ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Rijksmuseum (Amsterdam)

Dries Brunt, Somer 2004

Om skilderye van Rembrandt te besigtig is 'n geestesbelewenis wat nie maklik geëwenaar word nie. Tesame met die wete dat jy verstommende kunswerke sien, beleef jy emosie. Emosie wat in jou opwel as jy iets sien wat groots en pragtig is en terselfdertyd 'n bewussyn van menslike verganklikheid by jou wakker maak.

Hoekom het Rembrandt se skilderye so 'n uitwerking? Is dit die tragedie van sy eie lewe, waarvan 'n mens bewus is - die vroeë dood van sy vrou Saskia en hul drie kinders? Of beeld hy, onbewus miskien, die onafwendbare noodlot van ons aardse bestaan uit - 'n bestaan wat by hom in miskenning en eensaamheid eindig?

Selfs in Rembrandt se vroeë selfportrette, wat uitbundige lewensdrif uitstraal, word sy flambojante selfversekerdheid 'n vertoon, 'n uitdaging, asof hy die lewe die stryd wil aansê. "Kom vat my as jy kan," sê hy. Ons weet die lewe het hom toe kom vat.

Jy staan voor die skildery van Rembrandt se moeder. Die ou vroutjie se hand rus op die oop Bybel wat op haar skoot lê. Sy lees en haar wysvinger volg die skrifreëls. Êrens in jou gemoed sluip weemoed in, ontstaan 'n gevoel van droefheid, 'n besef dat geluk en skoonheid reeds die kiem van verderf in hulle dra; dat op jeugdige oormoed, onafwendbaar, die eensaamheid van ouderdom volg. Rembrandt se moeder word die Moeder van alle volke.

Jeremiah wat treur oor die verwoesting van Jerusalem. Die ou man, hand onder die ken, kyk uit oor die brandende stad, sien die vernietiging van die tempel en versinnebeeld die wêreld se lyding en pyn by die aanskouing van oorlog en dood.

Waar kom hierdie emosies vandaan?

Tennyson het geweet, hoewel hy sê hy weet nie.

Tears, idle tears, I know not what they mean,
Tears from the depth of some divine despair
Rise in the heart, and gather in the eyes,
In looking on the happy autumn fields
And thinking of the days that are no more.
Rembrandt, beroemd vir sy gebruik van lig-en-skadu-effek, laat lig instroom om komposisie en fokus te versterk en dan, meester wat hy is, om simboliek uit te beeld. 'n Groepie gelowiges, Simeon met die kind Jesus in sy arms, staan in 'n kol goue lig binne die donker gewelf van die tempel. Jesus, omring deur duisternis, word "…'n lig tot verligting van alle volke …" (Lukas 2, verse 25-35) en Rembrandt versinnebeeld met geniale aanvoeling die beroemde profesie van Simeon, die goddelike boodskap en belofte dat Hy gekom het om die sonde van mense op hom te neem.

Rembrandt se werk omspan die hele verloop van menslike drama. Van kind tot sterwende, ryk tot haweloos, uitbundige vreugde tot innige sielsbelewenis. Jy besef dat veel meer as net vorm op die doek afgebeeld word, dat jy gedurig met inhoud gekonfronteer word. Agter die mens ontdek jy die menslike.

Hy skilder Saskia. Terwyl hy skilder, gesels hy met haar: "Jy moet stil sit, my liefste." Sy sit in 'n ongemaklike houding, want hy moet haar inpas in 'n komposisie waar hy haar omarm en self met 'n glas wyn in die hand staan. Sy dra 'n weelderige rok uit die fynste materiaal gesny. "Jy gaan beroemd wees, my skat. Dink net, ek gaan jou skoonheid vir altyd op hierdie doek vaslê."

Hy meng verf op sy palet, kyk na haar en betig haar as sy opstaan, haar goue hare swaai en met 'n helder lag na hom toe stap. "As jou vleiery so goed is soos jou skilderwerk, kan dit miskien waar wees." Sy soen hom liggies op die mond, terwyl hy sy palet en kwaste hoog hou om nie haar rok met verf te besmeer nie. Een van die min skilderye waar Rembrandt sy geluk onverbloemd uitskilder.

Hoe verskillend van 'n later werk waar Saskia as Danaë1 poseer! Haar liggaam wys die eerste tekens van swaarlywigheid, haar buik die merke van swangerskap. Hy kyk na haar, konsentreer op die figuur wat voor hom op 'n gedrapeerde rusbank lê. Hy is bewus van die aftakeling van haar liggaam, en die swak lig van die laat middag irriteer hom. Hy mompel sy frustrasie, en as sy vra wat hom pla, trek hy slegs sy skouers op. Waaraan dink Saskia terwyl sy ontspanne op die kussings lê? Die kinders wat sy aan die dood afgestaan het? Huislike beslommernis? Geldelike probleme? Haar eie gesondheid, of die somber lug wat al weke lank oor die stad strek? Die geluk van hul eerste huweliksjare?

Sy sit in die tuin, haar hare bondel los onder die sonhoed uit waaraan Rembrandt 'n paar blomme vasgesteek het. Sy kyk laggend op, haar oë effens op skrefies getrek vanweë die helder sonlig. "Maak jou oë wyd oop, my liefste," sê hy. "Ek wil in jou siel kyk, jou siel in my skets afbeeld." Onder die gravure skryf hy: "Dit is 'n afbeelding van my vrou, toe sy 21 jaar oud was, die derde dag na ons huwelik - 8 Junie, 1633."

Nege jaar later skets hy haar die laaste keer. Sy lê op haar sterfbed, die liggaam swaar en uitgeput, oë wat wanhopig die dood aanstaar. Waaraan dink sy nou? Haar seun Titus, nog maar een jaar oud? Haar eie sterflikheid? Rembrandt skets haar met 'n amper onversetlike eerlikheid en Saskia word Die Mens aan die einde van Lewe, as die oë finaal na die siel toe gaan.

Droefheid is die sagte, stadige neerslag wat oorbly van 'n groot verdriet, die nasluimering van 'n intense smart wat as deel van jou lewe aan die rande van jou bewussyn hang. Dit is wat Rembrandt in sy werk oordra. Dit en die alledaagse. Die barmhartige Samaritaan tel die slagoffer van 'n aanval versigtig van sy perd om hom in sy huis in te dra. 'n Paar mense kyk toe terwyl, voor in die straat, 'n hond op sy agterbene sak om te ontlas. Wat ook al gebeur, watter tragedie ook al afspeel, die lewe gaan voort!

'n Rotvanger klop by 'n huis aan om sy dienste te verkoop. Aan die rand van 'n mandjie wat hy dra, hang dooie, half-ontbinde rotte as bewys van sy vaardigheid, terwyl op sy skouer 'n lewende een aan sy oor knibbel om afgryse te wek. Oorredingskuns van die bemarker! Seker die eerste (enigste?) aan-die-deur verkoopsman wat deur 'n kunstenaar verewig word! Jy sien as 't ware die luise wat onder die vuil flenterhoed koek, ruik die stank wat uit die vertoiingde klere kom.

Hy skilder Titus. Sy seun sit aan 'n tafel, besig om te skryf. Hier skilder 'n trotse pa sy kind. Titus word 'n selfportret, die seun wat Rembrandt eens was, 'n geleentheid om in tyd terug te gaan en na homself te kyk, sy eie jeugtyd te bepeins. Die puntige ken, die vorm van sy mond, die prominente neus is alles syne. Titus kyk op van sy skryfwerk met 'n uitdrukking wat tussen uitdaging en wantroue lê.

Hy skenk aan Hendrickje Stoffels, sy houvrou, onsterflikheid as Batseba wat deur koning Dawid na die paleis ontbied word. Herleef hy sy eerste liefde toe hy haar in dieselfde houding laat poseer as Saskia twintig jaar vantevore in die Danaë-skildery? Rembrandt speel self koning en gee Hendrickje 'n liefdesbaba, 'n dogtertjie wat hulle Cornelia noem, die naam van sy eerste dogter wat kort na geboorte gesterf het.

Rembrandt se selfportrette is spieëls van sy lewe en die beroemdste van al sy skilderye. Van vrolike onbesorgdheid gaan hulle deur al die fases van sy lewe, tot die laaste, wat hy in 1669, die jaar van sy dood, skilder. Dit word ook die mees treffende van al sy kunswerke. Die verrimpelde, opgeblase gesig met oë wat doods na jou kyk, is dié van 'n man wat sy lot aanvaar en groet voor hy die laaste ent pad na sy dood alleen loop. Dié gesig, leeg en moeg, is een van die grootste kunswerke wat ooit op doek geskilder is.

Have you forgotten the days of your youth?
When summerlight filled space
And the green fields around you, stretched to infinity?

Do you remember the dark winter days when clouds hung low
And sleet and snow drove hard in the sweeping wind?
And you, at the fireside, listening to your mother's stories?

Your eyes no longer show the images that filled your life
And stirred creative power from deep inside to action
The eyes that saw behind the faces, the soul of man
They have become dead windows
Looking out on a dead world.

Have you forgotten the days of your love?
The happiness and warm light that shone everywhere
And sunshine on the rippling waters of the river?

Do you remember the laughing face of love
And tousled hair that radiated gold around her face
In yellow candlelight?

'n Opmerking deur Borenius, op sy dag 'n kunskenner, wil ek aanhaal. Hy sê: "… to some people a communion with Rembrandt's characters and conceptions has become a kind of religion. That obviously is one form of enjoyment but it surely only takes us to 'the point where art begins'. Sight should not be lost of the fact that it is because of the way in which the work of Rembrandt can stand the test of strictly artistic form without any consideration of subject and interpretation that he can claim to rank as one of the world's greatest artist."2

Hierdie bevinding laat 'n vraag ontstaan. Waar begin kuns? Begin dit by komposisie, perspektief, kleurgebruik en tegniek, die aanvaarde formules van die kunsskilderberoep? Of begin kuns "at the point" waar 'n kunswerk jou gemoed binnedring, jou siel ontroer, die "divine despair" raak en trane na jou oë bring? Ek het die antwoord.

(Skilderye besigtig en afdrukke bekom by die Rijksmuseum.)



1 Danaë, 'n figuur uit die Griekse mitologie, was die dogter van Acrisius, koning van Argos. 'n Orakel voorspel dat sy 'n seun sou baar wat haar pa gaan doodmaak. Acrisius sluit Danaë in 'n toring op waar sy deur Zeus besoek word en swanger word. Sy gee geboorte aan 'n seun Perseus, wat later die voorspelling waar maak.
2 Rembrandt. Selected Paintings. Uitgegee deur Phaidon. Voorwoord.




LitNet: 18 Oktober 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.