|
n Verhaal wat jou laat nadinkCorlia Fourie
Raaiselkind In n doodgewone, plattelandse gesin word n kind gebore. n Kind wat sy rug styf trek en aanmekaar skreeu. Wat later snags nie slaap nie en in die huis rondhardloop en die ligte aan- en afsit. n Kind wat bedags en snags met n beiteltjie die pleisterwerk van die mure afslaan wanneer hy nie onder die tafel of in die besemkas sit nie. n Kind wat slaan en skop en sy hande flap as jy hom n drukkie wil gee. n Raaiselkind. n Outistiese kind. In dié roman van Annelie Botes word daar met seker hale geteken hoe omstandighede buite jou beheer n beslissende rol in jou lewe kan speel. Want Ingrid en Dawid Dorfling en hulle twee slim dogters is doodgewone plattelandse mense wat hulle tuis voel by hul vriende en die kerk. Maar ná die geboorte van Xander, die seun na wie se koms hulle met soveel afwagting uitgesien het, begin die huweliksverhouding te verbrokkel. Ook Ingrid se verhouding met haar ander twee kinders ly baie skade. Die verhaal speel af in Xander se negende jaar ná n tragedie, toe daar reeds groot skade was aan die gesinstruktuur. Soos met haar vorige twee romans, Trippel Sewe en Klawervier, het Botes deeglik navorsing gedoen. Vir Raaiselkind nie net oor outisme nie, maar sy het selfs n naweek in die tronk deurgebring waar sy soos n regte verdagte aangehou en ondervra is. Dit dra baie by tot die gevoel van outentisiteit en deurleefdheid van die roman. Selfs die afbreking van n persoonlikheid onder polisie-ondervraging word geloofbaar weergegee. Die verhaal word in lekker loslit-Afrikaans vertel. Die grootste deel uit Ingrid se oogpunt vertel, n ander deel uit Miriam, Xander se oppasma, se oogpunt. Miriam is n heerlike aardse karakter met n kop vol wysheid en n hart van goud. Sy is vir Ingrid n steunpilaar en n klankbord en die enigste mens wat soms tot Xander kan deurdring. Die skrywer wat veertig jaar op die platteland gebly het, ontbloot in die verhaal ook die plattelandse mense se manier om uit te sluit wat hulle nie verstaan of goedkeur nie. Toe dinge met hulle verkeerd begin gaan, sou die Dorfling-gesin waarskynlik groter hulp en steun in die stad kon kry waar daar dalk n skool vir outistiese kinders is en waar hulle die nodige professionele leiding sou kon kry. Maar probleme soos n gebrek aan geld verhoed hulle om te trek. Die dorp se liefdeloosheid en onverdraagsaamheid is n belangrike tema in die verhaal. Want buiten Miriam en Gunter, n plaasvriend van Dawid waar Xander se perd op stal is, is daar hoegenaamd niemand op die hele dorp, allermins die predikant, wat enige empatie met die Dorflings het nie. Geen vriendin by wie Ingrid kan gaan huil of lag nie. Sy slyt haar dae, wanneer sy nie in die bank werk nie, in n tronk van afsondering en eensaamheid lank voordat sy in die ware Jakob beland. Vir Miriam is die wit gemeenskap se houding teenoor Ingrid onverstaanbaar. In die bruin gemeenskap ontferm almal hulle oor mekaar se kinders en selfs dié wat geestelik siek is, word liefdevol versorg. Hierdie liefdevolheid van die bruin gemeenskap teenoor die liefdeloosheid van die wit gemeenskap is egter die een aspek van die verhaal wat dié leser pla. Is dinge werklik so swart en wit in die gewone lewe? Is die ondersteuning werklik so honderd persent by Miriam se mense? Waar kom al die maatskaplike probleme dan vandaan? Hoewel Ingrid se lewe min ligpunte het, verval die verhaal nooit in n put van reddeloosheid nie. Want Gunter, die Samaritaan wat sy hand na Ingrid en Xander uitsteek, is soos Miriam vol wysheid en medemenslikheid. Iemand by wie Ingrid een keer per week n bietjie lafenis vir haar moeë gees kan kry. Die raaisel rondom die kind wat afgesonderd van die hele wêreld op sy eie eiland bly waar hy selde bereik kan word, word goed deur Botes in die hele struktuur van die verhaal gebruik. Daar is nie net die raaisel van Xander se manier van optrede nie, maar ook die raaisel van sy dood. Hoe het dit gebeur? Was dit n ongeluk of het Ingrid ten spyte van al haar ontkennings tog n hand daarin gehad? En dié raaisels word uiteindelik nooit in die verhaal opgelos nie. n Verhaal wat jou laat nadink oor outisme, maar ook oor jou plekkie op aarde. En hoe vinnig dit kan gebeur dat dinge ten kwade … of ten goede kan verander. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |