ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Op 'n towertapyt oor Istanbul

(Istanbul, Turkye)

Christa Jonker-Jordaan, 1999

Dit was 'n Saterdagmiddag in September wat ons in Istanbul aangekom het. Ek was besonder opgewonde oor hierdie kans om die stad wat as die brug tussen Europa en Asië gesien word, te besoek.

Vir my was daar is slegs 'n haarbreedte verskil tussen die prenteboek van my kindertyd waarin eksotiese wesens op towertapyte rondgevlieg het en die Istanbul wat ons per vliegtuig uit die lug genader het. Duisende minarette van meer as vyf honderd moskees versier die horison en jy weet hier is 'n porsie van die Ooste op jou bord.

Istanbul is 'n stad wat al verskeie name gehad het, maar ons ken dit veral as Konstantinopel en natuurlik die huidige Istanbul. Dit is 'n enorme stad met bykans 16 miljoen inwoners, en die oorspronklike stadsmure omsluit nog steeds 'n deel daarvan. Die stad word in twee verdeel deur die Bosporus-seestraat, wat swaar skeepsverkeer deurlaat na die Swart See.

'n Groot verskeidenheid blyplekke is beskikbaar en die akkommodasiekoste verskil baie van plek tot plek. Ons bly egter in 'n oulike driester-hotel teen R400 per dag vir 'n dubbelkamer; weliswaar nie met veel van 'n uitsig nie, maar vir 'n goeie uitsig sou ons ongeveer R1 200 plus moes betaal.

Die Turke as mense is 'n heerlikheid op sigself! Hulle is vriendelike, gasvrye mense wat jou onmiddellik tuis laat voel. Ons mans was baie gaande oor die donker skoonheid van die Turkse meisies, terwyl ek moes jok as ek sou sê ek het nie ook hier en daar gedink 'n Turkse man is aantreklik en galant nie. Binne die eerste uur het ons meer met die Turke gesels as met enigiemand in enige Europese stad waar ons nog was.

Oral is tekens van 'n goue tyd van glorie. Geboue dra die stempel van 'n welvarende tyd, lank gelede. Meer as een keer het iemand in ons groepie opgemerk: "As mens hierdie plek kon restoureer!" Die Turke is egter ekonomies in 'n soortgelyke posisie as Suid-Afrika, met 'n groot gaping in die besoldigingsvlakke van geskoolde en niegeskoolde werkers. Daar is dus 'n klein groepie ryk mense en die groot massa wat met net die nodigste moet klaarkom.

Die kos is heerlik, goedkoop en baie natuurlik. Hulle eet die pragtigste, gesondste vrugte, groente en jogurt. Die vleis word geurig gaargemaak. 'n Bord kos en 'n bier kos jou tipies minder as R90. 'n Winskoop in enige taal of land.

Minstens 'n dag by die onderdakmark is 'n moet! Die mooiste en wonderlikste juwele, klere, leerware - eintlik enigiets waaraan jy kan dink - kan daar gekoop word. 'n Ervaring wat jy nie moet misloop nie. Die gekibbel oor die prys (wat verpligtend is) bring humor en frustrasie. Gelukkig aanvaar hulle graag dollars as betaaleenheid, want dit is nogal lagwekkend om 'n paar miljoen Turkse lira vir 'n kleinerige item te betaal. Met ongeveer R14 is jy klinkklaar 'n Turkse miljoenêr! Miljoenêr of te nie, niemand gaan Istanbul toe en keer terug sonder 'n mat en 'n leerbaadjie of twee nie. Ook nie ons nie!

Die sensasie wat die verskillende geure by die speserymark aan jou gee, is om huis toe oor te skryf. Die geleentheid om aan al die handelaars se "Turkish delight" te proe, doen hom ook telkens voor, en voor jy weet, het jy 'n hele paar kilojoules geakkumuleer.

Argitektoniese wonderwerke soos die bekende Blou Moskee, gebou tussen 1609 en 1616, laat jou ademloos met die wit en blou teëls uit Isnik. Die Ayasofya Museum - eers 'n Christenkerk en daarna 'n moskee - is definitief een van die wonderlikste geboue van sy tyd. In 'n verskeidenheid paleise, waarvan Topkapi seker die bekendste is, word vergete tydperke in 'n verre verlede herleef.

Die ondergrondse Yerebatan-sisterne dateer uit die jaar 306 nC. Dié wateropgaarplek, wat deur die Romeine gebou is, is 'n onvergeetlike belewenis en 'n moet om te sien.

Onvergeetlik ook is die ervaring van 'n nagvaart op die Bosporus tussen die liggies van Asië aan die een kant en die liggies van Europa aan die ander kant. Vir 'n oomblik wonderwens jy: "Hoe sal ek hierdie oomblik kon vaslê in my geheue om dit vir altyd met my saam te dra?" Die opvolgende Saterdagmiddag maak ons die vaart ook in die dag mee. Vir slegs sewe rand per persoon vaar ons vir twee uur lank en geniet elke oomblik.

Na 'n week klim jy op die vliegtuig met meer as jou bagasie. Saam neem jy 'n toegeneentheid tot hierdie vriendelike en hulpvaardige nasie, mooi onthou van al die wonderlike dinge wat jy gesien en beleef het, en 'n positiewe besluit: "Ons kom weer ..."



LitNet: 03 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.