|
Skrywersberaad-argief Skrywersberaad
Gewete op bestelling
Vroeg in my skryfloopbaan het kritici die persepsie gevestig dat ek n a-politiese skrywer is. P D van der Walt het dit as n pluimpie bedoel toe hy my die onsestigste van die Sestigers genoem het, maar vir die tydgees was die implikasie van sy kompliment die volgende: Aucamp skryf nie betrokke nie. Betrokke letterkunde, soos mense van my geslag sal onthou, was dié literêre gonsbegrip van die sestigerjare, soos tans weer postmodernisme. Die literêre meningbepalers van toe was uiteraard sterk verpolitiseerd, want denkende mense het, in Pieter Dirk Uys se woorde, begin besef: Paradise is closing down. Waarmee ek my toe, en ook vandag nog, nie kan versoen nie, is voorskriftelikheid; en dit het my in opstand gebring teen die Skrywersgilde wat kennelik van sy lede verwag het om vanuit een enkele politieke ideologie te dink en te skryf.
Orals hoor en lees jy hoe skrywerkollegas en kritici pleit en eis: Skryf oor Afrika. Skryf oor die eietydse mens. Skryf betrokke. Skryf verlig. Daar word selfs gesuggereer waaroor daar nie geskryf behoort te word nie. Individuele emosies en persoonlike sentimente is skynbaar taboe. Nostalgie is verdag. Almal moet van hier-en-nou wees, by voorkeur vryheidsvegters op papier, of hulle nou die geneigdheid of die talent daartoe het of nie. n Skrale vyftien, twintig jaar gelede sou dit onwaarskynlik geklink het dat n skrywer moes pleit om te mag skryf oor dié dinge wat hom as mens die intiemste en die sterkste raak. Maar dis presies wat vandag gebeur. Ek haal Arnold Wesker aan: Do you want me to feel for starving children? I feel for them. Do you want me to protest at wars that go on in the mountains? I protest. But the heart has its private aches. You must allow the heart its private aches Rapport, 8 Junie 1975). Tot hiertoe die aanhaling uit my tafelrede van 5 Junie 1975. André P Brink sal my hopelik vergewe dat ek ou koeie uit die sloot grawe, maar om my argument te substansieer, moet ek noem dat Brink my menings ongevraag gevind het, en onkenmerkend van Aucamp. (Let wel, daar is toe al kenmerke aan Aucamp toegeken.) My saak is gelukkig opgeneem deur die Skrywersgilde en dáár het enkele kollegas tot my verdediging gekom. As my geheue my nie in die steek laat nie, het André, heer wat hy is, my om verskoning gevra. Maar ander skrywers het ook gely onder die keiharde ideologiese uitgangspunt van kritici en medeskrywers. n Mens dink dadelik aan P G du Plessis se toneelstuk Vereeniging, Vereniging wat op ideologiese grondslag geloop is deur onder meer Brink en Fanie Olivier. Ek het TRUK se sterk opvoering van dié stuk gesien, en was vir geen oomblik verveeld nie, al het retoriek á la Van Wyk Louw my soms gehinder. P G du Plessis se stuk het onverdiend n voortydige dood gesterf. Nou, met die herdenking van die Anglo-Boereoorlog, behoort dit weer n kans gegun te word. My klein ideologiese skermutseling het my as persoon nie veel gebaat nie. Wat mense van my aanhaling uit die drama The four seasons van Arnold Wesker behou het, is die sinsnede the private ache. Vir jare was ek die ou wat soos n gekwetste bobbejaan in n hoek gaan sit het om sy binnegoed uit te ryg. Ek wens dat ek in die jaar 1975 reeds bewus was van Lillian Hellman se klassieke uitspraak voor die House Un-American Activities Committee: I cant cut my conscience to fit this years fashions. My bestendigste politieke tema is die Afrikaanse taal my vrese vir sy voortbestaan as verfynde, veredelde literêre medium. Reeds in my parmantige tafelrede van 1975 het ek dié kwessie aangeroer:
Dis waar dat skrywers soos Joseph Nabokov en Ionesco in n verworwe taal presteer; maar die meeste skrywers, bowenal die ekspatriate, moet beken dat hul blywendste vaderland hul moedertaal is. n Moedertaal setel nie in jou brein nie, maar iewers in die donker dieptes van jou ingewande en jou onbewuste. Jou hele menswees, jou identiteit, is daarmee gemoeid. Raak die groei van die moedertaal gestrem, ly eers die individuele taalgebruiker daaronder, dan die letterkunde en uiteindelik die ganse volkslewe. Drie jaar later skryf ek n verhaal met die titel Die uitsettingsbevel, opgeneem in die bundel Enkelvlug. Hierin vertel ek onder meer van n saamtrek van ekspatriate in New York: skrywers, sangers, musikante, n beeldhouer. Daar is n kalkoen op die tafel, groot bakke slaai, n pekantert, waartoe die gaste bygedra het. Geleidelik dring dit tot my deur dat ek, wat nog deel het aan the good life in Suid-Afrika, n offer geword het, n sondebok. Ek, op die verdediging uit, sê: ... Suid-Afrika is nie vir my in die eerste plek sy berge en vlaktes nie. My wesenlike vaderland, as ek Camus mag aanhaal, is my taal. Ek bestaan net in die taal; net vir die taal ... Een vrou het haar aggressie op my gerig. Ek haal die slot van Die uitsettingsbevel aan:
My verdere stryde ten behoewe van Afrikaans het oorwegend in briefkolomme in koerante en tydskrifte verskyn. Toe Vrye Weekblad met sy loslit-Afrikaans begin, het ek, reg of verkeerd, vermoed dat dit hier om n politieke strategie handel. Loslit-Afrikaans en cool struggling Afrikaans is vir my deursigtige eufemismes vir Afrikaans wat aan ernstige spieratrofie ly. Meer nog, dis n Afrikaans wat die denkende laag van die Establishment aanstoot gee. (Aanstoot wil gee?) Daardie vrou in New York was dus versiende: as jy die Afrikaner op sy knieë wil bring, ondermyn sy taal. Ná Vrye Weekblad het ander avant garde-tydskrifte in Afrikaans begin meedoen aan die afbreek van Afrikaans. Ek het n brief aan n glanstydskrif geskryf en geprotesteer teen die soort halfgaar Afrikaans Engfrikaans noem Peter Louw dié soort taal wat skielik as byderwets aan sy lesers voorgesit is. My brief is geplaas, maar die deure van daardie tydskrif is in my gesig toegeslaan. n Reeds aanvaarde bydrae is summier aan my teruggestuur. Ek moet hier noem dat ek n pragtige ondersteuningsbrief van prof Francois Odendal, gesiene taalkundige, ontvang het. Jammer genoeg het hy nie dié brief aan die betrokke tydskrif gestuur nie, maar dis iets wat ek volkome begryp. Dit vra groot verbetenheid en doodsveragting om jou op die markplein aan te bied as skyf vir modder en stront, vervaardig deur die firma Anoniem & Kie. Wat ek in my verhaal Die uitsettingsbevel voorspel het, het bloedende praktyk geword. Afrikaans word tans só van binne-uit verswak na idioom, sintaksis en woordeskat dat dit binne enkele jare sy geloofwaardigheid as taal en beduidende medium gaan kwyt wees. (Wat het die dwase maagd geskree nadat sy n beker water moedswilliglik op die sand uitgegooi het? Ek het dors, ek het dors.) Een ding het vir my met die jare al hoe duideliker geword: As jy weier om die politieke mode van n bepaalde seisoen te onderskryf, word jou eie politieke argumente geïgnoreer of verkleineer, of as alarmisties, vergesog en patroniserend afgeskryf. My kabarette het dieselfde lot as my verhale gehad. Hulle was teen die verwagtings van n bepaalde seisoen in, en om heel bepaalde redes. Ek noem enkeles: Ek het geweier om die Afrikaner as die enigste sondebok binne die Suid-Afrikaanse politieke bestel te sien. Ek het geweier om die NG-dominee wat owerspel pleeg te herhaal, of daardie ander stereotipe, die semi-idiotiese boer. Te maklik is te maklik is te maklik. In Met permissie gesê het ek n minder bekende metafoor vir Apartheid gekies, naamlik die skandmuur wat Wes- en Oos-Berlyn geskei het. Dr Hermien Dommisse het dié metafoor geprys, en n alternatiewe kerkgroep het my skets Lear van die Bernauerstrasse met groot sukses opgevoer. Maar in wyer literêre kring is my bydrae tot die Apartheidsdebat nagenoeg geïgnoreer. Wat ook nie in die smaak geval het nie, is my integrasie van persoonlike nood (private ache) en lands- en wêreldsnood. Die private ache is dikwels by wyse van chansons gestel, en baie van dié chansons het die tyd verbasend oorleef. Chansons soos Trapsgewyse, Rit deur die lang Karoo en Vra alles behalwe die liefde word nog gereeld gesing. Dis vir my n riem onder die hart dat Johannes Kerkorrel laasgenoemde op sy jongste CD gaan insluit, want Kerkorrel het hom, in die jare her toe hy nog Ralph Rabie was, waarderend oor my kabaretwerk uitgespreek. Hý het geweet waarnatoe ek wil. Die grootste beswaar teen my kabarette was stellig dat ek verby konflik na begrip en versoening tussen individue en groepe gebeur het. Ek het my eie klein waarheid-en-versoeningsdebat gevoer, en onderskryf nóú nog my Tweede Koraal in Slegs vir almal: Tog het ons bontheid suiwer binding Ons ken ten dele My bundel Ook skaduwees laat spore bevat oorwegend verhale uit die laat-vyftiger- en sestigerjare; verhale wat in studente- en gesinstydskrifte verskyn het, of as radioverhale gehoor is; almal ongepubliseerd, tot nou, die jaar 2000, toe. Min het ek kon dink dat juis dié bundel die aandag op die politieke inhoud van sommige van my vroeër verhale sou vestig. As skrywer kan ek van geluk spreek dat Chris Louw (Boetman) se aanval op die meningbepalers tydens die Grensoorlogjare juis in dié dae gebeur het. Susan Booyens van Radio Punt het die eerste daarop gewys dat my Grensverhaal Agter n baard presies die tyd en wêreld van Boetman se tirade opvang, en Boetman se kritiek vooruitloop. (n Telefoniese radio-onderhoud, 13 Mei 2000.) Etienne van Heerden het n boodskap in soortgelyke trant op my antwoordmasjien gelaat, maar dit later ook as tema vir sy rubriek Kommapunt in Die Burger gekies (Die Burger, 25 Mei 2000). Van Heerden wonder of skrywers nie dalk té literêr skryf en hul stellings onder slimmighede verhul nie. Dit is dikwels die geval, maar Agter n baard het weldeeglik n oop senuwee geraak, want daar het indertyd n skamper brief na aanleiding van dié verhaal in Die Huisgenoot verskyn. Iemand het my kritiek teen die funeste Grensoorlog gelees vir wat dit wou wees, en nie daarvan gehou nie. Maar ek kan nog uitbrei op dié saak. Ek wou Agter n baard tot televisiespel verwerk, met dié eis: dat my protagonis (lydende held?) se trauma met dokumentêre filmmateriaal uit die Grensoorlog toegelig word. Stephan Bouwer, filmregisseur by die ou SAUK, het my bedruk gewaarsku dat sy base nie sal raak aan iets wat na kritiek op die Regering lyk nie. Nee, Etienne, subtiliteit is nie al wat die mededeling van n skrywer kan kortwiek nie. Die ideologie, die credo van Die Magte wat Heers, kan állesoorheersend, állesbepalend, állesversmorend wees. Hierby kom nog die reaksie van lesers wat niks wil hoor wat hulle kan omkrap nie. Wat sê Van Wyk Louw in Groot Ode?
Histories gesien, is my verhaal Die weg van n vrou in Ook skaduwees laat spore eweneens n politieke verhaal. Dit sal ook n feministiese verhaal genoem kan word, maar destyds het ek dié woord glad nie geken nie. Ek het doodgewoon n geskiedenis vertel wat op Rust-mijn-ziel afgespeel het, maar die tragiese slot is my eie vinding, of dalk ook nie eens my eie vinding nie, want n kortverhaal het sy eie impulse, en dié wil gevolg wees. Die historisiteit van Die weg van n vrou lê hierin dat die etniese verhaal in 1958 nie meer populêre leesstof was nie. My verhaal het dan ook nie in n populêre blad verskyn nie, maar in die literêre studenteblad, Prisma. Die Afrikaanse blad en tydskrif het hom van die neëntiende eeu af besig gehou met etniese en ekologiese materiaal. Antjie Krog is moedswillig, nee, selfs kwaadwillig, wanneer sy met groot stelligheid beweer: Afrikaans het hom nog altyd buite die werklike debat in Suid-Afrika gehou. Ons eerste groot verligtes in die Afrikaanse letterkunde is S J du Toit en G R von Wielligh. Eersgenoemde het die eerste groot struggle-vers in Afrikaans geskryf, naamlik Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het. Aan die woord is n Griekwa die eerste voorbeeld in Afrikaans van die gebruik van n patois om n saak polities sterker oor te kry na die leser / hoorder. Dít dekades en dekades voor Peter Blum, Adam Small, Peter Snijders. G R von Wielligh het as landmeter ver en wyd gereis, en onder meer kosbare Boesmanmateriaal opgeteken wat eers in Ons Klyntji verskyn het, en later gebundel is as Boesmanstories (vier bundels). Sy vier bundels Dierestories is eweneens belangrik. Dit bly n aanklag teen ons uitgewersbedryf dat dié volumes nie in beide Afrikaans en Engels beskikbaar is nie; veral nóú, met die toenemende anglisering van die Boesman. Prof Helize van Vuuren is besig om Von Wielligh se bydrae in perspektief te plaas, maar in baie opsigte is sy n stem roepende in die woestyn. Van die neëntiende eeu af het die Afrikaanse tydskrif op redelik gereelde basis etniese materiaal geplaas n pikareske roman soos Jakob Platjie van Von Wielligh; oorvertellings uit swart kulture; Dwaalstories, soos dié van Eugène Marais; Sotho-oorvertellings deur Minnie Postma; Xhosa-oorvertellings deur Helène de Villiers; werfstories deur G H Franz. Van die middel-veertigerjare begin die tendens om etniese materiaal in Afrikaanse tydskrifte op te neem, skielik afplat. n Koue politieke wind was aan die opsteek. Moeder Poulin van G H Franz, wat soveel gewilde bydraes vir Die Huisgenoot gelewer het, het skielik teenstand begin kry. Een leser het dié vervolgverhaal in n brief kaffergemors genoem. Daar word opnuut van die skrywer geëis om van sy verbondenheid met Afrika te getuig. Die soort etniese materiaal waarna pas verwys is, word vandag egter as patroniserend en romanties afgemaak, maar hulle het my geslag baie bewus gemaak van die verbintenis tussen mens, dier en landskap; n stuk opvoeding wat verlore geraak het van die jare vyftig af. Ook maar n modewoord politieke modewoord die woord patroniserend. Eerbiedwaardige ouer Sothos het by Minnie Postma gaan kers opsteek oor Sotho-oorvertellings wat uit hul orale tradisie begin verdwyn het. Húlle het Postma se oorvertellings as n kultuurdaad gesien, en nie as patronisering nie. Vadermoord, nog steeds n lukratiewe bedryf binne die Afrikaanse letterkunde, kan baie vorme aanneem, onder meer kultuurmoord. Moet daar nie n slag na die Kulturele Rewolusie in China verwys word nie, en die onherstelbare verliese wat dit vir die wêreldkultuur meegebring het? My mees verpolitiseerde verhaal uit die sestigerjare staan ongelukkig nie in Ook skaduwees laat spore nie. Sy waarde lê in sy profetiese aard, maar literêr was dit nie op die peil van die ander verhale in gemelde bundel nie, en daarom het ek en my raadgewers dit weggelaat. Die verhaal heet Die bevel, en handel oor swart werkers op n plaas wat van Bo n bevel gekry het om hul wit werkgewers uit te moor. Die profetiese aspek van Die bevel het intussen werklikheid geword, met plaasmoorde aan die orde van die dag in Suid-Afrika, en nou op ysingwekkende skaal in Zimbabwe. Jan Rabie en Jack Cope van Contrast wat my knaend om betrokke literatuur gevra het, het teruggedeins vir dié verhaal. Alarmisties, het hulle gesê, dit kan politieke verhoudings in Suid-Afrika verknoei; nee, hulle kan dit onmoontlik plaas. My verhaal Sop vir die sieke, wat weldeeglik in die kader betrokke literatuur geval het, is geplaas, want Jan Rabie het van sy romantiese raaisel gehou, maar die politieke inhoud van dié verhaal totaal misgekyk. Eers in 1988 word dié verhaal as polities gelees, en deur bemiddeling van dr Ampie Coetzee word dit in Frans vertaal en opgeneem in die literêre tydskrif Europe, wat n spesiale uitgawe gewy het aan littératures dAfrique du Sud. Dis nodig om Sop vir die sieke bondig op te som. Dié verhaal berus op waarheid, en het hom op die dorpie L in die Vrystaat afgespeel. Twee nuwe intrekkers, n wit vrou en haar bruin geselskapsdame, hou hulle sosiaal eenkant. Die wit vrou is siek in die bed wanneer haar huishulp skielik sterf, en daar ontdek word dat die bruin vrou eintlik n man is. Nancy Baines van Contrast het geglo dat dié verhaal as vergesog sal oorkom, en het my gevra om die verhouding tussen die twee vrouens na n lesbiese verhouding te verander. Dit het ek ook toe gedoen, maar tot my latere spyt. As ek by die oorspronklike gegewe gebly het, is die verhaal dalk wel as polities gelees. Sop vir die sieke is inmiddels in Nama vertaal. Die lesbiese tema was kennelik geen beswaar vir die Namibiër wat dié verhaal in n bloemlesing wou opneem nie. Dis n struggle-verhaal, en is presies wat die bloemlesers wil hê, het my korrespondent gesê. Twee verhale in Ook skaduwees laat spore, naamlik Die tuiskoms en Die pad deur die bos, staan kennelik in die teken van afskeid en vertrek. Dit kan kwalik toevallig wees dat beide uit die jaar 1966 kom; voorstudies, sou jy kon sê, vir Rust-mijn-ziel: n aandgesang van 1972. Maar anders as gemelde prosastuk, is die twee afskeidsverhale in die eerste plek private ache-verhale. Hulle vertel van mense wat losgeraak het van hul omgewing, en verwen geraak het deur n Europese lewenstyl. Maar nie Rust-mijn-ziel: n aandgesang nie. Hier gaan dit ook om n politieke afskeid, soos duidelik blyk uit die volgende aanhaling:
Met my lang bespreking van my politieke stellings in verhale, kabarette, liedtekste, artikels en briewe aan die pers, wil ek hoegenaamd nie sê dat ek n beduidende bydrae tot die sosio-politieke debat in Afrikaans gelewer het nie. Ek wou net dít sê: dat ek óók gepraat het en dat wat ek geskryf het, uit eie oortuiging en gevoelens gekom het. Ek het nie my gewete geknip na die voorgeskrewe patroon vir n bepaalde seisoen nie. Hoe vry is die gewete van die individuele skrywer in die jaar 2000? n Mens wil met n sug sê: nie aanskoulik vryer en oper as in die jare sestig nie. Jeanette Ferreira het skrywers onlangs gepols oor hul mening oor opnuut n skrywerskring. My reaksie was spontaan: Ja, mits so n skrywerskring hom bepaal by die regskundige belange van sy lede. As so n skrywerskring opnuut Big Brother wil speel wat almal se gewetes wil bepaal en manipuleer, dan sê ek hartlik nee dankie vir so n vereniging. Toe ek in laat-Mei 2000 genader is vir bydraes vir n digbundel genaamd Nuwe Verset, het ek geskryf:
Ek vermoed dis nie wat Leon Rousseau, samesteller van Nuwe verset, wou hê nie. Weer moet ek sê: ek kan net sing soos ek gebek is. Op stuk van sake: Die Gedanken sind frei. Of is dit? Maar dís n storie vir n ander dag; n storie wat uit wans uit in n filosofiese sleutel gedink moet word. Hennie Aucamp
Enkele verwysingsLitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel. |
|||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |