|
|
ReisigerNadia de Kock, 2004Ek het altyd van hom geweet. Kleintyd al kon ek hom voel langs my oom se Hammerstein-radio, waar ek sit en droom het oor al die kortgolfstasies voor my. Jy kon die knop draai van Helsinki na Warskou, verby Moskou en Stockholm, New York toe. Groter as die res was ewige Londen, middelpunt van die paneel en die wêreld. Vreemde name, beelde van skaatsers onder kersliggies, donker kastele in diepgroen Boheemse woude … hy het tóé reeds die nette van verwondering vir my begin span. Baie jare later het ek hom vir die eerste keer in lewende lywe gesien. Dit was op die vliegtuig terug van Ierland, kort na die nuwe millennium aangebreek het. Hy het skuins agter my gesit, losgat Levi's aan, klein glimlag op die mondhoeke en slim blou oë wat vir my kyk sonder wegkyk. Verlange het in golwe oor my begin spoel en ek het haastig nog 'n slukkie wyn geneem. Die ander passasiers het verleë in hul sitplekke versit; 'n paar tantes het hulself afkeurend koel gewaai met die In Flight-tydskrif. Hy het saam met my huis toe gekom en my nie weer gelos nie. Hy was hier om te bly; ek moes vir hom plek maak, sy houvas op my probeer verstaan. Maar hy laat hom nie maklik ken nie. Dis wat my, en dié soos ek, vasgevang hou. Elke nag klim hy styf agter my rug in. Hy fluister warm beloftes van ver plekke en onbekende mense teen my wang. Wanneer ek voel die opwinding gaan my verswelg, staan ek op en sit musiek aan. Miskien die Plesierige Afrikaners, waarop ek kan rock in die donker tot my kop skoon is. Ek dans met oë styf toe, hande bo my kop uitgestrek. Dan is hy by my. Hy leun teen die muur en hou my dop terwyl ek vir hom dans. 'n Stadige glimlag vorm oor die seunsgesig. Want hy weet Afrikaners is plesierig, maar dat twee weke in die vreemde meer belofte inhou. Belofte van jouself wees en doen wat jy wil, want niemand ken jou nie. Van die masker afhaal, die hare losskud en weer asemhaal. Van alleen in 'n warm pub sit terwyl hooglandwinde buite tier en weet daar is iemand wat nou-nou gaan naderskuif. Vir 'n vriendelike geselsie, miskien selfs 'n flirtasie met mooi woorde wat jy later weer sal uithaal vir onthou. Belofte van 'n vreemde taal in 'n Gotiese stad waar jy kan verdwaal en moontlik vir altyd kan wegraak. Om dan, jare later, opgemerk te word saam met 'n donker Slawiër waar julle op die ou stadsplein sit en pilsener drink. Of 'n vlietende droombeeld van Eurochic jy, op 'n drafstap deur die Metro, spykerhakies aan, aktetas in die hand. Hy sit sy hand laag op my rug en begin my stadig draai. In my hare vertel hy van ou mans in klein dorpies wat snags met gloeiende oë Yeats-gedigte sing. Hy begin die gedigte vir my fluister en ons draai vinniger en ek voel sy voorarmspiere styf trek onder my vingerpunte. Kom weg saam met my … ek sal jou wys waar genade maklik te kry is. Ek sal jou lei na ruwe rotse onder 'n vuurtoring, sodat jy die wilde see se sproei teen jou gesig kan voel, en hier sal ons bly staan totdat ons deurnat en koud is. Dan sal ek jou huis toe neem en met 'n groot handdoek droog en warm vryf. Kom saam met my, mooi vrou. Jy weet dis net ek wat jou in die na-nag laat dans, wat jou hunker vir 'n klein rukkie stilmaak. Ek is die een wat jou oë oopmaak, wat jou laat onthou wie jy regtig is. Ek weet en trek my vinger oor die sagte plekkie in sy nek. Vir die eerste keer kyk ek onbevange in sy stil oë. Om en om draai ons, vinniger en vinniger. Kom ons gaan, sing hy dringend. Jy weet ek sal, sê ek uiteindelik en ons swaai in die rondte totdat ons moeg in mekaar se arms val om te slaap tot die Afrikason helder en hoog sit.
Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |