OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust
LitNet het onlangs, in samewerking met Renaissance-Uitgewers en Blue Cape, ’n kompetisie geloods waarin ons gevra het wat ons lesers graag wil sien op OnderwysNet. Een brief het gesê: Ons is bereid om ons klasnotas oor die gebruik van films met ons mede-opvoeders te deel. Carin Lawrie, van Bridge House School, en Coenraad Walters, van Queen’s Park High, het aangebied om “FliekSkool” deel te maak van OnderwysNet en gereeld op te dateer.

Paljas

Carin Lawrie en Coenraad Walters

In hierdie aflewering:
  • Predikantjie-vrae oor Paljas
  • ’n Klastoets
  • ’n Kort teoretiese bespreking oor visuele geletterdheid.
  • Inleiding

    FliekSkool wil graag die Afrikaansopvoeder help om rolprente as voorgeskrewe materiaal te kan hanteer. Die eerste rolprent wat aandag ontvang, is Paljas, wat reeds vir die IEB-matrieks van 2000 voorgeskryf is. Die wyse van behandeling is redelik eenvoudig en die moontlikhede onbeperk.

    Die eerste twee stukkies wat oor Paljas geplaas word, is enkele kort vrae wat gebruik kan word as “predikantjies” vir ’n klas wat die prent vir die eerste maal sien, of as ’n vasvra, en ’n kort toets wat vroeg in die behandeling van die prent gebruik kan word. Meer hulpmiddels word beplan. Onderwysers wat reeds Paljas behandel, is natuurlik welkom om hul idees ook in te stuur sodat dit met almal gedeel kan word.

    Paljas-vasvra of predikantjie-vrae

    Soms is dit nuttig om ’n klas sekere vrae te gee voordat hulle die rolprent sien: dit sal hulle help om oplettend te kyk. Sulke vrae is vir ons byna soos ’n padkaart, omdat dit by wyse van spreke die pad aandui waarlangs hulle moet konsentreer. Derhalwe die term predikantjie-vrae.

    Elke onderwyser kan sy eie vrae natuurlik byvoeg (en vir ons aanstuur), of ons vrae op sy eie manier verwerk (in terme van bewoording, kompleksiteit of volgorde). Dit is miskien ook ’n idee om die klas in groepe te verdeel en vir elke groep ’n ander stel vrae te gee.

    Na die tyd: Klasse is dikwels ook lief vir ’n vasvra en neem dit so ernstig op dat dit soms in ’n bloedsport ontaard! Van die vrae hieronder is nie werklik vir ’n vasvra geskik nie, en sal effens vir dié doel aangepas moet word. U ken u klas!

    VRAE:
    1. Wat is die eerste dinge wat ’n mens sien en hoor?
    2. Wat is Hendrik MacDonald se werk?
    3. Waar woon die gesin MacDonald?
    4. Waarom is Hendrik bly dat hulle daar woon?
    5. Hoe vervoer Nollie homself?
    6. Watter nommer het Nollie op die rug van sy trui?
    7. Wat is die eerste aanduiding dat Willem stom is?
    8. Hoekom beland die sirkustrein op die stasie?
    9. Hoe is die teenwoordigheid van die sirkustrein vir Emma ’n bedreiging?
    10. Watter visioen omtrent haarself wek die trein by Katrien op?
    11. Wat is die registrasienommer van Hendrik se motor?
    12. Wat is Frans se rol in die lewe van die MacDonalds?
    13. Hoe sien Willem vir Manuel die eerste keer?
    14. Maak ’n lysie van die diere wat die sirkus daar aanbring.
    15. Maak ’n lysie van die towertoertjies wat Manuel vir Willem leer en wat Willem vir sy familie wys.
    16. Maak ’n lysie van die musiekinstrumente wat in die prent te sien is.
    17. Hoe reageer die gemeente wanneer Manuel in die kerk inkom?
    18. Hoe reageer die dominee wanneer Manuel in die kerk inkom?
    19. Hoekom het die dominee die MacDonalds besoek?
    20. Hoekom was die polisie by die MacDonalds se huis?
    21. Wat het die polisie gevind?
    22. Wat was Jan Mol se interpretasie van die polisie se vonds?
    23. Wat is die eerste woord wat Willem sê?
    24. Hoe help Hendrik vir Katrien wanneer sy die hansworspak vir Willem maak?
    25. Hoe kruip Emma vir Nollie weg?
    26. Wat moet Emma vir Nollie belowe wanneer hy haar vaskeer?
    27. Wat gebeur by die volstruisdans?
    28. Wie veroorsaak die gooiery by die volstruisdans?
    29. Hoe word die MacDonalds se vernedering by die volstruisdans ontdaan gemaak?
    30. Wat is die laaste beelde wat ons in die rolprent sien?

    Klastoets

    Hierdie toets (soos verwerk uit Die Ventertjie van die IEB) kan gebruik word nadat die prent reeds deur die klas gesien is (selfs meer as een maal) en die leerders dit reeds bespreek het. Aspekte soos die simboliek en die politieke relevansie sal moontlik (veral aan tweedetaalklasse) uitgewys moet word — verkieslik natuurlik deur Sokratiese gesprekke! Sommige vrae is doelbewus redelik vaag en wyd, om bespreking te ontlok. Ander is meer spesifiek om korrekte woordgebruik en inhoudskennis te toets.

    By ’n vraag soos nr. 6 oor die prent se swakplekke, moet leerders die kans gegun word om sowel Ja as Nee te antwoord, solank hulle hul antwoorde deeglik kan beredeneer. Dit sal interessant wees om leerders die kans te gun om hierdie antwoord te heroorweeg nadat hulle die rolprent nog ’n keer gesien het: waar sekere tonele hinder tydens ’n eerste keer se kyk, begin baie kykers dit integreer wanneer hulle weer na die prent kyk en dan pla dit minder.

    Hierdie toets is dus deel van die proses, nie werklik ideaal vir ’n finale produk nie.

    1. Wat beteken die woord paljas? (2)
    2. Vul die ontbrekende woorde in: Katinka Heyns is die ………… van die prent en Chris Barnard is die ……………. (2)
    3. Wat is die deurlopende tema van die prent? (2)
    4. Bespreek die hoofkarakters, Hendrik en Katrien, kortliks. (3x2 = 6)
    5. Bespreek die volgende twee name se betekenis in die konteks van die prent:
      1. Toorwater (2)
      2. Manuel (2)
    6. Is daar enige swakplekke in die prent? Bespreek. (4)
    7. Die rolprent speel hom af in 1969 op ’n dorpie in die Klein Karoo. Wat is die ooreenkomste tussen die gebeure in Paljas en die politiek van die sestigerjare? (4)
    8. Hoe beïnvloed Manuel die kommunikasie:
      1. in die MacDonald-gesin? (4)
      2. tussen die MacDonald-gesin en die gemeenskap? (4)
    9. In die film word daar met nabyskote gefokus op blomme en gewere. Wat is die simboliese waarde van hierdie tekens?
    10. Bespreek die rol van musiek in die prent. Dink onder meer aan die liedjies waarna Hendrik luister, en die musiekinstrumente soos die mondfluitjie en die konsertina. (4)

    Totaal: 40

    Is FliekSkool sommer net nog ’n skool?

    Die konsep geletterdheid is vroeër eenvoudig en enkelvoudig gebruik as die vermoë om te kan lees en skryf. Deesdae word allerweë besef dat daar verskillende maniere is waarop ’n mens geletterd kan wees: rekenaargeletterd, musiekgeletterd, emosioneel geletterd, sosiaal geletterd ... Die term vind wye toepassing.

    Visuele geletterdheid is van groot belang in ons era waarin buitengewoon baie inligting grafies oorgedra word. Die belangrike rol van visuele vermaak (in die vorm van rekenaarspeletjies, televisie en rolprente) beklemtoon hoe nodig visuele vaardigheid is. Nie alleen moet die kyker verstaan wat gesien word nie, die visuele boodskap moet ook ontleed en korrek geïnterpreteer word.

    Taalonderwysers word aangemoedig om tekste uit die werklike wêreld te gebruik wat ook visuele geletterdheid betrek. Dié vaardigheid word gewoonlik in taallesse ontwikkel.

    In die sillabusse vir Engels, asook in die Afrikaanse sillabus van die Independent Examination Board (IEB), word ook in die voorgeskrewe komponent vir visuele geletterdheid voorsiening gemaak: rolprente word voorgeskryf! Verskeie voordele spruit hieruit voort: ’n medium wat vir die moderne leerder uiters toeganklik is, word gebruik; dit is iets anders as die papiermedia wat gewoonlik hanteer word; die inhoud en aanbieding is dikwels meer kontemporêr as die tradisionele voorgeskrewe tekste; dit kan dien as aanvulling by ander voorgeskrewe werke; en so kan ’n mens nog baie aspekte opnoem en vele perdebyneste oopkrap.

    Naas Paljas sal ander Afrikaanse rolprente (wat geredelik verkrygbaar is) bespreek word. Daar is egter ook uitstekende Europese prente wat in Afrikaans oorgeklank is. Dit sou wonderlik wees om ’n manier te bewerkstellig om dié prente ook beskikbaar te stel en te kan behandel.

    FliekSkool kan moontlik ook deur volwasse rolprentbesprekingskringe of deur fliekklubs by skole gebruik word. Ook mense van dié groepe is welkom om voorstelle in te stuur.

    En benewens die (effens swaarwigtige) ontwikkeling van visuele geletterdheid en etlike ander taal- en kommunikasievaardighede, hoop ons natuurlik ook dat FliekSkool groot pret sal wees!

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.