OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Woorde open wêrelde vir leerders by Woordfees

Zani Botes

Ek gesels met Theo Kemp, Woordfeesbemarker, oor die Jeugfees by die Stellenbosch Woordfees en besef gou dat die Woordfees nie maar net nog ’n “Afrikaners-dans-saam-kinderkrans”-fees is nie.

Hy vertel my tussendeur koffie en wortelkoek van ’n tannie wat hom uit Kammieskroon bel om te hoor of sy maar die Seepkis-verhoog kan bestyg om haar wyshede met die jongelinge by die fees te deel. Sy sê ook sommer met die intrapslag dat Theo nou nie eintlik vir haar klink soos ’n baie wêreldwyse mens nie. Nou as Theo enigsins ’n man sonder inbors was, het hy dalkies die foon neergeplak, maar hy vind die gesprek nogal amuserend en verduidelik in detail wat alles by die Woordfees gaan gebeur.

In die agtergrond gil tant Kammie, wat besig is om op ’n grondpad te bestuur, vir haar passasier dat dié tog haar twak moet aangee. Halfpad deur die verduideliking sê die antie toe dat sy beslis daar gaan wees. Sit ek toe sommer en wonder of enigiemand wat kan praat, ’n rede het om nie 8-14 Maart in Stellenbosch te wees en die strate met woorde te laat leef nie.

Theo sê daar is beslis vanjaar iets vir almal. In die verlede is skoolleerders ietwat afgeskeep, maar hierdie jaar het die Woordfees-span sommer vroeg begin werk aan ’n langtermyn-uitreikprogram, Woorde Open Wêrelde, na 30 hoërskole in die Wes-Kaap. Die projek is daarop gemik om leerders se belangstelling in lees te verhoog. Bekende skrywers wie se werk oa in die bundels Douspoor en Versreise opgeneem is, besoek die skole om met die Gr 12-leerders te praat. Dit is baanbrekerswerk en groot entoesiasme het reeds by skole in Atlantis, Malmesbury, Elsiesrivier, Belhar, Strand, Somerset-Wes, Macassar, Blackheath en Mitchell’s Plein geheers, waar leerders die skrywers met vrae gepeper het.

Gedurende skrywersbesoeke word probleme geïdentifiseer en veral uitgevind op watter gebiede opvoeders hulp sal verwelkom. Sodoende kan daar beplan word om in die toekoms hulp aan opvoeders te verleen. Een van die gebiede waarop opvoeders veral hulp sal verwelkom, is die dramatisering van die romans en dramas, sodat leerders dit ook visueel kan ervaar. Later vanjaar sal skrywers weer die skole besoek om te kyk of hierdie poging wel suksesvol was. Hou LitNet dop om te sien wat die terugvoer is.

13 Maart: LOTTO WOORDE OPEN WêRELDE-DAG
As deel van die Woordfees kom ongeveer 20 leerders van elke deelnemende skool byeen op 13 Maart. Die Departement Afrikaans en Nederlands van die US bied vanjaar vir die heel eerste keer ’n reeks werkswinkels aan vir hoërskoolleerders, en wel oor die Woordfees-naweek (12-13 Maart). Die doel met hierdie werkswinkels is om aan aspirantskrywers die geleentheid te bied om hul talente te slyp onder leiding van ’n gevestigde skrywer of ’n kundige uit die skryf- en uitgewersprofessie.

Die dag begin met ’n motiveringspraatjie deur die bekende Soli Philander. Dit word gevolg deur die slypskole. Die program is spesifiek gemik op die behoeftes van jong skrywers. Deelnemers kies een van die volgende genres:

  • poësie (aanbieder George Weideman, praatjies deur Alfred Schaffer en Ronel de Goede)
  • prosa (aanbieder Deon Meyer, praatjie deur Jackie Nagtegaal)
  • drama, kabaret en lirieke (aanbieder Malan Steyn, praatjies deur Deon Opperman en Mynie Grové).

    Die werkswinkels bestaan uit twee tipes aktiwiteite: werksessies en praatjies. Die program word gewoonlik so opgestel dat al die deelnemers die praatjies kan bywoon tydens gesamentlike byeenkomste. Nèlleke de Jager van NB-Uitgewers sal die deelnemers ook touwys kom maak oor publikasiemoontlikhede.

    Dan volg daar ’n heerlike drama, Langarm van die Gereg. Hierdie stuk is deur Malan Steyn geskryf en is deel van die KKNK se gemeenskapsprojek. In opsomming ondersoek magistraat Abraham van der Ligt van Toorberg-faam die dood van Noag du Pisani, die verdwyning van Mina Afrika en die verwydering van Fiela se Kind. Soms word die lang arm van die gereg se hande egter afgekap en die gehoor gedwing om self oordeel te vel.

    Daarna, tussen die kampustoere en gedurende die middaguur, kry deelnemers die geleentheid om te sien waarom hulle volgende jaar moet terugkom. By die straatfees tree bekendes soos Abel Kraamsaal, Alta Joubert, Zinkplaat, Pretty Ladies, Niel Rademan en Seramics op. Die bekende storieverteller Elias P Nel sorg vir ’n splinternuwe geestige preek.

    Na al die lekker leerdery, en deurdrenk met woordekennis, kan die deelnemers Saterdagaand die WOW! Rockfees GRATIS bywoon (ondersteun deur die LOTTO).

    Poseletso van Pop Idols-faam, die Brasse Vannie Kaap, sowel as Karen Zoid tree op. The Domino Effect, Ivanhoe en The Ghetto Travellerz kom wys waarom hulle die pryswenners was van die Woordfees se UMF! In goeie styl tree Oscar Petersen, onder die leerders beter bekend as Joe Barber, as compère op. Ag heerlik, heerlik! Laat my sommer wens ek kan nog my skoolrompie aantrek en deel word van al die pret. Gelukkig gaan ek en die res van die nieskoolgaande jong geeste by die Lotto Straatfees in Victoriastraat groot makietie hou.

    Ek vra toe ook oor studentebetrokkenheid en of Theo voel vanjaar se program gaan aanklank vind by dié spesie. Vir die Woordfees-organiseerders is dit belangrik dat studente nie net kom na die musiekfees nie, hoewel hulle besef dat musiek ’n groot trekpleister is. Die uitdaging lê dus vir hulle daarin om die letterkunde te verpak met poësie, prosa, verskillende vorme van drama, en sang.

    Die Woordfees wil graag ontslae raak van die wanopvattings oor letterkunde en dat lees geslote is, en so ook aan studente die kans gee om uit hulle gemaksones te kom.

    Die Woordfees hoop om die jonger garde se kreatiwiteit aan te wakker en gee aan kunstenaars die geleentheid om hulle talente met die publiek te deel.

    Klink vir my na ’n week van min slaap en baie partytjies, met elke woord wat feesvier.

    Vir navrae en inskrywingsvorms vir die Skrywerswerkswinkels van Vrydag 12 Maart, 14:00-17:00 en Saterdag 13 Maart 9:00-17:00, stuur ’n e-pos aan skrywers@sun.ac.za of skakel (021) 808 3573 of (021) 808 2158 of (021) 808 2174.



    LitNet: 4 Maart 2004

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.