ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Elegie vir die skaaptjop

Petro Kotze

Daardie eerste oorsese trippie is soos om ’n stout kind te wees wat ’n sigaret agter die tuinmuur rook. Die lekker en die sleg so saam opgerol. Dit proe bitter in die begin, maar hoe harder jy suig en hoe langer jy aanhou, hoe beter word dit, en skielik kan jy nie meer ophou nie.

As reis soos dwelms was, sal Brittanje seker die dagga-zol vir Suid-Afrikaners wees. As jy al klaar sigarette rook, is dit nie so moeilik om aan gewoond te raak nie, maar jy kry nog steeds ’n aansienlike skop daaruit. Tannies daar bestel nou wel ook Coke Light saam met hulle koek, en as jy ooit die kans kry om hier ’n bietjie rond te cruise, voel dit maar baie soos terug by die huis – maar jy’s beslis nie meer in Pretoria nie.

Die kos is vir seker anders. ’n “Burger” in Brittanje is, om een of ander onverstaanbare rede, gereeld net ’n diepgebraaide speel-speel vleisie sonder brood, en gevolglik is ’n kaasburger dan ’n stukkie kaas op ’n vleisie in deeg gerol en diepgebraai. Alles hier loop deur die diepbraaier, van pizza tot Mars bars. “Tea” verwys na aandete, aartappels is “tatties”, turnips is “neeps”, bier hier is “lager” daar, en ’n blikkie daarvan word ’n “tinnie” genoem. Fanta Orange is geel, Iron Brew oranje en pers Fanta helaas niebestaande. Vis en tjips is ’n “fish supper”, ’n russian en tjips ’n “sausage supper” en Simba-tjippies is “crisps” want “chips” verwys net na slaptjips en word met kaas geëet. Sout-en-asyn “crisps” is in ’n groen pakkie, kaas-en-uie in ’n bloue, en “ready salted” in ’n rooie. Jy sluk maar hard daardie eerste keer wat jy ’n tamatiesmakie verwag.

Selfs ons Engels loop deur, verbasend genoeg as jy party van die aksente in veral die noorde van Brittanje hoor wat as Engels beskryf word. As jy van Pretoria af kom, kan jy jou maar gereed maak om die pommie ’n spatsel Afrika so reg in die gesig te gee soos jy probeer om te verduidelik waar jy vandaan kom. “Nee, nie Victoria nie, Pretoria … die hoofstad …?” en “Nee, ek weet nie hoeveel myle dit van Kaapstad af is nie.” Jy leer ook om jou goeie Afrikaanse naam so te verkrag vir die Engelse tong net om min of meer op die regte bevel te kan reageer dat jou eie ma dit nie sal herken nie. Amper soos toe ek die eerste keer Charlize se naam op die TV gehoor het. Ek is ook verseker baie Suid-Afrikaners het al ’n paar skewe kyke gekry in ’n poging om ’n onskuldige geselsie aan te knoop oor gister se inkopies, want “pants” is onderklere en “trousers” is broeke. “Jerseys” is “pullovers” en “jumpers” is truie. Sambrele is “brollies” en visplakkies is net verkeerd.

Maar as jy niks daaruit kon leer nie, sou niemand dit seker gedoen het nie, soos byvoorbeeld om massiewe “pints” te drink en baie aartappels te eet. Dat dit oraait is om ouer mense noodgedwonge op hulle name te noem, omdat daar geen ooms en tannies in Engels is nie, dat “a couple of” nou net twee beteken, en dat as iemand “How ya doing?” vir jou skree, hulle nie rêrig wil weet hoe dit met jou gaan nie. Hulle erken net jou teenwoordigheid, en die enigste antwoord op jou emosionele relaas van hoe baie jy vandag jou huis mis, sal tien teen een ’n eggo van hulle rug af wees. Dis op sulke dae wat die nostalgie so suig-suig aan jou nat broekspante dat jy begin soek vir ’n stukkie Suid-Afrika om jou op te kikker.

Op hierdie trant is ek eendag deur my Skotse vriende na ’n braai toe genooi. Visioene van rooi kole en die geur van steaks in die lug het my mond al dae voor die tyd laat water. Miskien ’n ribbetjie of souterige skaaptjop, louwarm aartappelslaai met bietjie Aromat en baie mayonnaise, uie fyn ingekap, mooi groen pietersielie en roespepertjies oorgestrooi. Al dan nie, dan ten minste ’n mengelslaai, met ferm rooi tamaties en stout komkommer wat ogies maak op ’n bed van slaaiblare gerol in ’n soet-suur sousie. En braaibroodjies – krakerig aan die buitekant en sag in die binnekant, gevul met warm bottertjies wat saam met die gesmelte kaas die tamatie omhels in ’n aroma van oopgepeulde knoffelhuisies en geurige swart peper. Met ’n knippie sout. Ek was opgewonde, maar blykbaar om geheel en al die verkeerde redes.

Die dag van die braai is ek voorgestel aan wat wraggies een van die Britte se meer verbeeldingryke uitvindings moet wees. Die “Bar-Be-Quick”. So ’n baksteenhoogte A4-kartonboks-skop-in-die-gesig vir elke Suid-Afrikaner wat al ooit by ’n braai was. ’n Kitsbraaistel te koop by jou naaste supermark, uitgerus met ’n rooster en kole waarop jy in 20 minute jou burger kan braai met net een vuurhoutjie. Sjoe, nè. Dan prop jy dit in ’n siellose stuk witbrood, gooi ’n verskoning vir tamatiesous oor wat nie naby 36 rooies in die bottel kan hê nie, en eet dit op. Ek het dit afgeskryf aan ’n nuwe kulturele ondervinding. Ek kan so ver by die nasionale pad af ry soos ek wil, hierdie plek gaan nooit soos Pretoria wees nie. As dit nie was dat by hierdie tipe braai die vrouens ten minste ook om die “barbie” kan sit met ’n “tinnie” in plaas van om kombuis toe gestuur te word om te gaan slaai maak nie, het ek dit geheel en al uit my geheue uit geblok. Dit was vinnig verby ook; die algemene siening was blykbaar dat dit ’n korterige affêre moet wees sodat die pub ten minste op ’n gelynde maag getref kan word. Ek moet dit aan die Skotte toegee, hulle kan drink, en as partytjie was die dag ’n massiewe sukses – selfs gemeet teen Suid-Afrikaanse standaarde. Stukkie steak ingesluit of nie.

Ek weet nie lekker van dwelms en dinge nie, maar ek het lank gelede ook agter die tuinmuur gehurk. Soos dit nou maar gaan met party van ons wat ’n tendensie het om aan te hou probeer totdat die sleg lekker word, dit ook jare later eers reggekry om die stompie dood te druk. So lekker as wat dit was om te rook, so lekker was dit om op te hou, en so lekker as wat dit was om weg te gaan, so lekker is dit om weer terug te kom. Nogals ’n aansienlike kick op sy eie. Amper soos ’n gebraaide skaaptjop – of ’n kaas-en-tamatie-braaibroodjie.



LitNet: 28 Maart 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.