ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

In Lorca se agterjaart: Fuente Vaqueros

Melt Myburgh, 2005

Granada, die stad wat in dieselfde asem genoem word as die Spaanse dramaturg en digter, Federico García Lorca, nestel soos 'n kwaadaardige gewas aan die Sierra Nevada-bergreeks in Andalusië. Vanweë die hoogte bo seespieël is dié rugstring van die Iberiese skiereiland se werwels jaarlank sneeubedek. Hierdie stad herberg natuurlik die beroemde Moorse vesting wat eeue lank in die wêreldletterkunde besing word as 'n juweel wat alle skoonheid deur sy geslypte vlakke saamtrek tot 'n onvergeetlike gesig – El Alhambra.

Om die prag van die Alhambra te besing, sit nie in elke hierjy se broek nie. Lorca self het hom weerhou van dié onderwerp in sy poësie, welwetend dat enige digter wat hom met dié verleidelike taak opsaal, die gevaar loop om te verval in 'n gebral van die smerigste sentimentaliteit denkbaar. In Afrikaans hou niemand se beskrywing van dié majestueuse “Rooi Paleis” kers vas by André P Brink se aangrypende loflied in Olé nie. Sy essay “'n Kontras: Sevilla en Granada” bevat 'n meesleurende huldeblyk aan laasgenoemde stad wat dié legendariese monument as kroonjuweel dra.

As 'n valk uit die hoogte kon praat, sou hy jou vertel hoe die Andalusiese landskap rondom Granada daar uitsien. Die Sierra Nevada se skitterwit werwels krom om 'n vrugbare vallei (vega) waarbinne Lorca se geboortedorp, Fuente Vaqueros, soos 'n ongehude fetus lê – ingekeer op sy skugtere self. Soos 'n koudbloedige akkedissie, roerloos gestring in 'n web van kanale en landerye waarin suikerbeetplante hul stingels na gelang van seisoene uitsteek, verduur Fuente Vaqueros en sy inwoners die aantog van lastige toeriste regdeur die jaar.

Net buite Granada, tussen die dorpies Alfacar en Víznar, spoel die bergreeks hom soos 'n verloopte gety in die vlak golwing van heuwels uit. Dis hier waar Federico García Lorca, gefusilleer saam met duisende ander opponente van Franco se regime, se liggaam sedert 1936 vlak onder die grond toegegooi lê. Tesame met die García Lorcas se woonhuis ín Granada staan hierdie dorpies soos bakens uit op die roete van pelgrims wat die spoor van Spanje se literêre stiefseun naloop.

Om by Fuente Vaqueros uit te kom, is maklik en goedkoop, veral as jy die aanwysings in Ian Gibson se nuttige gids, Lorca’s Granada A Practical Guide, volg. Oorkant die spoorwegstasie, in die Avenida se los Andaluces, haal jy eenvoudig die rammelende Ureña-bus waarmee plaaslike inwoners tussen Granada en die dorpies in die vega pendel. Ek het dit op 'n yskoue Sondagoggend gedoen en onverwags vinnig warmbloedig geraak. Skaars het ek my sitplek ingeneem, of die goddelikste Andalusiër bestyg die autobus se treetjies en beklink sy passaat met munte wat hy een vir een uit sy palm laat glip. Daarna neem hy stelling in, twee sitplekke voor my. Die moedswillige romantikus binne my transformeer hom dadelik tot die gestalte van Pepe el Romano, die viriele jongeling wat nooit sy verskyning op die verhoog van Bernarda Alba maak nie, maar juis in sy afwésigheid die katalisator van alle gebeurlikhede in Lorca se beroemdste drama is. Wanneer die bus die jong man iewers langs 'n kanaal in die vega agterlaat, noop my nuuskierigheid my om terug te draai vir 'n laaste kyk. En daar, deur die wasem van die bus se agterruit, staan hy, kleiner wordende, met die sat grasie van 'n moeë gimnas, ongetwyfeld versadig ná 'n deurgenaaide nag in die stad.

Eers in 1986, te midde van 'n hewige debat, en met Franco – die ou fascis – jare reeds saliger, is toestemming gegee dat Lorca se nagedagtenis in sy geboortedorp vereer mag word. Die bus uit Granada laai my tydens 'n ongeduldige verposing in Fuente Vaqueros af op 'n mini-ramblas wat strek tot teenaan 'n pragtige fontein; 'n argitektoniese huldeblyk aan die dorpie se beroemdste (en mees omstrede) seun. Na my mening laat die ontwerp van die fontein reg geskied aan Lorca se tragies kort geskiedenis. Die beeldhouwerk aan die linkervleuel van die fontein is besonders. Die digter se halfbedekte figuur verrys uit 'n bedding aarde asof hy die wederopstanding tegemoet gaan. Om sy lende, met die besitlikheid waarmee 'n ongemerkte graf die identiteit van sy okkupeerder bewaar, omarm die grond hom soos 'n minnaar wat onwillig afskeid neem. Die beeldhouer slaag daarin om die idee dat die ontslape digter vandag steeds vanuit die Sierra se voetheuwels tot die Spanjaarde se kollektiewe gewete spreek, vas te vang.

Dié bleek Sondagmôre staan ek, skynbaar die enigste toeris, soos 'n seer duim tussen die iesegrimmige inwoners van Fuente Vaqueros uit. Te oordeel aan die kyke wat ek kry, word besoekers bejeën as spinnekoppe wat koelbloedig nader tree nog vóór die hulpelose akkedis se hartklop kans kry om te stol. Die dorpenaars, wat in groepies rondstaan of na die warmte van koffiehuise drentel, se gesigte lyk bekend aan my. Hul woorde hang aan bevrore stringetjies by hul monde uit. Ek moet versigtig trap wanneer ek verby hulle loop, want hul sinne beland in klam splinters op die ryp wat in die stofstrate lê.

Klein dorpies – maak nie saak waar in die wêreld nie – huisves almal dieselfde argetipes. Die Andalusiërs in Lorca se jeuglandskap kon net sowel in Murraysburg naby Graaff-Reinet gewees het: omies met wolbaadjies en hoede, tantes met boude wat solied tot in hul skoene afloop, 'n jong paartjie wat té hard probeer om alternatief te lyk, kinders wat in ondeurdagte oomblikke deur ledige tieners verwek is, en les bes, 'n dorp-idioot wat sy baaisiekel deur die strate stoot.

Geleidelik dring iets omtrent die geplaveide ramblas, wat vasloop in die fontein vir 'n gay man in wie se mond woorde soos granaatpitte lê, tot my deur: soos 'n teer roof strek hierdie monument oor die kollektiewe wond wat 'n volk homself toedien wanneer hy sy kunstenaars hul stemme ontneem. Ek bespeur dit in die stram ritme waarmee ou mans die winter in hul gewrigte met kieries probeer besweer: op en af oor die lengte van die plein. Wie van hulle het die digter as kind geken? wonder ek. Watter vingers, nou deur jare krom getrek, het dalk tydens daardie noodlottige dagbreek oor die heuwels bo Alfacar teen 'n sneller gespan? Hoeveel van hulle verwens die dag waarop hierdie gedenkteken soos 'n landingstrook vir vreemdsoortiges deur die middel van die dorp kom sny het?

Lorca se geboortehuis word sedert die laat tagtigerjare as museum bedryf – eers nadat drukgroepe se stemme van protes 'n verleentheid vir die onwillige owerhede begin raak het. Op hierdie oggend blyk ek 'n voortydige gas te wees: die deure maak eers tienuur oop. Om tyd te verwyl, kry ek koers deur 'n systraatjie na die kerkie waar die toekomstige digter op 11 Junie 1898 gedoop is as Federico del Sagrado Corazón de Jesus. Binne skuif 'n bejaarde vrou kandelare voor die altaar reg vir die diens later die oggend. Ek draai om en trek die deur agter my toe, ontstem deur 'n tragiese ironie wat Ian Gibson in sy biografie oor die digter uitwys: Lorca, huilende Towenaar van die Woord, het in die ure voor sy dood vergeefs probeer om die eenvoudige kindergebed wat hy hier geresiteer het, te onthou.

Binne die koffiekroeë sit rokende mans en teug aan boepens-kelke brandewyn. Lorca se vader, die welgestelde Don Federico García Rodríques, het volgens oorlewering sy werkdag op soortgelyke wyse begin. In die koffiehuis op die hoek bestel ek 'n café leche en 'n sny van die aanloklike pan waarop geil smeersels botter stadig lyf verloor.

Tienuur breek uiteindelik aan. Soos ek bevrees was, is die gids van die Casa-Museo Federico García Lorca nie 'n woord Engels magtig nie. Gou kom ek agter dat die neem van foto’s binne die huis verbode is. Die woning waarbinne Lorca se kleutertongetjie proe-proe gewoond geraak het aan sy moedertaal se kenmerkende Andalusiese smaak, is karig gemeubileer. 'n Portret van 'n hond teen die agtergrond van 'n graslandskap hang in die ingangsportaal. In 'n slaapkamer staan die houtwiegie waarin die digter as baba neergelê is wanneer sy wenkbroue oorweldig is deur die donkerte van slaap. 'n Eienaardige deurtjie, niks hoër as 'n man se heup nie, skakel die kombuis met 'n aangrensende vertrek – 'n deurgang vir hoenders of lammers, lei ek af uit die gids se ongedurige relaas. Uit sy handgebare blyk dit dat dié poort, geskik vir dier en dwerg, eindelose ure van vermaak aan die spelende jong Federico verskaf het. Op die kombuistafel voor die herd is 'n houtbak met vrugte uit die omliggende boorde van die vega.

Die boonste verdieping van die woning is omskep in 'n uitstalruimte: die mure behang met afdrukke van foto’s en plakkate wat produksies van Lorca se dramas aankondig. Oorspronklike manuskripte en eerste publikasies lê oopgeslaan onder glasbedekte vertoonkaste. Tussen geraamde inksketse van die skrywer pryk foto’s van Margarita Xirgu, die aktrise wat verskeie van Lorca se hoofkarakters vir die eerste keer oor 'n verhoog laat loop het.

Die kombuis lei na 'n ommuurde binnehof wat die woonhuis skei van 'n gebou waarin die García Lorcas hul diere op stal gehou het. Om 'n besliste konfrontasie met die gids te vermy, wag ek tot hy buite sig raak voordat ek dit waag om foto’s in die digter se agterjaart te neem. Dan, met die halsstarrige gebaar waarmee reisigers die onbetroubaarheid van 'n geheue probeer fnuik, lê ek beelde digitaal vas: die put waaruit water gekatrol is vir drink en was, 'n borsbeeld van Lorca, omraam deur rankplante waaraan vroeë blomvruggies in groen trossies hang, 'n verweerde prieel waarvan die wingerdlote soos krullende sweepslangetjies vervel om die gespande draad. Op die voetstuk wat die beeldhouwerk stut, lê 'n rooi blom, onlangs gepluk en as offerande deur 'n toeris agtergelaat. (Later, op die presiese plek waar Lorca in die visier van 'n Falange-lid aangetree het, sien ek dieselfde verwelkende gebaar.)

Ongetwyfeld 'n hoogtepunt vir Lorca-pelgrims wie se voete hul weg na die museum in Fuente Vaqueros vind, is die kort videovertoning van filmmateriaal waarin die befaamde Spanjaard verskyn. In die stalle agter die huis, intussen gerestoureer en omskep in 'n tweede vleuel van die museum, neem besoekers op lamlendige rottangstoele voor 'n reuse TV-skerm plaas vir 'n gewyde paar minute. Wanneer Lorca se gestalte, sonder die steurnis van 'n klankbaan, uit die flikkerende skadu’s op die skerm tree, skeur sluimerende emosies binne my los. Ek word oorweldig deur 'n gewaarwording wat ek voorheen al ervaar het – tydens besoeke aan die Uilhuis op Nieu-Bethesda. Helen Martins, verguis deur mede-inwoners wie se kleindorpse onskuld hulle blind geslaan het, het ongetwyfeld dieselfde eensaamheid as Federico García Lorca geken – daardie tragiese buitestaanderskap, so noodsaaklik vir die skeppende gees. Ineens maak alles sin: die afwesigheid van begrip, essensieel vir so baie kunstenaars alvorens hul kreatiwiteit kan ontbrand, het ek vroeër die oggend op die gesigte van dorpenaars gelees. Met die Spaanse stedelinge is dit anders gesteld: onder die dekmantel van gedistingeerdheid het hul gesigte gewoond daaraan geraak om uitdrukkingloos te lieg. En, verstaanbaar, dring dié besef eers deur wanneer die argiefmateriaal die digter kortstondig uit die doderyk oproep tot deelname aan die illusie van “lewe” op die TV-skerm.

Teenoor die stug uitdrukking wat die Spaanse gelaat kenmerk wanneer Lorca se omstrede geskiedenis ter sprake kom, verklap die digter se gesig 'n lewensgulsige, toeganklike gemoed voor die kamera se korrelende oog. Op die opslaanverhoog van die rondreisende Barraca-geselskap, waarvan hy direkteur was, is sy lyftaal groots en teatraal. Sy ledemate is geanimeer met die verraad van diegene wat swyg oor hul ware seksuele identiteit. In 'n samelewing met iemand soos Franco as argitek, loop goue seuns immers die gevaar om voor 'n vuurpeleton te beland. En inderdaad: in sy seminale biografie oor die digter beskryf Ian Gibson hoe Lorca se laksman, vermoedelik ene Juan Luis Trescastro, gespog het oor die skote wat hy na die digter se anus gevuur het, juis omdat hy homoseksueel was.

Vir sy terugreis kan die besoeker aan die Casa-Museo Federico García Lorca hom toerus met memento’s ter herinnering aan 'n ontroerende ervaring. Wanneer die gids stelling inneem agter 'n tafel vol poskaarte, boeke en plakkate en my aankope sorgvuldig in sy kwitansieboek aanteken, syfer daar vir die eerste keer 'n glimlag na die oppervlak van sy gesig.

Terwyl ek uitstap, voel ek hoe die oë van celebrity-pelgrims vanuit geraamde foto’s teen die muur op my skouers brand: Andy García, Nuría Espert, Leonard Cohen.

Ek voel kompleet soos 'n akkedis wat sy eerste stert afgeskud het.




LitNet: 27 Januarie 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.