondiging dat sy wil skei. Dan ontmoet Dawid vir Phillip (kunssinnig, twee en twintig, weerloos, oop vir misbruik) deur n advertensie. Wat hou die toekoms vir hulle in? Moet hy hom vertel hy is nog getroud? Struktureel gesproke is daar n groot hinderlikheid. Die leser word van bladsy 9 tot 17 voorgestel aan Phillip, wat duidelik n baie belangrike rol in die roman gaan speel. Die vordering van dié verhouding word dan egter vir n volle 147 bladsye onderbreek deur n uitgebreide verslag oor Dawid se verlede en Wim se betrokkenheid daarby. Dit is gemotiveer in die sin dat n kontra/vergelyking tussen Dawid se twee geliefdes die teks verdiep. Maar die hede én verlede ly daaronder. Ons verloor belang by die hede aangesien Wim n interessanter karakter as die onseker en needy jong Phillip is. En die lang gedeelte oor Wim, asook Dawid se vriendskap en huwelik met Embeth, geniet nie ons onverdeelde aandag nie aangesien ons weet dit is oor en verby, en ons weet wat kom. Die hoofkarakter is twee en dertig, maar sy manier van dink en die sosiale manier van doen tydens die terugflits (wat aan die einde van die 1980s afspeel) herinner meer aan die bestel van die laat 1970s indien nie vroeër nie. Indien dié gedeelte wel in die 1970s afgespeel het, sou dit byvoorbeeld op bladsy 42 meer oortuig het wanneer Dawid se meisie-vir-die-aand Annelise doodernstig n plaat van Gé en Min op die draaitafel sit. Die dialoog is oorwegend goed gehanteer, soos n mens kon verwag gegee Young se agtergrond as omroeper-regisseur. Net soms doen die woordkeuses te formeel aan: Toe maar, môre is hy vol berou. Dan kom vra hy verskoning. Dit vat nie die kwets weg nie. Daar is ook n oormaat van aksenttekens, wat gebeure en emosies oorbenadruk laat voel. Gedeeltes soos die volgende raak hinderlik: Ook dít ontstel hom. Sal Wim nóóit raaksien dat hy vir hóm omgee nie? en: Maar sê nou sy pa het nóú geleef sóú hy kón? Soos hierbo blyk, wroeg Dawid baie. Hy kry homself te jammer en baie lesers sal ongeduldig raak dat hy hom moet regruk. Te veel gedeeltes loop soos volg af: En skielik voel hy verskriklik alleen. Die huil sit in sy keel, maar wil nie uit nie. of begin met: Hy word in n poel van neerslagtigheid wakker. Gay? Ja. Happy? Nee. n Mens raak wel by die karakter betrokke: jy wil hê Dawid moet einde ten laaste geluk en vrede vind. Ek vind die einde interessant; genuanseerd. Nie voor die hand liggend nie. Die roman mag spreek tot gay of bi mans wat nie kan vrede maak met hul seksuele oriëntasie nie. Veral dié wat so ver gegaan het om te trou, sal na my mening sterk daarmee kan identifiseer. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |